• No results found

DIE UITBREIDING VAN DIE SPANNING TEOLOGIESE GEBIED

2.12 DIE EERSTE TEKENS VAN GESPANNE VERHOUDINGE

2.12.3 DIE UITBREIDING VAN DIE SPANNING TEOLOGIESE GEBIED

Noodwendig het die spanning wat hy in die politieke en akademiese geledere ervaar het, nie van kerklike sake geskeie gebly nie. Dit wil voorkom of hy al hoe meer hierdie vervreemding moes hanteer wat dikwels nie met goeie gevolg afgehandel is nie.

De Wet se predikant in Potchefstroom, ds. JV Coetzee is iemand wat die duidelikste tekens van gespanne verhoudinge tussen hulle weergegee het. Daar is reeds na SP Engelbrecht se kommentaar teen Coetzee ten gunste van De Wet verwys. Selfs kan aanvaar word dat Engelbrecht moeilik vrede met Coetzee kon vind. Waarom die spanning altyd so hoog teen Coetzee opgebou het, is moeilik om vas te stel.

Coetzee het in ’n opname, deur stenograwe opgeneem, hom soos volg oor sy verhouding met De Wet uitgespreek. Daarin ontken hy enige vorige gespanne verhoudinge tussen hulle wat kon aanleiding gee tot sy deurslaggewende rol in die klag teen De Wet. Coetzee beskryf hulle verhouding soos volg (GKSAA, JV Coetzee versameling, Diverse ontvang... De Wet saak, 1940- 1950):

58

“Die professor en ek is studie maats, ons is, laat ek dit maar so stel feitlik kalwers van dieselfde jaar. Ons het Teologie 3 jaar saam studeer, en as ek moet sê dat teenoor die professor daar by my 'n ander gevoel bestaan as teenoor my ander studie maats, vir wie ek nie alleen die hoogste agting koester nie, maar vir wie ek ’n besondere plek in my hart het, dan sê ek nie teveel nie. Nie alleen dit, maar deur al die jare het ons geen persoonlike kwessies ooit met mekaar gehad nie. Ek is 14 jaar predikant op Potchefstroom, 14 jaar lid van die Senaat van die Teologiese skool en vir die grootste gedeelte sekretaris van die Senaat, en persoonlike rusies en persoonlike kwessies tussen my en die professor was daar nie. Dit kan ek met 'n rein gewete verklaar. Daar was by my geen animus gewees nie, ook nou nie, maar ek het gehandel, soos ek gehandel het, alleen omdat ek van oordeel was dat my plig as Kurator my dit oplê om so te handel. As ek dan verkeerd geoordeel het dan is dit 'n oordeelsfout, maar ek kan met die volste vrymoedigheid sê , dat ek ter goeder trou gehandel het” (Kuratorium, 19 Des 1944).

Coetzee ontken enige ernstige verskil wat voorheen tussen hom en De Wet bestaan het, maar dat daar wel vroeëre geskilpunte tussen hom en De Wet bestaan het, is duidelik. In Die

Kerkblaaie van Mei en Junie 1942 was De Wet ongelukkig oor ’n verslag wat Coetzee rondom

die CNO-saak tydens ’n sinodale vergadering voorgehou het. De Wet (Die Kerkblad, 22 Mei 1942:10) neem Coetzee op verskeie punte in die verslag kwalik dat hy wel De Wet se naam in die verslag noem maar dan eensydig teen De Wet se beskouing rondom onderwys sy standpunt stel. Coetzee het hom in sterk uitdrukkinge in ’n volgende uitgawe van Die Kerkblad (19 Jun. 1942:14) teen De Wet verdedig met o.a. ’n beroep op Ps. 141:5. Coetzee beskuldig in die antwoord vir De Wet op vooroordeel en kleingevoeligheid. Dit blyk dat Coetzee wel nie sodanige verskille in ernstige lig beskou het nie en dat dit geen persoonlike saak tussen hulle was nie. Tog is dit duidelik dat geskilpunte wel voorgekom het, vóór die groot saak teen De Wet begin het.

In Mei 1943 is daar duidelik sprake van ongelukkigheid van De Wet se kant oor die verloop van gebeure wat dui op al meer gespanne verhoudinge. Op 26 Mei 1943 het De Wet ’n brief aan ’n kollega geskryf met die volgende inhoud:

“Wat die vergadering se Kalv.studierigting betref. Dit spyt my dat ek dit nie kan bywoon nie. Op die kongres van die JV (laaste April) het ek onder die indruk gekom dat as ek my beskouing oor sake gee, dan word dit opgevat as opposisie en dan word daar aanstoot uit geneem en dit gee net onaangenaamheid af (en ek sien tog nie kans daarvoor nie). Daarom het ek finaal besluit om sulke vergaderings en besprekings nie meer by te woon nie, behalwe dié wat direk verbind is met ons werk aan die Teol. Skool en PUK” (GKSAA, Brief 26 Mei 1943).

