• No results found

Hierdie hoofstuk het aangetoon watter faktore van die begin tot die einde van De Wet se lewe ’n deurslaggewende invloed en rol in sy lewe gespeel het. Daar is daarna verwys hoe CJH de Wet onder moeilike omstandighede tussen sy broers en susters moes opgroei na hulle beide hulle ouers tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. As 12-jarige weeskind, reeds deel van ’n groot huisgesin, is hy as die jongere van die kinders met groot uitdagings gekonfronteer. Nogtans het hy deur sy lewe gepoog om sterk te staan en het nie vir groot en moeilike uitdagings teruggedeins nie. Sy vroeë kennismaking met oorlog, die dood en finansiële uitdagings, het noodwendig die jongmens tot vinnige volwassenheid gedwing, met die kenmerk om self verantwoordelikheid te aanvaar en nie agter ander mense te skuil of hulle na te boots nie. Kenmerke wat deurlopend in sy lewe ’n groot dryfkrag was, maar terselfdertyd groot moeilikhede kon veroorsaak as daar verskille tussen standpunte na vore gekom het.

61

Hy het ná die oorlog, as 15-jarige jongeling geweier om die Britse eed van getrouheid af te lê. Hy het deur bemiddeling van ’n ouer broer na die oorlog weer na die skool kon terugkeer. Hierdie broer, Kootjie de Wet wat vanweë huweliksverbintenis lidmaat van die Gereformeerde Kerk Ladybrand geword het, kan beskou word as van die figure wat deurslaggewend kon wees in die besluit van CJH de Wet om later predikant in die GKSA te word. Die rol wat De Wet se vader en ds. HPhJ Pasch in die beïnvloeding daartoe kon speel, verdien verdere vermelding.

Die De Wet familie en veral die huisgesin van CJH de Wet het hom getrou bygestaan. Waar hy op 21 matriek voltooi het, kon hy finansieel bly staatmaak op die steun uit die plaas van sy gestorwe ouers. Die rol wat sy oom, genl. CR de Wet, in sy lewe gespeel het, veral in sy studiejare en in sy politieke beïnvloeding, kan nie geringgeskat word nie.

Die energieke en groot gestalte van CJH de Wet, het as student in Stellenbosch en Potchefstroom goed presteer. Al was dit jare van rebellie en politieke onrus en baie woelinge op party-politieke front het De Wet homself nooit onbetuig gelaat nie. Sy belangstellingsveld was besonder wyd en het hy op talle gebiede akademiese kwalifikasies behaal. In die staatkunde ’n MA-graad, in die regte was hy met LL. B besig, in die rekenkundige wêreld het hy ’n B.ECON. voltooi, benewens wat hy in die teologie behaal het. Hy is van die eerste studente in die GKSA wat in die buiteland op die gebied van Kerkreg gedoktoreer het. Die erkenning vir hierdie werk strek besonder wyd en het ander kerkregtelikes soos BB Keet die invloed van De Wet se studie op hulle denke erken. Die rol wat hy gespeel het om Afrikaans as akademiese taal te erken, is aangetoon. Hy was van die eerstes wat sy proefskrif in die buiteland in Afrikaans geskryf het waar dieselfde proefskrif lof ontvang het as ’n kerkregtelike deurbraak in die verstaan van kerkregering.

In die gemeentes (Steynsburg en Bloemfontein), waar De Wet as bedienaar van die Woord gedien het, was sy werk van besondere bydrae. Hy was prediker by uitstek, maar in skoolverband en in die gemeenskappe van verarming en swaarkry waaraan die Afrikaner in die jare van sy bediening blootgestel was, het De Wet hard probeer om in die lewens van lidmate en volksgenote ’n verskil te maak, wat hy in baie opsigte reggekry het. Ons kan aanvaar hierdie uitdagings het die politieke vuur in De Wet net verder aangeblaas.

Op politieke terrein het De Wet net soveel opslae gemaak, maar beslis op die terrein ook meer “vyande” as vriende agtergelaat. Die persoonlikheid De Wet het polities homself in baie opsigte vereensaam, omdat dit voorkom asof hy al meer sy eie sin en strewes kon najaag en nie werklik in die opsig die party-leiding in die politiek waarin hy gestaan het, leierskap kon deel nie. Politieke

62

spanninge het klaarblyklik teologies verwikkeld geraak wat nog De Wet, nog sy teenpartye op gesonde gereformeerde basis kon ontrafel.

’n Kenmerk van onbuigsaamheid en strenge handhawing van wat hy glo reg is, kon vroeg reeds bemerk word - eienskappe wat heel waarskynlik al sterker begin uitstaan het, hoe ouer hy geword het. Hoe hierdie eienskappe tot baie gespanne verhoudinge aanleiding kon gee, kan op sigwaarde al duideliker gesien word. Die wyse waarop dit op De Wet se latere verhouding met sy kollegas en dan ook sy studente negatief deurgewerk het, was onafwendbaar.

Hierdie hoofstuk het gewys op die besondere persoon, die gawes en erns wie CJH de Wet was en waarmee hy sy lewe geleef het. Die hoofstuk het die besondere bydraes wat De Wet op talle gebiede, kerklik, kultureel en polities gelewer het aangetoon, maar sy ontwikkeling van ’n al hoe sterker polemiese styl in persoon, verhoudinge en aanbieding van sy werk het hom al meer vervreem van tydgenote en kollegas. Die spanning hierin het steeds bly opbou. Dit wat later as hartseer krisis sy roeping in die GKSA beëindig het, waarvan hierdie studie poog om die kerkregtelike proses na te vors, sal getoets word aan die eise van die kerklike reg. Vóór dit kan geskied word in die volgende hoofstuk in die besonder oorgegaan tot De Wet se politieke loopbaan en kerklike spanning wat dit teweeggebring het.

63

HOOFSTUK 3

DE WET SE POLITIEKE LOOPBAAN EN KERKLIKE SPANNING WAT

DIT TEWEEGGEBRING HET

Oorsig

3.1 Inleiding

3.2 Politieke tendense en gebeure in De Wet se lewe tussen 1930 en 1950