• No results found

HOOFSTUK 5: DIE VERWANTSKAP TUSSEN WINS VIR DIE TYDPERK EN KONTANTVLOEI UIT BEDRYFSAKTIWITEITE –

5.6 TYDREEKSEIENSKAPPE VAN TOEVALLINGS

Die definisie van die verdienste- en kontantvloeimaatstawwe wat gebruik word, bepaal die toevallings wat ontleed en gebruik word om vir konserwatisme te toets. Givoly en Hayn (2000 & 2002) het wins, insluitende buitengewone items, voor waardevermindering en amortisasie, as die maatstaf vir verdienste gebruik. Dit is belangrik om ’n konsekwente maatstaf deurgaans te gebruik, daarom word wins in hierdie ondersoek gedefinieer as wins na belasting met insluiting van buitengewone items. Die probleem van die verandering in die definisie van buitengewone items word daardeur omseil.

vorige jare ingesluit in winste en verliese met die verkoop van nie-bedryfsbates. Wins en verlies met die verkoop van nie-bedryfsbates behoort dus saam met waardevermindering en amortisasie gegroepeer te word. Hierdie toevallings vorm deel van die permanente nie-bedryfstoevallings wat nie met verloop van tyd sal omkeer nie. Dit is wel by die wins ingesluit, maar die kontantvloei uit die nie- bedryfsbate sal nooit deel vorm van KVB nie, maar sal met aankoop, asook verkoop, by KVI ingesluit word.

Rente wat gekapitaliseer word, word by KVB afgetrek, maar dit vorm nie deel van wins nie, aangesien dit by die kosprys van die bate ingesluit word. Dit sal dus mettertyd omkeer in die vorm van waardevermindering en word daarom ook saam met waardevermindering gegroepeer.

Die verdienste-maatstaf wat in hierdie ondersoek gebruik is, is daarom wins na belasting, voor waardevermindering en amortisasie en winste en verliese met verkoop van nie-bedryfsbates, na die aftrek van rente wat gekapitaliseer is en insluitend buitengewone items (WvWA). Indien buitengewone items egter bestaan uit waardevermindering, amortisasie of winste of verliese met die verkoop van nie- bedryfsbates, word hierdie deel van die buitengewone items dieselfde hanteer as soortgelyke transaksies.

Die toevallings wat vir konserwatisme getoets is, is WvWA minus KVB. Totale toevallings bestaan uit bedryfstoevallings, belastingtoevallings en nie- bedryfstoevallings. Bedryfstoevallings is die verandering in bedryfskapitaal, wat beperk is tot debiteure, voorraad en krediteure. Belastingtoevallings is die verskil tussen die belasting wat in die inkomstestaat voorsien is en die bedrag wat werklik betaal is in die kontantvloeistaat, sowel as die beweging in die uitgestelde belasting gedurende die jaar. Nie-bedryfstoevallings is al die ander toevallings wat nie by die vorige kategorieë ingesluit is nie.

Vir elf van die veertien jaar was bedryfstoevallings die grootste kategorie van totale toevallings. Wanneer bedryfskapitaal verhoog, is bedryfstoevallings positief. Uit Figuur 5.2 wat die jaarlikse toevallings uitbeeld, blyk dit dat die bedryfstoevallings gedurende die hele tydperk positief was, behalwe vir jaar 14. Hierdie tendens kan toegeskryf word daaraan dat groeiende maatskappye wat stygende bedryfskapitaalbehoeftes het, geneig is om stygings in beide hulle bedryfsbates sowel as –laste te toon (Sloan, 1996).

Volgens Dechow (1994) bestaan bedryfskapitaaltoevallings, naamlik debiteure, voorraad en krediteure, vir eeue reeds. Dit is dus nie die bedryfskapitaaltoevallings wat ‘n tendens van meer konserwatiewe rekeningkundige standaarde sal uitwys nie, maar die nie-bedryfskapitaaltoevallings. Givoly en Hayn (2002:64) het nie- bedryfstoevallings as hulle eerste maatstaf gebruik om vas te stel of daar groter konserwatisme te bespeur is.

