• No results found

Finansiële eienskappe

2.4 TOEPASSING OP HUIDIGE STUDIE

2.4.2 Datavoorbereiding en steekproefontwerp 1 Manipulasie en standaardisasie

Min studies het die gepubliseerde data van maatskappye aangepas voordat dit in die modelle gebruik is, maar soos Sharma (2001) tereg opmerk, sal die beste model minder akkuraat wees indien dit op gemanipuleerde finansiële syfers gebaseer is. Dit is moeilik om die omvang van manipulasie in gepubliseerde finansiële jaarstate vas te stel, en dit is wel ongelukkig so dat maatskappye wat in finansiële nood verkeer, hulle waarskynlik die meeste aan manipulasie skuldig maak.

is, gebruik gemaak. Ook word die kontantvloeistate van maatskappye gestandaardiseer sodat die klassifikasie tussen die drie aktiwiteite en die veranderinge in kontant en -ekwivalente tussen maatskappye vergelykbaar is. Die belangrikste aanpassings wat gemaak word, is om die volgende te toon: alle finansieringsinkomste en -koste as deel van KVB; rente gekapitaliseer as deel van KVB en nie KVI nie; en oortrokke bank as deel van KVF en nie verandering in kontant nie.

Behalwe vir twee vorme van standaardisasie, word verskille in die rekeningkundige beleid tussen maatskappye onveranderd gelaat en verskil AARP wel met verloop van tyd. Dit beïnvloed egter grotendeels die inkomstestaat en balansstaat en nie die kontantvloeistaat nie. Die standaardisasie wat wel gedoen is, is eerstens in die inkomstestaat waar die inkomste vanaf geassosieerdes wat by wins vir die tydperk ingesluit word, slegs die dividende wat ontvang is, behels en nie ook behoue ekwiteitswins nie. Die tweede standaardisasie is ten opsigte van die balansstaat waar ontasbare bates van ekwiteit afgetrek word, sodat dit met tydverloop en tussen maatskappye dieselfde hanteer word. Die verskillende maniere waarvolgens dit oor die jare òf as bate getoon is, òf teen aandelepremie of ’n reserwe afgeskryf is, òf geamortiseer is al dan nie, word dus gelykgestel.

Platt, et al. (1994) het bevind dat ekonomiese veranderlikes reeds in nominale syfers opgesluit lê. Alhoewel die reële syfers saam met ekonomiese veranderlikes in ’n model beter akkuraatheid gelewer het as slegs nominale syfers, gebruik hierdie studie slegs nominale syfers. Daar sal wel in ag geneem word of die waardes wat gebruik word, deel van ’n groeiperiode of ’n resessie was, deur verskillende modelle vir die verskillende ekonomiese toestande wat geheers het, te ontwikkel.

2.4.2.2 Universum/steekproef

Die studie fokus op genoteerde industriële maatskappye. Mynbou-, versekerings- en finansiële maatskappye word dus uitgesluit. Enige maatskappye wat in die buiteland geregistreer is, asook piramide-maatskappye is nie betrek nie. Aangesien die aantal industriële maatskappye wat op die JSE Effektebeurs genoteer is, baie min is in vergelyking met sommige oorsese lande, kan dit nie industrie-spesifiek of per sektor getoets word nie.

Een van die redes wat aangevoer is waarom industrie-spesifieke modelle behoort ontwikkel te word, is omdat die struktuur van die maatskappye van industrie tot industrie verskil, met ander woorde, dit kan ’n bedryfsbate-intensiewe industrie of ’n nie-bedryfsbate-intensiewe industrie wees. Al kan daar nie in dié studie sektorspesifiek te werk gegaan word nie, word daarvoor gekompenseer deur spesifiek die struktuur van die maatskappye in ag te neem en twee ratio’s te bereken – een hoofsaaklik op grond van bedryfskapitaalveranderinge en die ander ook met inagneming van instandhouding van nie-bedryfsbates.

Die universum genoteerde industriële maatskappye binne die tydperk wat ondersoek word, sal in enige toetse gebruik word. Die probleme wat met paring van mislukte en nie-mislukte maatskappye in steekproewe gepaard gaan, is dus irrelevant vir hierdie studie.

Die grootste kritiek teen die Suid-Afrikaanse en die vroeëre oorsese mislukkingvoorspellingstudies is die afwesigheid van ’n onafhanklike toetssteekproef waarop die klassifikasie-akkuraatheid van die leersteekproef getoets word. Hierdie aspek word spesifiek in dié studie aangespreek, deurdat daar by die ontwikkeling van al die modelle ’n onafhanklike toetssteekproef gebruik word, om ook die voorspellingsakkuraatheid van die model te bepaal.

2.4.2.3 Aantal jare gebruik in model

Sommige navorsers beperk nie die maatskappye wat ingesluit word tot dié waarvoor daar vir ’n sekere aantal jaar inligting beskikbaar is nie, aangesien dit ’n onewekansigheid sou inbou, omdat maatskappye wat in minder as daardie aantal jaar reeds misluk het, nie by sodanige model ingesluit word nie. Aan die ander kant is die veranderlikes wat in sommige modelle gebruik word, afhanklik van data wat oor ’n aantal jaar ingesamel is, byvoorbeeld in tydreeksontleding, of as die variansie van veranderlikes gebruik word. Omdat daar in die huidige studie van kumulatiewe data gebruik gemaak sal word, sal ’n aantal jare se inligting dus benodig word, waarvan ’n spesifieke aantal jaar se inligting as minimum moet geld.

