• No results found

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.8 ʼn TEORETIESE PERSPEKTIEF OP AFKNOUERY

2.8.3 Moontlike oorsake van afknouery soos vanuit Bronfenbrenner se bio-

2.8.4.1 Moontlike oorsake van afknouery in die mikro-sisteem

2.8.4.1.7 Skoolfaktore

Die skool is ʼn sisteem wat uit verskillende subsisteme bestaan en sluit die onderwys- en administratiewe personeel, leerders, en die kurrikulum in, wat voortdurend in wisselwerking met

die leerders in buitesisteme soos die gesin of plaaslike gemeenskap verkeer (Pillay, 2004:5). Die volgende risikofaktore in die skool kan as moontlike oorsake van afknouery dien.

Die skoolklimaat

Kinders bring ʼn groot deel van die dag by die skool deur. Naas die gesin vorm dit een van die belangrikste sosialiseringsagente wat ʼn groot invloed op die voorkoming van afknouery kan uitoefen (Neser, 2005:61). Tog bestaan daar ʼn hele aantal risikofaktore in skole wat ʼn rol by afknouery kan speel. Teikens van afknouery is deel van ʼn groep leerders, wat ten spyte van hulle fundamentele mense- en demokratiese reg om in ʼn veilige skoolomgewing onderrig te word, (Handves van Menseregte: Grondwet kyk Suid-Afrika, 1996), aan herhaalde voorvalle van afknouery blootgestel word (OECD, 2012). ʼn Veilige skoolomgewing veronderstel dat die menswaardigheid van die leerders en onderwysers gerespekteer en beskerm sal word, dit hulle teen enige vorm van geweld sal beskerm, dat hulle nooit op enige wrede of onmenslike of vernederende manier behandel of gestraf sal word nie, en dat hulle reg tot privaatheid nie geskend sal word nie (Prinsloo, 2005b:7). In skole waar leerders op ʼn gereelde grondslag fisiek, verbaal en emosioneel afgeknou word, word ʼn negatiewe leeromgewing geskep waarin leerders onveilig voel (Sullivan, 2011:90,91; Ward, 2006:50).

Die veranderende aard van portuurgroepe tydens leerders se skooloopbane met spesifieke betrekking tot afknouery, word soos volg deur Sullivan et al. (2005:49-53) beskryf: wanneer leerders die eerste keer tot die sekondêre skoolfase toetree, is hulle aanvanklik onseker en op soek na ʼn eie identiteit. Afknouery kan na willekeur plaasvind en veralgemeen word. Sommige leerders is verveeld en vind die portuurgroep interessant. Dié leerders voel aangetrokke tot die opwinding wat die portuurgroep bied, asook die portuurgroep se verwerping van die skool se norme en waardes. Die reëls van die portuurgroep is dikwels ook baie rigied (Sullivan et al., 2005:49,50).

Gedurende die daaropvolgende fase in die skool verminder die afknouery, dit is ook minder spontaan, maar meer gerig, en die teikens word duideliker gedefinieer. Die aard van die afknouery word dikwels ook meer gemeen, intens en intimiderend (Sullivan et al., 2005: 51). Leerders in die finale skooljaar toon meer vertroue in morele oordeel en kan afknouery met meer selfvertroue verwerp, of die teiken verdedig. Alhoewel portuurgroepverhoudings nog belangrik is, ontwikkel die kind se individualisme sterker. Indien afknouery deur die uitgelese groep leerders in die skool toegelaat word, kan dit ernstige afmetings aanneem. Hierdie leerders is die skoolverlaters wat weens hulle individualisme reeds minder by afknouery betrokke is en gewoonlik die leiers op verskeie vlakke in die skool is. Omdat sommige skole die bestaan van hierdie groepe goedkeur, kan die afleiding gemaak word dat dié groepe se vernederende, gemene afknouery deur die skool oorgesien word. In hierdie geval kan afknouery institusioneel van aard word (Sullivan et al., 2005:49,52).

Volgens Prinsloo en Neser (2007a:326,327) is skool-afknouery oorwegend egosentries van aard. Die volgende drie hoofoorsake van afknouery word deur hulle ondersoek aangedui, te wete die begeerte van die afknouers om hulle oorheersing oor ander leerders te bewys, om ander leerders af te knou vir die pret daarvan, of uit weerwraak. Verder word die teiken as ʼn swakkeling deur die afknouer en ook ander leerders beskou. Genoemde navorsers dui ook aan dat die afknouers se swak ontwikkelde gewetens en swak morele insig asook die beskouing van medeleerders dat afknouery normale groepsgedrag is, bykomende oorsake van afknouery is.

