• No results found

Die rol wat aanskouers se ingesteldheid in hulle belewing van afknouery

HOOFSTUK 3 AANSKOUERS VAN AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE

3.6 AANSKOUERS SE BELEWING VAN AFKNOUERY

3.6.1 Die rol wat aanskouers se ingesteldheid in hulle belewing van afknouery

Aanskouers se ingesteldheid te wete, hulle affektiewe (gevoel), intellektuele (kognitiewe) en normatiewe (morele) ingesteldheid asook hulle beplande gedragskeuses teenoor afknouery, kan ʼn bepalende invloed op hulle belewing daarvan uitoefen.

Aanskouers staan as gevolg van hulle optrede, hetsy aktief of passief, midde in ʼn interaktiewe verhouding met die afknouer en die teiken, wat ʼn bepaalde klimaat vir die bevordering of die bekamping van afknouery skep. Die in-beweging-gaan en in-beweging-wees Van Niekerk (1968:15) van afknouery kan as dinamies beskou word (Espelage & Swearer, 2003:370-371) en as die afknou-dinamiek omskryf word. Die belewing van aanskouers sal deur die verskillende rolle wat hulle tydens die afknou-dinamiek speel, asook die verskillende standpunte wat hulle inneem beïnvloed word (Stueve, et al., 2006:118).

Die aanskouers se belewing van afknouery kan aan die hand van Van Niekerk (1968:13, 20,24,116) se affektief-emosionele, kognitief-intellektuele en normatief-morele ingesteldhede teenoor afknouery, asook hulle gedragskeuses tydens afknouery, beskou word.

3.6.1.1 Affektiewe belewing

Aanskouers spreek in die algemeen hulle afkeer en woede teenoor die afknouery uit. Meisies voel gewoonlik hartseer, ontsteld, kwaad en keur die afknouery af. Seuns daarenteen, is meer geneig om emosioneel neutraal oor afknouery te voel, veral wanneer hulle verbale afknouery aanskou het (Lodge & Frydenberg, 2005:332; Janson et al., 2009:324).

Alhoewel daar soms nie uiterlike emosionele letsels by aanskouers sigbaar is nie, (Barnes & Handwerk, 2005:156) kan hulle nogtans innerlike emosionele probleme beleef. Baie aanskouers het volgens Lodge en Frydenberg, (2005:332) aangedui dat hulle ʼn mengelmoes van emosies, soos byvoorbeeld skuldgevoelens, woede, verwarring en vrees dat hulle moontlik die volgende teikens kan word, tydens afknouery beleef het. Hierdie emosies word dikwels deur aanskouers beleef wat passief en nie-ingrypend tydens afknousituasies optree (Lodge & Frydenberg, 2005:332). In teenstelling met die negatiewe affektiewe belewing van passief nie- ingrypende aanskouers, rapporteer aanskouers wat tydens afknousituasies ingegryp het positiewe emosies en dat hulle goed, selfversekerd en trots op hulself voel (Lodge & Frydenberg, 2005:332).

Gedurende en na ʼn afknousituasie kan aanskouers skuldig oor hulle passiewe en nie- ingrypende gedrag voel omdat hulle te bang is of was, om tussenbeide te tree. Vrees is gewoonlik die hoofrede waarom aanskouers huiwerig is om in te gryp, omdat hulle vir die afknouer se reaksie bang is (Handwerk, 2005:11,12). Hulle is bang dat hulle die volgende

teiken gaan word en dat hulle ook gaan seerkry, omdat die afknouer gewoonlik groter as hulle is en vrees by hulle inboesem (Coloroso, 2004:67; Coyne, 2011:11; Gross, 2002:20). Gross (2002:20) is van mening dat aanskouers se passiwiteit die gevolg van ontkenning kan wees. Ontkenning is die psigologiese verdedigingsmeganisme wat aanskouers gebruik om angs te hanteer wat deur die afknousituasie self veroorsaak word en ook om vergeldingsangs wat met ingryping tydens die situasie en/of die aanmelding daarvan verband hou, te hanteer.

Aanskouers kan ook verleentheid vrees, daarom is hulle huiwerig om iets te sê, of te doen wat hulle in ʼn verleentheidsituasie kan plaas (Coloroso, 2004:67). In plaas daarvan om enigiets te sê of te doen, bly hulle vervolgens passief. Sommige aanskouers vrees verwerping. Hulle is bekommerd dat hulle hul status in die portuurgroep gaan verloor, hulle gespot of deur die groep uitgesluit sal word indien hulle die teiken sou help (Gross, 2002:19). Gevolglik beleef die aanskouers hartseer, asook skaamte- en skuldgevoelens (Janson et al., 2009:324). Leerders wat afknouery aanskou, bevind hulself gevolglik in ʼn netelige sosiale situasie. Enersyds besef hulle dat afknouery verkeerd is en ervaar hulle die behoefte om iets te doen om dit te keer, andersyds ervaar hulle die behoefte om hulle sosiale status en sekuriteit in die portuurgroep te behou (Salmivalli et al., 2010:444).

