• No results found

NAVORSING OOR DIE AFKNOUVERSKYNSEL IN SUID-AFRIKA

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.4 NAVORSING OOR DIE AFKNOUVERSKYNSEL IN SUID-AFRIKA

In teenstelling met die omvattende navorsing oor die afknouverskynsel op internasionale vlak, was daar tot onlangs relatief min oor die voorkoms en aard van afknougedrag in Suid- Afrikaanse skole bekend. Daar is veral min navorsing in Suid-Afrika oor die aanskouer se belewing van afknouery gedoen. Belangstelling in navorsing oor afknouery in Suid-Afrika het egter begin toeneem en veral die volgende Suid-Afrikaanse navorsers het die afgelope tien jaar die verskynsel prominent begin navors: De Wet (2005; 2006); De Wet en Jacobs (2008); Greeff (2004); MacDonald en Swart (2004); Neser, Ovens, Van der Merwe, Morodi, Ladikos en Prinsloo (2004); Prinsloo en Neser (2007b); Swart en Bredekamp (2009); Townsend, Flisher, Chikobvu, Lombard en King (2008); Zeelie (2004). Uit bogenoemde navorsing het dit geblyk dat die voorkoms van afknougedrag in Suid-Afrika van provinsie tot provinsie en volgens Greeff (2004:4-6) ook ten opsigte van ras, geslag en ouderdom verskil.

Swart en Bredekamp (2009:406) het bevind dat internasionale en plaaslike navorsing hoofsaaklik op afknouery tussen seuns en afknouery in die algemeen gefokus het. In die meeste gevalle was meisies se betrokkenheid by afknouery uitgesluit. Die navorsing wat wel oor die voorkoms van afknouery tussen meisies gedoen is, het op die langtermyn gevolge wat

afknouery vir jong vroue inhou gefokus (Thayser, 2001). Swart en Bredekamp (2009:419;422) het in hulle studie oor nie-fisieke afknouery tussen Graad 5 meisies in die Wes-Kaap bevind dat dié soort afknougedrag met bevindinge in die internasionale literatuur ooreenstem. Volgens Swart en Bredekamp (2009:415) se navorsingsbevinding is portuurgroep-uitsluiting die algemeenste vorm van afknougedrag by meisies.

De Wet (2006b:92) het in ’n navorsingsprojek waaraan 339 leerders in sekondêre skole in die Vrystaat deelgeneem het, die volgende gevind: onderskeidelik 29% en 32.15% van die leerders van die twee skole wat deelgeneem het, was nog nie aan direkte afknougedrag of aan indirekte verbale afknougedrag blootgestel nie. Soveel as 32.45% is fisiek deur medeleerders afgeknou. Afknougedrag kom ook volgens De Wet en Jacobs (2008:197-235) in koshuise voor waar nie net die koshuisinwoners nie, maar ook die diensdoende personeel aan die gedrag blootgestel is. In ’n afsonderlike studie oor onderwysers in die Vrystaatse se belewenis van afknougedrag (De Wet, 2006a:70), is bevind dat onderwysers nie slegs afknouery aanskou het nie, maar dat 24.85% van die onderwysers ook fisiek deur leerders geteister is en dat 33.44% deur indirekte verbale afknouery en 18.1% seksueel deur van hul leerders geteister is (De Wet, 2006a:70).

In Suid-Afrika heers daar veral besorgdheid oor die wydverspreide voorkoms van afknouery in die primêre en sekondêre skole (Burton, 2008:xi). Van Vuuren (2004:358) redeneer dat die geweld-ondersteunde norme wat die jeug tydens die Soweto-skoolopstande in 1976 gekoester het, uiteindelik tot die daarstelling van ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika gelei het. Ten spyte van die daarstelling van die Grondwet waarin die regte van leerders en onderwysers beskerm word, soos in die Handves van Regte vervat (Grondwet kyk Suid-Afrika, 1996), het geweld in Suid-Afrikaanse skole en in die samelewing sedert 1994 toegeneem (Maree, 2000:1) en volgens Van Vuuren (2004:358) deel van die demokrasie geword. Greeff (2004:18) voer aan dat leerders in Suid-Afrika direk of indirek aan hoë vlakke van geweld en misdaad blootgestel word en daarom meer aggressiewe en viktimiserende gedrag openbaar. Hy het ook bevind dat die voorkoms van afknouery in Suid-Afrikaanse skole in ’n sekere mate met die internasionale navorsingsbevindinge van afknouery in die intermediêre skoolfase ooreenstem (Greeff, 2004:18).

Volgens ’n internasionale studie is Suid-Afrika dié land waar leerders die meeste in skole onveilig voel (Rossouw & Stewart, 2008:250). Die hoë voorkoms van misdaad en die aanhoudende blootstelling aan geweld op persoonlike vlak of deur die media dra tot die beskouing onder die algemene bevolking by dat afknougedrag aanvaarbaar is. So siening kan daartoe bydra dat Suid-Afrikaanse leerders afknougedrag as ’n normale manier van konflikhantering beskou (Burton, 2008:75).

2.4.1 Media-rapportering oor afknouery in Suid-Afrika

Na aanleiding van die berigte oor afknougedrag wat in Suid- Afrikaanse koerante gepubliseer is, is dit duidelik dat afknouery ’n probleem is wat in heelwat Suid-Afrikaanse skole voorkom. Die volgende berigte sedert 2002, is ʼn weerspieëling van die probleem:

 Stiehler, A. 2002. Meisies deesdae die groot boelies. Die grootste boelies op die skoolterrein is deesdae dikwels meisies – met selfone. Volksblad: 28 Oktober.

 Viviers, G. 2010. Meisies raak al meer afknouerig en geniepsig. Volksblad. 22 Maart.  Van Niekerk, C. 2011. Meeste boelies ontgroei dit nie. Beeld Leefstyl: 22 Junie.

 Kruger, C. 2011. Ongenadig aangeval terwyl leerling verfilm. Rapport: (5) 21 Augustus.  Bailey, C. 2012. Bullying set to soar: Cyberspace taunting only in its infancy in SA. The

Star: 1, 10 February.

 Dean, M. 2012. She may look like an angel but she can pack the nasty sting of a little queen bee. Sunday Times: 3, 19 February.

 News24. Admin. 2012. Bullying at school a problem – survey. 6 July.  News24. 2013. How safe are our kids at school? 17 April.

 Nel, Riata. 2013. Seun geboelie toe skiet hy onnie. Volksblad Vrydag 20 September  Carstens, S. 2015. 12-jarige het dood op foon beplan. Ouers geskok oor WhatsApps.

Rapport: 3, 19 Julie.

 Otto, H. 2015. Onnies wou kind glo in toilet druk. ‘6-jarige het ’n knou weg’ Beeld: (4) 1 Augustus.

 News24. 2015. My son is traumatised, says bully victim's mom. 15 September.

Die media neig veral om die tragiese gevolge van afknouery te beklemtoon en in die meeste gevalle op die fisieke aspekte van afknouery te fokus. Soos reeds vermeld, is afknouery veel meer as net fisieke treitering, dit kan ook psigologies van aard wees, veral deur middel van kubertreitering waar aanskouers al meer aan die treitering van anonieme afknouers blootgestel word.