• No results found

3.3 Filosofiese wortels van Gestaltteorie

3.3.2. Dialogiese eksistensialisme

Crocker (2005:71) wys op die onderskeid tussen “dinge” en “persone”, soos wat Kant dit gedoen het en Heidegger verder ontgin het. Vir Kant verwys “dinge” na dít wat slegs waarde het omdat dit bruikbaar is. Daarenteen word “persone” deur Kant van “dinge” onderskei deurdat persone nie gereduseer kan word tot blote gebruik- waarde nie (Crocker, 2005:71).

Heidegger beskryf die menslike wese (“human being”) as ʼn Dasein. Dasein verwys na ʼn wese wat “daar” is. Vir Heidegger het mense die gewaarwording dat hulle in situasies beland waarin hulle hulself bevind. Binne hierdie spesifieke situasies is die lewenstaak van elke persoon om die betekenis van die lewe te skep deur die manier waarop daar binne konkrete situasies geleef word. Benewens die mens self, is daar ook ander objekte wat bestaan, waarvan die mens bewus word. Heidegger verwys na vorhanden: objekte wat bloot in die omgewing is, sonder enige bruikbaarheid, asook na zuhanden: objekte wat beskikbaar is en gebruik kan word. Benewens

vorhanden en zuhanden, is daar ook ander wesens in die mens se lewenswêreld:

ander mense, wat ook Dasein is. Vir Heidegger kan ander mense nie met onverskilligheid hanteer word nie, want elke mens word gekonfronteer met dieselfde eksistensiële taak. Alhoewel die uniekheid van elke mens erken word, word mense gesien as onlosmaaklik verweef met mekaar, en is elke mens ook ʼn Mitsein: ʼn wese wat saam met ander is. Alhoewel mense as blote bruikbare objekte beskou kan word, is so ʼn houding teenoor ʼn ander Mitsein onvanpas (Crocker, 2005:71).

In dieselfde tradisie, het Buber die onderskeid tussen dinge en persone toegepas op verhoudings (Crocker, 2005:71). Buber identifiseer “I/Thou” verhoudings en “I-It” verhoudings. Vir Buber is verhoudings fundamenteel tot menslikheid: die persoon (“I”) het net betekenis in verhouding tot die ander – hetsy in ʼn “I/Thou” verhouding of deur middel van manipulerende “I-It” kontak (Yontef, 1993:126). Volgens Joyce en Sills (2014:68) verwoord Hycner en Jacobs die konsep van die dialogiese verhouding in Gestalt, soos wat Buber dit veronderstel het:

...an attitude of genuinely feeling/sensing/experiencing the other person

as a person (not an object or part-object), and a willingness to deeply

‘hear’ the other person’s experience without prejudgement. Furthermore, it is the willingness to ‘hear’ what is not being spoken, and to ‘see’ what is not visible.

In Gestaltterapie is die fokus ʼn gerigtheid op ʼn “I/Thou” verhouding tussen terapeut en kliënt. Dit veronderstel ʼn openheid en verwelkomende houding wat die kliënt aanmoedig om sy/haar eie persoonlike belewenis te erken (Crocker, 2005:72). Die gerighteid op ʼn “I/Thou” verhouding kan dus as ʼn dialogiese verhouding verstaan word. Joyce en Sills (2014:69) wys daarop dat die dialogiese verhouding in Gestalt ʼn groot uitdaging is. Die intensie is wel daar om ʼn “I/Thou” gerigtheid te behou. Hierdie intensie onderskei Gestaltterapie van baie ander benaderings tot terapie.

Die verhouding tussen die terapeut en die kliënt word gevestig deur middel van kontak. Kontak is die ervaring van die grens tussen “ek” en “nie ek nie”. Dit behels ʼn interaksie met die “nie ek nie”, terwyl ʼn eie identiteit behou word (Yontef, 1993:126). Masquelier (2006:11) beskou die keuse om die verhouding in die kern van Gestaltteorie te plaas as ʼn groot uitdaging vir pogings om Gestaltterapie te beskryf. Die rede hiervoor is die kompleksiteit van verhoudings, asook die feit dat dit nie gereduseer kan word tot diagramme en tegnieke nie.

