• No results found

DE WET SE POLITIEKE BETROKKENHEID IN EN NA DIE TWEEDE

Dit is duidelik dat De Wet sy stem gevoeg het by die stemme wat teen oorlogsdeelname gekant was. Die monstervergadering wat AE Rupert op 2 Sept. 1939 in Pretoria gereël het om die Unieregering te versoek om in die komende stryd neutraal te bly, is deur die Afrikaanse Nasionale Studentebond van Potchefstroom onderskryf (Olivier, 2002:257). Olivier stel dit verder dat daar wel ook stemme opgeklink het ten gunste van deelname aan die oorlog. Soos hy dit stel:

“Daar was natuurlik ander stemme in kerklike geledere wat die Smutsregering gesteun het in sy besluit om aan die oorlog deel te neem. Die polarisasie wat ontwikkel het tussen die opponerende groepe (vir en teen deelname aan die oorlog) het die spanning in die samelewing en natuurlik ook in die kerklike lewe laat oplaai.”

Gedurende die oorlog het die Ossewabrandwag (OB) ’n tyd lank ’n prominente rol gespeel. Terwyl talle predikante by die OB aangesluit het en ’n aktiewe rol in die OB gespeel het, het CJH de Wet hom nie met hierdie beweging kon vereenselwig nie. Hy gee in hierdie tyd ’n publikasie uit getiteld “Vreemde gedagtes”, waarin hy spesifiek prominente gedagtes van die OB bevraagteken wat hulle in die oorlog as dryfkrag beskou het. Hy stel veral vier kritiese vrae waarin hy van die OB verskil en hulle tot verantwoording roep.

Hy kom eerstens in spanning met hulle staatsbegrip. Daarna worstel hy met hulle volksbegrip en stel hy bepaalde vrae rondom die verhouding tussen enkeling en gemeenskap. Hy het in die laaste plek met hulle gehandel oor die “Volksbewegingsbegrip”. Dit is duidelik dat De Wet selfs tydens die oorlog nie gehuiwer het om as selfstandige denker skerp na vore te tree nie en kon hy

122

deur sy kritiese aanslag mense wat naby hom was, moontlik vervreemd het. In die tyd waarin De Wet met baie van die dinge geworstel het, was dit HG Stoker se werk “Stryd om die ordes” wat in die kring waarin De Wet gewerk het, selfs vir teoloë, “die ontsluitingsgeheim van die hele problematiek was” (Olivier,2002:260).

Dit is duidelik dat De Wet alreeds tydens die oorlog en al meer na die einde van die oorlog nie opgehou het om teologies skerp te dink rondom wat die gevolge van die oorlog aan die gelowiges gedoen het nie. Sy werke waarin hy homself al meer in die profesieë van die Woord van die Here begin verdiep het, spreek boekdele van sy eie vrae en worsteling wat besig was om rondom hom plaas te vind. Een so ’n wydverspreide werk van De Wet in hierdie tyd is sy publikasie “Wagter- hoe laat is dit? (Jes. 21:11-12). Die wêreldgebeure beskou in die lig van die Skrifprofesie”. Die baie nadelige gevolge van die oorlog was vir De Wet ’n dringende vraag: “waar staan hierdie wysers op die uurwerk van God, dit is hoe laat is dit op die uurwerk van die Almagtige?”

In De Wet se nadenke wat die oorlog by hom teweeggebring het, is dit duidelik dat hy veral met die plek en die rol wat Israel in die toekoms sou moes vervul besondere erns gemaak het. Hy beredeneer die sake ná die oorlog soos volg:

“Die totstandkoming van die staat ‘Israel’. Die eerste wêreld oorlog (1914-1918) het ‘n groot stoot gegee aan die terugkeer van Israel na Palestina; die tweede wêreldoorlog (1939-1945) het nog ‘n groter stoot gegee; die konsekwensies van hierdie oorlog kan nog nie bereken word nie, maar dis nie onmoontlik dat Rusland sal kies vir die Arabiese volke, en dat Amerika dan sal kies vir Israel nie. En opmerklik dat baie Jode hulle grond in Palestina koop. Die derde wêreldoorlog sal heelwaarskynlik die volle herstel van Israel teweegbring: hulle sal dan ook waarskynlik hulle vergrote land (Irak) verower.

Die toekomstige taak van Israel sal heelwaarskynlik volvoer word in die Duisendjarige Vredestyd. Maar ook daarna, wanneer satan weer los sal wees en die godsdiensoorlog sal organiseer – dan sal Israel ook weer die middelpunt wees; want die doel van satan sal wees om die “laer van die heiliges en die geliefde stad” te omsingel (Openb. 20:9 vgl. Eseg. 38 en 39). En ja, as hierdie sondige bedeling verby sal wees, dan sal Israel die fondamente lewer vir die stad van God, die nuwe Jerusalem: die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels van die Lam (Openb. 21:12 en 14). Die geskiedenis van Israel onder die volke bestaan dus uit drie tydperke:

Die verkore Israel – vanaf Abraham tot op Christus

Die verworpe Israel – vanaf Christus tot op die terugkeer van Israel uit die wêreldballingskap. Die herstelde Israel – vanaf sy terugkeer tot die voleinding van die eeue.”

123

Dit val op dat De Wet in sy publikasies na die oorlog baie duideliker homself voeg by dié van die Chiliastiese rigting in sy tyd wat in die GKSA goed bekend was, maar deur heelwat bestry is. De Wet se verwysing na die “Duisendjarige Vredestyd” en sy positiewe uitsien daarna laat nie twyfel in watter mate hyself hierin chiliasties geglo het nie.

3.9 DE WET SE BETROKKENHEID IN DIE VESTIGING VAN AFRIKANER