• No results found

Finansiële eienskappe

2.3 SUID-AFRIKAANSE STUDIES

Daar is nie baie Suid-Afrikaanse studies wat oor mislukkingvoorspelling handel nie. Die Suid-Afrikaanse studies wat wel by dié veld aansluit, word vervolgens bespreek. Onderliggend aan parametriese toetse en die MDA-tegniek is die aanname dat die

data normaalverdeel is. Hamman, Smit en Jordaan (1997:81) het 28 verskillende kontantvloeiverhoudings vir normaliteit getoets, met alle waarnemings vir al die sektore vir die tydperk 1974 tot 1993 gepoel; die data per jaar gegroepeer; en die data per sektor vir al die jare saamgegroepeer. Hulle bevind dat die normaliteitsaanname deurlopend verwerp word vir die gepoelde inligting en ook gereeld vir die sektor-gepoelde en die jaar-gepoelde inligting. Hulle waarsku dus teen die gebruik van parametriese toetse en diskriminantanalise op grond van ’n aanname dat die kontantvloeiratio’s normaalverdeel is.

Faktoranalise as tegniek is in van die vorige studies as hulpmiddel gebruik om die onafhanklike veranderlikes wat in die mislukkingvoorspellingsmodelle gebruik word, te bepaal. Dit is ’n tegniek wat ’n groot aantal veranderlikes ontleed en dan reduseer. Die veranderlikes wat dieselfde aspek meet word as ’n faktor saamgegroepeer. Bosch en Du Plessis (1994) doen ’n verkennende studie wat gebaseer is op 41 verhoudingsgetalle van 163 ondernemings in 1992. Onderhewig aan die beperkte data, stel hulle vas dat die volgende verhoudings saam as ’n faktor laai: kontant uit bedrywighede/omset; (kontant uit bedrywighede min belasting)/finansieringskoste(1 - belastingkoers); KVB:kapitaalaflossing; (KVB min dividende betaal):investering in vaste bates; verandering in netto bedryfsbates/omsetverandering; verandering in netto bedryfsbates/kontant uit bedrywighede en omset/(gemiddelde kontant en kwasikontant).

In 1981 het De la Rey (Lambrechts, 1990:626-628) ’n mislukkingvoorspellingsmodel in die Suid-Afrikaanse omgewing ontwikkel. Die veranderlikes in sy model is totale skuld/totale bates; (wins voor rente en belasting)/gemiddelde totale bates; wins na belasting/gemiddelde totale bates teen boekwaarde; (totale bedryfsbates + genoteerde beleggings)/totale bedryfslaste; fondsevloei van belasting/gemiddelde totale bates en voorraad/inflasie-aangepaste totale bates. Dit is in die era voor die ontwikkeling van die verskillende tegnieke wat vir die ontwikkeling van modelle gebruik kan word en ook voor enige kontantvloeistate gepubliseer is.

Volgens Court en Radloff (1993/94) het De la Rey korporatiewe mislukking soos volg gedefinieer:

“Any business:

1. of which the equity became negative.

of insolvency and was, as a result thereof, put under judicial management. 3. which could not show a profit for two out of three years.

4. that was unable to pay its preference dividend on time. 5. that was unable to declare an ordinary dividend for that year.

6. that was unable to honour its loan commitments on time according to a contractual agreement.

7. that reduced the nominal value of its share capital to bring it into line with the assets it represents”.

Hierdie definisie fokus grootliks op verliese en insolvensie. Dit is ’n redelik breë definisie, wat ook die nalaat van voorkeur- en gewone dividende insluit. Die insluit van maatskappye wat nie ’n gewone dividend kon verklaar nie, laat egter hierdie definisie oop vir kritiek, omdat dit moeilik is om te bepaal of die maatskappy verkies het om nie gewone dividende te verklaar nie, en of dit werklik nie daartoe in staat was nie. Geen verwysing word hoegenaamd gemaak na kontanttekorte vanuit ’n kontantvloeiperspektief nie.

