• No results found

POLITIEKE TYD EN STRYDGENOTE VAN DE WET BUITE

3.7 ANDER PREDIKANTE SE POLITIESE BETROKKENHEID IN DIESELFDE TYDPERK

3.7.1 DE WET GEEN UITSONDERING

3.7.1.3 POLITIEKE TYD EN STRYDGENOTE VAN DE WET BUITE

Daar was heelwat ander predikante en tydgenote van CJH de Wet wat nie deel van die GKSA kerkverband was nie, maar soos De Wet polities aktiewe deelname getoon het. Die naam van ds. CR Kotzé (1881-1950) tree hier na vore, waar hy in 1941 met De Wet noue samewerking gehad het rondom die Joodse vraagstuk in Suid-Afrika. De Wet het hierdie jaar ’n lesing by die Federasie van die Studente Calvinistiese verenigings in Suid-Afrika gelewer (Koers in die

krisis:1941) wat handel oor Die Volk Israel onder die volke. Ds. Kotzé het by dieselfde

geleentheid oor Die Joodse vraagstuk gehandel. Die twee lesings het sterk raakvlakke wat daarop dui dat die twee predikante oor hierdie moeilike vraagstuk sterk aansluiting bymekaar gevind het.

Ds. Kotze was, volgens Strauss (2014:97), in die NG Kerk se Tweetoring-gemeente in Bloemfontein ’n baie bekende bedienaar gewees. Gemeentes wat Kotzé vroeër bedien het, sluit in Salisbury (die latere Harare in Zimbabwe; vanaf 1911 tot 1917), vanaf 1918 tot 1921 was hy in Tarkastad predikant gewees, daarna was in hy in Kimberley (Du Toitspan-gemeente) en vanaf 1934 tot 1947 was hy predikant in Bloemfontein. De Wet was wel vroeër as Kotzé vir ’n kort tyd predikant in Bloemfontein, terwyl Kimberley en Bloemfontein nie ver vanmekaar geleë is nie. Hulle sou mekaar maklik kon opsoek.

Daar is verskeie ooreenkomste op vroeë ouderdom tussen De Wet en Kotzé. Soos De Wet het hy ook as jong man aan die Tweede Suid-Afrikaanse oorlog (1899-1902) as jongman deelgeneem en is soos De Wet gevange geneem en na St Helena verban. Dit is baie waarskynlik dat hulle mekaar baie vroeg goed kon leer ken en mekaar kon beïnvloed het.

Kotzé was in die NG Kerk in die laat jare twintig van die vorige eeu ’n sterk teenstander teen prof. J. du Plessis (Loots,1977:490). Die Du Plessis- saak het in die NG-Kerk ’n groot saak rondom leerkwessies geword. In dié opsig was hy en De Wet, alhoewel in verskillende kerkverbande medestanders, omdat De Wet ook baie sterk standpunte teen Du Plessis ingeneem het. Kotzé was in dié tyd die outeur van die werk “Die dwaling in ons kerk”.

112

Volgens Olivier (2002:260) was ds. Kotzé baie bekend in Bloemfontein as ’n “onkreukbare Afrikaner wat geen kompromie geken het nie”. Olivier (2002:260) wys verder daarop dat die Ossewabrandwag (OB) in Feb. 1939 in die pastorie van ds. Kotzé gestig is. Prinsloo (1996:350) bevestig dat ds. Kotzé in hierdie tyd as voorsitter verkies is; saam met hom is verkies, NGS van der Walt as sekretaris en kol. Laas wat later as leier en organiseerder na vore getree het. NGS van der Walt was in sy studentedae in verskeie opsigte as iemand baie naby De Wet geïdentifiseer (Marx: 2008: 503). Prinsloo (1996:352) wys verder daarop dat ds. Kotzé die man was wat tydens die Heldedagfeesvierings in Bloemfontein OB-lede gemotiveer het “om volkshelde te vereer, waarna kranse op die grafte van pres. MT Steyn en CR de Wet gelê is”.

