• No results found

LYS VAN AFKORTINGS GEREELD DEUR DIE SKRYWER IN DIE STUDIE GEBRUIK

1.2 ONTWIKKELING VAN DIE NAVORSINGSPROBLEEM

Die finansiële state van ’n maatskappy is saamgestel uit die balansstaat, die staat van veranderinge in ekwiteit, die inkomstestaat en die kontantvloeistaat. Alhoewel die state verder met aantekeninge toegelig word, is geopenbaarde inligting steeds beperk. Die twee state wat ’n weerspieëling van gebeure gedurende die finansiële jaar is, is die inkomstestaat en die kontantvloeistaat. Die inkomstestaat se resultaat is die wins of verlies vir die tydperk en sluit enige inkomste of uitgawes in wat gedurende die spesifieke tydperk toegeval het, hetsy dit in kontant ontvang of betaal is, al dan nie. Die kontantvloeistaat bestaan uit drie dele, waarvan die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite die deel is wat met die inkomstestaat vergelyk kan word. Dit is suiwer kontant wat ontvang of betaal is wat in die kontantvloeistaat opgesom word. Die twee lyne in die inkomstestaat en die kontantvloeistaat wat spesifiek met mekaar vergelyk kan word, is die wins vir die tydperk, maar voor inagneming van die behoue ekwiteitswins van geassosieerdes en die verdeling aan die minderheids- aandeelhouers; en die kontant uit bedryfsaktiwiteite voor aftrekking van dividende wat betaal is. As gevolg van die verskil in onderliggende beginsels sal hierdie twee lyne van mekaar verskil, grootliks as gevolg van twee groepe items. Die eerste groep is items wat eerder in die investeringsgedeelte van die kontantvloeistaat ingesluit

word, maar wel deel van die inkomstestaat vorm, soos wins en verlies met verkoop van nie-bedryfsbates; en die tweede kategorie is toevallings wat in verskillende tydperke in die inkomstestaat en in die kontantvloeistaat ingesluit word.

Shroff (1998) reken dat waarskuwingsligte behoort te flikker indien die wins vir die tydperk en die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite uit mekaar beweeg. Daar sal egter altyd ’n tydsverskil tussen die erkenning van toevallings in die inkomstestaat en die kontantvloei in die kontantvloeistaat bestaan. Dit kan dus verwag word dat die twee veranderlikes van mekaar sal wegbeweeg, veral in ’n tydperk van groei. Die waarskuwingsligte behoort dus eers te flikker indien die verskil groot is en die periode waaroor die twee van mekaar wegbeweeg, lank is. Die vraag is wanneer daardie punt bereik word.

Alhoewel heelwat gemengde industrie-modelle al redelik suksesvol was in die onderskeid tussen mislukte en suksesvolle maatskappye, is die groot probleem nie om tussen swart en wit, of dan mislukking en sukses te onderskei nie, maar om die grys area te betree en vroegtydig uit te wys indien ’n maatskappy se kontantvloei sodanig onbuigsaam is, dat dit die finansiële stabiliteit van die maatskappy direk sal beïnvloed. ’n Voorbeeld van so ’n grys area is maatskappye wat oënskynlik stabiel is, met uitstekende groei en ook goeie winste, maar wat hulleself in kontantvloeiprobleme in groei.

Bentley (1998) som die probleem op: “Every year trade and industry – together with banking and lending institutions, in the belief that increased profit measurement means reduced financial risk – lose millions of Rands following the miscalculation (and in some cases no calculation) of their cash flow requirement. The quantification of cash flow requirements should be a continuous measurement; not an annual surprise one way or the other!” Volgens Bentley (1998:13) het ongeveer 28,35% van kleinhandelsondernemings wat gedurende 1995 misluk het, ’n papierwins ten tye van likwidasie gemaak. Hulle het bloot misluk as gevolg van hulle onvermoë om betyds voldoende kontant te genereer om hulle skuldverpligtings na te kom. Dit is in hierdie groep maatskappye, wat in baie gevalle aan oorbedryf (overtrading) skuldig is, waarin die skrywer belangstel. Indien hulle vroegtydig geïdentifiseer kan word, kan die skade wat deur die betrokke partye gely kan word, aansienlik beperk word.

