• No results found

Alhoewel die navorser met die huidige hoofstuk fokus op die deskriptiewe vraag wat Osmer (2008:11) geformuleer het, is dit die navorser se mening dat ʼn deeglike beskrywing van Groome se benadering noodwendig ook die normatiewe kwessie van geloofsvorming sal aanspreek. Die rede hiervoor is Groome se duidelik geformuleerde doelwit vir geloofsvorming. Die doel van geloofsvorming, soos uiteengesit deur Groome (1998:11), het ʼn direkte invloed op die wyse waarop hy die geloofsvormingsproses benader en deur die vyf bewegings inkorporeer.

Groome (1998:11) beskou die aksie van geloofsvorming as ʼn transendente, ontologiese en ʼn politieke aktiwiteit. Volgens Groome is geloofsvorming transendent, omdat dit die menslike kapasiteit vir die transendente wil koester en ontwikkel tot volle bewustheid en integrasie in die lewe. "Ontologies" verwys na die funksie van geloofsvorming (“religious education”) om mens se hele wese aan te spreek. Wat vir die doel van hierdie studie veral belangrik is, is Groome se keuse om geloofsvorming as ʼn politieke aksie te beskou. Groome ag enige vorm van opvoeding as ʼn politieke aktiwiteit (1998:12):

I regard as ‘political’ any deliberate intervention in people’s lives that influences how they live their lives as social beings in history, that is, as agents-subjects-in-relationship.

Groome (1998:12) beroep hom op filosowe soos Plato en Aristoteles om enige aksie van opvoeding as polities van aard te beskryf. Dit is veral na aanleiding van die werk van Paulo Freire dat Groome (1999:15) enige vorm van opvoeding as ʼn politieke daad beskou. Die implikasies hiervan is dat opvoeders die rol van mag in opvoeding erken, aangesien mag ʼn gegewe binne die konteks van opvoeding is (Groome, 1999:16). Wanneer daar invloed uitgeoefen word op die wyse waarop mense hul lewens leef, bly mag ʼn realiteit. Volgens Groome verg dit van die opvoeder om bewuste keuses uit te oefen oor hoe hierdie mag benut gaan word.

Freire (soos aangehaal deur Groome, 1999:17) praat van “power over” teenoor “power with”. Opvoeders kan hul mag gebruik om te beheer en te domineer, of om te

bemagtig en te bevry. Om dit as ʼn “mag saam met” deelnemers te benut, behels dat daar ʼn spanning sal wees tussen gesprek en kreatiwiteit. Die opvoeder het die plig om die geloofserfenis van die verlede oor te dra op só ʼn wyse dat die mens in die hede ʼn nuwe toekoms kan vorm. Indien dit reggekry word, is dit dan ʼn “mag saam met”. Dit vra van opvoeders om op ʼn sekere wyse by hulle studente te wees (“being with”): “We are fellow and sister pilgrims alongside them, of whom they ask the way. As we point ahead of them, we also point ahead of ourselves” (Groome, 1999:17). Groome (1998:14) beskou die “Koninkryk van God” as die oorkoepelende doelwit van geloofsvorming. Dit is volgens Groome die hermeneutiese beginsel by uitstek waarvolgens die wyse, inhoud en gerigtheid van geloofsvorming bepaal word. Tereg wys Simpson (1999:32) daarop dat Groome se siening van die Koninkryk van God wel anders is as wat gewoonlik vanuit die Gereformeerde tradisie daarmee bedoel word, aangesien Groome se Rooms Katolieke agtergrond nooit God se soewereiniteit beklemtoon ten koste van menslike agentskap nie. Vervolgens word ʼn kort uiteensetting gegee van die drie doelwitte van geloofsvorming soos wat Groome dit beskou.

2.4.1 Vir die Bewind van God

Daar is twee redes waarom Groome (1998:14) die term “bewind” (“reign”) bo dié van “koninkryk” verkies. Vanuit die feministiese perspektief is koninkryk ʼn patriargale term. Verder verwys sowel die Hebreeuse as die Griekse terme eerder na die aksie van regeer as wat dit na ʼn “koninkryk” of ʼn domein verwys. Groome stel voor dat “Bewind van God” steeds gebruik word as ʼn simbool vir die telos (einddoel) van die Christelike geloof. Hy beskou dit ook as ʼn metafoor waarvan die betekenis-inhoud nooit uitgeput kan raak nie. Vir Groome is “Bewind van God” die metafoor by uitstek wat die hoofdoel van Christelike geloofsvorming in woorde uitdruk.

