• No results found

Finansiële eienskappe

2.1 OMVANG EN RAAMWERK VAN LITERATUURSTUDIE

2.2.4 Modelle waarop mislukkingvoorspelling gebaseer word

Die grootste kritiek teen die modelle wat ontwikkel is ten einde tussen mislukte en nie-mislukte maatskappye te onderskei, was dat dit nie teoreties gefundeer is nie. In 1983, amper twintig jaar na Beaver se aanvanklike studie (1966), bevind Zavgren (1983:2) steeds: “[t]he theoretical analyses of bankruptcy have proceeded generally without any empirical evidence on which variables should be included in such a theoretical model”. Volgens Jones (1987:136) “[i]deally, theory would suggest a causal link between selected variables and financial distress; the proposed linkage could then be tested by an appropriately constructive predictive model”.

In sommige gevalle is pogings aangewend om die gebruik van veranderlikes teoreties te bewys. ’n Voorbeeld hiervan is Beaver (1966:80) wat bankrotskap aan die hand van ’n reservoir verduidelik en Blum (1974:4) wat die reservoir-analoog verder voer. Wanneer ander faktore gelyk is, word verwag dat die waarskynlikheid van mislukking groter is as:

• die reservoir (die finansiële hulpbronne) kleiner is; • die invloei van hulpbronne kleiner is;

• die uitvloei van die hulpbronne benodig deur die bedrywighede van die besigheid groter is;

• die eise wat die krediteure teen die hulpbronne het groter is;

• daar meer variasie in die verdienste en die eise teen die hulpbronne is; en • die industrie waarin die besigheid is, meer mislukkings-geöriënteerd is.

Tog is die keuse van veranderlikes wat in die modelle gebruik word, gebaseer op motiverings soos gewildheid en die gebruik in vorige studies (Beaver, 1966:78) of nuwe verhoudingsgetalle wat nog nie vantevore getoets is nie.

Emery en Cogger (1982:291) ontwikkel ’n model uit die likwiditeitsposisie van ’n maatskappy. Volgens hulle hou maatskappye likwiditeit in stand ten einde bekende asook onbekende kontantuitsette (beleggingsmoontlikhede en uitgawes) in die nabye

toekoms te kan hanteer. Indien die maatskappy se vermoë om aan hierdie kontantbehoeftes te voldoen, onvoldoende is, mag dit nodig wees om betalings uit te stel, bates te verkoop, winsgewende beleggingsmoontlikhede te ignoreer of tydelike finansiering teen ongunstige terme te bekom. Hoe groter die maatskappy se vloei van likwiede bronne, hoe kleiner is die kans van illikwiditeit. Die likwiede reserwes aan die begin van die tydhorison is dit wat beskikbaar is om aan die kontantbehoeftes te voldoen en is gelyk aan die som van die begin kontant en bemarkbare sekuriteite plus die maatskappy se korttermyn-leningskapasiteit.

Lau (1987:129) baseer haar model op die finansiële fleksibiliteit-konsep, wat die instandhouding van ’n maatskappy se likwiede fondse-saldo as die kern van solvensie beskou. Gedurende tye van kontantvloeiprobleme bepaal die finansiële fleksibiliteit van ’n maatskappy sy vermoë om te herstel en te oorleef. Die finansiële fleksibiliteithulpbronne is geïdentifiseer as: leningskapasiteit; aandele-fleksibiliteit; koste-aanpasbaarheid; dividendaanpasbaarheid en vermoë om bates te verkoop sonder dat die winsgewendheid van oorblywende bates beïnvloed word, aangesien ’n maatskappy in tye van finansiële nood geneig is om kapitaalbates te verminder. Alhoewel Beaver, Blum, Emery en Cogger en Lau almal die belang van die vloei van kontant as ’n teorie onderliggend aan bankrotskap besef, is dit toevallingsinligting en nie kontantvloei-inligting nie, wat as veranderlikes gebruik word. Eers na die kritiek wat oor die oënskynlike growwe empirisme van die mislukkingvoorspellingstudies uitgespreek is (Ball & Foster, 1982; Zavgren, 1983; Jones 1987), het die klem verskuif na ’n geldige teorie waarop die modelle gebaseer kan word.

