• No results found

CWM DU TOIT EN DIE NUWE ORDE

3.7 ANDER PREDIKANTE SE POLITIESE BETROKKENHEID IN DIESELFDE TYDPERK

3.7.1 DE WET GEEN UITSONDERING

3.7.1.2 CWM DU TOIT EN DIE NUWE ORDE

’n Ander politiese aktiewe predikant wie se dienstyd in die GKSA gedeeltelik met dié van De Wet oorvleuel het, was ds. CWM du Toit (1890-1962) . Du Toit was De Wet se opvolger as predikant

106

in Bloemfontein toe De Wet as teologiese professor in Potchefstroom beroep is. Du Toit het ten nouste met De Wet saamgewerk met die 1933- Bybelvertaling waar Du Toit soos De Wet in die breë kommissie van die eindvertalers gedien het. Alhoewel beide, Du Toit en De Wet invloedryk in die kerklike lewe betrokke was, was Du Toit en De Wet beslis nie voortdurend van dieselfde politieke standpunte oortuig nie.

Vanaf 1929 het Du Toit voltyds politikus geword toe daar in Bloemfontein twee setels vir die Nasionale Party gewen is. Du Toit het kort daarna as volksraadslid in die Unie-Volksraad begin dien. As volksraadslid het hy eers vir die Edenburg-kiesafdeling verteenwoordig en later ook die Colesberg - kiesafdeling, ná hy van die Edenburg-setel afstand gedoen het. Hy het later gepoog om in 1938 in Krugersdorp sy politieke merk te maak, maar het nie daar as lid ingekom nie. Die Verenigde Party het toe reeds bestaan en Du Toit het, soos De Wet, by die “Gesuiwerdes” gestaan. Du Toit was een van 19 ander “gesuiwerde nasionaliste” wat in 1934 reeds as LV’s gedien het, maar teen Hertzog besluit het, deur nie lede van die nuwe Verenigde Party te word nie. Du Toit is toe kort hierna as ’n “Gesuiwerde” LV vir die kiesafdeling Marico verkies.

DF Malan was as jong man reeds krities ingestel op CWM du Toit se vader, ds. SJ du Toit wat in 1895 noodgedwong ’n medewerker van Cecil John Rhodes geword het. Omdat gerugte reeds versprei is dat Du Toit “in Rhodes se sak was”, het Malan sekere vrae oor SJ du Toit laat vra, waar SJ du Toit ook bekend was as predikant wat nie geskroom het om polities baie aktief te wees nie. Sommige historici het hierdie samewerking tussen Du Toit en Rhodes as ’n “onverklaarbare verskynsel” beskryf. Scholtz (1975:195) wys daarop dat dit nie so onverklaarbaar is nie, gegewe SJ du Toit se groot ontnugtering wat hy in sy tyd in Transvaal ondergaan het, sy bankrotskap, die sg “Hollandse kliek” van Pretoria en ook hoe sy en pres. Paul Kruger se weë uiteengegaan het Opmerklik hoe dit in hoofsaak die politiek in Transvaal was wat vir SJ du Toit in die arms van Rhodes laat beland het.

Soos De Wet het ds. SJ du Toit se seun, ds. CWM du Toit nie enduit die pad met DF Malan geloop nie. Verwikkelinge met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog toe genl. Hertzog nie langer met genl. Smuts verenig kon bly nie, het Oswald Pirow, een van Hertzog se getrouste volgelinge oor baie jare, in geheel uit sy Nasionaal-Sosialistiese kas geklim en volgens Koorts (2014:345) het hy en genl. Jan Kemp ’n nuwe politieke party genaamd die “Volksparty” gestig.

CWM du Toit het hom in dieselfde tyd tot hierdie politieke rigting van Pirow gewend, wat baie gou vir Du Toit in die geledere van die “Nuwe Orde” ’n staanplek verskaf het. De Wet was op daardie

107

stadium reeds baie dieper die politieke wildernis ingedryf en het hy nog Malan, nog Pirow, nog Strijdom, nog minder Hertzog polities nagevolg. De Wet se openlike verwerping van Nasionaal- Sosialisme en sy openlike opstelling teen Nazisme het hom en Du Toit wat by Pirow gestaan het, buite politieke bereik van mekaar geplaas.