Leerder-onderwyserverhoudinge

Die bevoegdhede en houdings van skoolhoofde en onderwysers speel ʼn belangrike rol in leerders se ontwikkeling en leerervarings. Die daarstelling van ʼn positiewe of negatiewe skoolklimaat beïnvloed die leerder se gedrag en daarom word daar van die opvoeders verwag om ʼn leerderveilige omgewing te skep (Louw, Van Ede & Louw, 1999:363; Oosthuizen & de Waal, 2008:5; Wentzel, 2008:31). Sommige skoolhoofde ontken egter dat afknouery in hulle skole plaasvind (MacDonald, 2005:86). Skole wat afknouery in enige vorm ontken, ignoreer en selfs oorsien, dra inderwaarheid tot afknougedrag by (Cowie & Jennifer, 2008:1). Volgens Coyne (2011:11) is afknouers geneig om met hulle gedrag voort te gaan wanneer volwassenes of kinders dit aanskou, maar nie tussenbeide tree nie.

Alhoewel sekere onderwysers erken dat afknouery ʼn probleem in skole is, onderskat hulle dikwels die erns en die negatiewe implikasies daarvan vir die teikens en sodoende word die geleentheid herhaaldelik vir verdere afknouery geskep (Cowie & Jennifer, 2008: 1). Baie onderwysers is swak toegerus om verhoudingsprobleme en spesifiek anti-sosiale gedrag soos afknouery te hanteer, omdat hulle nie daarvoor opgelei is nie en omdat die onderwysberoep so veeleisend is (Sullivan, 2011:5; Badenhorst, Steyn & Beukes, 2007:313; Janse van Rensburg, 2010:106). Kennis, vaardighede en selfvertroue om afknouery te herken en die afknouer tot verantwoording te roep, ontbreek dikwels by die onderwyser (Cowie & Jennifer, 2008:1).

Dikwels word leerders ook verkeerdelik deur onderwysers as afknouers geëtiketteer wat daartoe aanleiding kan gee dat die leerders begin om aan die etiek van afknouer gestand te doen (Macintyre, 2009:68). Onderwysers kan afknouery ook as ʼn onmisbare deel van die grootword- proses beskou, magteloos voel om dit te voorkom, of voel dat hulle ingryping net die situasie sal laat vererger (Furniss, 2000:17). Dikwels vertolk die onderwysers die gedrag van die teikens verkeerd en word hulle as lastig en moedswillig beskou, of vir die afknouery geblameer en glo onderwysers soms dat teikens hulle anders moes gedra het om die afknouery af te weer. Sodoende stel die onderwysers die teikens aan verdere afknouery bloot (Sullivan, 2011:117). Volgens Neser (2004:28) is daar relatief min publikasies oor afknouery in Suid-Afrika beskikbaar. De Wet (2005c:44) beweer dat dié leemte aan publikasies in verband gebring kan

word met sommige onderwysers se ongevoelige houdings teenoor afknouery, hulle wanpersepsies oor afknouers en teikens, en ʼn gebrek aan insig en empatie ten opsigte van afknouery in Suid-Afrikaanse skole.

Onderrigstyle van onderwysers

Die volgende onderrigstyle van die onderwysers kan volgens (Sullivan, 2011:188) afknouery in die klaskamer of skool bevorder:

 Outoritêre styl – die onderwysers beheer die leerders met bevele en dreigemente, toon min respek vir individuele leerders en neem hulle toevlug tot verbale afkraking en aggressie.  Nalatige of siniese styl – hierdie onderwysers neig om sielloos en onregverdig te wees, is

nie duidelik oor wat behoort te wees nie en weet nie hoe om ’n probleem te hanteer wanneer iets verkeerd gaan nie.

 Narsistiese styl – dié onderwysers het ʼn behoefte aan gewildheid en om deur sommige leerders bewonder te word, ten koste van ander leerders, veral die teikens van afknouery.  Permissiewe styl – onderwysers met hierdie onderrigstyl stel nie toepaslike en duidelike

grense nie, laat hulle klasse “oor hulle loop” en regverdig afknouery as net ʼn bietjie pret of as oorlewingslesse.

Die kurrikulum en leerinhoud

Leerders is geneig om hulle van hulle studie te onttrek en hulle tot verskeie onaanvaarbare gedragswyses, waaronder afknouery, in die klas te wend wanneer hulle die kurrikulum en leerinhoud:

 As sinloos en niksseggend ervaar, as ontoepaslik, of as ontoepaslik vir hulle toekomstige beroepe beskou (Oosthuizen & De Waal, 2008:7,8; Prinsloo & Gasa, 2011:494).

Stephenson en Smith, (2002:21) beklemtoon dat die meeste leerders wat by afknouery betrokke is, onderpresteerders is.

Skoolbeleide en tugmaatreëls

Elke skool behoort ʼn gedragskode of beleid te hê waarvolgens gedrag en in die besonder afknouery, aangespreek word. Soms is dit nodig om ʼn leerder se skoolbywoning tydelik op te skort of die leerder selfs algeheel te skors wanneer die leerder hom herhaaldelik aan wangedrag soos afknouery skuldig maak. Die skoolbeleid moet voorsiening maak vir sodanige optrede en ook vir die herinskakeling van die leerder (Mukherji, 2001:105). Alle beleide waarby dissipline ingesluit is, moet in ooreenstemming met die skool se gedragskode geformuleer word en aan nasionale wetgewing en die Grondwet onderworpe wees (Zeelie, 2004:24).