Vanaf 1941 het die OB hom al meer teen demokrasie uitgespreek, ’n al meer militêre beeld vertoon het en in sommige gevalle by sabotasies betrokke geraak. Dit was die tyd wat ds. Kotzé hom nie langer met die OB kon identifiseer nie en hy het uit die beweging bedank. Opvallend is dat CJH de Wet nooit direk met die OB verbind kon word nie en deurlopend heelwat kritiek teen die beweging geuiter het. In dié opsig was hy en Kotzé duidelik nie deelgenote van die begin af gewees nie. Loots (1977:490) wys daarop dat ds. Kotzé in die tyd wat hy in 1920 en 1921 in Tarkastad was ’n “pennestryd teen die chiliaste gevoer het”. Dit kan nog ’n verskil tussen hom en De Wet konstateer omdat dit wil voorkom of, soos De Wet ouer geword het, hy al meer ’n simpatieke hart en oor teenoor die Gereformeerde groepering van chiliasme getoon het.

3.7.1.3.2 NJ VAN DER MERWE

’n Vroeëre NG-predikant wat polities diep spore getrap het en wat omtrent dieselfde tyd as De Wet gebore is, is dr. NJ van der Merwe (1888-1940). Hy is in Senekal, ook as ’n Vrystater, gebore en was sy lewe lank hoofsaaklik deel van die Vrystaatse politiek. Sy skoonvader was president MT Steyn. Volgens Langner (2015:14) was Van der Merwe op deurlopende wyse aan die president blootgestel, lank voor daar nog sprake was van ’n huwelik met die president se dogter. Toe NJ van der Merwe ’n jong seuntjie was, het pres Steyn Fauresmith besoek, waarheen die Van der Merwes intussen verhuis het en waar dit die 5-jarige NJ se eerste ontmoeting met die president was.48 Hy is in 1916 met die tweede jongste dogter van die president getroud.

Van der Merwe het sy skoonpa se lewe en politiek so sy eie gemaak dat uit sy pen ’n uitgebreide lewensbeskrywing oor pres. MT Steyn verskyn het. Van Schoor (1987:851) wys daarop dat Van der Merwe kort na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog Potchefstroom besoek het en aktief

113

betrokke geraak het by die protesbeweging (rebellie) waarby CJH de Wet se oom genl. CR de Wet aktief betrokke was. Kort hierna het Van der Merwe hom by sy skoonvader, pres. MT Steyn by Onze Rust aangesluit waar hy as sekretaris van Steyn behulpsaam was met die opstel van telegramme en met briewe aan die rebelleleiers en die owerheid. Volgens Langner (2015:121) het NJ van der Merwe homself eers as onderwyser bekwaam en het hy dan later op sy tuisdorp, Fauresmith ’n tyd lank skoolgehou. As onderwyser het hy hom in die sport en die kultuurlewe onderskei. Hy was deel van die Vrystaat se Curriebekerspan en was die stigter van die eerste Afrikaanse jeug- en debatsvereniging in die Suid-Vrystaat.

Hierna het die roeping om predikant te word, posgevat en is Van der Merwe na Stellenbosch om teologie te studeer. Volgens Langner (2015:13) was dit ’n belofte van Van der Merwe se ma, Anna (geb. Du Toit) dat toe die driejarige NJ dodelik siek was en almal sy ma op sy sterwe wou voorberei, dit sy was wat geglo het sy kon net vir haar kind bid. Sy het toe reeds ’n ouer seuntjie Hendrik aan die dood moes afstaan. Hierdie was hulle enigste seun tussen 6 dogters. Sy het volgens die getuienis die Here gesmeek om hulle seuntjie te red en is daar geglo dat “NJ het voor die poorte van die hemel omgedraai en ’n sterk en gesonde seun geword”. Volgens Langner (2015:13) het Anna dikwels gesê: “Hy is my Samuel, want ek het hom van die Here afgesmeek en hy moet eendag as hy groot is, niks anders wees as ’n dienskneg van die Here nie”.

So het NJ, wel toe al onderwyser, waarskynlik aan die herinnering van sy ouers na Stellenbosch gegaan om predikant te word. As De Wet en Van der Merwe mekaar nie op Sannaspos leer ken het nie, sou hulle heel waarskynlik in Stellenbosch mekaar dikwels ontmoet het. In Stellenbosch het sy liefde vir Afrikaans net nog duideliker geword. In sy studentejare neem hy leiding in die Christelike Studentevereniging (CSV) waar hy later as voorsitter gedien het.