Die doel van Court en Radloff (1990) se studie oor maatskappymislukkings in Suid- Afrika is om te bepaal watter metode van MDA of logit-analise die beste voorspelling maak. Hulle gebruik maatskappye wat gedurende die tydperk 1965 tot 1986 genoteer was. Ten spyte van ’n tydperk van meer as twintig jaar wat gedek word, word geen veranderlike ten opsigte van die heersende ekonomiese toestand in die model ingebou nie. ’n Maatskappy wat gedenoteer is vanweë swak finansiële prestasie en later gelikwideer is, word as ‘n mislukking gedefinieer. Die jaar van mislukking word gedefinieer as die eerste jaar waarin sodanige maatskappy ’n verlies gely het, ongeag van òf en hoe lank daarna die maatskappy met besigheid voortgegaan het. Vyftien ratio’s wat die mees prominente in vorige literatuur was, word gebruik en met behulp van faktoranalise verminder. Geen teoretiese model is dus gebruik om die gebruik van onafhanklike veranderlikes te motiveer nie. Alhoewel hulle bevind dat die resultate van logit-analise oënskynlik beter is, dui statistiese toetse aan dat daar onvoldoende bewyse is om die hipotese te aanvaar dat daar ’n betekenisvolle verskil tussen die twee metodes bestaan. Geen geldigheidstoets is uitgevoer nie.

Court (1991) gebruik dieselfde steekproef as wat Court en Radloff (1990) gebruik het en ontwikkel ’n model met behulp van logistiese regressie-analise wat slegs van nie- finansiële inligting gebruik maak. Die onafhanklike veranderlikes is: die vertraging in

dae tussen die finansiële jaareinde van die maatskappye en die publikasie van die finansiële jaarstate; die verandering in die vertraging van jaar tot jaar; die aantal direkteure wat aangestel is of bedank het; die ratio van verandering in direkteure tot die aantal direkteure op die raad; aantal aandele deur direkteure gehou; en die verandering in die aandeelhouding deur die direkteure. Die redes vir die keuse van hierdie veranderlikes is eerstens, dat indien die state swak is, die maatskappye traag kan wees om dit te finaliseer en die oudit langer kan duur ten einde tot ’n mening te kom – vandaar die vertraging van die publikasiedatum. Tweedens sal direkteure bedank indien hulle nie verder betrokke wil wees by ’n maatskappy wat hulle verwag om te misluk nie. Derdens sal direkteure hulle aandele verkoop indien hulle verwag dat die maatskappy gaan misluk. Die vertraging in die publikasie van die finansiële jaarstate en die aandeelhouding deur die direkteure was betekenisvol verskillend tussen die mislukte en nie-mislukte maatskappye in die eerste en tweede jare voor mislukking. Geen veranderlike was betekenisvol vir die tydperk voor die twee jaar voor mislukking nie.

Wanneer die model wat uit nie-finansiële inligting bestaan, met die finansiële model vergelyk word, is bevind dat die nie-finansiële model beter resultate by die mislukte maatskappye behaal en die finansiële model by die nie-mislukte maatskappye. Nog ’n model word ontwikkel waarin beide die finansiële en nie-finansiële veranderlikes opgeneem word. Die model verbeter tot 100%-akkuraatheid in die jaar voor mislukking. Die resultaat bly dieselfde wanneer twee kleiner substeekproewe uit die leersteekproef geselekteer word en Court (1991:10) maak die gevolgtrekking dat “the high predictive ability is unduly influenced by the relatively small size of the data in use rather than by the suitability of the chosen variables”. Aangesien daar so min waarnemings is, word nie van ’n toetssteekproef gebruik gemaak nie, en is die resultate dus nie op onafhanklike data getoets nie.

Olivier (1992) het bevind dat mislukkingvoorspelling meer akkuraat is wanneer tydsdimensies in ag geneem word en verskillende modelle vir die verskillende jare voor insolvensie ontwikkel word. Hy ontwikkel met behulp van diskriminantanalise aparte modelle vir een en vir vier jaar voor insolvensie, en behaal selfs vier jaar voor insolvensie ’n klassifikasie-akkuraatheid van 90,7%. Daar word nie gerapporteer watter tydperke in die ontwikkeling van die model gebruik is nie. Dit is ook nie duidelik of enige kontantvloei-inligting by die onafhanklike veranderlikes ingesluit was

nie. Alhoewel die klassifikasie-akkuraatheid van die twee modelle wat ontwikkel is hoog is, word geen melding gemaak van ’n onafhanklike toetssteekproef waarvolgens die voorspellingsakkuraatheid ook bepaal kon word en die klassifikasie- akkuraatheid se geldigheid sodoende bevestig kon word nie.

