• No results found

TEOLOGIESE AKSENTE IN DE WET SE BEDIENINGSJARE (1916-1925)

De Wet was vroeg in sy bediening teologies baie aktief. Benewens die normale bedieningswerk in Steynsburg het hy hom in 1917 reeds beywer vir ’n teologiese herbesinning rondom die vieringe van die Hervorming van die 16de eeu en ook die vieringe rondom die Gelofte van die Afrikaner in 1838.

Rondom Hervorming het hy drieërlei aspekte onderskei (De Wet, 1917, 1,11, 17). Eerstens het hy gekyk hoe die voorbereiding tot hierdie gebeurtenis plaasgevind het. Daarna bring hy na vore hoe daar ’n deurbraak met die hervorming gekom het. In die laaste plek in watter mate die viering van hierdie dag steeds nagekom word en waarmee dit gevul moes wees.

Dit is opvallend dat wanneer De Wet in sy laaste rede by die Teologiese Skool op 27 Oktober 1944 optree hy ’n lesing aangebied het met die vraag: “Is Kerkhervorming vandag moontlik?” Opvallend is die groot klemverskuiwing wat De Wet vroeg in sy bediening en dan later naby die einde van sy bediening in die GKSA rondom die verstaan van Hervorming ondergaan het. Dit is ’n aspek wat by die bestudering van De Wet se teologiese klemverskuiwings besondere aandag moet ontvang. Dit bly merkwaardig dat De Wet se bediening in die GKSA in ’n sekere sin rondom sy verstaan van Hervorming begin het en dan ook weer aan die einde rondom sy verstaan van Hervorming geëindig het.

In dieselfde teologiese werk waarin De Wet die Hervorming aan die orde stel, hanteer hy die betekenis van die Gelofte wat ’n merkwaardige teologiese moment in die geskiedenis van die Afrikaner tydens die Groot Trek in 1838 na vore bring. In die tyd van De Wet se vroeëre bediening was die viering van die Gelofte bekend as “Dingaansdag”. Hy het oor twee aspekte van die Gelofte gepredik. Eerstens hanteer hy die vraag rondom “Die erve van ons vadere”. Tweedens sluit hy hierdie eerste teologiese publikasie van hom af met die aangrypende titel: “Rachels stem uit Rama”.

146

In hierdie besinning rondom die Gelofte raak De Wet (1917:26) aspekte aan soos die bewering “dat ons voorouers grond geroof het van die inboorlinge”. Dis ’n saak wat steeds in die spervuur van sosio-politiese denke in Suid-Afrika na 100 jaar nie afgehandel en uitgepraat is nie. Op ’n sterk beredeneerde wyse het De Wet hierdie bewerings weerlê. Die gevaar van eksemplarisme is wel sterk in van hierdie preke teenwoordig soos die volgende voorbeeld aantoon:

“Op en uit die erve is ons als volk bestem om te bestaan en voort te bestaan; maar seker nie minder is ons gehoue om daaruit die diens van God te onderhou. Nou gaan dit met ons viral in die laatste tijd soals met Naboth... Daar is Achabs wat besig is om ons erve in besit te neem...” (De Wet, 1917:27).

In al hierdie preke is die noue verbintenis wat hy tussen kerk en volkskap plaas opvallend. Daar is egter geen aanduiding dat hy in die begin van sy teologiese arbeid ’n volkskerk-gedagte voorgestaan het nie. Hy wou duidelik die Hervorming (Reformasie) van die 16de eeu tot die Afrikanervolk met sy viering op Dingaansdae laat spreek. Vir De Wet geld die koninkryk van God ook vir die politiek.

4.3.2 GEWETENSKLOUSULE EN INKORPORASIE VAN UNIVERSITEIT

De Wet (1918:6) het baie vroeg in sy bediening in besonder klem gelê op die versorging van jongmense en die besondere onderrig wat hulle moes ontvang. Hy het vanuit Steynsburg in Die

Kerkblad gepleit vir ’n tipe van “Jeugdag” vir jongmense in die GKSA. Hy het voorgestel dat, wat

hy `n “Jubileumdag” genoem het, elke jaar op 11 Februarie gehou moes word - die datum wat as stigtingsdatum van die GKSA onderskei word. Hy wou op dié wyse die jongmense in besonder laat saamwerk vir die uitbreiding van die Jubileumfonds by die Teologiese Skool.