Gentry, Newbold en Whitford (1985a, 1985b en 1987) is die eerste om ’n fondsevloei-model (die model is ook onderliggend aan die staat van bron en aanwending van fondse) as die oorsprong van hulle veranderlikes te gebruik. Gentry, et al. (1985a:147; 1985b:48) herontwerp ’n fondsevloei-model van Helfert soos volg: NOFF(i) + NWCFF(u) + NFFF(i) + FCE(u) + NIFF(u) + DIV(u) + NOTHER(u) – CC(i of u) = 0, waar die agt fondsevloeikomponente die volgende is: NOFF = fondse uit bedrywighede; NWCFF = bedryfskapitaal; NFFF = finansiering; FCE = rente- en huurbetalings; NIFF = kapitaalbesteding; DIV = dividende; NOTHER = ander bate- en laste-vloei; en CC = verandering in kontant en bemarkbare sekuriteite; met i = invloei en u = uitvloei. Hulle redeneer dat die veranderinge in die fondsevloei-komponente die bestuur se bedryfs-, investerings- en finansieringsbesluite reflekteer en dat die

tendens in dié veranderinge ’n maatstaf vir die onderskeid tussen suksesvolle en mislukte maatskappye behoort te verskaf. Elkeen van die fondsevloeikomponente word deur TNF = totale netto vloei gedeel, sodat aangedui word watter deel van die totale vloei deur elke komponent bygedra word (TNF = die totale netto invloeie = die absolute waarde van totale netto uitvloeie). CC/TNF word weggelaat ten einde statistiese ooridentifikasie te vermy en TNF/TB met TB = totale bates word ingevoeg as ’n skaalmaatstaf.

Aziz, et al. (1988) gebruik ’n kontantvloeimodel wat op Lawson se kontantvloei- identiteit gebaseer is. Alhoewel die model onderliggend is aan die direkte kontantvloeistaatformaat, was werklike kontantvloei-inligting nog nie beskikbaar ten tye van hulle studie nie, en moes hulle syfers uit die inkomstestaat en balansstaat bereken ter plaasvervanging. Die kontantvloeimodel is soos volg:

(kj - hj) – (Aj + Rj – Yj) – Hj – tj = (Fj – Nj – Mj) +(Dj – Bj), met

kj - hj = kontantvloei uit bedrywighede in jaar j, met die kontant ontvang vanaf klante

kj, en die bedryfsuitvloei van kontant hj;

Aj + Rj – Yj = netto kapitaalinvestering, met (in jaar j) vervangende investering Aj;

uitbreidende investering Rj en die opbrengs van bateverkope Yj,;

Hj = likwiditeitsverandering in jaar j;

tj = alle belasting betaal in jaar j;

Fj = rente betaal in jaar j;

Nj = medium- en langtermynlenings bekom en terugbetaal gedurende jaar j;

Mj = korttermynlenings ontvang en terugbetaal in jaar j;

Dj = dividende betaal in jaar j; en

Bj = aandele uitgereik of teruggekoop in jaar j.

Hierdie vergelyking is onderliggend aan die teorie van korporatiewe waardasie (Aziz, et al., 1988:420), waar totale markwaarde van die maatskappy = markwaarde van vreemde kapitaal + markwaarde van eie kapitaal; of die huidige waarde van die verwagte kontantvloei na belasting van die maatskappy = huidige waarde van verwagte leningskontantvloei + huidige waarde van verwagte aandeelhouers- kontantvloei. ’n Maatskappy het dus markwaarde as ’n lopende saak indien dit op ’n lopende basis na kapitaalspandering positiewe kontantvloei genereer en ook na verwagting sal voortgaan om dit te genereer. Indien (Dj – Bj) > (kj - hj) – (Aj + Rj – Yj)