Le Roux en Olivier (1992) het deur middel van trosanalise verskeie verhoudings- getalle in trosse gegroepeer. Daarna is stapsgewyse diskriminantanalise toegepas ten einde modelle te ontwikkel vir die onderskeid tussen solvent en insolvent een tot vier jare voor insolvensie. Finansiële inligting vanaf 1970 tot 1988 word gebruik, met insluiting van alle ekonomiese toestande. Die 39 maatskappye wat gedurende hierdie tydperk insolvent geraak het en waarvan die state opgespoor kon word, is gebruik, tesame met ’n seleksie van 60 maatskappye wat gedurende 1982, ’n neutrale ekonomiese jaar, solvent was en wat tot 1988 solvent gebly het. Daar is bevind dat netto wins voor belasting tot totale bates wat in al vier die jare voor insolvensie in modelle opgeneem is, die belangrikste onafhanklike veranderlike in die klassifikasie tussen insolvent en solvent is.

Van Niekerk (1993) gebruik logit-analise om modelle waarin verdienste/totale bates saam met vier kontantvloeiveranderlikes gebruik word, te toets. Die nut van kontantvloeiveranderlikes word spesifiek getoets, maar geen teoretiese model dien as motivering nie. Vyf modelle word getoets, een elk waar die verdiensteveranderlike saam met een kontantvloeiveranderlike op ’n slag gebruik word en een model wat al vyf veranderlikes bevat. Hiervolgens klassifiseer die model met al die veranderlikes die beste. Een van die kontantvloeiveranderlikes wat sy gebruik het, is kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite minus die belegging om bedryfsaktiwiteite te handhaaf. Sy gebruik waardevermindering as maatstaf van die belegging om bedryfsaktiwiteite te handhaaf.

Van Niekerk (1993) gebruik slegs vervaardigingsmaatskappye. Volgens haar misluk ’n maatskappy wanneer die notering op die effektebeurs vanweë ’n swak finansiële toestand beëindig is, maar dit nie ’n oorname was nie en geen beduidende terugbetalings by ontbinding aan aandeelhouers gemaak is nie. Finansiële inligting moet vir ten minste vier jaar beskikbaar wees. Sy gebruik data van 1990 vir maatskappye wat nie misluk het nie, en die nie-mislukte maatskappye selekteer sy uit die tydperk 1975 tot 1988. Sy paar dus glad nie die maatskappye in dieselfde tydperke nie, en maak ook nie voorsiening vir die verskil in ekonomiese toestande

wat tydens hierdie wydverspreide tydperke geheers het nie. Aangesien kontantvloeistate nog nie vir die tydperk 1975 tot 1988 beskikbaar was nie, moes syfers bereken word.

Haar model vir een jaar voor mislukking klassifiseer beter as die een vir twee jaar voor mislukking. Sy rapporteer dat die gemiddelde verwagte waarskynlikheid van mislukking vir die suksesvolle maatskappye 0,0507 was, wat naby die minimum van 0 was en die gemiddelde verwagte waarskynlikheid vir die maatskappye een jaar voor mislukking 0,8229 was, wat naby die maksimum van 1 was. Sy rapporteer egter glad nie die akkuraatheidspersentasies nie. Alhoewel ’n geldigheidstoets volgens haar wel gedoen is, word dit glad nie gerapporteer nie.

Court en Radloff (1993/94) ontwikkel ’n mislukkingvoorspellingsmodel in twee stappe. Hulle gebruik makro-ekonomiese veranderlikes, asook mikro-ekonomiese veranderlikes wat arbitrêr geselekteer word en deur middel van faktoranalise gereduseer word tot die veranderlikes wat in die ontwikkeling van die model gebruik word. Data-ontginning word dus in die soeke na die mikro-ekonomiese veranderlikes toegepas, sonder dat daar enige rekeningkundige of finansiële teorie as basis dien. ’n Besigheidsmislukkingskoers word bereken deur die getal maatskappye wat gedurende ’n maand gederegistreer of gelikwideer is, deur die totale aantal geregistreerde maatskappye te deel. Die tydperk wat ondersoek word, is 1975 tot 1985. Hulle bevind dat die besigheidsmislukkingskoers en die besigheidsiklus negatief gekorreleer is. Hulle bereken verskillende afsnypunte vir hulle diskriminant- model, gegrond op verskillende besigheidsmislukkingskoerse. Afhangende van die besigheidsmislukkingskoers wat geld, word ’n diskriminantfunksie vir ’n maatskappy bereken, wat dan teen Court en Radloff se afsnypunt vir die spesifieke besigheidsmislukkingskoers gemeet word. Geen kontantvloeiveranderlike is in hulle diskriminantfunksie ingesluit nie.

