• No results found

DIE DE WET-FAMILIE IN BREËR VERBAND

2.4 Skool- en Tersiêre opleiding (1902-1915)

2.5 Verandering van kerkverband en Teologiese Skool (1912) 2.6 Groot rolspelers in De Wet se vorming

2.7 De Wet as bedienaar van die Woord (1916-1925) 2.8 Buitelandse studie in Kerkreg (1920-1921)

2.9 Beroep en bevestig as professor (1925)

2.10 Bydraes en uitdagings by die Teologiese Skool (1925-1946) 2.11 “Die Wagtoring” en ander teologiese werke

2.12 Die eerste tekens van gespanne verhoudinge 2.13 Slot

2.1 INLEIDING

In hierdie hoofstuk word die persoon en werk van CJH de Wet nagevors. Aan die hand van biografiese gegewens word gelet op wie hierdie De Wet is, vanwaar hy kom, sy besondere familie, sy huislike omstandighede, en die omgewings- en sosio-politiese invloede wat daar van die begin af na hom uitgegaan het. In die bepaling hiervan sal sy kerklike betrokkenheid en die wyse waarop hy van kerkverband verander het, in die brandpunt staan.

Dit is belangrik om hierdie sake na te gaan ten einde te bepaal watter faktore van die begin tot die einde van De Wet se lewe ’n deurslaggewende invloed en rol in sy lewe gespeel het. Tegelyk moet daar vasgestel word watter van hierdie sake alreeds vroeg in sy lewe teenwoordig was, en wel in die saak vir hom en teen hom ’n rol gespeel het.

Verder sal die hoofstuk let op watter rigting De Wet se skoolopleiding en teologiese opleiding gevolg het. Die mense wat in hierdie tyd groot invloede kon uitoefen, word hierby ingereken, om

20

te bepaal in hoe ’n mate De Wet in sy vormingsjare deur hulle beïnvloed is. Watter rol ander mense in sy lewe kon speel en watter invloed hy as jongman en student na ander mense laat uitgaan het. Dit word ’n besondere interaksie wat in die lewe van De Wet deurgaans aan die werk is.

Die hoofstuk moet De Wet se vroeëre werk as bedienaar van die Woord, in twee gemeentes wat deel van die GKSA is, insluit. In hierdie verband word gelet op die roeping, dryfkrag en oortuigings wat De Wet hierdie gemeentes ingedra het. By watter kerklike sake was De Wet direk betrokke en wat het kerklik vir hom in die brandpunt gestaan?

De Wet het op vroeë ouderdom ’n besondere geleentheid ontvang om in die buiteland te studeer. Daar het hy hom in die Kerkreg onderskei deur ’n studie getiteld “Die Kollegiale Kerkreg”. Vanuit hierdie studie word nagegaan hoe die kerklike invloede wat daar vanuit die buiteland en veral Amsterdam waar hy studeer het, hom in sy studies kon beïnvloed. Aan die resultate van hierdie studie en die verandering wat hierdie studie in die Gereformeerde Kerkreg in Suid-Afrika teweeggebring het, word besondere erkenning verleen.

De Wet is as relatiewe jong man, 38 jaar oud, na die Teologiese Skool Potchefstroom, kragtens Artikel 18 KO, as professor beroep. Daar moet vasgestel word hoekom hý beroep is. Watter invloede het meegewerk dat hy professor geword het en nie iemand anders ouer en meer ervare as hy nie?

Hiermee saam word sy plek en bydraes aan die Teologiese Skool ingewerk. Dit was van die begin af duidelik dat sy roeping en rol aan die Teologiese Skool bestem was vir groot uitdagings. Watter uitdagings daar was, hoe hy dit aangepak het, watter verskil hy kon maak, watter spanninge hy veroorsaak het, sal na vore kom. Die feit dat hy in sy persoonlikheid en aanpak van sake dikwels gespanne verhoudinge kon veroorsaak, sal die hantering van hierdie spanning na vore bring. Hoe ander hom hanteer het en die spanning wat hy weer van hulle kant beleef het sluit hierby aan.

