• No results found

Finansiële eienskappe

2.1 OMVANG EN RAAMWERK VAN LITERATUURSTUDIE

2.2.6 Klassifikasies van mislukking

2.2.6.2 Klassifikasie as bankrot binne ‘n finansiële noodkonteks

Ohlson (1980:111) kritiseer die studies wat slegs die bankrot-/nie-bankrot- klassifikasie gebruik het, aangesien werklike probleme gewoonlik meer uitkomste het as bloot ’n tweeledige skeiding soos bankrot versus nie-bankrot. Cybinski (2001) is van mening dat die sukses van ’n model afhang van sy potensiaal om die maatskappye wat in die grys area tussen finansieel stabiel en mislukking is, te klassifiseer. Die bestaande modelle is meer suksesvol wanneer die data wat gebruik word, nie binne dié grys area val nie.

Gilbert, et al. (1990) besef die probleem is nie soseer om tussen suksesvolle en bankrotmaatskappye te onderskei nie, maar om by maatskappye wat in finansiële nood verkeer, te onderskei tussen dié wat gaan misluk en dié wat gaan oorleef. Hulle bevind dat ’n model wat volgens die bankrot-/nie-bankrotklassifikasie ontwikkel is, nie daarin slaag om te onderskei tussen bankrotmaatskappye en dié wat in finansiële nood verkeer nie. Hulle bevind ook dat die veranderlikes wat tussen bankrot en finansiële nood onderskei en dié wat tussen suksesvol en bankrot onderskei, verskil. Hulle definieer maatskappye in finansiële nood as maatskappye wat vir enige agtereenvolgende drie jare in die twaalf-jaar-periode onder oënskou ’n kumulatiewe verlies uit voortgesette bedrywighede gehad het, maar wat nie daarna bankrot

geraak het nie. Hierdie definisie sluit maatskappye uit wat ’n geïsoleerde swak jaar gehad het. 66 van die 76 bankrotmaatskappye in die steekproef het ook aan hierdie definisie van finansiële nood voldoen.

Hulle vorm twee toetse, die bankrot- versus finansiële noodgroep en die bankrot- versus ewekansige groep. Die ewekansige groep sluit ook maatskappye in wat in finansiële nood verkeer. In die model vir die bankrot- versus ewekansige groep is die drie onafhanklike veranderlikes wat by ’n 5%-betekenispeil betekenisvol is, (wins voor rente en belasting)/totale bates, ekwiteit/totale laste en OCF/totale laste. Die model wat vir die bankrot- versus finansiële noodgroep ontwikkel is, is statisties betekenisvol, maar volgens Gilbert, et al. nie so “indrukwekkend” soos vorige bankrot-/nie-bankrotmodelle nie. Die veranderlikes wat in die model is, is behoue verdienste/totale bates, ekwiteit/totale laste, OCF/bedryfslaste en kontant/totale bates. Daar is weer ’n kontantvloeiratio, maar net een van die veranderlikes stem met die veranderlikes van die bankrot- versus ewekansige groep ooreen. Alhoewel daar algeheel ’n 81,9%-klassifikasie-akkuraatheid is, word 69,2% van die bankrot- maatskappye in die leersteekproef as in finansiële nood geklassifiseer, met die toetssteekproef selfs swakker. Volgens Gilbert, et al. (1990:170) behoort dié resultate veralgemeen te kan word na ander lande, maar die spesifieke faktore in die land wat bankrotskap direk beïnvloed, moet in ag geneem word wanneer maatskappye wat in finansiële nood verkeer, geklassifiseer word. Die oorvleueling van finansiële eienskappe in finansiële nood- en bankrotmaatskappye beteken waarskynlik dat die keuse van alternatief (bankrotverklaring, besigheidsamevoeging of herstrukturering) nie deur faktore wat in die finansiële state gereflekteer is, veroorsaak word nie.

Aangesien die bestuur van ’n onderneming in finansiële nood die koste wat verbonde is aan ’n likwidasie, wil vermy, sal hulle regstellende aksies neem, soos ’n verandering in die kapitaalstruktuur, ’n verandering in die dividendbetalingsbeleid, ’n verandering in rekeningkundige beleid, verskuiwing binne die bestuursvlakke en ’n verandering in die eksterne ouditeure (Flagg & Giroux, 1991). Ook van buite die onderneming kan daar aanduidings van finansiële nood wees, soos vyandige oornamepogings, ’n gekwalifiseerde lopende saak-ouditmening of verswakte leningsklassifikasies. ’n Maatskappy kan die mislukkingsproses oorleef, of tog uiteindelik bankrot word. Flagg en Giroux (1991) sien ’n maatskappy wat na ten minste drie agtereenvolgende jare van winste ’n netto verlies voor buitengewone

items en beëindigde bedrywighede het, as ‘n maatskappy wat die mislukkingsproses betree. Hulle fokus slegs op maatskappye wat gedurende ’n sewe-jaar-tydperk die mislukkingsproses betree het en stel vas wat met hierdie maatskappye gedurende die vyf jaar na die eerste verlies gebeur het. Van die 202 maatskappye is 26 bankrot verklaar en vir die meeste van dié maatskappye het bankrotskap binne vyf jaar na die eerste verlies plaasgevind. Vier gebeure wat volgens hulle ’n aanduiding van mislukking is, word saam met ses ratio’s in ’n model gebruik. Die gebeure is ’n vermindering in die dividendbetalings, verbreking van ’n skuldooreenkoms, skuld- herstrukturering en ’n lopende saak-kwalifikasie in die ouditverslag. ’n Logit-model het 94% akkuraat geklassifiseer, met die dividend- en die kwalifikasieveranderlikes as baie betekenisvol. Hulle is van mening dat nog navorsing ten opsigte van maatskappye in finansiële nood gedoen behoort te word, aangesien ’n besigheidsamevoeging aan die maatskappy wat finansieel misluk ’n ander alternatief as bankrotskap bied. Dit behoort dus saam met bankrotskap ondersoek te word. Ook Hill en Perry (1996) besef die behoefte aan modelle wat tussen stabiele maatskappye, dié in finansiële nood en bankrotmaatskappye kan onderskei. Maatskappye in finansiële nood word gedefinieer as dié wat ’n kumulatiewe negatiewe verdienste gehad het oor enige drie-jaar-tydperk binne die elf-jaar-periode wat ondersoek is. By die bankrotmaatskappye sluit hulle net dié in wat ten minste een jaar voor bankrotskap finansiële nood gehad het, aangesien bankrotskap sonder finansiële nood waarskynlik as gevolg van ander oorwegings plaasgevind het. Die ratio’s is aangepas vir industrie-gemiddelde en die werkloosheidskoers en primakoers is as ’n een-jaar-lag by die model gevoeg. Hulle vergelyk die gemiddelde van die ratio’s vir die drie groepe maatskappye, wat stabiel, in finansiële nood en bankrot is en bevind dat dit betekenisvol verskil by ’n 5%-betekenispeil. Die maatskappye in finansiële nood val in die algemeen tussen die stabiele en bankrotgroep en kan dus volgens Hill en Perry moeiliker wees om van die ander groepe te onderskei. Vir die maatskappye in finansiële nood is kontant/totale bates, totale laste/totale bates, log van verkope, die primakoers en die gekwalifiseerde ouditmening betekenisvolle veranderlikes by ’n 5%-betekenispeil.