• No results found

ONTSTAAN VAN VOLKE EN VOLKERE-VERHOUDINGE

4.4 TEOLOGIESE AKSENTE IN DE WET SE BEDIENING AS PROFESSOR

4.4.6 ONTSTAAN VAN VOLKE EN VOLKERE-VERHOUDINGE

De Wet se aktiewe politieke loopbaan en die besondere ywer waarin hy sy politiese roeping uitgeleef het (sien hfst. 3), het teweeggebring dat hy hom oor volke en volkere-verhouding op verskeie terreine uitgelaat het. De Wet was reeds ’n hele aantal jare aan die Teologiese Skool werksaam toe hy in 1937 hom teologies oor die ontstaan van volke en die verhoudinge tussen die volke verantwoord het.

158

Hy het wel al tien jaar tevore in Die Kerkblad (1928:331) ’n artikel geskryf oor gewoontes en gebruike van die swartmense. Dit is duidelik dat hy ’n besondere belangstelling in die onderskeie volke in die wêreld gehad het. Rondom die swartmense het hy vir ’n gebalanseerde houding gepleit teenoor die gebruike van die mense. Hy het veral die standpunt gehuldig dat daar nie gewerk kon word met die gedagte dat die swartmense tot op sekere hoogte steeds hulle gelowe mog behou “al word hulle christene”. Hy was oortuig dat daar fyn onderskeiding sou moes plaasvind.

So sien hy die die swartmense se “verering van geeste” as “bygeloof” en selfs “ongeloof” wat net deur oortuigingswerk by die mense verander kon word. In die sendingveld het De Wet die standpunt gehuldig dat daar nie ingrypend op die aspek van veelwywery ingegryp moes word nie. Hy was van mening dat dit bepaalde onreg teenoor die vroue kon teweegbring wat skielik deur hulle man eenkant gestoot word. Ook by gewoontes soos “bierdrink” kon daar nie summier op totale onthouding aangedring word nie. De Wet het gepleit vir ’n benadering dat die swartmense eers geleer word dat drank in matigheid gebruik kan word.

Voordat daar in die breëre na sy teologiese beskouing oor volke gehandel word, word eers gekyk na die “Staatkunde van die Voortrekkers” wat vir De Wet ’n besondere veld van ondersoek was (Die Kerkblad, 7 Des 1938:21). Hy beskou die Groot Trek by uitstek as “’n staatkundige beweging gedra deur die Kalvinistiese godsdiens met sy vryheidsin”. De Wet beskou dit as ’n vervalsing om die kultuur of die ekonomiese lewe as hoofmotiewe by die Groot Trek te betrek. Hy noem dat die twee “grondsuile van die staatkunde van die Voortrekkers was Christelik en Republikeins”. Sy tipering om hierdie mense christelik te noem lê daarin dat hulle die “christelike beginsels, gees en rigting die rigsnoer op alle terreine van die lewe gemaak het”. De Wet was oortuig dat selfs hulle wetgewing op die christelike manier “gemaak en uitgevoer was”. Dit is opmerklik dat hierdie teologiese aksente rondom volkere en hulle verhoudinge in hoofsaak saamval met die tyd waarin hy as staatkunde “student” ’n MA-verhandeling oor die konstitusies van Suid-Afrika voltooi het.

As uitvloeisel van sy verhandeling het hy in Die Kerkblad (1938:21) gewys dat hoe die Voortrekkers hulle christenskap uitgeleef het “nie net ’n aangeplakte Christelike stuk vernis is, soos ons vandag in die politiek aantref nie. In die praktyk het hierdie Christelike baie mooi uitgekom in die naturellepolitiek van die Voortrekkers wat berus het op segregasie en geregtigheid. Asook in die onderwys wat Christelik-nasionaal was”.

159

De Wet stel ook dat die “Voortrekkers was nie afgeslote en bekrompe mense in hul Republieke nie” (Die Kerkblad, 1938:21). ’n “Ware demokrasie” bestaan vir De Wet daarin dat gesag nie verdeel moes word nie, maar “dat die volk sy staatshoof kies”. Volgens De Wet het genl. Hendrik Potgieter tot die beste verwesenliking gekom in wat De Wet glo die ware demokrasie vereis. Hiervolgens dra die staatshoof ’n drievoudige gesag. So ’n hoof moes in sy wetgewende mag met raad en daad deur sy regering bygestaan word, terwyl die Volksraad as verteenwoordigers van die volk die belange van die volk by die staatshoof sou bring. Die regters moes as instrumente die regspleging uitoefen en die amptenare die administrasie behartig. “Valse demokrasie” is vir De Wet in ooreenstemming met wat in Suid-Afrika die oorkoepelende standpunt is. Owerheidsgesag word hierin in drie verdeel waar die wetgewende, die regsprekende en die uitvoerende gesag verdeelde funksies ontvang, sodat die staatshoof en regering die uitvoerende gesag besit, die Volksraad die wetgewende gesag en die regters die regsprekende gesag verkry. De Wet noem dit wat as algemeen staande praktyk in demokratiese regerings beskou kon word, as “valse demokrasie”. Hy sien die oorsprong daarvan nie soseer in die vryheidsdenke van die Franse Rewolusie nie, maar hy sien hierdie “valse demokrasie” as ’n voortvloeiing van die Engelse konstitusionele demokrasie.