Garbers en Uliana (1994) bevind dat die kredietevalueringstelsel van ’n bank verbeter kan word, deur Beaver se eenveranderlike-analise of De la Rey se model saam met die bank se bestaande evalueringsisteem te gebruik. Beide modelle het in ’n betekenisvolle aantal gevalle finansiële nood by industriële privaatmaatskappye geïdentifiseer, voordat dit deur die bankamptenare vasgestel is. Hulle beklemtoon dat die modelle nie in isolasie gebruik moet word nie, maar bloot ’n addisionele hulpmiddel is, wat kan aandui wanneer ’n maatskappy in finansiële nood is en dat ’n

indringende ondersoek nodig is.

Olivier (1994) bevind dat beter klassifikasie-akkuraatheid tussen misluk en sukses behaal kan word, deur ’n model vir die spesifieke ekonomiese toestand op die heersende ekonomiese siklus toe te pas. Hy ontwikkel aparte modelle met behulp van stapsgewyse diskriminantanalise vir hoog- en laagkonjunktuur. Twaalf maatskappye wat tydens elke toestand misluk het, word gepaar met maatskappye wat nie in daardie ekonomiese toestand misluk het nie. Mislukking word nie spesifiek gedefinieer nie; die jare waaruit die seleksie gemaak is, word nie gerapporteer nie; en die berekening van die onafhanklike veranderlikes word nie gedefinieer nie. Dit is dus onbekend of werklike kontantvloeigegewens in die modelle gebruik is, en of die fondsevloeiratio’s waarna verwys word, slegs berekende kontantvloeisyfers was. Slegs die resultate van die twee gepaarde steekproewe van 24 maatskappye elk word gerapporteer. Dit wil dus voorkom asof daar nie van ’n toetssteekproef gebruik gemaak is ten einde die voorspellingsakkuraatheid op ’n onafhanklike uithousteekproef te toets nie. Die klassifikasie-akkuraatheid van die leersteekproewe is goed, met swakker klassifikasie tydens laag- as tydens hoogkonjunktuur. Hy lei hieruit af dat dit “moeiliker is om mislukking tydens swak ekonomiese tye te voorspel”. Hy bevind ook dat eienaarsbelang tot totale bates en netto bedryfsbates tot bedryfslaste ’n groter rol tydens hoog- as laagkonjunktuur speel. Daarenteen is verandering in omset, netto wins voor belasting tot totale bates en kontantvloei voor belasting tot totale bates belangriker tydens laag- as hoogkonjunktuur.

Arron en Sandler (1994/95) gebruik ’n mengsel maatskappye geselekteer uit die jare 1966 tot 1976 en 1988 tot 1993. Geen voorsiening word in hulle modelle daarvoor gemaak dat uiteenlopende ekonomiese toestande gedurende genoemde tydperke geheers het nie. Alhoewel kontantvloeidata vir die tweede tydperk beskikbaar was, moet dit vir die eerste tydperk op ’n alternatiewe wyse bereken word. Hulle gebruik genoteerde maatskappye wat bankrot was en paar dié maatskappye met ander uit dieselfde sektor. Data moes vir vyf jaar beskikbaar wees. Hulle gebruik MDA, logit- analise en neurale netwerke. Daar word bevind dat die ratio aandeelhouersbelang/ totale finansiering die beste diskrimineer, met totale bates wat ook betekenisvol is. Geeneen van die kontantvloeiratio’s was betekenisvol nie, maar kontantvloei/ gemiddelde totale finansiering word by die model ingesluit. Die keuse van ratio’s is nie aan enige teoretiese model onderliggend nie en is aan data-ontginning oorgelaat.

Al drie die metodes klassifiseer nie-mislukking beter as mislukking. Statistiese toetsing dui aan dat die klassifikasie-akkuraatheid van die verskillende tegnieke nie betekenisvol by ’n 5%-betekenispeil verskil nie, behalwe by die model vir vyf jaar voor mislukking, waar logit-analise beter as MDA is. Geen geldigheidstoets is gedoen nie.