Volgens Bentley (1998:14) is oorbedryf (overtrading) “the situation which arises when a business attempts to fund the purchase of stock on extended credit, together with

the funding of its debtors, out of working capital availability”. O’Regan (2004) brei dié definisie uit na “[t]he undertaking of business activity that results in cash flow problems and potential insolvency. Overtrading is characterized by working capital problems arising from the simultaneous (i) slow receipt of cash receipts relating to accounts receivable and (ii) pressing demands for payments to suppliers”.

’n Verskeidenheid van faktore beïnvloed ’n maatskappy se kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor die betaling van dividende; waarvan die groei in verkope, die winspersentasie en die omvang van sy bedryfskapitaal waarskynlik van die belangrikste is (Steyn, Hamman & Smit, 2002a). Kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor dividende betaal, is onlosmaaklik aan debiteure en voorraad verbind. Hoe vinniger die siklus om voorraad en debiteure in kontant te omskep, hoe minder kontant het ’n maatskappy nodig om sy bedryfskapitaal te finansier. ’n Maatskappy wat dus ’n vinnige bedryfskapitaalsiklus het, en dus nie bedryfskapitaalintensief is nie, kan met dieselfde kontantreserwes heelwat vinniger groei as die maatskappy wat groot hoeveelhede bedryfskapitaal met daardie kontantreserwes moet finansier.

Figuur 1.1: Faktore wat kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite beïnvloed

Indien hierdie faktore saam met die twee veranderlikes op ’n grafiek voorgestel word, vertoon dit soos in Figuur 1.1. In die grafiek is Lyn A die wins vir die tydperk en Lyn B is die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor die betaling van dividende. Solank as wat Lyn B nie die x-as sny nie, is die kontantvloei wat uit die dag-tot-dag-aktiwiteite gegenereer word, positief, maar die oomblik dat dit die x-as sny, is die kontantvloei negatief. Dit is ’n aanduiding dat die maatskappy nie genoeg kontant genereer om die besigheid in stand te hou nie. Die faktore wat bepaal of hierdie kontantvloei-

Tydverloop Rand A B + - Y X 0

veranderlike die x-as sny, is groei, wat, ceteris paribus, deur die helling van Lyn A voorgestel word; die bedryfskapitaalstruktuur wat in kombinasie met groei die hoek tussen Lyn A en Lyn B bepaal; en die wins, wat deur die snyding op die y-as voorgestel word.

In ’n vorige studie (Steyn, Hamman & Smit, 2002b) het die skrywers gefokus op ’n ondersoek na die maatskappye waar die wins vir die tydperk en die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor dividende betaal, redelik drasties van mekaar wegbeweeg. Die studie het gepoog om die verskil tussen die veranderlikes te meet en sodoende vas te stel watter maatskappye ’n groter risiko het om in kontantvloeiprobleme te resulteer. Die resultaat van die studie was dat riskante maatskappye hoofsaaklik maatskappye in die winkel- en inligtingstegnologie-sektore was. Die maatskappye in dié sektore het oor die algemeen ’n hoë bedryfskapitaalverhouding of ’n hoë groeikoers in verkope wat dan lei tot redelike verskille in die wins en die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor dividende betaal.

Die maatstaf wat in die vorige studie (Steyn, et al., 2002b) ontwikkel is, die indeks- verskil, is dus wel geldig vir maatskappye wat bedryfskapitaalintensief is, maar maatskappye wat eerder nie-bedryfskapitaalintensief is, sal nie noodwendig geïdentifiseer word nie, ten spyte van moontlike finansiële nood. By die bedryfskapitaalintensiewe maatskappy is dit die vervanging en uitbreiding van bedryfskapitaal wat die maatskappy in ’n kontantvloeikrisis kan laat beland. Hierdie items word in die inkomstestaat en in die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite weerspieël, alhoewel moontlik in verskillende tydperke. Die bestuur van die bedryfskapitaal is ’n onvermydelike deel van die daaglikse aktiwiteite en beïnvloed die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite direk. Kontantvloeiprobleme sal dus oor ’n korter periode geïdentifiseer kan word.