Hy het vroeër as De Wet in die bediening getree en was as NG predikant met “hulpdiens” in Port Elizabeth (1913-1915), daarna was hy as voltydse predikant in die NG Kerk Wepener (1915- 1919) en daarna het hy, so bietjie vroeër as de Wet, by die VU in Amsterdam gaan studeer waar hy sy doktorsgraad in Nuwe Testament verwerf het. Sy proefskrif het gehandel oor “Die sosiale prediking van Jesus Christus” (Langner,2015:124, Van Schoor, 1987:852). Van NJ van der Merwe word dieselfde uitsonderlike prestasie vermeld as wat by De Wet die geval was, naamlik dat hulle beide hulle onderskeie proefskrifte in Afrikaans geskryf het. Langner (2015:124) beskryf hierdie studie as die “heel eerste Afrikaanse doktorsgraad in Teologie”. Dit is vatbaar vir bespreking of hierdie plek nie eintlik De Wet toekom nie. Wat wel met sekerheid gesê kan word, is dat De Wet se studie beslis die heel eerste kerkregtelike studie in Afrikaans was. Vanaf 1921-

114

1924 was Van der Merwe predikant in die NG Kerk Theunissen waarna hy voltyds in die politiek getree het.

’n Saak waarin Van der Merwe en De Wet sterk bymekaar aangesluit het en daar noue samewerking tussen hulle was, was by die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Van der Merwe het by sy eerste sinodesitting in 1916 al vir ’n Afrikaanse Bybel gepleit. Langner (2015:123) wys daarop hoe ds. JD Kestell toe as voorsitter van die eerste Afrikaanse Bybelvertalingskommissie benoem is en Van der Merwe het as sekretaris op hierdie kommissie begin dien. Dit was ook Van der Merwe wat aanvanklik gevoel het die vertaalwerk vorder te stadig. Hy het die voorstel gemaak dat mense spesiaal vir die werk afgesonder moes word. Sy voorstel is aanvaar en op die wyse is JD du Toit (Totius) later deur die sinode van die Gereformeerde Kerke benoem om hom ’n tyd lank met 5 ander vertalers uit die verskillende Afrikaanse kerkverbande net vir hierdie vertaling af te sonder. CJH de Wet het as adviseur vir hierdie vertaling gedien.

Toe die vertaalwerk van die eerste Bybel in Afrikaans na 17 jaar voltooi is, was Van der Merwe teenwoordig by die ontvangs van die eerste besending van hierdie nuwe gedrukte Bybels toe dit in 1933 in Kaapstad gearriveer het. Op foto’s van oopmaak van die eerste krat, is NJ van der Merwe op die foto teenwoordig. Opvallend is dit dat op hierdie dag De Wet en JD du Toit, wat so nou met hierdie vertaling gemoeid was, nie op die foto teenwoordig is nie. JD Kestell het na die ontvangs van hierdie eerste Afrikaanse Bybels vir NJ van der Merwe die volgende geskryf:

“Ek kan nie vergeet wat u gedoen het vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans nie. Ondermeer dink ek aan u voorstel in die Vrystaatse Sinode wat die begin was van die arbeid wat die Kerke bestee het aan die vertaling van die Bybel in Afrikaans.”

Hy was tydens die Sinode waarop daar besluit is om die Bybel in Afrikaans te vertaal ook die baanbreker dat daar in Afrikaans gepreek moet word. Hierdie voorstel is goedgekeur.

NJ van der Merwe word gereken as een van die besondere “eksponente van ’n Afrikaanse Neo- Calvinisme, of Boere-Calvinisme” (Strauss 1998:54). Van Schoor (1987:852) beskryf die ideaal van ’n republikeinse staatsvorm vir Suid-Afrika as een van die belangrikste dryfvere in Van der Merwe se politieke loopbaan. In dié opsig het hy en De Wet baie nou bymekaar aangesluit. So openlik en kragdadig as wat Van der Merwe “Die Republikeinse” strewe en beweging in die Vrystaat ondersteun het, so het De Wet dit in Transvaal gedoen. Saam met CWM du Toit en dr.

115

TC Visser was Van der Merwe deel van “Die Republikeinse Bond” wat in September 1930 gestig is. Anders as De Wet was Van der Merwe die persoon wat alles in sy vermoë gedoen het dat Malan en Hertzog na die eerste skeuring weer polities met mekaar moet versoen. Hy het dit as ideaal vir lank nagejaag waar dit voorkom of De Wet van mening was dit nooit haalbaar sou wees nie. Waar De Wet saam met JG Strijdom en M Jansen gesamentlik die eerste drie leiers van die Gesuiwerde NP in Transvaal was, is Van der Merwe in dieselfde jaar as leier van die Gesuiwerde NP in die Vrystaat gekies.

