• No results found

Bronfenbrenner se bio-ekologiese sisteemteorie

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.8 ʼn TEORETIESE PERSPEKTIEF OP AFKNOUERY

2.8.1 Bronfenbrenner se bio-ekologiese sisteemteorie

Bronfenbrenner het reeds in die 1970’s die ontwikkeling van die individu vanuit ʼn ekologiese perspektief beskou (Bronfenbrenner, 1979:3) en ʼn model ontwikkel wat die direkte en indirekte invloede van die omgewing op die individu se funksionering verduidelik (Swart en Pettipher 2005:8,10). Volgens Bronfenbrenner (1979:3) vind die ontwikkeling van die individu in ʼn ekologiese omgewing plaas wat uit ʼn stel ineengeskakelde strukture of sisteme bestaan. Hy vergelyk die sisteme met ʼn stel Russiese baboesjka-poppies, of skilpoppies, waarvan die een in die ander pas en elkeen met mekaar verband hou.

Ekologie behels die bestudering van die verhoudinge tussen die individu en sy omgewing ten opsigte van die individu se fisieke, psigologiese, sosiale en kulturele omgewings wat deur sosiale veranderinge beïnvloed word (Berns, 2010:32).

Sisteem dui op die beskouing dat ʼn verskynsel nie in isolasie bestaan of bestudeer kan word nie, maar altyd binne interafhanklike kontekste. Die afknouverskynsel vind nie in isolasie tussen ʼn afknouer en ʼn teiken plaas nie, maar gebeur in ʼn ingewikkelde sosiale sisteem tussen individue, portuurgroepe en die breër sosiale gemeenskap waarby die individu betrokke is (Espelage & Swearer, 2010:61).

Bronfenbrenner het sy ekologiese teorie verder tot ʼn bio-ekologiese sisteemteorie verfyn. In hierdie teorie word al die sisteme (biologiese, psigologiese en gedragsisteme) asook die tydsraamwerk wat ʼn invloed op die individu se ontwikkeling het, in berekening gebring (Bronfenbrenner, 2005:X1V, XV). “In the bioecological model, development is defined as the phenomenon of continuity and change in the biopsychological characteristics of human beings, both as individuals and as groups.” (Bronfenbrenner & Morris, 1998:793).

Volgens Bronfenbrenner (2005:82) kan menslike ontwikkeling slegs verstaan word indien dit binne ʼn tydsdimensie oorweeg word, omdat die deurlopende konteks en verandering in die biologiese en psigologiese sisteme van die individu oor sy hele lewensduur plaasvind. Hierdie multidimensionele model van menslike ontwikkeling dui aan dat daar verskillende vlakke van interaktiewe sisteme is wat verandering, groei en ontwikkeling van die individu (fisiek, biologies,

psigologies, sosiaal en kultureel) tot gevolg het. Dit impliseer dat daar voortdurend verandering plaasvind en dat wat ook al in ʼn sisteem gebeur, deur ʼn ander sisteem geraak sal word (Nel, Nel & Hugo, 2012:11,12; Swart & Pettipher, 2005:10).

Nel, et al. (2012:12) noem dat Bronfenbrenner vier interafhanklike dimensies in sy model geïdentifiseer het, wat die kern vir die verstaan van menslike ontwikkeling, groei en gedrag binne ʼn sosiale konteks vorm. Die dimensies sluit prosesse, persoonskenmerke, konteks en tyd in.

2.8.1.1 Interafhanklike dimensies

2.8.1.1.1 Prosesse

Prosesfaktore dui die interaksiepatrone aan wat binne ʼn sisteem plaasvind. Dit behels die bepaalde vorm van interaksie tussen individu en die omgewing waarin hy hom bevind. Prosesfaktore word as die wesenlike van die model beskou en staan as proksimale prosesse bekend (Swart & Pettipher, 2005:13). Dit impliseer dat hulle op ʼn gereelde grondslag oor ʼn uitgebreide tydperk ʼn invloed op die ontwikkeling van die individu en die omgewing uitoefen (Bronfenbrenner, 2005:6). Wanneer die een sisteem deur proksimale prosesse beïnvloed word, sal die gevolge daarvan ook na die ander sisteme oorspoel (Nel, et al., 2012:11,12). Proksimale prosesse sluit volgens Donald, Lazarus en Lolwana, (2001:51) sisteme soos die gesin, skool, die portuurgroep en die plaaslike omgewing in, waarby die individu(e) in ʼn naby een-tot-een interaksie met ander persone betrokke is. Die afknouverskynsel vind ook in ʼn proksimale verhouding tussen die portuurgroeplede plaas.

Bronfenbrenner verduidelik volgens Donald, Lazarus en Lolwana (2010:40) dat interaksies wat in een-tot-een langtermyn verhoudings plaasvind, die heel belangrikste invloed op die vorming van blywende aspekte van ontwikkeling uitoefen (byvoorbeeld tussen ’n ouer en kind, ʼn onderwyser en ʼn leerder of ʼn kind en sy maat).