Blum (1974) het modelle gebou wat mislukking een tot ses jaar voor die gebeurtenis voorspel het. Hy het bevind dat jaar 1 en 2 baie goeie akkuraatheid gehad het, jaar 3 tot 5 was redelik, maar jaar 6 was glad nie goed nie. Hy was ook van mening dat hoe

meer jare se data in ’n model gebruik word, hoe beter die model. Hy bevind dat insluiting van data van vier, vyf en ses jaar goeie resultate lewer. Drie jaar se dat lewer gemiddelde resultate en sewe en agt jaar swak resultate.

Heelwat modelle voorspel baie goed een of twee jaar voor mislukking, maar nie op ’n vroeër stadium nie. Sommige modelle voorspel relatief akkuraat tot vyf jaar voor mislukking, maar geen model maak redelike voorspellings langer as vyf jaar voor mislukking nie. Altman (1968) merk in ’n tendensontleding op dat die verhoudingsgetalle van die bankrotmaatskappye ’n afwaartse tendens het namate bankrotskap nader kom. Die grootste verandering by die meeste van die ratio’s kom tussen die derde en tweede jaar voor bankrotskap voor. Vranas (1992) het ook bevind dat die veranderlikes van die mislukte maatskappye in die eerste twee jaar voor bankrotskap die grootste veranderinge ondergaan, terwyl jare vier en drie voor bankrotskap maar ’n geringe agteruitgang toon. Dit is dus nie verbasend dat die eerste twee jaar voor mislukking die mees akkuraatste resultate lewer nie.

Henebry (1996) meen dat ’n waarskuwing drie tot vyf jaar voor mislukking, betyds behoort te wees vir ’n maatskappy om regstellings aan sy strategie te maak en die finansiële noodposisie om te keer. Om mislukking een jaar voor die tyd te voorspel, mag vir die maatskappy wat al geruime tyd in finansiële nood verkeer te kort wees om sy posisie om te keer, nie net vir tydelike oorlewing nie, maar vir stabiliteit. Aan die ander kant help dit ook nie om vyf jaar voor die tyd ’n waarskuwing te rig op grond van ’n model met ’n lae akkuraatheid nie. Die ideaal is dus om ’n model wat reeds tussen drie tot vyf jaar hoë akkuraatheid behaal, te ontwikkel.

Die ander uitweg is om Taffler (1983) te ondersteun en die model se voorspelling te kwalifiseer as synde ’n lys maatskappye wat in finansiële nood verkeer, maar nie noodwendig sal misluk nie. Aangesien die uiteindelike mislukking van baie ander faktore as bloot finansiële resultate afhang en maatskappye kunsmatig aan die gang gehou word, is hierdie standpunt waarskynlik die meer realistiese. Die doel van die model is dan om betyds ’n waarskuwing te rig sodat die maatskappy wat geïdentifiseer is as in finansiële nood, sy posisie kan oorweeg en die nodige veranderinge aanbring. Indien so ’n maatskappy dan nie misluk nie, gaan van die model se “akkuraatheid” verlore en is dit nie ’n wetenskaplike sukses nie. Vir die ekonomie was dit egter ’n suksesverhaal, omdat die koste van ’n maatskappymislukking afgeweer is.

Ohlson (1980:117) het bevind dat daar heelwat gevalle was waar maatskappye nog ’n stel finansiële state voor die datum van aansoek vir bankrotskap sou kon opstel, maar hy kon nie sodanige state vind nie. Hy spekuleer dat dit waarskynlik vir dié maatskappye, wat reeds tydens daardie jaareinde in finansiële nood verkeer het, sinneloos was om ’n stel finansiële state voor te berei en deur ’n ouditproses te gaan. Ohlson (1980:117) rapporteer ook dat daar in die jaar van bankrotskap ’n langer tydverloop is tussen die balansstaatdatum en die datum van die ouditverslag as in voorafgaande jare. Ook Hamer (1983) merk op dat maatskappye wat in finansiële nood verkeer, gereeld die uitreik van hulle finansiële state vertraag het. In hierdie studie sal die laaste jaar wat vir ’n spesifieke maatskappy wat misluk het in die databasis beskikbaar is, as jaar 1 voor mislukking gesien word, aangesien die maatskappy in wese reeds misluk het. Die proses van mislukking word deur wetlike of ander aspekte vertraag en tydens hierdie vertragingsperiode word state nie beskikbaar gestel nie.

Die geldigheid van enige model wat in hierdie studie ontwikkel word, sal getoets word in ooreenstemming met Taffler (1983) en Flagg en Giroux (1991) wat die werklike ex ante-mislukkingsgebeure oor ’n vyf-jaar-periode na identifikasie opvolg; Flagg en Giroux (1991) het bevind dat al die maatskappye wat misluk het in hulle steekproef van maatskappye in finansiële nood, het binne vyf jaar na identifikasie bankrot geraak. Aangesien vyf jaar se opvolginligting nodig is ten einde die uitkoms van ‘n maatskappy as misluk of nie-misluk te klassifiseer, sal die Junie 2000-jaareindes die laaste wees wat in hierdie studie gebruik word om die model af te lei.