59

Ten opsigte van die saak wat in 1944 al meer in die spervuur kom (wat hierdie studie later in baie meer besonderhede poog te ontleed) kan hier bloot genoem word dat die verhouding tussen die redaksiekommissie van Die Kerkblad, met name weereens ds. JV Coetzee, ds. TT Spoelstra en prof. S du Toit baie tekens van gespanne verhoudinge gedra het. Die feit dat daar in die openbaar teen De Wet sekere artikels in Die Kerkblad gepubliseer is om hom onder verdenking te bring, sal later duidelik aangetoon word.

De Wet se verhouding met die kuratore was in hierdie tyd op net sulke gespanne voete geplaas. Die klas-aantekeninge van studente wat ontleed is en deur Coetzee vir die kuratore as belangrike bewysmateriaal gebied is om die dwalinge aan te toon, was verdere groot tekens van spanning en ongelukkigheid aan beide kante. Die kuratore was al meer in die posisie van onverkwiklike vergaderings en onenighede wat tussen De Wet en hulle op groot ontevredenheid van hulle kant, maar ook van De Wet se kant gedui het. Dit is duidelik dat die kuratore later geen twyfel oorgehou het dat De Wet ernstig dwaal nie.

In die stenografiese opnames wat tydens kuratore-vergaderings opgeneem is, was daar velerlei beskuldigings en bewyse van groot ongelukkigheid oor wat tussen De Wet en die kuratore bestaan het. Selfs De Wet se stemtoon, liggaamshouding en groot ongelukkigheid word nie verbloem nie. Die feit dat daar later tussen die partye al hoe groter ongeduld met mekaar aan die ontwikkel was, is ook baie duidelik. Die stenografiese opname van 19 Des 1944 stel die voorsitter (ID Krüger) soos volg aan die woord:

“Ek wil hier openlik verklaar dat ek stilgebly het van vanmôre maar die manier waarop die professor hier verskyn het, was alles behalwe beleefd. Die broeder het geen verskoning gevra om te staan of te sit as hy op vrae antwoord nie, op watter manier die professor die vrae ontvang en die antwoorde gegee het en ek wil hê die professor moet dit ook weet dat hier staan in die Kuratore Reglement die Kuratore is die deputate van die Sinode... U strem ons in ons opdrag maar wat u sê, geagte professor is nog lank nie wet nie en dit wat u sê is vuig, is nog nie klaar nie. Dan is ons wat dit betref op ’n dooie punt en ek sal moet rapporteer dat u ons gestrem het om verder te gaan met die kuratorium vergadering” (GKSAA, JV Coetzee versameling, Diverse ontvang... De Wet saak, 1944-1950).

De Wet het daarop bevestigend geantwoord dat hy dit weet. Maar soos hy dit stel, dan moet “hulle (lees die kuratore) hul ook so teen my gedra. Ek het niks met hulle te doen nie”.

60

Dr. Jooste gee direk hierna in hierdie opname baie sterk sy gevoelens weer oor hoe onbevredigend die situasie en gesprekke hom laat. Hy stel dit soos volg:

“Geagte Voorsitter ek wil beswaar maak. Ek voel hier in my siel beswaar dat ons hier deur die professor eenvoudig behandel word soos kinders. Ek sê dit met nadruk. Hier het die professor gesê, ‘ek het niks met julle te doen nie’. Ons het nog nie gesê "Professor De Wet maak so en prof. De Wet maak só nie. Hier word ’n toestand geskep dat ons nie meer met vrymoedigheid het om hier te sit nie. Dit is baie onaangenaam maar ek wil notuleer hê dat ek protesteer teen die wyse waarop die liggaam hier behandel is. Daar is nie 'n enkel respek vir hierdie liggaam betoon terwyl ons met sulk ’n ernstige saak besig was en ek maak beswaar daarteen. Ek wil my beswaar laat notuleer. Ons sit op ander liggame ook waar ons met onderwysers en ander mense te doen kry en waarlikwaar ons ondervind nie daardie maniere wat ons hier op hierdie stonde moes belewe het nie” (GKSAA, JV Coetzee versameling, Diverse ontvang... De Wet saak, 1944-1950).

Dit is duidelik dat verhoudinge en vertroue tussen die partye diep nadelig geraak was. Die feit dat regspraak moet geskied waar deelnemers al meer met mekaar in twisgesprekke betrokke raak, vorm ’n groot deel van die spanninge wat daar teenoor De Wet opgebou is. Dit wil voorkom asof hy in sy onmiddellike kring van kollegas en politieke genote hy bitter min vriende in hierdie spanningsvolle tye oorgehad het. Die mate waarin sulke spanninge alle verteenwoordigers geplaas het en daar nog van objektiewe regspraak sprake kon wees, stel duidelike uitdagings aan wat die kerklike reg se funksie is.