4.4.6.1 TEOLOGIESE BESINNING RONDOM DIE ONTSTAAN VAN VOLKERE

Die gebeure rondom die sondvloed gee vir De Wet rede om te glo dat die impak wat soveel waters gelyk op die aardbol gehad het, ’n totaal omvormde wêreld (geografies, aardrykskundig, klimatologies, polities) daargestel het (Die Kerkblad, 1937:11,13). Die verbond van die Here, nou in die reënboog geteken, is as ’n boog oor ’n totaal nuwe geskiedenis gespan. Hoe omvorm die menslike genetika voor die tyd al mog gewees het, raak vir De Wet irrelevant, want alle menslike genetika sou ná die sondvloed weer net met die 8 mense moes begin.

Vir die teologiese aksent wat De Wet op die ontstaan van volke plaas, steun hy hoofsaaklik op gebeure in Genesis. Genesis 9 gee vir De Wet (Die Kerkblad, 1937:9) die siel van die volkewêreld en Genesis 10 waar die lande, tale, geslagte en nasies telkens aangestip word, is volgens De Wet die beliggaming van dit waarmee die “volketafel” tot vandag toe mee gedek is.

Dit wat Noag oor sy seuns (en ingesluit hulle drie vroue) geprofeteer het (vgl. Gen.9:19; 24-27) is vir De Wet die verwesenliking van volkere se ontstaan. Ook die volke se verspreiding, hulle gewoontes en grondgebied, hulle voorkoms, hulle nageslag en toekoms, hulle eindbestemming, sien De Wet as die ontvouing van hoe volkere se verhouding met mekaar sou wees.

160

Die groot beginpunt is Sem. “Geseënd is die Here, die God van Sem” (vgl.Gen.9:26) is vir De Wet ’n “baie positiewe profesie”, want hierin sien hy die Israel van die Ou Testament na vore kom. Hierdie Israel het die draers van die besondere openbaring geword om in en deur Abraham God se genade en God se verbond vir alle gelowiges te ontsluit. Na die verstrooiing by Babel het Sem nie ver wegbeweeg nie. Die volk uit hom ontstaan sou min of meer sentraal bly met wat as Mesopotamië en as Kanaän bekend staan.

Daarna sien De Wet vir Jafet as die begin van ’n uitgebreide profesie. Hy lê die klem op Genesis 9:27: “Mag God aan Jafet ruimte verskaf en mag hy woon in die tente van Sem”. Dit beskou De Wet ook as ’n baie “positiewe profesie”. Hierin sien hy die volke se uitbreiding oor die ganse aarde. Die nageslagte van Jafet het groot volke geword. Hieruit sou ook groot kulture voortspruit Dit sou ’n wêreldkultuur kon word as ons maar net aan die Grieks-Romeinse kultuur dink. Die Jafetiete het na die toring van Babel die noorde en weste van die aardbol inbeweeg. Die Indo- Germaanse volke wat later ’n groot deel van die Europeërs sou word, het deur die Afrikaner nog meer kon deel in die nog groter ruimtes van Afrika. Die ruimtes aanvanklik aan Jafet toegesê het werklik baie groot geword. De Wet verklaar dat waar God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het om oor die hele aarde te woon, het Jafet steeds ruimte in Sem se tent gehad. Dit impliseer dat die nageslag van Jafet mag deel in die verlossing en in die Verlosser wat daar uit daardie tent gekom het. Die Één wat as Verlosser uit die tent gekom het dui vir De Wet op die koms van Christus.

Die teologiese klem wat De Wet in sy volkere-sieninge rondom Gam (vgl.Gen.9:25,26b,27c) aandui, is toegespits op sy verwerping van die siening dat die swart volke van die wêreld met die vloek aan Kanaän verbind moes word. Vir De Wet is dit duidelik dat die vloek in alle geval net aan een kleinseun van Gam, nl. Kanaän, toegesê is en dat dit ’n plaaslike en tydelike vervloeking was.

De Wet is oortuig dat waar Sem en Jafet se geslagte mekaar weer in Christus (lees in Sem se tent) kon vind, is Gam se geslagte in hulle ooswaartse rigting losgelaat en het die kinders van Gam nooit weer dié van Sem en Jafet as volke gevind nie. Die voortstuwing van Kain duur voort nadat hy sy broer Abel doodgeslaan het. Gam en sy nageslag het volgens De Wet net nog meer oos getrek, want toe Kain van die Here se aangesig weggegaan het, het hy ooste toe getrek. Die gevolg van ongeloof is by Gam, net soos by Kain, in ’n skeiding tussen Oos en Wes afgeteken. Hiervolgens word die Eufraat-rivier as die skeidslyn tussen oos en wes beskou.

161

De Wet het in 1951 hom weer oor sy volkere-beskouing verantwoord. Hieruit is duidelik dat die Tweede Wêreldoorlog sy eerste teologiese beskouinge rondom volkere beïnvloed het. Die gebeure in die sake teen hom was toe al verby. Duidelik het De Wet nie in sy teologiese arbeid gaan lê nie, maar het hy al skerper sake, soos sy volkere-beskouing, duideliker uitgelig. Hy het hierdie latere beskouing oor volkere veral in sy publikasie getiteld, “Wagter hoe laat is dit”, neerslag gegee. Die verbande tussen godsdiens (teologie), die handel en die wetenskap word al skerper aangedui. Hy wys op die gevaar dat valse teologie ’n handlanger vir die valse wetenskap kan word. Wanneer hy Daniël en Openbaring se verskillende apokaliptiese gedeeltes hanteer, val ’n groot deel van sy teologiese klem op die monsteragtige diere in hierdie boeke. Hy verklaar dit soos volg:

“Die dier uit die aarde is die valse profeet wat met twee horings na vore kom. Die twee horings is die valse godsdiens en valse wetenskap wat altyd min of meer met mekaar wil saamgaan. ’n Dialoog tussen teologie en wetenskap wat uiters gevaarlik gaan word. Hy lyk soos ’n lam maar hy praat soos ’n draak.”