Van der Merwe het self geen probleem daarmee gehad om na homself as Calvinistiese Afrikaner te verwys nie. Om as “egte Calvinis” en in dieselfde asem as “ware volksman” bekend te staan, was aanvaar as identiteite wat mekaar ingesluit het. So het die “Boere-Calviniste” mekaar verstaan. ’n Ware Calvinis moes ’n ware volksman ook wees. Daar is talle voorbeelde in De Wet se vroeëre lewe net soos by Van der Merwe dat hy polities sy volkskap met Calvinisme ingekleur het en so sy politiek uitgeleef het. Van der Merwe het in Julie 1929 die eerste voorsitter geword van die pas gestigte Calvinistiese Bond (Strauss,1998:56). Van der Merwe het saam met CJH de Wet bydraes gelewer in die reeks “Koers in die krisis”, waarvan die eerste uitgawe in 1935 verskyn het. In hierdie eerste uitgawe is Van der Merwe se bydrae getiteld “Calvinisme en kultuur”.

Daar is baie ander voorbeelde van ooreenkomste wat tussen Van der Merwe en De Wet getref kan word. Benewens dat hulle bedieningstyd grootliks oorvleuel word aanvaar dat hierdie “Boere- Calviniste” veral in die dertigerjare van die vorige eeu ’n baie dominante rol op verskeie terreine van die lewe uitgeoefen het. Van der Merwe was ’n kultuurman op vele terreine waar hy, benewens die party-politiese verpligtinge en leiersrol wat hy vervul het, hoofleier van die Voortrekkerbeweging (1931-1940) was en intens by die Vrystaatse Helpmekaar betrokke was. Benewens sy groot rol by die reeds genoemde Calvinistiese bond is hy op die direksie van Nasionale Pers en Voortrekkerpers benoem. Hy was op die Raad van die Universiteitskollege van Bloemfontein; hy was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; hy was deel van die sentrale Volksmonumentekomitee wat die oprigting van die Voortrekkermonument in Pretoria moes behartig; en hy was bestuurslid van “Die Republikeinse Bond”. Dit is duidelik dat by die politieke- ondernemings en sake waarby Van der Merwe baie betrokke was, die politiek van CJH de Wet ondersteunend daartoe was, alhoewel CJH de Wet nie sy vlerke so wyd gesprei het as wat by Van der Merwe die geval was nie. Op ’n foto wat in 1935 van die Nasionale Party se Federale Raad geneem is, verskyn Van der Merwe en CJH de Wet.

116

Die oorsprong en rigting waarbinne Abraham Kuyper (1837-1920) gedink en gewerk het, hetsy teologies of staatkundig, word gekenmerk deur ’n kultuurfilosofie wat ’n besondere soort volks- en rasse teologie tot gevolg gehad het. Volgens Brümmer (2016) was die denksisteem van Kuyper uiters bruikbaar vir die ideologiese onderbou vir Afrikaner-nasionalisme en aansluitend ook vir die beleid van apartheid. Dit het sterk tetiese denke veroorsaak wat sake of sinteties tot christelik verklaar het of as die antitese aan die lig kom is dit gewoon as onchristelik getipeer.

Op die volkslewe toegepas is dit by De Wet en Van der Merwe duidelik die geval dat van die Afrikaner daar eintlik ongekwalifiseerd aanvaar is dat hierdie volk Christelik is en dat die hele volk “in sy geheel aan die Christelike kant van die antitese te lande gekom het” (Strauss,1998:55). Dit hang volgens Strauss (1998:55) nou saam met Kuyper se veronderstelling dat taal en kultuur en volkskap ewemagtig ingebed lê in wat die Here se algemene genade aan die mensdom beteken. Van der Merwe was oortuig dat Calvinisme aan die Afrikaner ’n “geestelike waarmerk” gee as dié volk van Suid-Afrika wat “ons volk’ in sy getalle sou beskerm deur nie in die Afrika-konteks te midde van die see van heidendom onder te gaan nie.

