• No results found

Finansiële eienskappe

2.4 TOEPASSING OP HUIDIGE STUDIE

2.4.5 Onderliggende teoretiese model

Blum (1974) wys daarop dat in die afwesigheid van ’n teorie van simptome, ’n statistiese ontleding van finansiële verhoudingsgetalle nie gebruik kan word met die verwagting dat daar ’n volhoudbare korrelasie tussen die onafhanklike veranderlikes en die gebeurtenis wat voorspel moet word, sal wees nie. Dit is dus essensieel dat die veranderlikes wat in die model gebruik word, nie bloot deur middel van data- ontginning afgelei word nie, maar in die teorie onderliggend aan die mislukking gegrond word.

Volgens Heath (1978:3) is solvensie “a money or cash phenomenon. Evaluating solvency is basically a problem of evaluating the risk that a company will not be able to raise enough cash before its debt must be paid”. Vorige navorsers was dus reg om hulle teoretiese modelle op kontantvloeibeginsels te grond, aangesien die gebrek aan kontant ’n maatskappy kan laat misluk. Heath en Rosenfield (1979) is van mening dat die bestuur van ’n maatskappy twee breë doelwitte het, naamlik die winsgewendheid en solvensie van die maatskappy. Winsgewendheid is die vermoë om rykdom te skep en solvensie is die vermoë om skuld te betaal wanneer dit betaalbaar word. Solvensie en winsgewendheid is verwant: langtermynsolvensie is afhanklik van langtermynwinsgewendheid; op die kort termyn loop solvensie en winsgewendheid egter nie noodwendig saam nie. ’n Nie-winsgewende onderneming mag vir jare solvent bly omdat die kontantinvorderings die verwagte kontantbetalings oorskry.

Daarenteen kan ’n winsgewende maatskappy wat kontant nodig het om sy stygende voorraad, debiteure en nie-bedryfsbates te finansier, onrealistiese skuld aangaan wat tot sy insolvensie kan lei.

Daar kan verskillende oorsake van mislukking wees, wat deur verskillende ratio’s aangedui word. ’n Maatskappy mag ondergaan bloot omdat hy nie winsgewend is nie, en nie die hoop het om winsgewend te word nie. ’n Ander maatskappy kan sterk groei, en as gevolg daarvan kontantvloeiprobleme ontwikkel, wat hom laat misluk. Nog ’n ander maatskappy kan sterk groei, maar bloot op grond van sy groot winsmarge daarin slaag om nie kontantvloeiprobleme te kry nie en oorleef. ‘n Maatskappy waarvan die kapitaalstruktuur sodanig is dat hy nog nie tot lenings verbind was nie, kan oorbruggingsfinansiering kry, terwyl ’n ander maatskappy reeds sy vreemde kapitaalkapasiteit uitgeput het. Die legio moontlikhede vir en unieke toestande waarin elke spesifieke maatskappy hom bevind, maak dat geen model waarskynlik ooit 100%-klassifikasie- en voorspellingsakkuraatheid sal handhaaf nie. ’n Kombinasie van faktore en veranderlikes behoort egter ’n spesifieke finansiële eienskap van ’n groep maatskappye te identifiseer. Hierdie studie het ten doel om maatskappye wat van oorbedryf gebruik maak en vanweë ’n negatiewe KVB in moontlike finansiële nood verkeer, te identifiseer. Vir die oningeligte gebruiker wat steeds baie waarde aan ’n reuse-groei in verkope en winste heg, is hierdie maatskappye aanloklike beleggings, maar in wese groei sommige te veel vir hulle struktuur en beskik hulle nie oor die nodige kontant om hierdie uitbreiding op die lang termyn te finansier nie. Die oningeligte gebruiker plaas nie soveel klem op kontantvloeistate nie, en soos Sharma en Iselin selfs nog in 2003 gerapporteer het, het selfs kredietbestuurders, wat waarskynlik meer as ander gebruikers ingelig is, kontantvloei-inligting nie optimaal gebruik nie en nie geweet hoe om dit te interpreteer nie. In hierdie studie sal maatskappye wat deur oorbedryf gekenmerk word, dus geïdentifiseer word met behulp van ’n kombinasie wins- en kontantvloeigegewens. (Sien Figuur 1.3, stap a.)

Oorbedryf is slegs die term wat vir ’n spesifieke finansiële kenmerk gebruik word en impliseer nie op sigself mislukking nie. Rees (1995:293) noem “overtrading in relation to capital base” as een van die moontlike oorsake van insolvensie. Die studie sal dus as ’n tweede doelwit poog om vas te stel watter veranderlikes die maatskappye wat in hierdie kategorie nie misluk nie of wat wel misluk, beter klassifiseer. (Sien Figuur

1.3, stap b.)

2.5 GEVOLGTREKKING

Heelwat werk is al in die veld van mislukkingvoorspelling gedoen. Na aanleiding van die leemtes wat steeds bestaan, is dit nodig om kontantvloei-inligting verder te ontgin, en om eerder die grys area van finansiële nood as bankrot versus nie-bankrot te ondersoek.

Hiermee saam gaan beperkings. Die modelle wat al sedert 1966 die lig gesien het, het reeds goeie resultate behaal en nuwer modelle het oënskynlik nie werklik op die akkuraatheid verbeter nie. Dit mag wees as gevolg van faktore wat nie meetbaar is nie of wat onbeheerbaar is. Volgens Zavgren (1983:25): “Many unobservable factors exist that influence the vulnerability of an individual firm, which is a drawback of any methodology used to model a phenomenon with limited data. These factors may include the unmeasured qualities of assets, the ability of management to perform well under new and adverse circumstances, random events in either the internal or external environments, and activities of regulators and courts of law”.

Dit is dus so dat enige nuwe studie nie noodwendig die akkuraatheidspersentasie van vorige studies sal verbeter nie. Die waarde van hierdie studie is egter daarin gesetel dat dit afwyk van die standaard-mislukkingvoorspellingsmodelle omdat dit slegs ’n kategorie maatskappye selekteer wat ’n spesifieke finansiële eienskap het. Sodoende vind daar reeds ’n suiwering van faktore en veranderlikes plaas. Tweedens word ’n teoretiese model van die fenomeen wat oorbedryf veroorsaak en dus onderliggend aan mislukking vir hierdie spesifieke groep maatskappye is, ontwikkel. Derdens word mislukking nie slegs as bankrotskap nie, maar aansienlik breër gedefinieer. Vierdens word gepoog om die teoretiese model, sowel as enige toetse wat gedoen word, so basies as moontlik te hou, ten einde dit vir die gewone gebruiker ook verstaanbaar te maak. Libby (1975) stel dit dat die waarde van rekeningkundige inligting, soos in ’n voorspellingsmodel opgeneem, nie alleen die funksie is van die voorspellingswaarde daarvan nie, maar ook die vermoë van die gebruikers om dié inligting te interpreteer. Vyfdens spreek hierdie studie die kritiek teen die meeste Suid-Afrikaanse mislukkingvoorspellingstudies aan, omdat die modelle wat ontwikkel is, op ’n onafhanklike toetssteekproef getoets word. Nog ’n

uitbreiding op die Suid-Afrikaanse mislukkingvoorspellingstudies is dat die klassifikasieboomtegniek, sover bekend, vir die eerste keer toegepas word. Daar word ook nie in hierdie studie van data-ontginning gebruik gemaak om die onafhanklike veranderlikes te selekteer nie.

Aangesien kontantvloei-inligting die hoofrol in hierdie studie speel, word die openbaarmaking daarvan in die praktyk in die volgende hoofstuk ondersoek.