Gestaltteorie, volgens Yontef (1993:127), beklemtoon vier eienskappe van dialoog, om sodoende na “I/Thou” kontak te streef:

Insluiting. Insluiting (“inclusion”) behels dat die self sover moontlik die veilige ruimte skep vir die ander om ook teenwoordig te wees, sonder om te oordeel, te analiseer en te interpreteer. Yontef (2005:95) beskryf insluiting soos volg:

When therapists practise inclusion, they throw themselves as much as possible into the experience of the patient, even feeling it as if it were happening in their own body – without losing sense of self.

Terselfdertyd word ʼn bewustheid van die eie onafhanklike teenwoordigheid behou om uiting te gee aan die fokus op die onmiddellike ervaring. Insluiting verskaf ʼn veilige ruimte vir die kliënt se eie fenomenologiese werk. Wanneer

die kliënt se eie ervaring gekommunikeer en begryp word, verskerp dit die kliënt se bewustheid (Yontef 1993:127; 2005:95), aangesien die persoon se eie bestaan en ervaring bevestig word.

Teenwoordigheid. Die terapeut in Gestaltterapie gee terugvoer oor dit wat hy/sy persoonlik ervaar op grond van sy/haar belewenis van die kliënt. Sodoende word sy/haar perspektief deur middel van fenomenologiese verslaggewing gegee. Dit help die kliënt om in die vertrouensverhouding te groei, asook om onmiddellike ervaring te gebruik om bewustheid te bevorder (Yontef 1993:127; 2005:96).

Verbintenis tot dialoog. Kontak is iets wat tussen mense gebeur, en wat nie gemanipuleer of geforseer kan word nie. Die interaksie tussen mense lei tot kontak. In Gestaltterapie gee die terapeut oor aan die interaksie om toe te laat dat kontak kan plaasvind. Dit behels ʼn verbintenis tot die proses van dialoog (Yontef, 1993:127). Die fenomenologiese dialoog kan volgens Yontef (2005:96) beskou word as ʼn ontmoeting van die fenomenologiese ervaring van twee mense. Beide die terapeut en die kliënt word deur die dialoog verander, sonder dat die uitkoms of doelwit vooraf bepaal word. Indien die terapeut ʼn posisie inneem wat nie ʼn leerervaring uit die interaksie toelaat nie, word die voorwaarde vir egte dialoog verbreek.

Dialoog word geleef. Dialoog behels fisiese interaksie wat geleef word eerder as om in teorie daaroor te praat. “Geleef” verwys na die feit dat dialoog op verskeie maniere kan plaasvind, soos wat daar aan ervarings uitdrukking gegee word. “An important contribution of Gestalt therapy to phenomenological experimentation is enlarging the parameters to include explication of experience by nonverbal expressions” (Yontef, 1993:128). Joyce en Sills (2014:57-58) verwys na ʼn derde ruimte (“third space”) wat ontwikkel as gevolg van die fenomenologiese dialoog wat tussen die terapeut en die kliënt plaasvind. Hierdie derde ruimte is afhanklik van beide partye se deelname aan die dialoog, en voorsien ʼn plek “...where their meeting represents a shared awareness, a shared and possibly new meaning and language” (Joyce & Sills, 2014:58). Gestaltteorie maak sterk aanspraak op die dialogiese verhouding wat tussen

terapeut en kliënt ontstaan. Hierdie dialogiese verhouding geld as voorwaarde vir ʼn proses waarvolgens die kliënt verantwoordelikheid kan aanvaar vir dit waarvan hy/sy bewus word.

Philippson (2012:60) beroep hom op die werk van Paulo Freire om die belang en aard van dialoog in Gestalt te beklemtoon. In beide Gestaltteorie en Freire se benadering tot opvoeding skep dialoog die ruimte waarbinne persone bemagtig word om die beperkinge in hulle lewe uit te daag (Philippson, 2012:61). Dit is ook op hierdie punt waar die invloed van die eksistensialisme op Gestaltteorie raakgesien kan word. Persone word aangemoedig om keuses uit te oefen oor hoe hulle wil leef, gegrond op hulle eie ervarings, in plaas daarvan om bloot volgens aangeleerde gewoontes te handel of te probeer voldoen aan die morele vereistes van die samelewing (Truscott, 2013:189).