• No results found

Die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika val baie keer nou saam met wat die politieke geskiedenis van hierdie land oplewer. Dit is algemeen bekend dat bekende politieke figure onder andere DF Malan, eers predikant was voordat hy vanaf 1934 in die politiek getree het. De Wet het in sy lewe baie met Malan te doen gehad. De Wet was ’n groot politieke rolspeler in die tyd wat Malan ook al hoe groter politieke opgang gemaak het. Thom (1980:20), DF Malan se biograaf, beskou die latere kritiek wat De Wet op die politieke rigting van Malan uitgespreek het, as van die felste waaraan Malan blootgestel was, waarin Malan “kwaai moes deurloop”.

De Wet het in die tyd opgegroei toe wyd aanvaar is dat kerklike betrokkenheid in baie gevalle ’n noue politieke betrokkenheid insluit. Die De Wet-familie was polities bekend en uitgesproke. Hulle was ook ’n familie van uiterstes. As voorbeeld kan dien CJH de Wet se oom, die veel geroemde genl. CR de Wet wat as held in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) groot bekendheid verwerf het. Later, tydens die Rebellie van 1914-1915, was dieselfde CR de Wet sterk teen die regering gekant, en is hy as rebel gevange gehou.

CJH de Wet het hom in sy sterk politieke familie ingeleef en sou as jong student saam met sy oom duidelike politieke standpunte na binne en buite handhaaf. Genl. De Wet het hom van sy jonger broer, genl. Piet de Wet, openlik gedistansieer, omdat Piet dan as “verraaier en joiner” nie enduit aan die kant van genl. CR de Wet in die Vryheidsoorlog gestaan het nie. Die naam Piet de Wet is as skandvlek in die familie voorgehou. As jong teologiese student was CJH de Wet in 1914 blootgestel aan sy oom wat op die gronde van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom tydens die Rebellie vanaf ’n perdekar as verhoog ’n toespraak gelewer het om die saak van die Rebelle te bepleit.

9

Talle predikante in die GKSA was op daardie stadium toe De Wet student was, nie net polities uitgesproke nie, maar het baie sterk party-politieke bande aangeknoop. Die stigting van die Nasionale Party (NP) in 1914 met genl. JBM Hertzog as leier, het in die predikante geledere van die GKSA en onder die studente in Potchefstroom wye steun geniet. As student in Potchefstroom was ds. WJ de Klerk De Wet se predikant. In dieselfde tyd het WJ de Klerk hom vir die NP- kandidatuur, terwyl hy predikant was, in die party-politiek beskikbaar gestel. Ander predikante in die GKSA wat openlik party-politieke bande uitgeleef het en as parlementêre verteenwoordigers gedien het, terwyl hulle predikante was, was ds. LP Vorster4 en CWM du Toit5,

’n halfbroer van JD du Toit (Totius).

Hierdie voorgangers en medestaanders van CJH de Wet het in hulle oortuigings en belangstelling laat blyk dat hulle in sowel kerklike as politieke sake betrokke wou wees, en die vraag ontstaan hoe dit kerklike beoordeel moet word. Hierdie studie wil daaraan aandag gee. Toe De Wet hom al meer in die politieke wildernis bevind het, is dit opvallend hoe hy met die verloop van sy politieke vervreemding al meer van sy kerklike medestaanders vervreemd geraak het. Op ’n los nota wat rondom 27 Augustus 1944 dateer staan ’n opmerking geskryf wat De Wet aan ene Jan Reinecke as persoonlike opmerking op ’n gradedag dit gestel het:

“Ek sal in botsing met ons kerke kom. Kan nie aan ’n kerk hoort wat net aan ’n halwe Bybel glo nie, om die politiek reg te kry, moet ons net een boere Kalv. kerk kry”.

De Wet het ’n intense belangstelling in staatsleer, politiek, die regte en selfs die ekonomie uitgeleef. Hy het in 1935 ’n MA-graad in Staatsleer verwerf. Die onderwerp van sy studie was “Die Republikeinse Konstitusies van Suid-Afrika”. In hierdie studie het hy die konstitusionele grondslae in Suid-Afrika in vier fases onderskei. Die kenmerke van die konstitusies tesame met ’n kritiese beoordeling van die konstitusies is deur De Wet aangepak. De Wet het ook ’n B ECON-

4 Louis Petrus Vorster is op 24 Julie 1862 op die plaas Grootfontein, distrik Middelburg (KP) gebore. Hy was baie betrokke in die politieke aktiwiteite en strome van sy tyd. As predikant van Rustenburg het sy politieke betrokkenheid al meer toegeneem. Die naam van Vorster is openlik verbind met die stigting van die Nasionale Party op 7 Januarie 1914. Vorster het geglo ’n predikant het ’n plig om polities betrokke te wees. Standpunte soos dié van Andrew Murray wat geglo het dat bedienaars van die Woord uit die party- politiek moet uitbly is deur Vorster as “dopers-asketies” afgemaak. Vorster het sy politieke sieninge kerklik so wyd gemaak dat hy gemeen het as kerkverband is die Gereformeerde kerke die verteenwoordigers van “het echt konservatiewe deel van die Afrikaanse nasie te wees” (vgl. 3.7.1.1).

5 CWM du Toit (geb. 30 September 1890) was predikant in Bloemfontein (1925-1929), waar hy CJH de Wet in hierdie gemeente opgevolg het. Hy was polities baie aktief. Hy het as parlementariër in die Unie- parlement vanaf 1929 gedien. Daar is selfs uit Engelse kringe gemeen dat hy geskik is om ’n toekomstige Eerste minister van Suid-Afrika te word (D’Assonville, 1999:221; vgl. 3.7.1.2).

10

graad in ekonomie verwerf. Daarmee saam was hy ook vir ’n LLB in die Regte ingeskryf. Hy het ’n enkele vakke gekort om die graad te kon voltooi.

De Wet se studies in en betrokkenheid by so ’n wye verskeidenheid van terreine wat naas sy teologiese werksaamhede plaasgevind het, bring die vraag skerp na vore hoe kan ’n predikant so wyd uiteenlopend sy gawes aanbied sonder om die gevaar mis te loop om persoonlik en kerklik nie groot skade te ly nie. Veral as daar politieke misbruik en inmenging begin plaasvind, blyk dit dat dit in De Wet se lewe die geval was.