ʼn Begrip van die proksimale prosesse se interaksie met die omgewing vorm ʼn belangrike grondslag vir die verstaan van die afknouverskynsel. Vanuit ʼn bio-ekologiese perspektief beskou, kan proksimale prosesse nie op eie houtjie effektiewe ontwikkeling genereer nie. Dit moet ook deur die persoons-faktore en kontekste gelei word (Swart & Pettipher, 2011:12).

2.8.1.1.2 Persoonsfaktore

Persoonsfaktore is hoofsaaklik biologies gegrond en beïnvloed die proksimale prosesse en ontwikkelingsuitkomste. ʼn Beskrywing van die besondere verhouding tussen die afknouer, teiken en aanskouer verg dat die drie tipes persoonsfaktore wat volgens Nel, et al. (2012:14) in

die bio-ekologiese model geïdentifiseer is, te wete gedragsneigings, bio-ekologiese hulpbronne en persoonlikheidseienskappe oorweeg moet word.

Gedragsneigings

Hierdie persoonsfaktore dui op die gedragsneigings wat proksimale prosesse kan mobiliseer, hulle werking kan ondersteun, inbreuk maak op, beperk of selfs voorkom, byvoorbeeld aggressie, gewelddadigheid, impulsiwiteit, afleibaarheid, onsekerheid, skaamheid, onsimpatiekheid, nuuskierigheid en hoe om op die inisiatief van die individu wat die afknouery begin (die instigeerder), te reageer (vgl. par. 3.5.1.4). By afknouery speel al die genoemde gedragsneigings ʼn belangrike rol. ʼn Voorbeeld van hierdie gedragneigings sluit onder meer die volgende in: aggressie en geweldadigheid van die afknouer, die onsekerheid en skaamheid van die teiken en die nuuskierigheid en ‘onsimpatiekheid’ van die aanskouer (vgl. paragrawe 2.5.4.1.8; 2.7.3.2.3; 5.4.3.3.2).

Bio-ekologiese hulpbronne

Bio-ekologiese hulpbronne sluit die individu se bates en tekortkominge ten opsigte van bio- ekologiese hulpbronne in en beïnvloed die individu se vermoë om doeltreffend aan die proksimale prosesse deel te neem. Die bates dui op die vermoëns, kennis, vaardighede en ervaring of belewenisse van die individu. Tekortkominge verwys na aspekte soos genetiese defekte, gebreke of breinbeserings van die individu. Hierdie faktore kan ook ʼn deurslaggewende rol by afknouery speel. Leerders wat opvallend “anders” voorkom, is dikwels die teikens van afknouery weens, onder andere, hulle steurende gedrag soos Aandaggebreks- hiperaktiwiteitsindroom, (AGHAS) en Oppositional Defiant Disorder (ODD) Kinman, (2012), begaafdheid (Webb, Gore, Amend & De Vries, 2007:147), liggaamlike gestremdhede, verstandelike gestremdhede, oorgewig en seksuele oriëntasie (homofobie) (Cowie & Jennifer, 2008:12,13; Parsons, 2005:23; Sullivan, 2011:50-52; SunWolf, 2008:63, 64).

Persoonlikheidseienskappe

Persoonlikheidseienskappe verwys na die persoonskenmerke wat positiewe of negatiewe reaksies van persone in die sosiale omgewing kan aanmoedig of ontmoedig (byvoorbeeld hiperaktiwiteit teenoor passiwiteit). Met ander woorde, hier word na opsigtelike persoonskenmerke verwys wat die persoon kwesbaar vir afknouery, soos in die geval van provokatiewe teikens, kan maak.

2.8.1.1.3 Stelsels van oortuiging

Hierdie oortuigingstelsels is konteksgebonde en spoor die persoonlike eienskappe wat van ʼn bepaalde kultuur en op ʼn bepaalde tydstip afhanklik is, aan. Volgens Swart en Pettipher (2012:14) kom daar gedeelde patrone en persoonlikheidseienskappe binne die makro-, mikro- en eksostelsels voor, byvoorbeeld dieselfde geloofstelsel en sosiale en ekonomiese hulpbronne. Skole in Suid-Afrika sluit ʼn verskeidenheid leerders van verskillende ras- en kultuurgroepe in. Hierdie verskille kan tot kulturele misverstande lei wat agterdog, wantroue en vyandigheid tot gevolg kan hê (Irvine, 1990:26) en afknouery kan veroorsaak. Pillay (2004:7) se navorsingsbevinding stem hiermee ooreen.