De Wet (1940:1) het hierdie veronderstelling, naamlik dat die Afrikaner ’n Christelike volk was, heeltemal in lyn met die neo-calvinistiese denke van Van der Merwe verkondig. In sy studie “Ons Christelike Republiek” dan stel De Wet dit soos volg:

“Waarom begeer ons volk ’n Christelike Republiek? Die antwoord is - omdat die Afrikanervolk ’n Christelike volk is en bygevolg Christelike staatkunde wil voer waarvolgens ons volk regeer moet word en waarvolgens ons volk moet lewe en werk as volk”

Van der Merwe het, soos De Wet, die republikeinse ideaal as groot dryfkrag in sy lewe gesien (vgl. Liebenberg, 1969:383). Dit het teweeggebring dat daar verskeie geleenthede was waar hy met genl. Hertzog koppe gestamp het waar Hertzog geen so ’n sterk ondersteuner van hierdie ideaal was nie. Toe Hertzog en Malan in 1940 weer in die proses was om te probeer herenig met die stigting van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, was Van der Merwe en Hertzog in ernstige verskille gewikkel rondom die opstel van die nuwe party se program van beginsels. Sodanig dat hierdie verskil direk bygedra het tot Hertzog se einde as politikus waar dit nie aanvaar is dat Hertzog alleen so ’n program kon opstel nie en sy program nie aanvaar is nie

Polities het Van der Merwe die kiesafdeling van Winburg sy lewe lank (1924-1940) verteenwoordig, waar hy onverwags op 52-jarige ouderdom waarskynlik aan ’n hartaanval

117

oorlede is.49 Scholtz (1984:104) beskou Van der Merwe as een van die manne wat vir DF Malan

goed onderskraag het. Van Schoor (1987:853) beskryf Van der Merwe as iemand wat geen ekstremis was nie. Hy was tydens onderhandelings die een wat meermale bereid was “tot kompromieë ten einde ’n ooreenkoms te bereik mits dit nie onversoenbaar met sy beginselstandpunt was nie”. In dié opsig was De Wet anders. Dit het duidelik geword dat De Wet moeilik enige kompromie ter wille van samewerking kon akkommodeer.

3.7.1.4 JONGER GESLAG PREDIKANTE TOG AAN DE WET BEKEND 3.7.1.4.1 JD VORSTER

Nog ’n predikant waarmee CJH de Wet polities kontak kon hê, was ds. JD (Koot) Vorster (1909- 1982). Alhoewel Vorster heelwat jonger as De Wet was, is dit opvallend dat die geestesrigting en politieke deelnames wat by Vorster teenwoordig was, in baie opsigte ooreenstem met dit waarby De Wet vroeg reeds betrokke was. Vorster het in 1934 in die bediening getree waar De Wet toe reeds baie jare in Kerk en politiek werksaam was. Die opkoms van die neo-Calvinisme in die dertigerjare is volgens Langner (2007:11) gebeure wat ’n onuitwisbare indruk op Vorster gemaak het en waarby De Wet net soveel belang as hy gehad het. Soos De Wet het Vorster ook belang gehad by die Du Plessis-saak waarvan die jonger Vorster homself nie uitgesluit het nie. Vorster se betrokkenheid by die Afrikaanse Nasionale Studentebond herinner sterk aan dit waarmee De Wet verbind was.

3.7.1.4.2 DIE NAUDÉ –PREDIKANTE, AS GEYSER, A VAN SELMS, BB KEET

Iemand wat ’n jonger tydgenoot van Koot Vorster was, maar wat beslis nie van CJH de Wet se politieke dampkring kon loskom nie, was die vroeëre ds. Beyers Naude (1915-2004) . Beyers Naude se vader Jozua Naude, ook ’n teoloog en predikant, was aan De Wet goed bekend. Jozua Naude was in 1918 stigterslid en eerste president van die Afrikaner-Broederbond. Volgens Dommisse en Esterhuizen (2005:26) was Jozua Naude baie goed bevriend met Anton Rupert en het hulle op verskeie gebiede met mekaar nou saamgewerk. Tussen Jozua Naude en CJH de Wet se politieke denke sal daar groot raakvlakke aangetoon kan word. Albei se roeping om Afrikaner-armoede te verbeter is opvallend. Die sterk nasionalistiese kleur van denke is heeltemal gemeenskaplik. Ook Jozua Naude se baie sterk anti-imperialistiese ingesteldheid het hom en De Wet sterk medestanders gemaak.

49 Opmerklik dat CJH de Wet se eerste eggenote, Maria (Wentzel) ook in Winburg gedoop is en na haar sterwe ook daar begrawe is (vgl pt 2.6).

118

Daar kan aanvaar word dat teologies daar wel vroeg reeds sterk verskille tussen Jozua Naude en De Wet was. Terwyl De Wet as teologiese student nie die gees en rigting van Stellenbosch