21 2.2 DIE DE WET-FAMILIE IN BREËR VERBAND

2.2.1 GENEALOGIESE GEGEWENS VAN DIE DE WET - FAMILIE

Volgens Pama (1983:20 e.v.) is die betekenis van die van De Wet om ’n “geregsdienaar” te wees8.

HC De Wet (2001:1) stel dat die “mees logiese is dat die oorspronklike stamvader se beroep met die wet te doen gehad het, bv. advokaat, griffier e.a”. Volgens ander teorieë word beweer dat die familie beroepsnarre (hereditary court jesters) aan die howe van Nederlandse baronne was (De Wet,2001:1). Volgens Duval (2012) is daar bespiegelinge dat die van De Wet wel ’n Duitse verbintenis mag hê, en dat die oorsprong dan dui dat “de Wet' originated from the town of 'Wettin' in Germany”. Die teorie word nie wyd aanvaar nie.

Die stamvader van die De Wets in Suid-Afrika was Jacobus de Wet, gebore in Mei 16739 en

oorlede in 1711 wat in 1693 op 20 jarige ouderdom in diens van die “Verenigde Oost-Indische Compagnie” (VOIC) getree het. Hy het in 1693/1695 (bronne verskil) op die skip Nigtevegt na Suid-Afrika gekom. Sy ouers, albei van Amsterdam is Jacobus de Wet en sy moeder is Helena Stalmans. Sy vader was in Amsterdam ’n kunsskilder van beroep. Hulle het oorspronklik van Haarlem gekom en was ’n tyd lank in Skotland woonagtig. Die koninklike skilderye wat op versoek van die koning tydens sy verblyf in Brittanje (1673-1683) deur hom geskilder is, dra spesifiek die naam “Jacob de Wet”. Die Skotte het soms na hom verwys as “James de Wit”. Daar is vandag nog talle skilderye in koninklike besit in Brittanje wat van die skilderhand van Jacobus de Wet afkomstig is.

Die eerste beroep van die jonge Jacobus de Wet in Suid-Afrika is om as “provisioneel assistent” vir die Hollands Oos Indiese Kompanjie (H.O.I.K), en so ook vir goewerneur Simon van der Stel op te tree. Later het hy keldermeester/boekhouer geword en het tot in 1701 ook in die “Hof van kleine zaken” gedien. In 1704/1708 (bronne verskil) het hy uit diens van die VOIC getree en het

8 Ander teorieë rondom die herkoms van die van De Wet is dat dit ’n vervorming is van die oorspronklike van De Witt, wat dan gedui het op van die familielede wat besonder wit van gelaat was of moontlik hulle haarkleur. HC de Wet (2001:1) vind hierdie teorie nogal aanvaarbaar waar hy aantoon dat die oorspronklike stamvader van die De Wets in Suid-Afrika sy van soms as De Witt aangegee het. Nog ’n teorie is dat die van De Wet kom van een van die spruitjies in Nederland wat genoem is “De Wet” en is daar aanvanklik na hierdie mense langs hierdie spruit verwys dat hulle kom “van De Wet”, bedoelende van daardie spruitjie. Die “van” gedeelte het later weggeval en het net die “De Wet” gedeelte oorgebly. ’n Interessante verskynsel wat moontlik lg. teorie kan ondersteun, is die feit dat in die familiewapen van die De Wets ’n getande meganisme bekend as ’n waterwiel is wat gewoonlik in die waterkanale as bakkiespomp of in van die watermeule in die waterkanale diens moes doen. Die mees aanneemlike teorie bly egter die eerste moontlikheid om dit aan ’n wetuitlegger of dan bepaald ’n geregsdienaars in diens van die wet te verbind. 9 Duval (2012) gee sy geboorte aan as 17 Januarie 1673.