Aanvanklik was die “Nuwe Orde” van Pirow ’n politieke beweging in die “Volksparty” maar DF Malan kon vir lank die “Nuwe Orde” met hulle eie propaganda en eie party-struktuur duld nie. Malan het in Augustus 1941 ’n mosie kon deurvoer wat nie hierdie “Nuwe Orde” langer in party- geledere goedgesind was nie. So het Pirow en 17 ander lede, CWM du Toit ingesluit, in Augustus 1941 vanaf Malan weggebreek.

Pirow, ook ’n oud-student van Potchefstroom (Scholtz, 1981:631) en een wat sy alma mater gereeld besoek het, het nie gehuiwer om in Potchefstroom, waar CJH de Wet sekerlik teenwoordig kon gewees het, sekere radikale politieke uitsprake te maak nie. Scholtz (1979:461) wys daarop hoe Pirow in Sept. 1937 voor die studente in Potchefstroom felle kritiek teen demokrasie uitgespreek het. Moodie (1980:210) stel dit dat Pirow so vroeg as 1934 eintlik geen pleitbesorger vir demokrasie meer was nie. Hy sou hom toe reeds ten gunste van ’n republiek en “diktatorskap” uitgespreek het.

Almal was wel bewus dat Pirow meermale met Adolf Hitler in sy ministeriële jare in direkte kontak was. Met hierdie besoeke aan Europa het Pirow ook met Mussolini kontak gemaak. Van Tonder (2013:20) stel dit dat daar bewyse bestaan dat Pirow self nie ’n gelowige was nie. Volgens hierdie getuienis het Pirow dit gestel dat ’n volk se heil eerder in ’n nasionaal-sosialistiese benadering geleë was as in die navolging van die Profeet van Nasaret. Pirow het volgens dieselfde getuienis oor die Kerk se onmag om die lot van Afrikaners te verander te velde getrek. Scholtz (1981:633) wys ook daarop dat Pirow nie lid van van ’n Afrikaanse Kerk was nie. Verder stel Scholtz dit dat Pirow “selde indien ooit genooi (is) om aan ’n Geloftedagviering deel te neem en hy het hom ook nie altyd in die geselskap van die nasionaalgesinde Afrikanerdom tuis gevoel nie”. CWM du Toit het voortdurend geskerm dat dit nie waar is dat die “Nuwe Orde” nie gelowig sy uitgangspunte stel nie.

Dit bring sekere vrae na vore, soos waarom CJH de Wet dan wel in Die Kerkblad (6 Nov. 1942:13) redelik breedvoerig aan politieke uitsprake van Pirow in Lydenburg aandag gegee het. Die bedoeling kon wees om lesers van die blad op hoogte te bring van uitsprake van Pirow waarteen De Wet gemeen het Pirow en sy aanhangers “kerklik” gewaarsku moes word. De Wet het in sy

108

brief inleidend opgemerk dat hy net kerklik wou reageer op Pirow want hy besef “die politiek van adv. Pirow met sy nuwe orde... dit hoort nie tuis in ’n kerkblad nie”.

Dit het gou in opvolgende uitgawes van Die Kerkblad duidelik geword dat daar inderdaad lidmate in die GKSA was wat Pirow en sy “Nuwe Orde” gesteun het. Een so ’n leser en briefskrywer was HB van der Walt wat in Die Kerkblad (4 Des 1942) skerp op De Wet gereageer het. Van der Walt het gemeen dat De Wet veronderstel is om “’n deeglike studie van hierdie Nuwe Orde te maak en minder waarde te heg aan ’n kreupele persberig...” Dieselfde briefskrywer sluit in ’n dreigende toon teen al die professore af as hy skrywe “dat hierdie halsoorkop en sonder 100% deeglike studie veroordelings van ons professore nou regtig ’n end moet kry!” De Wet het op 18 Des 1944 in dieselfde kerklike orgaan weer gereageer op Van der Walt en hom verseker dat hy wel deeglike studie van die “Nuwe Orde” gemaak het en hulle “roekelose uitdagings”. De Wet sluit af: “Ek dink br. Van der Walt behoort versigtiger te wees met sy veroordelings”.