-6 000 000 -4 000 000 -2 000 000 - 2 000 000 4 000 000 6 000 000 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 Jare R' 0 0 0

Totale toevallings Bedryfstoevallings Belastingtoevallings Nie-bedryfstoevallings

Figuur 5.2: Die jaarlikse saamgevoegde toevallings van die 74 maatskappye

‘n Probleem wat in hierdie ondersoek teëgekom is, was dat baie maatskappye die beweging in voorsienings vir die jaar by die beweging in krediteure in die aantekeninge tot die kontantvloeistaat insluit. Hierdie bewegings is so ver as moontlik geskei en die beweging in voorsienings is by nie-bedryfstoevallings ingesluit. Ongelukkig is die inligting om dié bewegings te skei, nie vir al die maatskappye beskikbaar nie, daarom is die beweging in krediteure nie suiwer nie. Daar is egter reeds ‘n tendens van toenemende konserwatisme in die nie-bedryfstoevallings, voordat al die maatskappye se bewegings in voorsienings daarby ingesluit is. Die volledige verdeling van krediteure en voorsienings sou dus net verder tot die tendens van toenemende konserwatisme bygedra het.

Die nie-bedryfstoevallings bestaan uit alle ander toevallings en voorsienings soos byvoorbeeld ongerealiseerde valutaverskille; voorsienings vir werknemervoordele; waardedalingsverliese of –terugskrywings; voorsiening van rekonstruksiekoste; en

voorsiening van beëindigingskoste. Figuur 5.2 dui aan dat die jaarlikse saamgevoegde nie-bedryfstoevallings deurgaans negatief was, wat beteken dat dit beslis nie met verloop van tyd omgekeer het nie. Die jaarlikse saamgevoegde nie- bedryfstoevallings was tot jaar 8 nie groot nie, maar vanaf jaar 9 en verder het dit ‘n belangrike rol gespeel. In jaar 13 en 14 was die nie-bedryfstoevallings selfs die grootste kategorie toevallings. Hierdie twee jare was die mees belangrike wat die implementering van die nuwe AARP-standaarde betref. RE 105: Hure; RE 117: Eindigende bedrywighede; RE 128: Waardedaling van bates; RE 129: Ontasbare bates; RE 130: Voorsienings, voorwaardelike aanspreeklikhede en voorwaardelike bates; RE 131: Besigheidsamevoegings; RE 132: Gekonsolideerde finansiële state en rekeningkundige verantwoording vir beleggings in filiale; en RE 134: Rekening- kundige verantwoordig vir staatstoekennings en openbaarmaking van staatshulp is vir die eerste keer in jaar 13 toegepas, terwyl RE 116: Werknemersvoordele; RE 107: Gebeure na balansstaatdatum; RE 133: Finansiële instrumente; en RE 135: Beleggingseiendom in jaar 14 vir die eerste keer toegepas is.

-20 000 000 -10 000 000 - 10 000 000 20 000 000 30 000 000 40 000 000 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 Jare R' 0 0 0

Kumulatiewe totale toevallings Kumulatiewe bedryfstoevallings Kumulatiewe belastingtoevallings Kumulatiewe nie-bedryfstoevallings

Figuur 5.3: Die kumulatiewe saamgevoegde toevallings van die 74 maatskappye

Figuur 5.3 beeld die kumulatiewe saamgevoegde toevallings uit en dui aan dat die negatiewe nie-bedryfstoevallings geleidelik toegeneem het, en dat die toename in momentum gedurende die laaste gedeelte van die tydperk onder oorsig toegeneem het. Hierdie akkumulasie van negatiewe toevallings is volgens Givoly en Hayn

(2000:304) in samehang met ’n toename in konserwatisme.