So het De Wet (1919:12) volgehou om op teologiese sake wat in Potchefstroom aan die orde was, vanuit Steynsburg bepaalde aksente te lê. Die saak rondom die “Inkorporasie” en dan die afskaffing van die “gewetensklousule” by die onderrig in Potchefstroom het hy met beredeneerde standpunte onder die opskrif geplaas: “Waar staan ons?”. Hiermee het hy aangedui dat hy nie huiwer om sulke sake polities na vore te bring nie. In ’n skrywe in Die Kerkblad lewer hy ’n ernstige pleidooi dat daar parlementslede verkies moes word wat werklik die “christelike karakter van die volk” moes kon benadruk. De Wet pleit dat mense nie verkies moes word, net omdat hulle “nasionaal is of ’n goeie spiets kan afsteek nie”. De Wet se standpunt oor “subsidie” kom ook hierin na vore waar hy pleit dat die Staat gewys moes word op die verpligting van subsidie sonder dat hulle enige invloed op die Christelike karakter van die kollege mog uitoefen. Daarin

147

lewer hy tegelyk ’n pleidooi dat samewerking met ander kerkverbande wat op dieselfde belydenisgrondslag staan, gekoester moes word.

Die sake rondom die Teologiese Skool en die Universiteit het by De Wet voortdurend ernstige aandag geniet. Dit is van die sake wat in die tyd toe daar spanning teen De Wet opgebou het, deur homself voorgehou is as die eintlike rede waarom hy “uitgedryf word”. De Wet het voortdurend aandag gegee aan hoe ooreenkomste tussen opvoedkundige rigtings daar moet uitsien. Gewoonlik het hy dit dan teologies en polities beredeneer.

4.3.3 DIE KOLLEGIALE KERKREG

Die grootste teologiese bydrae wat De Wet vanuit Steynsburg gelewer het, was sy doktorale proefskrif getiteld “Die Kollegiale Kerkreg”. Hy het hierdie studie vanaf Januarie 1920 tot Junie 1921 in Nederland voltooi. Sy promotor was dr. HH Kuyper, ’n seun van die bekende dr. Abraham Kuyper by die Vrije Universiteit in Amsterdam. In die proefskrif is die besondere teologiese klem wat De Wet veral op die kerkregtelike literatuur vanuit Duitsland geplaas het, opvallend.

De Wet het in hierdie studie gekonsentreer op die verskynsel en gevaar van kollegialisme wat op kerkregtelike gebied groot skade aangerig het. Die teologiese aksente in hierdie studie word in drie rigtings uiteengesit. Dit begin deur die geskiedenis van die kollegiale kerkreg aan te dui. Daarna word die beginsels van die kollegiale kerkreg aan die orde gestel en dit eindig met ’n kritiese beoordeling van die kollegiale kerkreg.

Dit is steeds ’n proefskrif enig in sy soort wat ’n besondere bydrae in die geskiedenis van alle Suid-Afrikaanse kerke lewer. Deur hierdie studie het De Wet ’n kerkregtelike bydrae gelewer wat vroeg reeds in die NG Kerk as ’n keerpunt in kerkregtelike denke beskou is. Louw (2009:159) wys daarop hoe De Wet deur hierdie studie op die persoon van BB Keet, wat as kerkregtelike in die NG Kerk baanbrekerswerk gedoen het, ’n bepalende invloed uitgeoefen het.

In die geskiedenis van die kollegiale kerkreg was De Wet se vertrekpunt dat groot gebeurtenisse en verandering wat in die wêreld plaasvind, altyd voorafgegaan is deur ’n groot verandering in lewens- en wêreldbeskouing. De Wet wys hoe die historiese ontwikkeling van die Aufklärung geboorte gegee het aan ’n kollegiale sisteem en aan die voltooiing daarvan. Hiervolgens word “die wil van die lede, die wet van die Kerk”. Algaande verdwyn die vreugde uit die christendom, geen entoesiasme, geen kleur meer nie, die lewe word ’n uitreik “insigself”. Dit is die tyd waar

148

daar al meer met die historiese Jesus “gedweep word”, terwyl van Christus “enkel en alleen net ’n goeie voorbeeld” gemaak word

Uit die as van hierdie verslane teologie het die figuur van Schleiermacher opgekom. Hy het gemeen om dit weer te herstel maar het dit eintlik net nog verder aangetas deur sy “teologie van die objek (kennis van God) en van sy principium en (God) van sy Heilige Skrif beroof”.

De Wet het vroeg in sy bediening dit duidelik gemaak dat hy homself goed op hoogte gebring het met die groot invloed wat Schleiermacher teologies wêreldwyd uitgeoefen het. De Wet se latere inougurele rede toe hy as professor in 1925 bevestig is, het in ’n groot deel daarvan teen die teologie van Schleiermacher gewaarsku. Daarin het De Wet homself nog sterk tot Abraham Kuyper aangetrokke gevoel en het hy die kritiek wat Kuyper op Schleiermacher uitspreek sy eie gemaak.

