• No results found

Finansiële eienskappe

2.4 TOEPASSING OP HUIDIGE STUDIE

2.4.4 Klassifikasie van mislukking

Mislukking is in die sowat sewentig studies wat deur die literatuurstudie gedek is, op verskeie manier gedefinieer. Die navorsers is waarskynlik gelei òf deur die maklik identifiseerbaarheid van bankrotskap as mislukking òf (in die minderheid) deur die doel waarvoor die model ontwikkel word. Die skrywer stem met vorige kommentators saam dat die gebruik van bloot bankrot teenoor nie-bankrot te kortsigtig is. Eerstens is daar baie min maatskappye wat wel die uitkoms van bankrotskap beleef, terwyl heelwat maatskappye wel misluk, maar ander uitkomste beleef. Bankrotskap is dus ’n te eng definisie vir mislukking. Tweedens is die nut daarvan om bankrotskap te voorspel, aansienlik minder, aangesien dit van baie ander faktore afhang, soos of die skuldeisers wel om likwidasie sal aansoek doen en of daar op daardie tydstip ’n kontantryk maatskappy is wat ’n kontantarm groeimaatskappy soek om oor te neem. Om dus vyf jaar voor die tyd te probeer voorspel of ’n maatskappy gaan bankrot raak en die ander mislukkingsuitkomste wat beskikbaar is, uit te sluit, is van minder waarde as om vyf jaar voor die tyd te voorspel watter maatskappy in finansiële nood verkeer en wat dan binne vyf jaar in die breër sin mag misluk. Derdens is bankrotskap ’n uiterste. As stabiel gedefinieer word as maatskappye wat baie gesond is, is dit ook ’n uiterste. Dan neem die model se waarde af, aangesien die ingeligte gebruiker moontlik sonder die gebruik van ’n komplekse model reeds die jaar voor die tyd hierdie tipe van voorspelling met redelike akkuraatheid kan maak. Die gebruiker stel juis daarin belang om maatskappye waar daar ’n groter onsekerheid is, naamlik die grys area, te klassifiseer.

Zurada, et al. (1998/99) en Turetsky en McEwen (2001)) het nie ’n tweeledige klassifikasie gebruik nie, maar ’n skaal van uitkomste. Lau (1987) het bevind dat ’n maatskappy in een van vyf finansiële toestande kan verkeer, van toestand 0: stabiel, toestand 1: dividendbetalings verminder of weggelaat, toestand 2: leningswan- betalings, toestand 3: beskerming ingevolge bankrotskapwetgewing en toestand 4: bankrotskap. Ward en Foster (1996) het egter toestand 3 en 4 saam gekategoriseer aangesien toestand 4 min voorkom. In die ontwikkeling van hulle model bevind hulle selfs dat wanneer hulle toestand 2 en 3 kombineer, die model die data beter pas. Sodanige model, wat die gebruiker ’n beter aanduiding gee van wat die omvang van die finansiële nood is waarin die maatskappy verkeer, kan van meer waarde wees as ’n tweeledige klassifikasie.

Volgens Cybinski (2001) lê die waarde van toekomstige navorsing in dié veld waarskynlik daarin om op die noodkontinuum te fokus eerder as om tussen bankrot en nie-bankrot te onderskei. Alhoewel Gilbert, et al. (1990) en Flagg en Giroux (1991) hulle wel binne dié grys area begeef het, laat hulle makro-ekonomiese faktore in hulle modelle buite rekening en wyk hulle ook nie van deursneestudies af nie. Cybinski (2001:31) meen dat dit nie verbasend is dat modelle goeie resultate behaal het indien maatskappye gebruik is wat òf bankrot òf nie-op-risiko suksesvolle maatskappye was nie. ’n Model is so goed soos sy potensiaal om die maatskappye in die grys area tot ’n minimum te beperk. Dit hang af van:

• die maatskappye wat verdeel moet word – of hulle reeds verwyder is op die kontinuum, naamlik bankrot en nie-op-risiko;