22

volgens Theunissen (1945:31) as vryburger aan die Liesbeekrivier gaan boer. Sy eerste kind is buite-egtelik verwek in ’n “onwettige verbintenis met Josina Pretorius in 1696 gebore” (Pama, 1983). Die seun is Jacobus Wilhelmus genoem wat as “adelbors ook in diens van die Kompanjie” was (Theunissen, 1945:31). Op 16 April 1698 het die stamvader egter met Christina Bergh, dogter van Olof Bergh, steeds ’n bekende naam in Suid-Afrika, in die huwelik getree. Hulle het 5/6 kinders gehad (bronne verskil). Die stamvader is in 1710 of 1711 oorlede.

Die eggenote van die latere bekende Voortrekkerleier, Piet Retief (1780-1838), Magdalena Johanna (Lenie, 1782-1855) Retief was ook ’n nooi de Wet, ’n voorsaat van die De Wets, waaruit De Wet ook afstam. Sy was die tweede jongste dogter van Pieter de Wet, getroud met Maria Petronella Opperman. Sy was ’n merkwaardige vrou wat haar eerste man, veldkornet Jan Christoffel (Carel) Greyling in 1811 (31 Des) deur aanvalle van die Xhosas verloor het; toe weer verloor sy haar tweede man op byna soortgelyke wyse toe die bekende Piet Retief op 6 Februarie 1838 deur Dingaan en die Zoeloes vermoor is10 (Duval, 2012).

Dit val op dat alle De Wets in Suid-Afrika egter afstam van of die eersgenoemde Jacobus Wilhelmus uit die Pretorius verbintenis of die ander deel in Suid-Afrika is afstammelinge van Johannes Carolus, die jongste seun uit die Bergh-huwelik wat direkte voorsate van Lenie de Wet en CJH de Wet is (Theunissen, 1945:31). In die familie van De Wet is die Opperman-familie ook ’n prominente van, trouens genl. Christiaan Rudolf de Wet se doopname is van oorsprong familiename van die Oppermans.

In die nasate van Jacobus Wilhelmus, die oudste van die De Wet familielyne in Suid-Afrika, is hulle verbintenisse met die Du Toits weer baie opvallend (Theunissen, 1945:31). Duval (2012) stel dit dat 95% van die De Wets in Suid-Afrika is van oorsprong nasate van Jacobus Wilhelmus de Wet is en dat net die orige 5% uit die Bergh-huwelik afkomstig is.

10 Die dood van haar eerste man het saamgeval met die van landdros Anders Stockenström wat besig was om ongewapend met ’n groepie Xhosas te onderhandel om hulle te oorreed om hulle gebied te verlaat voordat die oorlog uitbreek. Giliomee (2004:93) meld hoe Stockenström op daardie oomblik die boodskap ontvang het dat vyandelikhede reeds uitgebreek het. Hy en sewe van sy manne is afgemaai. Hieronder word afgelei dat Carel Greyling onder die sewe getel het, terwyl Lenie hulle sesde kind verwag het, gebore op 8 Maart 1812. Volgens Duval (2012) het hierdie “De Wet-vrou”, alleen voor die kansel moes staan, toe hulle seuntjie Barend Christiaan gedoop is. Uit dié huwelik was hulle tweede seuntjie, Petrus Jacobus, blind, wat ook besondere uitdagings gestel het. Die kind ontvang uit sy ouers se gesamentlike testament, ook ’n slaaf met die naam “Present” wat hom in sy blindheid moes bystaan (De Wet,2001:15). Carel Greyling het Lenie met ’n groot boedel agtergelaat wat 1680 skape, 531 bokke, 129 beeste, 22 perde en 4 slawe ingesluit het. Die waarde daarvan word op 8665 riksdaalers bereken. Die weduwee Lenie Greyling (née De Wet) is op 4 Julie 1814 met Piet Retief getroud.