In hoofsaak het De Wet gewaarsku dat Pirow nie kon voortgaan om die Afrikaner wys te maak dat die Afrikaner “eendag sal moet kies vir of teen Nasionaal-Sosialisme, sonder enige rekening te hou met Christelik-nasionaal of Calvinistiese oortuiging!” De Wet stel dan sy Calvinistiese politiek soos volg as hy skrywe:

“Hierin beluister ek ’n uitdaging of dreigement al as adv. Pirow sy sin kry met sy “Nuwe Orde” dan sal daar godsdienstig-sedelike dwang op ons volk uitgeoefen word: daar sal geen rekening gehou word met jou godsdienstig-sedelike oortuigings nie, maar jy sal ingewring word in die “Nuwe Orde” keurslyf. Aan hierdie astrante uitdagings wil ek duidelik en beslis in naam van die Calvinistiese Christelikheid van ons volk die handskoen toewerp en aan adv. Pirow sê: ‘Die Afrikanervolk is in sy diepste wese nog ’n Calvinisties Christelike volk en die kenmerk van die Calvinistiese godsdiens was en is en sal wees dat hy vir godsdiens- en gewetensvryheid God meer gehoorsaam as die mens: dat hy hom net voor God en anders voor niemand buig nie!

Ons volk sal hom beslis nie voor die keuse van ‘vir of teen’ enige iets laat dwing nie: met hierdie nageaapte grootdoenery sal ons beslis net niks te doen hê nie.

Adv. Pirow veroordeel dit dat daar met die Calvinisme gespekuleer word vir politieke doeleindes: maar hy self buit tog ook weer die Calvinisme uit vir sy ’Groep-belange’ want hy sê dat die ‘egte Calvinistiese geloof van die Boerenasie deel uitmaak van die “Nuwe Orde”!

109

Ek wonder wat adv. Pirow nou eintlik nog weet van die ‘egte Calvinistiese geloof van die Boerenasie’. Hierdie uitbuiting van ons volk se godsdienstig-sedelike gevoel moet nou inderdaad ’n end kry”. (Die Kerkblad, 6 Nov. 1942).

Hierdie skrywe van De Wet is die vorige jaar (27 Jan. 1941) voorafgegaan deur optredes waar CJH de Wet en JD du Toit (Totius) op ’n meerdere vergadering reeds ’n afwysende uitspraak oor die “Nuwe Orde” gemaak het. Die Gereformeerde Partikuliere Sinode van Transvaal was in 1941 in sitting twee maande na die stigting van die “Nuwe Orde”. De Wet en Du Toit het tydens die vergadering ’n gesamentlike verklaring uitgereik waar hulle die sinode versoek om hierdie “allerbelangrikste maar ook allergevaarlikste” beweging te verwerp. Van Tonder (1913:20) wys daarop dat De Wet en Du Toit na hierdie beweging verwys het as dat dit ’n vergoddeliking van die staat is soos by die nasionaal-sosialisme. Scholtz (1984:158) vat De Wet en Du Toit se verklaring volledig saam wat soos volg lui:

“Voorop moet staan dat ons as Bybelgelowiges en Calviniste die hoofpunt van die ‘nuwe orde’ geensins kan aanvaar nie, want die ‘nuwe orde’ gaan uit van die vergoddeliking van die staatsmag en vergoding van die nasie as sodanig. Hieruit moet noodsaaklik volg die verloëning van God in Sy Hoogheid en die opheffing van die selfstandige kringe in die volkslewe, wat ingevolge die uitspraak van die Skrif hul reg van bestaan erlang het soos bv. die kerk, die huisgesin, die skool, ens... Deur die woord Christelik by die ‘nuwe orde’ te voeg, word die saak geensins Christelik nie, maar is die vrees nie ongegrond nie dat dit gebruik word as ’n vlag om ’n sekere lading te dek. Inteendeel is die verbinding van ‘Christelik’ en ‘nuwe orde’ in histories geworde geldende sin ’n teenstrydigheid”

Scholtz (1984:159) beweer dat ds. JV Coetzee self ook in die afwysing van die orde saam met De Wet en JD du Toit opgetree het.