Die saamgevoegde syfers sal deur die grootte van die maatskappye beïnvloed word en sal dus nie noodwendig tendense akkuraat weerspieël nie, aangesien ’n paar groot waardes die veranderlikes aansienlik kan beïnvloed. Ten einde die 74 maatskappye met mekaar te vergelyk en dit saam te voeg, is die veranderlikes deur verkope gedeel om dit te standaardiseer. ’n Verdere voordeel om met verkope te standaardiseer, is dat dit vir die groei in maatskappye sowel as inflasie kompenseer. In Figuur 5.4 is die tendens in kumulatiewe nie-bedryfstoevallings geïsoleerd. Die grafiek aan die linkerkant is die nie-bedryfstoevallings van die 74 maatskappye saamgevoeg. Dit dui op ’n sterk akkumulasie oor die 14-jaar-tydperk. Alhoewel ’n paar groot maatskappye hierdie grafiek kon beïnvloed het, word dieselfde tendens op die grafiek aan die regterkant aangetref, waar die mediaan van die kumulatiewe nie- bedryfstoevallings oor verkope van die 74 maatskappye uitgebeeld is. Daar is ’n sterk negatiewe akkumulasie van nie-bedryfstoevallings wat ’n tendens van groter konserwatisme aandui, veral ten opsigte van die laaste gedeelte van die tydperk toe die nuwe en hersiene rekeningkundige standaarde geleidelik geïmplementeer is.

Figuur 5.4: Die kumulatiewe saamgevoegde nie-bedryfstoevallings

In Figuur 5.5 word die getal maatskappye wat negatiewe, positiewe en geen nie- bedryfstoevallings in ’n jaar gehad het, uitgebeeld. Gedurende die 14-jaar-tydperk was die aantal negatiewe nie-bedryftoevallings altyd meer as die positiewe nie- bedryfstoevallings, wat weer eens daarop dui dat alle nie-bedryfstoevallings nie omkeer nie. ’n Interessante tendens is dat vanaf jaar 12, die getal maatskappye wat

-16 000 000 -14 000 000 -12 000 000 -10 000 000 -8 000 000 -6 000 000 -4 000 000 -2 000 000 - 1 3 5 7 9 11 13 Jare R' 0 0 0 Kumulatiewe nie-bedryfstoevallings -0.3% -0.2% -0.2% -0.1% -0.1% 0.0% 1 3 5 7 9 11 13 Jare % Nie-bedryfstoevallings/Verkope

geen nie-bedryfstoevallings toon nie, gedaal het, terwyl dié met negatiewe nie- bedryfstoevallings toegeneem het. Dit beklemtoon die toename in belangrikheid van negatiewe nie-bedryfstoevallings gedurende die latere jare toe die meerderheid van nuwe of hersiene AARP-standaarde geïmplementeer is.

0 10 20 30 40 50 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 Jare A ant al m aa ts ka ppy e Negatiewe nie-bedryfstoevallings Geen nie-bedryfstoevallings Positiewe nie-bedryfstoevallings

Figuur 5.5: Getal maatskappye met nie-bedryfstoevallings

5.7 VARIASIE

’n Ander maatstaf van konserwatisme wat deur Givoly en Hayn (2002:66) gebruik word, is die variasie van WvWA/verkope relatief tot dié van KVB/verkope. Die standaardafwykings vir die individuele maatskappye is vir die twee subperiodes, jare 1 tot 7 en jare 8 tot 14, bereken. 48 van die 74 maatskappye (65%) het ’n toename getoon in hulle standaardafwyking vanaf die eerste subperiode tot die tweede subperiode. Daarbenewens verskil die gemiddeld van die standaardafwykings van KVB/verkope vir die eerste subperiode, 0,0759, en vir die tweede subperiode, 0,0733, nie veel nie, maar die gemiddeld van die standaardafwykings van WvWA was 0,0373 vir die eerste subperiode en 0,0466 vir die tweede subperiode, wat duidelik ’n toename in die variasie van WvWA/verkope aantoon en daarom ook ’n verhoging in rekeningkundige konserwatisme.