Die gehalte van die toepassing van dissipline by ʼn skool oefen ʼn sterk invloed op die leerders se gedrag uit. Te streng dissipline kan die leerders in opstand bring (Oosthuizen en De Waal, 2008:6). Die gebrek aan dissipline of onoordeelkundige toepassing daarvan kan tot wanorde in die skool lei (Joubert, R. & Squelch, J. 2003:1). Ernstige afknouery kan tot die tydelike opskorting van die afknouer se skoolbywoning lei, of selfs tot algehele skorsing wanneer dissiplinêre stappe geneem word (Estévez, Emler & Wood, 2009:4). Dit is egter onwaarskynlik dat sulke stappe die ongewensde gedrag sal verminder òf stuit (Smith, 2006:18) en volgens McAra (2004:3) blyk dit asof sulke optredes selfs die gedrag bevorder.

Die primêre rol van die skoolbeheerliggaam van elke skool is om ʼn geskikte skoolbeleid te ontwikkel wat die veiligheid en dissipline van die betrokke skool beklemtoon. Artikel 20 (1) (d) en Artikel 8 (1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet vereis van skoolbeheerliggame om ʼn gedragskode vir leerders te aanvaar na oorlegpleging met die leerders, ouers en onderwysers van die skool. ʼn Afknouvoorkomingsbeleid wat op die beginsels van menseregte gegrond is en toepaslike skoolreëls, regulasies, strafmaatreëls en dissipline-prosedures bevat, moet deel van die skool se gedragskode vorm. Verder moet al die reëls wat van toepassing op skoolveiligheid en sekuriteit is en die gevolge van die oortreding daarvan in die beleid vervat wees.

Die fisiese ontwerp van die skool

Die speelgronde en die ontwerp van die skoolgeboue kan geleenthede vir afknouery skep. Skoolomgewings waarin die meeste leerders bymekaar kom, soos byvoorbeeld in die skoolgange of afgesonderde deurgange, die speelgronde, kleedkamers, of die snoepie waar daar geen of min volwasse toesig is nie, kan ʼn ideale geleentheid vir die afknouer skep om toe te slaan (Sullivan, 2011:165,167). Afknouery gedy in informele situasies waar daar geen toesig is nie (Stephenson & Smith, 2002:20).

Ouer-skoolverhouding

Ouers verloor beheer in ʼn samelewing waar daar nie meer duidelik tussen reg en verkeerd onderskei kan word nie en sommige ouers laat die dissipline en opvoeding van hulle kinders aan die skool oor (Louw & Barnes, 2003:20). Afwesige en onbetrokke ouers is geneig om hulle kinders se kant teen die skool te kies (Badenhorst et al., 2007:311). Sommige ouers ontken dat hulle kinders afknouers is en versterk so die kind se gedrag (MaCintyre, 2009:17). Party ouers dra hulle neerhalende beskouings oor die onderwysprofessie aan hulle kinders oor en veroorsaak op hierdie wyse dissipline-probleme in die skool (Badenhorst et al., 2007:310). Parsons, (2005:57) noem dat die voorkoms van ouer-afknouery ook ernstig bejeën moet word. Daar is gevalle waar ouers die onderwysers bydam, dikwels in hulle kinders se teenwoordigheid, omdat hulle woedend oor die onderwyser se dissiplinering van hulle kinders is.

Die volgende risikofaktore kan ook tot afknouery by die skool bydra:

 Die afwesigheid van die ouers tuis (Van der Ven, Dreyer & Pieterse, 2006:266).

 Die gebrek aan kommunikasie tussen die ouers en kinders en die gebrek aan ouerbetrokkenheid by hulle kinders se skoolaktiwiteite (Leoschut & Bonora, 2007:101).  Rassistiese vooroordele van ouers wat aanleiding tot rasgedrewe vorms van afknouery in

die skool gee (De Wet, 2005b:86; Hibbert, 2007:33; Pillay, 2004:7).

 Onwilligheid van die ouers om die skool se gedragskode en afknoubeleid tuis te ondersteun en te bevorder (Smith, 2006:14).

 Onvermoë van ouers om hulle kinders meer weerbaar teen voorvalle van afknouery by die skool te maak, of om saam met die skool maatreëls te tref, wanneer voorvalle van afknouery wel by die skool plaasvind (Besag, 2002:195).

Onderwyserafknouery

Onderwysers word volgens De Wet (2006:70); Stephenson (2002:272) en Pervin en Turner (1998:4) op verskillende wyses (fisiek, verbaal, emosioneel) afgeknou. Hulle word gevloek en veragtelik gespot, doelbewus geïgnoreer, seksueel geteister, in die klas toegesluit, hulle besittings word gesteel of beskadig, persoonlike aanmerkings word gemaak en onwaar gerugte word oor hulle versprei.