23

De Wet het later baie nou met die bekende prof. JD du Toit (Totius) aan die Teologiese Skool Potchefstroom saamgewerk. Hulle voorgeslagte was op meer maniere deur huwelike aanmekaar verbind, alhoewel De Wet uit die Opperman-lyn voortspruit en nie die Du Toit-lyn soos wel die geval met Totius is nie. Die Du Toits het baie ingetrou met Jacobus Wilhelmus de Wet se nasate.

2.2.2 GEBOORTE VAN CJH DE WET, WOENSDAG 23 MAART 1887

In die jare na die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) het dit alles vir CJH de Wet begin. Ses jaar na die slag van Amajuba is De Wet op Woensdag 23 Maart 1887 in die distrik van Ladybrand, op die plaas Juist Zoo11 gebore (De Wet, 2001:172; Van der Vyver,1969:157; Jooste,1972:25, Anon.,

sa “Onbekende skrywe oor oupa”).

De Wet se oom, die bekende genl. CR de Wet (1854-1922), het reeds in 1881 ’n rol in die slag van Amajuba gespeel. Hy was een van die manne wat daardie Sondag 27 Februarie 1881 onder bevel van Danie Malan die berg teen die oostekant, met elke burger wat net 13 patrone gehad het, uitgeklim het (D’Assonville, 1996:30,58; 2010:15). Genl. CR de Wet se naam is in die militêre geskiedenis in Suid-Afrika diep gegraveer. Veral tydens die Tweede Vryheidsoorlog was die naam van genl. CR de Wet op sovele se lippe oor sy vernuf, sy deursettingsvermoë, sy dappere moed en ongekende ywer – eienskappe wat CJH de Wet trots in sy familie voortgedra het.

Omtrent 500 km van Amajuba, ver van die oorlog, is die seuntjie, Casparus Jan Hendrik de Wet, die elfde kind van genl. CR de Wet se oudste broer, Johannes Marthinus de Wet en sy eggenote Lasya Christina (née Kruger, Sara genoem, ’n niggie van pres. Paul Kruger) gebore. Hulle bly in die distrik Ladybrand en in die stille plaasgemeenskap, word hierdie seuntjie De Wet, deel van ’n reeds groot huisgesin (De Wet, 2001:168; Van der Vyver, 1969:157; Duval, 2012).

De Wet is in die onafhanklike Vrystaatse-Republiek (OVS) gebore; daar was JH Brand die president - in 1884 die laaste keer herkies. In 1888 is Brand oorlede. Brand was in baie opsigte beskou as ’n goeie president, selfs bekend as “Vader des Volks” (Van Schoor, 1969:211). Hy is in 1889 deur president FW Reitz opgevolg (Van Schoor, 1969:218). Reitz wat as president tot in 1895 gedien het, is deur pres. MT Steyn opgevolg. In die tyd van Reitz word daar melding gemaak van hoe daar besondere samewerking tussen die Afrikaanssprekende kerke van

11 Die vroeëre minister van Finansies en latere Staatspresident van Suid-Afrika, Nico Diedericks se ouers

24

gereformeerde oorsprong in die Vrystaat was (Van Schoor, 1969:219). Die regering van Steyn was gekenmerk deur sterk pogings om die Afrikaners in die onderskeie republieke so naby as moontlik met behoud van eie onafhanklikheid en identiteit, te laat saamwerk. Hy was sy lewe lank as politieke leier ’n aggressiewe teenstander van Britse imperialisme (Van Schoor, 1969:220).

Enkele jare voordat De Wet sy eerste lewenslig aanskou het, het die gereformeerde president, Paul Kruger se eerste ampstermyn as staatspresident van die Zuid Afrikaanse Republiek (ZAR) op 9 Mei 1883 begin (Du Plessis: SJ, 1969:245). Die republikeins-staatkundige denke van al hierdie genoemde politieke leiers het dwarsdeur De Wet se lewe ’n groot invloed op sy eie ontwikkeling en denke in Kerk en politiek uitgeoefen.