kontant gedek word nie, betaal en dat die verskil uit eksterne fondse gedek moet word. Indien die markwaarde en (kj - hj) – (Aj + Rj – Yj) – Hj – tj konstant bly oor tyd

en lenings toeneem, sal die vervanging van ekwiteit met skuld daartoe lei dat die skuldeisers geleidelik beheer van die maatskappy oorneem – ’n teken van bankrotskap. Volgens Aziz, et al. (1988:421) bestaan daar dus ’n teoretiese en empiriese rasionaal vir die formulering van ’n hipotese met betrekking tot korporatiewe bankrotskap in terme van kontantvloeiveranderlikes.

Die vergelyking wat Aziz, et al. gebruik het, is die basis van die huidige kontantvloeistaat, die volgorde is net verander om te lees:

(kj – hj) – tj – Fj – Dj – (Aj + Rj – Yj) + (Nj + Mj) + Bj = Hj.

KVBj – KVIj + KVFj = Verandering in kontantj

Laitinen en Laitinen (2000) gebruik Beaver se definisie van mislukking, naamlik die onvermoë van ’n maatskappy om sy finansiële verpligtinge na te kom soos dit betaalbaar word. Hulle aanvaar dat die vermoë van ’n maatskappy om sy finansiële verpligtinge te betaal wanneer dit betaalbaar word (solvensie), afhang van vier alternatiewe faktore: finansiële verpligtinge; die bedrag kontant; die netto kontantvloei; en die opsies om eksterne finansiering te bekom. Indien die kontant plus die kontantvloei plus die opsies van eksterne finansiering gedurende een tydperk kleiner is as die finansiële verpligtinge wat betaalbaar word, sal die maatskappy in die daaropvolgende tydperk insolvent raak. Daarvan lei hulle af dat die risiko van insolvensie ’n funksie is van kontant oor totale bates; kontantvloei oor totale bates; en ekwiteit oor totale bates. Hierdie ratio’s word dan in hulle model gebruik.

Laitinen het in sy navorsing oor mislukking verskeie teoretiese modelle as basis vir ratio’s wat in mislukkingvoorspellingsmodelle gebruik kan word, getoets. In sy 1991- studie (1991:654) ontwikkel hy ’n teoretiese model wat toon dat ratio-analise in mislukkingvoorspellingstudies deur vyf faktore beïnvloed word: (a) die winsgewendheid van die maatskappy, (b) die groeikoers van verkope, (c) die mate waarin die uitset in inkomste omgeskakel kan word - of kapitaalintensiteit, (d) die verhouding tussen vreemde en eie kapitaal en (e) die verhouding tussen bates en laste in die maatskappy, insluitend die verhouding tussen lang- en korttermynbates en -laste. Hy gebruik die kontant-insolvensie-konsep vir mislukking, wat dui op die onvermoë van die maatskappy om sy finansiële verpligtinge na te kom soos hulle

betaalbaar word. Die toereikendheid van winsfinansiering speel ’n deurslaggewende rol in mislukking, want hoe beter die winsgewendheid, hoe minder afhanklik is die maatskappy van eksterne finansiering. Die toereikendheid van winsfinansiering kan gemeet word aan die hand van ’n berekende fondsevloeiverhouding. Die fondsevloeiverhouding word beïnvloed deur (i) die winspersentasie, (ii) die groeikoers van verkope en (iii) die kapitaalintensiteit. Swak winsfinansiering kan dus die gevolg wees van òf swak winsgewendheid, òf vinnige groei, òf ’n stadige omskakeling in inkomste. ’n Verswakking in hierdie drie faktore kan as die eerste teken gesien word van ’n tekort in winsfinansiering en later mislukking.

2.2.5 Die gebruik van kontantvloei-inligting in mislukkingvoorspelling