• No results found

4.2 TEOLOGIESE AKSENTE IN DE WET SE STUDENTEJARE (1909-1915)

4.2.1 TEOLOGIESE AKSENTE IN STELLENBOSCH (1909-1911)

4.2.1.2 CJH DE WET EN SJ DU TOIT

Om De Wet in 1911 in Stellenbosch te beskryf as die SJ du Toit van daardie tyd, is nie vergesog nie. Op die oog af was albei uitmuntende predikers en albei het sterk eskatologiese elemente in hulle teologie benadruk. Albei het kultureel en polities sterk uitgestaan. Waar SJ du Toit se werke deurlopend chiliasme in die Ou Testamentiese profesieë en Openbaring uitgedra het, is daar in De Wet se latere teologiese aksente sommige chiliastiese vertrekpunte. Albei was alleenstryders en dikwels eensame figure.

SJ du Toit is van die groot uitsonderings in Stellenbosch wat die neo-calvinisme in sy oortuigings en sy konsekwente handhawing van die gereformeerde belydenisskrifte voorop gestel het, tot ergernis van sy medestudente en selfs latere kollegas. Met De Wet was dit dieselfde toe hy stroomop in Stellenbosch van sy Kuyperiaanse neo-calvinistiese oortuigings geen geheim gemaak het nie. Eddie Brown (1993:386) toon oortuigend aan hoe groot die invloed van Abraham Kuyper op ds. SJ du Toit was. Hy stel dit dat “Du Toit het Kuyper op die spoor gevolg en

52 Dit is opmerklik dat hierdie tipering van Brümmer om die teologiese opleiding in Stellenbosch in 2016- 2017 deurlopend as in die gees van die “evangelikaalse spiritualiteit” te tipeer, ’n nuwe term is. In die vroeëre werke van Brümmer waar hy in 2013 reeds baie breedvoerig oor die heersende geestesrigting en teologiese aksente in Stellenbosch gehandel het, kom die term “evangelikaalse spiritualiteit” nie voor nie.

138

persoonlik geken”. Hierdie invloed is van so ’n aard dat Du Toit in sy eie geledere en in die konteks van sy omstandighede in die Kaapse Kerk ’n alleen-stryder was; sommige verwys na hom as ’n “eensame Ismael”.

Dit wat JD du Toit (1917:9) oor sy vader skryf is belangrik om die konteks breër te sien. Oor die studente wat aanvanklik lyk asof hulle vyandig teenoor SJ du Toit gestaan het, sê SJ du Toit dat nadat die vier jaar van studies verstryk het, hulle as studente saamgestaan het. Van SJ du Toit kom later die getuienis “werd ik gekose als president van die studente-korps”. DA Scholtz (1975:20), in sy omvattende studie oor SJ du Toit as “Kerkman en Kultuurleier”, bevestig dat SJ du Toit se vervreemding tussen die Stellenbosse studente gou verdwyn het en in die vierde en laaste jaar van sy studie is hy gekies tot president van die studentekorps.

Dit wat Du Toit op sy tyd en De Wet op sy tyd wel eensame figure in Stellenbosch kon gemaak het, was sekerlik hulle oortuigde calvinistiese beskouinge wat veral op twee terreine deurslaggewend na vore gekom het. Albei het hulle vertrekpunte sterk vanuit die Kuyperiaanse oortuiging rondom die uitverkiesingsleer geneem. Daarmee saam word die soewereiniteit van God baie sterk beklemtoon. Brümmer (2016:497) noem dit die “neocalvinistiese ideologie van Abraham Kuyper”.

Die vermoede kan wel uitgespreek word, sonder om dit voldoende te bewys, dat SJ du Toit bygedra het tot CJH de Wet se besluit om na sy eerste drie jare in Stellenbosch die res van sy studies in Potchefstroom te voltooi. Hierdie oorweging stem grootliks ooreen met wat SJ du Toit vir sy seun, JD du Toit geadviseer, het. Toe was dit ’n keuse tussen Stellenbosch en Burgersdorp. SJ du Toit het toe reeds, ten spyte van deurlopende verskille met o.a. prof. Jan Lion Cachet, wel in Lion Cachet ’n vertroueling en vriend gehad wat moeite gedoen het om vir JD du Toit ’n plek vir opleiding in die GKSA in Burgersdorp te bied.

So kan dit nie uitgesluit word nie dat SJ du Toit wel in die belowende student CJH de Wet, wetend of onwetend, ook die saadjie en aansporing kon plant om eerder in die GKSA predikant te word, soos wat sy seun JD du Toit dit toe reeds was.

Daar is heelwat teologiese aksente wat in die lewe van SJ du Toit uitgestaan het wat in die lewe van die jonge CJH de Wet dieselfde klem gedra het: hulle benadering tot die onderwys dat die Staat hulle hande van die onderwys moes afhou en ook die benadering dat onderwys in die moedertaal moes geskied. Brown (1993:389) stel dit dat Du Toit se onderwyssiening “kan

139

breedweg omskryf word as soortgelyk aan dié van Kuyper”. De Wet het soos Du Toit die Afrikaanse taal en die bevordering daarvan baie hoog geag. Albei se oortuigings dat daar ’n goeie Afrikaanse vertaling van die Bybel moes wees, is ewe merkwaardig. Beide was groot voorstanders daarvan dat ’n omvattende Christelike kultuur in Suid-Afrika bevorder moes word. Hoe SJ du Toit gereformeerde politiek bedryf het en wat die latere CJH de Wet se sieninge en bedryf in die politiek was, dra eweneens merkwaardige ooreenkomste.

Brown (1993:388) se opsomming van SJ du Toit maak duidelik hoe in later tye oor CJH de Wet dieselfde geoordeel is:

“...hy was ’n ambisieuse leier, wat hom nie laat lei het nie. Met gloed het hy standpunt gestel, debatte en polemiek gevoer, maar sy oortuigings het hom op sleeptou geneem. In die proses het hy nie altyd die beginsels waaroor hy so sterk gevoel het en persone uitmekaar

gehou nie. Hy het nie gehuiwer om agter die skerms te werk nie, en het nie verdenking voorkom nie.”