2.8.1.1.4 Tyd

Tyd verwys na die tydsraamwerk waarbinne veranderinge tydens die individu se volwassewording plaasvind asook na die veranderinge in die omgewings. Die tipe afknouery verander namate die kind ontwikkel (vgl. par. 2.5.6: Die kontinuum van aggressiewe gedrag). Proksimale prosesse sal oor ʼn tydperk waar die omgewings onstabiel en onvoorspelbaar is, verminder. Volgens Swart en Pettipher (2012:14) is dit van belang om groot veranderinge, wat oor ʼn tydperk in die samelewing plaasvind, te verstaan en veral die verwikkelinge wat dit op die gemeenskap gaan hê. Ofskoon proksimale prosesse die potensiaal vir verdere ontwikkeling en veranderinge het, kan dit ook leer en ontwikkeling belemmer. Afknouery kan veroorsaak dat die leerders wat daarby betrokke is se skoolprestasies daaronder ly. Dit kan ook hulle sosiale ontwikkeling strem (vgl. par. 2.8.4.1.5). Die tydsaspek is belangrik, omdat die eersgenoemde drie faktore oor ʼn tydperk verander as gevolg van die individu se rypwording en die veranderings in die omgewings (Donald et al., 2010:40).

Bronfenbrenner beskou tyd as ʼn belangrike dimensie in die sosiale konteks en voorsien ʼn omvattende beskrywing ten opsigte van mikro-tyd, meso-tyd en makro-tyd (Swart & Pettipher, 2005:15). Afknouery word nie tot ouderdom, geslag of tyd beperk nie en kom reeds by voorskoolse kinders voor (Mukunga, 2010:280) en kan tot in volwassenheid strek (Pepler & Craig, 2000:5). Hier is dit veral van belang om op die omskrywing van afknouery te let, wat daarop dui dat een van die elemente van afknouery behels dat die gedrag oor ʼn tydperk heen voorkom (vgl. par. 2.2.1).

 Mikro-tyd verwys na die kontinuïteit teenoor diskontinuïteit binne die voortgesette episodes van proksimale prosesse.

 Meso-tyd dui die periodieke aard van hierdie episodes oor breër tydsintervalle soos dae en weke aan.

 Makro-tyd spits toe op die veranderende verwagtinge en gebeure wat in die groter gemeenskap plaasvind, beide binne en oor die generasies heen soos hulle ʼn invloed uitoefen op, of beïnvloed word deur die prosesse en uitkomste van menslike ontwikkeling gedurende die lewensduur van die individu. Longitudinale studies oor afknouery het getoon dat die afknouer wat as kind ander afgeknou het selfs in die volwasse lewe ʼn afknouer gebly het.

Afknouery, gesien vanuit die bio-ekologiese sisteem-model, behels dat afknou-interaksies nie slegs vanweë die individuele persoonskenmerke van die afknouers plaasvind nie, maar ook as gevolg van die handelinge van die persone in hulle omgewing. Dit sluit die optredes van die portuurgroep, die onderwysers en ander volwassenes by ʼn skool, die fisiese karakter van die skoolterrein, gesinsfaktore, kulturele faktore en selfs die samelewingsfaktore in (Swearer & Doll, 2001:10).

Bronfenbrenner se ekologiese model word as ʼn voorbeeld van ʼn multidimensionele model van menslike ontwikkeling beskou (Swart & Pettipher, 2005:10). Hierdie model bestaan uit veelvuldige vlakke van onderlinge verbintenisse van die omgewingsisteme. Die teorie stel voor dat die ontwikkeling van die individu in ʼn dinamiese en voortdurend veranderde omgewing, wat ʼn direkte invloed op die individu het, beskou moet word. Elkeen van hierdie vlakke verteenwoordig ʼn ander aspek van die omgewing en oefen ʼn sterk invloed op die ontwikkeling van die individu uit (Keenan & Evans, 2010:35).

Verder is Bronfenbrenner se bio-ekologiese model op die volgende vier basiese sisteme gegrond:  Die mikro-sisteem of die onmiddellike sosiale omgewing, byvoorbeeld die rolle, verhoudings

en aktiwiteite van die betrokkenes;

 Die meso-sisteem of sosiale omgewing wat ʼn indirekte impak op ontwikkeling het, byvoorbeeld die ouers se werkstoestande en -omgewing, die skool en vriendekring in die skool;

 Die ekosisteem wat gebeure wat die individu beïnvloed insluit, byvoorbeeld die ouers se vriende, die aktiwiteite van die onderwysers by die skool;

 Die makro-sisteem wat na die reëlmatighede in die mikro- meso- en ekosisteme verwys, byvoorbeeld sosio-ekonomiese status wat in die kultuur as ʼn geheel voorkom (Espelage & Swearer, 2010:61,62); en

 Die kronosisteem wat na die ontwikkelende tydsraamwerk wat oor al die sisteme strek en die individu beïnvloed, verwys, byvoorbeeld die kultuur, politiek en ekonomie (Berns, 2010:18).