By die maatskappy met hoë nie-bedryfsbates is dit die vervanging hiervan wat die maatskappy in ’n swak posisie kan plaas. Die nie-bedryfsbates het verskillende nutsdure van so kort as twee of tien jaar tot ’n onbeperkte nutsduur, soos byvoorbeeld grond. Behalwe vir nie-bedryfsbates met ’n onbeperkte nutsduur, moet nie-bedryfsbates vervang word wanneer dit die einde van hulle nutsduur bereik. Dit is iets waarvoor die maatskappy behoort te beplan en wat nie noodwendig jaarliks in dieselfde mate sal gebeur nie. Die kontantposisie van ’n maatskappy kan dus baie goed vertoon soos vervat in die kontant uit bedryfsaktiwiteite voor dividende betaal,

aangesien dit glad nie vir die vervanging van nie-bedryfsbates voorsiening maak nie. Indien die maatskappy egter nie gereeld die nie-bedryfsbates vervang nie, kan die verouderde nie-bedryfsbates die normale bedryfsaktiwiteite nadelig beïnvloed en kan die “einde ten laaste”-spandering aan die vervanging van nie-bedryfsbates daardie maatskappy met ’n uiters netelige kontantvloeiposisie laat. Die doel van hierdie studie is om ’n maatstaf te vind om ook hierdie maatskappye wat in die hoë nie- bedryfsbatekategorie val en wat in ’n swak kontantvloeiposisie kan wees, vroegtydig te identifiseer.

Een van die verskille tussen die wins vir die tydperk en die kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite voor dividende betaal, is die hantering van waardevermindering en amortisasie. Waardevermindering is die paring van die koste van die tasbare nie- bedryfsbate met die inkomste wat gedurende daardie nie-bedryfsbate se nutsduur deur hom gegenereer word, terwyl amortisasie die ekwivalent vir ontasbare nie- bedryfsbates is. Die bedrag waardevermindering of amortisasie word dus gebaseer op die beste raming van die patroon van gebruik en generering van inkomste deur daardie bate en dit word in die inkomstestaat afgetrek om die wins te bereken.

Die afskrywing van waardevermindering is bloot ’n boekinskrywing en word dus nie in die kontantvloeistaat hanteer nie. Die aankoop van die bate sal in die kontantvloeistaat onder kontantvloei uit investeringsaktiwiteite hanteer word; of indien dit deur middel van ’n bruikhuur aangekoop word, sal die kapitaalgedeelte van die paaiement as deel van die kontantvloei uit finansieringsaktiwiteite getoon word. Dit sal dus nooit deel vorm van kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite nie. Die skrywer voer egter aan dat die vervanging van nie-bedryfsbates, alhoewel nie ’n fisiese daaglikse aktiwiteit nie, wel so ’n inherente deel van die bestuur en bedryf van die onderneming is, en dat dit in ag geneem moet word wanneer ’n gevolgtrekking oor die werklike kontantposisie uit bedryfsaktiwiteite gemaak word.

Die grafiek wat die kontantvloeiposisie voorstel, behoort aangepas te word met ’n bedrag wat die investering aan nie-bedryfsbates verteenwoordig (Figuur 1.2). Dit sal veroorsaak dat Lyn A en Lyn B op die y-as afbeweeg met dié afstand wat die bedrag aan vervangende investering verteenwoordig. Die kontantvloei sal dus vroeër in tyd negatief wees, wat ’n meer realistiese prentjie van die werklike kontantvloeiposisie weerspieël.

Figuur 1.2: Uitbeelding van kontant uit bedryfsaktiwiteite na aanpassing vir vervanging van nie-bedryfsbates

Dit blyk duidelik dat die voorspelling van mislukking van maatskappye meer behels as ’n tegnies komplekse statistiese oefening. Aanpassing aan geopenbaarde rekeningkundige syfers en verhoudingsgetalle mag nodig wees ten einde inligting wat meer bruikbaar in die bou van modelle vir die beoordeling van die kontantvloei van ’n maatskappy is, saam te stel. Een voorbeeld hiervan is die aanpassing van kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite met vervangende investering. Die manier waarop dit in ag geneem behoort te word, is egter nie voor die hand liggend nie en sal in hierdie studie ondersoek word.

Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk (AARP) beveel in RE 118 (SAIGR, 1996) en IAS 7 (IASCF, 2004) aan (maar dis nie verpligtend nie), dat die investering in nie-bedryfsbates verdeel moet word tussen die gedeelte vir die vervanging van bestaande nie-bedryfsbates en die deel vir die investering ter uitbreiding van die aktiwiteite. Hierdie praktyk het egter nooit ten volle posgevat nie. Die vervangende investering is in werklikheid die bedrag wat van kontant uit bedryfsaktiwiteite afgetrek behoort te word, aangesien dit die bedrag is wat noodsaaklik is ten einde die dag-tot- dag-bedrywighede in stand te hou en waarsonder die maatskappy nie sy besigheid op dieselfde vlak sal kan bedryf nie. Indien hierdie verdeling dus deur AARP vereis is, kon die vervangende investering gebruik word om ’n aanpassing te maak om die werklike kontant uit bedryfsaktiwiteite te bereken. Die investering wat aangewend is ter uitbreiding van die maatskappy, bly dus deel van kontant uit investerings- aktiwiteite, aangesien dit oorskotfondse uit die bestaande vlak van bedrywighede is

Tydverloop Rand A B + - Y X 0

wat diskresionêr aangewend word om die besigheid uit te brei. Ongelukkig is dié inligting nie vir baie maatskappye beskikbaar nie. Boonop is die werklike patroon van investering bestuurbaar en kan noodsaaklike investering tydelik uitgestel word. Dan sal die aanpassing onvoldoende wees om vir die nodige vervanging voorsiening te maak.

’n Ander moontlikheid is om die totale bedrag aan investering in nie-bedryfsbates by kontant uit bedryfsaktiwiteite af te trek om sodoende die bedrag kontant wat na die aanskaf van nie-bedryfsbates oorbly, te bereken. Dit is egter oormatig konserwatief, aangesien alle investering en nie slegs die vervangende investering nie, afgetrek word. Die tweede praktiese probleem by hierdie alternatief is die vraag watter investering in watter nie-bedryfsbates alles by die kontant uit bedryfsaktiwiteite afgetrek moet word. Behels dit net die aankoop van tasbare nie-bedryfsbates, of ook die aankoop van beleggings, ontasbare bates en die verkryging van filiale?

Aangesien die syfer waarna op soek is, die kontant uit bedryfsaktiwiteite is, nadat voorsiening gemaak is vir die gereelde vervanging en instandhouding van die bedryfskapasiteit, kan waardevermindering, alhoewel net ’n berekening en nie ’n kontantsyfer nie, moontlik as alternatief gebruik word. Waardevermindering word bereken deur die historiese kosprys oor die nutsduur van die bate toe te ken – die bedrag vir ’n jaar verteenwoordig dus dié deel van die bate wat gedurende die jaar opgebruik is. Teoreties is dit hierdie deel wat opgebruik is, wat weer vervang behoort te word. Deur dus die jaarlikse waardevermindering van die kontant uit bedryfsaktiwiteite af te trek, is hierdie syfer meer verteenwoordigend van die maatskappy se kontantposisie nadat alle normale transaksies om die besigheid in stand te hou, in ag geneem is.

Ten einde die kontantvloeistaat steeds ingevolge die kontantbasis op te stel, is dit nodig om die aankoopsyfer van nie-bedryfsbates, wat by die kontantvloei uit investeringsaktiwiteite ingesluit is, te verminder met die waardeverminderingbedrag wat reeds by bedryfsaktiwiteite ingesluit is. In effek word ’n verdeling van die totale aankoop van nie-bedryfsbates tussen vervanging (die waardeverminderingbedrag) en die uitbreiding (die restant) gemaak. In die gevalle waar vervanging uitgestel word, kan dit gebeur dat die waardeverminderingsyfer groter as die aankopesyfer is. Deur waardevermindering as plaasvervanger te gebruik, word daar dus vroegtydig voorsiening gemaak dat die nie-bedryfsbates wel vervang moet word ten einde die

bedryfskapasiteit van die maatskappy in stand te hou.

Ongelukkig is die aftrek van waardevermindering ook nie altyd voldoende om vir vervanging voorsiening te maak nie, aangesien die werklike vervanging aan inflasie onderworpe sal wees. Dit kan in Suid-Afrika moontlik ’n wesenlike rol speel.

Die navorsingsvraag kan dus soos volg geformuleer word: hoe kan kontantvloei- inligting met winsgegewens in ’n teoreties gefundeerde model gekombineer word ten einde die finansiële stabiliteit van ’n maatskappy te evalueer?

1.3 NAVORSINGSONTWERP