Dit is duidelik dat in die verloop van De Wet se teologiese denke en aksente sy liefde vir Abraham Kuyper se teologie al hoe meer getaan het, dermate dat van De Wet se studente, onder andere die latere dr. KS van Wyk de Vries (1967:31), die volgende opmerking rondom De Wet en JD du Toit gemaak het:

“In my teologiese opleiding het ek te doen gekry met aan die een kant sterk afkeer teen Kuyper (in die dogmatiekklasse by wyle dr. C. J. H. de Wet) en aan die ander kant sterk aanhang van Kuyper (in die Homiletiek, Ensiklopedie. Liturgiek en later Dogmatiek by wyle dr. J. D. du Toit)”

Waar De Wet in die tweede hoofdeel van sy proefskrif die besondere beginsels van die kollegiale kerkreg beklemtoon, lewer hy weereens ’n waardevolle bydrae hoe hierdie beginsels in verskillende wêrelddele na vore gekom het. Hierin onderskei hy drie wêrelddele nl. Duitsland, Nederland en Suid-Afrika.

De Wet beskou Duitsland as die oorsprong van kollegiale kerkreg en dat dit in Duitsland tot “sy suiwerste openbaring kom” (De Wet,1921:102). In Nederland (1921:71) sien De Wet die kollegiale beginsels soos volg aan die werk. Dit het soos in Duitsland begin met wat op staatkundige gebied gebeur het. Die kollegiale idee vind sy oorsprong in die landswet waar die Staat vir die Kerk voorskryf wat die bepalinge behoort te wees.

De Wet vind die begin van die kollegialistiese beginsels in Suid-Afrika in die werk van JA de Mist (1804) aan die Kaap. Die begin lê in Suid-Afrika, soos in Duitsland, soos in Nederland in ’n

149

staatsbeskouing. Dit is elke keer staatkundige verwagtinge wat oor die kerk sy kop uitsteek. De Wet beskou dr. JT van der Kemp as “egte kind van die Franse Rewolusie” wat vir De Mist die “suidafrikaanse bodem al voorberei het”.

Kortom het die kollegiale beginsels in Suid-Afrika daarop neergekom dat die Kerk ’n genootskap in en onder die Staat is waarvan die bestuur by die Staat berus en die “ambsdraers in die Kerk is dan eintlik niks anders nie als ambtenare van die Genootskap en van die Staat” (De Wet,1921:93). De Wet is van mening dat dit wat “Jansen in 1815 vir die Nederlandse Kerk beoog, “dit het Mr. De Mist, in hoofsaak reeds in 1804 vir die Suidafrikaanse Kerk opgedis...” (De Wet,1921:93).

De Wet (1921:102) het by die beoordeling van die kollegiale kerkreg homself tot Duitsland beperk, “omdat die kollegialisme daar ontstaan het, als ook omdat dit daar tot sy suiwerste openbaring gekom het”. De Wet maak dit duidelik dat hy in die beoordeling op geen “eng-kerkistiese standpunt” staan nie en voeg daaraan toe dat kerkistiese argumente “allermins wenselik in die teenwoordige tyd” is. Hy maak dit duidelik dat kollegialisme tas die Kerk “in haar grondbeginsels aan”.

Hy laat sy beoordeling op twee terreine fokus: Eers op die kerkbegrip en daarna op “kerklike mag en amb”. Volgens De Wet definieer kollegialisme die Kerk soos volg:

“Volgens die kollegiale kerkreg, is die Kerk 'n genootschap in die Staat soals alle andere vereeniginge, ontstaan deur die vrije wil van indiwidue, en ‘aus dieser Idee fliessen die Rechte der Kirche..." (De Wet,1921:102).

De Wet kan beskou word as van die eerste Suid-Afrikaanse teoloë in die GKSA wat op ’n besondere wyse erns gemaak het met wat in Duitsland en in die Duitse teologie aan die orde was. Dit wil lyk of daar ná hierdie studie van De Wet in alle geval nie weer deur enige Suid- Afrikaanse teoloog so breedvoerig op die verskynsel van kollegialisme in die kerkregering mee gehandel is nie.

4.3.4 DE WET EN JESUS SE BERGPREDIKASIE

In 1922 toe De Wet minder as ’n jaar gelede van Nederland teruggekeer het, het hy ’n verdere besondere teologiese bydrae gelewer in sy eerste groot preekbundel wat hy rondom Jesus se bergpredikasie laat verskyn het. Jesus was vir hom hierin “die groot Leraar” en De Wet het daarin

150

geslaag om op insiggewende wyse veral met die saligsprekinge om te gaan. In sestien preke het De Wet die aksente geplaas op besondere aspekte van hierdie eerste preek van Jesus op aarde.

In sy prediking was dit deurgaans merkwaardig hoe hy ou waarhede nuut kon uitspreek. Dit is talle se getuienis wat hom kon hoor preek. Hierdie bundel dra die voorwoord van JD du Toit (1922:ii) waarin Du Toit in besonder melding maak hoe die “Here aan De Wet die gawe gegee het om die Woord vir ons te open”. Die bundel rondom die Bergpredikasie het De Wet in 1927 opgevolg met ’n tweede nuwe uitgawe, toe hy alreeds by die Teologiese Skool was en hy weer ’n reeks preke rondom hierdie eerste preek van Jesus op aarde gelewer het.