Die deursnee-afwykings van KVB/verkope en WvWA/verkope is as ’n tweede maatstaf vir variasie gebruik. Figuur 5.6 illustreer die intrinsieke verskil tussen kontantvloei en verdienste. Die gebruik van toevallingsrekeningkunde lei tot die

gelykmaak van winste, terwyl kontantvloei slegs die werklike kontantvloei aantoon, wat nie gelyk gemaak word nie. Die standaardafwyking van KVB/verkope was daarom baie minder staties as dié van WvWA en geen beduidende patroon kan opgemerk word nie. Die standaardafwyking van WvWA bly gedurende die eerste ses jaar staties, maar toon daarna vanaf jaar 7 ’n toename in die variasie en daarom ’n verhoging in rekeningkundige konserwatisme. Dit stem ooreen met die stelling dat die nuwe en hersiene rekeningkundige standaarde meer waarde plaas op die vroeë erkenning van rekeningkundige aanpassings en nie meer hoofsaaklik op die gelykmaking van winste fokus nie.

0 0.1 0.2 0.3 0.4 0.5 0.6 0.7 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 Jare S ta nda ar da fw yk ing

Standaardafwyking KVB Standaardafwyking WvWA

Figuur 5.6: Standaardafwyking van KVB/verkope en WvWA/verkope

5.8 GEVOLGTREKKING

Die aanvaarding van die nuwe rekeningkundige beleid sedert 1995 as gevolg van die implementering van nuwe en hersiene rekeningkundige standaarde, lei tot strukturele veranderinge in die wins-tydreeks van ’n maatskappy. In hierdie hoofstuk is die tendense in WvWA en KVB van 74 industriële maatskappye wat op die JSE Sekuriteitebeurs genoteer is, ondersoek ten einde te bepaal of rekeningkundige verslagdoening meer konserwatief geword het.

Die afname in die mediaan van wins en die toename in maatskappye wat netto verliese gedurende die 14-jaar-tydperk vir die jare geëindig tussen 1 Desember 1988 en 30 November 2002 gerapporteer het, was die eerste aanduidings van ’n moontlike toename in konserwatiewe verslagdoening as gevolg van die verandering in

rekeningkundige standaarde.

Die kumulatiewe saamgevoegde nie-bedryfstoevallings van die 74 maatskappye dui op ’n gelykmatige akkumulasie van nie-bedryfstoevallings vanaf jaar 1 vorentoe, met ’n verhoging in die akkumulasie vanaf jaar 9 en ’n groot styging gedurende jare 13 en 14, die twee jare waarin die meerderheid van die nuwe standaarde geïmplementeer is. Dit dui op ’n besliste toename in rekeningkundige konserwatisme gedurende die tydperk onder oorsig.

Die deursneestandaardafwykings van WvWA en KVB illustreer die verskil tussen kontantvloeirekeningkunde en toevallingsrekeningkunde baie mooi. Die verandering in die toevallingsrekeningkunde waar meer rekeningkundige aanpassings nou vroeër in verdienste erken word, word weerspieël deurdat die standaardafwyking vir WvWA gedurende die eerste ses jaar konstant bly, terwyl dit baie meer gedurende die tweede deel van die tydperk onder oorsig varieer. Die toename in variasie dui ook op die verhoging in rekeningkundige konserwatisme gedurende die 14-jaar-tydperk vanaf Desember 1988 tot November 2002, veral gedurende die laaste deel waartydens die nuwe en hersiene standaarde geïmplementeer is. Die resultaat impliseer dat WvWA nie sonder meer in ’n tydreeksontleding gebruik kan word, sonder om die opsies wat beskikbaar is vir aanpassing, te oorweeg nie. Die resultaat beklemtoon ook weer eens die belangrikheid van die gebruik van kontantvloeigegewens in die beoordeling van ’n maatskappy se finansiële stabiliteit. In die volgende hoofstuk word die verwantskap tussen die veranderlikes wat in hierdie hoofstuk gebruik is om vir ’n toename in konserwatisme in rekeningkundige verslagdoening te toets, naamlik wins en KVB, verder ontwikkel uit die rekeningkundige teorie. Die afleidings wat uit die verwantskap gemaak word, word in die praktyk getoets.

HOOFSTUK 6: DIE VERWANTSKAP TUSSEN WINS VIR DIE

TYDPERK EN KONTANTVLOEI UIT BEDRYFSAKTIWITEITE –