Die “Bewind van God” word deur Groome (1998:15) as ʼn inklusiewe en aktiewe term teenoor ʼn eksklusiewe en statiese terminologie waardeer. Verder verstaan Groome dit as ʼn term wat meer omskryf as die “wil van God” wat bloot op almal afgedwing word. Groome plaas dit binne die verstaansraamwerk van God se verbondsverhouding met die mens. Binne hierdie verbond, behels dit wat God wíl:

liefde en vryheid, vrede en geregtigheid, heelheid en volheid van lewe vir almal. “God takes humankind into partnership to realize these values, which reflect, in fact, the best interest of ourselves, others, and all creation” (Groome, 1998:15).

In Hoofstuk 4 van hierdie studie word daar verder uitgebrei oor Groome se verstaan van die “Bewind van God”, aangesien dit ʼn waardevolle bydrae lewer tot die normatiewe vraag oor geloofsvorming. Groome (1998:18) bestempel “Bewind van God” in Aristoteliaanse terme as die finale of uiteindelike doelwit van geloofsvorming. In uitbreiding hierop word twee eksistensiële doelwitte geïdentifiseer. Die twee eksistensiële doelwitte word in die volgende twee afdelings hanteer.

2.4.2 Vir Geleefde Christelike Geloof

Die onmiddellike eksistensiële doelwit van geloofsvorming, geïmpliseer deur die doelwit van die “Bewind van God”, behels die bevordering van ʼn geleefde Christelike geloof in die lewens van deelnemers. Dan is geloofsvorming ʼn instrument van God se genade om mense te informeer, formeer en te transformeer tot ʼn gerealiseerde Christelike geloof, gerig op die Bewind van God.

Geleefde Christelike geloof behoort te bepaal hoe die hele onderneming van geloofsvorming plaasvind. As sodanig is geloofsvorming ʼn holistiese aangeleentheid wat die totaliteit van mense se wese betrek. Vir Groome (1998:18) beteken dit dat geloofsvorming gerealiseer word in (a) glo, (b) vertrou en (c) die doen van God se wil.

a) Daar is ʼn kognitiewe dimensie aan Christelike geloof. Dit is om op só ʼn manier te glo, dat oortuiging en besluitneming inherent deel is van geloofsvorming. Geloof voorsien ʼn perspektief om die lewe te interpreteer en is ʼn betekenisgewende aktiwiteit.

When faith as a human universal is given expression by a community of people through a particular tradition of religious faith, members of the community are expected to ‘know’, come to personal conviction about, and choose to embrace the essential beliefs and values proposed by that tradition.

Indien mense as agent-subjekte van geloof beskou word, beteken dit dat geloof deur middel van kritiese kognisie hul eie gemaak behoort te word. b) Die Christelike geloof het ook ʼn affektiewe/relasionele dimensie. Dit behels

ʼn vertroue in die mens se eie verhouding met God in Jesus wat gevoed en gerealiseer word in verhouding met ʼn Christelike geloofsgemeenskap wat die verhouding met die hele mensdom beïnvloed (Groome, 1998:20). Die implikasie hiervan is dat geloofsopvoeders die taak het om mense te help groei in die Christelike geloof as “agent-subjekte-in-verhouding”.

c) Derdens is daar ʼn gedragsdimensie aan die Christelike geloof. Dit vra na die aktiwiteit om God se wil in die wêreld te doen. Groome (1998:21) wys daarop dat gedrag gewoonlik beskou word as ʼn gevolg of ʼn reaksie op geloof en ag die gedragskomponent as ʼn integrale deel van die Christelike geloof. Groome (1998:21) stel dat die “Christian praxis is not only an expression but also a source of deepened trust and more convinced belief.” Volgens Groome (1998:21) wys die geskiedenis van Westerse godsdienstige opvoeding op ʼn veronderstelling dat kennis van die Christelike geloof outomaties lei tot Christelike geloof en agentskap. “Religious education for lived Christian faith is an ontological enterprise that is to inform, form and transform people in heads, hearts and life- styles; ...together” (Groome, 1998:21).

2.4.3 Vir die Heelheid van Menslike Vryheid

Die dryfkrag vir, sowel as die gevolge van, ʼn geleefde Christelike geloof is die heelheid van menslike vryheid (Groome, 1998:22). Die heelheid van menslike vryheid is die tweede eksistensiële doel van geloofsvorming. Dit blyk dat Groome hierdie heelheid van menslike vryheid beskou as volheid van lewe vir almal in die hede, sowel as in die hiernamaals. Groome (1998:22) beskou vryheid as die mees geskikte begrip vir vandag om te praat oor die historiese gevolge en verantwoordelikhede vir dissipels van Jesus op grond van Jesus se lewe, sterwe en opstanding. Dit sluit vir hom al die waardes van God se bewind in.

2.5 Die Uitkoms van Geloofsvorming: Konasie en