Die driemanskap De Wet, JD du Toit en Coetzee met De Wet vooraan het selfs verder gegaan en die sinode versoek dat die ander Afrikaanse kerke hulle in “gelyke gees” hieroor sal uitspreek. Verder is daar besluit dat ’n pamflet opgestel moes word om die gevare van die “Nuwe Orde” uit te spel en aan alle lidmate te versprei. In die tyd waar die afwysinge plaasgevind het, het die twee half-broers JD du Toit en CWM du Toit polities teen mekaar te staan gekom, want CWM du Toit was van die predikante wat die sterkste kapsie gemaak het teen die verklaring van die driemanskap teen die “Nuwe Orde”.

CWM du Toit het die “Nuwe Orde” verdedig as die oplossing vir ’n nuwe Republikeinse staat. Hy wys daarop dat die “Nuwe Orde” hom vir die stigting van ʼn Suid-Afrikaanse Christelike blanke

110

nasionaal-sosialistiese republiek beywer. Hy het nog verder gegaan en op 17 Februarie 1941 voorgestel dat die kerke self die bepalings van Christelike godsdiens vir die Beweging kon opstel (Van Tonder,2013:20). Scholtz (1984:159) wys daarop dat CWM du Toit geredeneer het dat die kritiek van die Sinode “miskien mag geld teen die nuwe orde wat ons nou in Suid-Afrika propageer nie...ons erken die leiding van God”. Nadat De Wet saam met JD du Toit en Coetzee daarin kon slaag om die totalitêre karakter van die Nuwe Orde baie deeglik te ontbloot, het dit daartoe bygedra dat CWM du Toit en Oswald Pirow na die algemene verkiesing van 7 Julie 1943 “vir goed van die politieke toneel verdwyn” (Scholtz, 1984:159).

Nog ’n predikant in die GKSA wat in die tyd nie gehuiwer het om politiese uitsprake te maak nie, was ds. (latere prof.) PJS de Klerk. In die tyd wat CJH de Wet aktief in die politiek gestaan het, was De Klerk predikant van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos. De Klerk het geglo dat ’n nuwe heidendom in Duitsland aan die ontwikkel was. PJS de Klerk het soveel polities gelaaide uitsprake, selfs vanaf die kansel, gemaak dat lidmate daarteen beswaar gemaak het (Van Tonder, 2013:114).

De Klerk het met ds. CWM du Toit haaks geraak oor dieselfde redes waaroor De Wet en Du Toit van mekaar verskil het. De Klerk se uitdaging aan Du Toit was moontlik net nog meer uitdagend. Du Toit was op die stadium steeds LV van die Marico-kiesafdeling. De Klerk het in ’n stadium vir CWM du Toit uitgedaag om hom binne die volgende twee maande op enige openbare platform te ontmoet om te debatteer oor De Klerk se stelling dat die inhoud van ds. Du Toit se pamflet oor die Nuwe Orde "in flagrante stryd met Gods Woord" sou wees. Dit het uitgeloop op 'n openbare debat op 23 Oktober 1941 in die Nasionale Klubsaal in Paul Krugerstraat, Pretoria, waar ds. Du Toit sy siening verdedig het dat "die Nuwe Orde met sy Nasionaal-sosialistiese grondslag vir Suid- Afrika vir ons Boerenasie aanneemlik is en versoen kan word met die Calvinistiese lewensbeskouing".47 De Klerk het dit betwis. Aansienlik meer mense het opgedaag as vir wie plek

in die saal was, maar onder die voorsitterskap van oudmin. PGW. Grobler, ook ’n Gereformeerde lidmaat, het die debat ordelik verloop.

In verband met CWM du Toit se verdere kerklike lewe en betrokkenheid in die GKSA is daar tydens ’n kuratore-vergadering in Nov 1942 deur ds JV Coetzee navraag gedoen “in die geval van CWM du Toit wat bedank het as lidmaat van die Geref Kerk en dus vanself af is as predikant”. Die verdere advies van die Regsdeputate is toe ingewin en daar is aanbeveel dat daar aan die kerkverband by wyse van die korresponderende Kerkraad van die OVS in Die Kerkblad kennis

111

gegee moet word (GKSAA: Teologiese Skool Kuratorium Bylaes 1941-1944. 2.1.3. 16 Maart 1942. 2.1.3.2. Art 17).

3.7.1.3 POLITIEKE TYD- EN STRYDGENOTE VAN DE WET BUITE GKSA