• die sofistikasie van die tegniek wat gebruik is om die model te ontwikkel; en • die volledigheid van die model (insluiting van al die verklarende veranderlikes). Om mislukking in Suid-Afrika te definieer, is nie eenvoudig nie. Min genoteerde maatskappye word gelikwideer, terwyl daar tog heelwat besigheidsamevoegings is waar die maatskappy nie in sy huidige vorm voortleef nie, maar geabsorbeer is in die liggaam van ’n ander maatskappy. Al is dié maatskappy nie gelikwideer nie, sou hy dikwels nie op sy eie oorleef het nie. Daar is heelwat eksterne asook interne faktore wat daartoe bydra of ’n maatskappy gelikwideer word, òf slagoffer van ’n besigheid- samevoeging word, òf wel op sy eie die mas opkom en nie misluk nie. In sommige gevalle word ’n maatskappy slegs gedenoteer en leef wel in ’n minder openbare vorm voort. Hierdie denotering kan egter ook in heelwat gevalle as ’n mislukking beskou

word. In hierdie studie word mislukking dus gedefinieer as synde in te sluit: • likwidasie, bankrotskap of kuratorskap;

• denotering of opskorting van notering; en

• ’n wesenlike struktuurverandering (gedefinieer as omgekeerde verkryging en uitreik van aandele ter verkryging van filiale waar meer as die bestaande aantal aandele uitgereik word ter betaling van die koopsom of waar die meerderheid stemreg as gevolg van die uitreiking van nuwe aandele (ten minste die gelyke aantal as die bestaande uitgereikte gewone aandele) van hande verwissel).

Sommige navorsers was van mening dat ’n nuwe inspuiting van eksterne finansiering ook as mislukking geklassifiseer behoort te word (Wilcox (1971) en Vinso (1979)), maar dit is weer té breed. ’n Stabiele maatskappy maak ook van eksterne finansiering gebruik, doen nuwe aandele-uitreikings en bekom vreemde kapitaal – dit is bloot deel van normale besigheidspraktyk. ’n Regte-uitgif daarenteen, is meer waarskynlik ’n teken van mislukking, aangesien dit in baie gevalle die laaste uitweg vir die maatskappy is om nog finansiering te bekom. ’n Nuwe aandele-uitreiking sal onsuksesvol wees, aangesien die aandeleprys reeds gedaal het en nuwe beleggers wat reeds onraad vermoed, sal nie belang stel om te belê nie. Die bestaande beleggers daarenteen, wat reeds van die finansiële nood bewus is, is bereid om ’n verdere bedrag in die vorm van ’n regte-uitgif te belê, in die hoop dat dit die maatskappy kan red en hulle nie hulle bestaande belegging sal verloor nie.

Ander uitkomste soos leningswanbetalings en wesenlike staatshulp word nie by mislukking ingesluit nie, maar word as tekens van ernstige finansiële nood beskou. Buitendien is die posisie in Suid-Afrika nie soos in die VSA waar leningswanbetalings geopenbaar word en dit dus uitkomste is wat maklik vasgestel kan word nie. Aanduidings van finansiële nood vir doeleindes van dié studie is dus: leningswanbetalings, ’n vermindering in of geen dividendbetalings, verkoop van die debiteureboek, verandering in topbestuur, ’n regte-uitgifte, wesenlike staatshulp en ’n kumulatiewe verlies vir drie agtereenvolgende jare.

’n Kenmerk wat in geen vorige studie, sover bekend, gebruik is om finansiële nood te identifiseer nie, sal in hierdie studie gebruik word. Dit is ’n kumulatiewe negatiewe KVB vir drie agtereenvolgende jare. Volgens Lee (1982a:116) “[i]t is a fact of financial life that no business, over a number of years, can afford not to contribute the majority of cash inflow needed to pay for new investment, tax, dividends and borrowing

repayments”. Selfs ’n maatskappy wat in sy groeifase is en waar verwag word dat KVB kleiner as wins sal wees en selfs negatief kan wees, moet op ’n stadium begin om kontant intern te genereer, anders word so ’n maatskappy kunsmatig aan die gang gehou deur eie of vreemde kapitaalverskaffers. Die skrywer is van mening dat indien ‘n maatskappy vir ’n tydperk van drie jaar nie daarin kon slaag om ’n positiewe kumulatiewe kontantvloei intern te genereer nie, dit beslis in die kategorie van finansiële nood is. Indien die omvang van die negatiewe KVB klein was en die vooruitsigte vir die maatskappy goed is - groei is miskien reeds getemper en debiteure is vorderbaar - is dit tipies ’n maatskappy wat, indien hy daarvan bewus is dat hy nie onbeheers kan groei nie (met ander woorde hy is betyds gewaarsku oor sy finansiële toestand), sy posisie kan herstel en hy nie sal misluk nie.