Na afloop van ʼn afknouvoorval beleef aanskouers dikwels intense skuldgevoelens. Nie alleen voel hulle sleg oor wat met die teiken gebeur het nie, maar hulle voel skuldig omdat hulle nie ingegryp het om die teiken te help nie (Kohut, 2007:57). Sommige voel ook skuldig omdat hulle nie geweet het hoe om op te tree nie, of te bang was om tussenbeide te tree (Coyne, 2011:11; Janson et al., 2009:324).

Die kombinasie van vrees- en skuldgevoelens kan tot die belewing van nadering- vermydingskonflik aanleiding gee. Hierdie tipe konflik tree in wanneer daar terselfdertyd ʼn begeerte en ʼn huiwering by aanskouers ontstaan om die teiken te help of om die situasie te vermy.

Aanskouers kan ook angs as gevolg van die afknouery beleef (Entenman, Muren & Hendricks, 2005:355). Onbeheerste afknouery beïnvloed die hele skoolklimaat en laat aanskouers onveilig voel. Aanskouers ervaar dikwels soortgelyke angs-simptome (somaties en psigies) as die teikens (Ludwig, 2007:32). Dikwels beïnvloed hierdie angsbelewing aanskouers se konsentrasievermoëns, akademiese prestasie en skoolbywoning (Barnes & Handwerk, 2005:156; Stassen Berger, 2007:107). Gordon (2014) beweer dat aanskouers dikwels klieks vorm, of hulle aan groepsdruk onderwerp in ʼn poging om die angstigheid beter te kan hanteer of om te verhoed dat hulle self afgeknou word.

Die voortdurende belewing van angs en die traumatiseringseffek wat met die aanskouing van afknouery gepaard gaan, kan ook depressie by aanskouers induseer (Mayer, 2008:115). In sommige gevalle kan dit selfs aanleiding tot selfmoordneigings en -gedagtes gee (Mazza & Reynolds, 1999:210-211).

In teenstelling met die voorafgaande emosionele belewinge wat met die aanskouing van afknouery geassosieer kan word, word dit ook gerapporteer dat sommige aanskouers (veral aanhitsers of uitlokkers) afknouery genotvol en opwindend kan beleef (Gross, 2002:20). Entenman et al. (2006:355) beklemtoon dat aanskouers, in teenstelling met die belewing van vrees, angs- en skuldgevoelens ook ʼn ander ervaring kan beleef. Wanneer hulle sien dat afknouery geen nadelige gevolge vir die afknouer inhou nie, kan dit hulle motiveer om self aggressiewe gedrag in die toekoms toe te pas. Die drang om te help is soms sterker en vervolgens tree die aanskouers beskermend op. Hulle beleef dan hoë vlakke van angs, spanning (Coloroso, 2004:63; Gordon, 2014) en hulpeloosheid (Janson, Carney, Hazler & Oh. 2009:324).

3.6.1.2 Kognitiewe belewing

Hierdie belewing sluit die waarneming deur die sintuie, die toepassing van kennis en vaardighede oor afknouery, asook besluite oor die hantering daarvan in. Baie aanskouers van afknouery voel onseker oor hoe om die teiken te help. Hulle weet dat die afknouery verkeerd is, maar weens ʼn gebrek aan kennis en ervaring weet hulle nie hoe om tydens die situasie in te gryp nie (Handwerk, 2005:11,12). Soms lei die vrees vir die gevolge van ingryping tot besluiteloosheid wat aanskouers laat voel dat hulle kognitief nie in beheer van hulself en die situasie is nie.

Soos voorheen vermeld, (vgl. par. 3.5.3.1.1) kan aanskouers se kognitiewe belewing van afknouery deur die aanskouer-effek en elemente daarvan (pluralistiese onkunde en diffusie van verantwoordelikheid) beïnvloed word (Cardwell, 2004:354; Latané & en Darley 1968:377-378; Thornberg, 2010:585:). Soms gebeur dit dat leerders die situasie nie as ʼn afknousituasie interpreteer nie en in ander gevalle kan dit gebeur dat aanskouers die situasie as onbenullig en nie-ernstig beleef. Die kognitiewe verklaringsmodel van Latané en Darley (1970) (vgl. par. 3.5.3.4.1) en Figuur 3-3 (Sullivan, 2011:39,41) identifiseer en beskryf ook die verskillende kognitiewe vlakke van aanskouers se belewing van die afknousituasie, naamlik: sensoriese bewuswording (sien, hoor) van die situasie, interpretasie van die sensoriese inligting (ernstig of nie-ernstig), aanvaarding van verantwoordelikheid (verantwoordelik om in te gryp of nie- verantwoordelik om in te gryp nie), toepassing van kennis en vaardighede (weet wat om te doen of weet nie wat om te doen nie) en besluitneming (gaan ingryp of gaan nie ingryp nie).

3.6.1.3 Normatiewe belewing

Die individu se houding teenoor gedrag word as die persoon se algehele beoordeling ten opsigte van die uitvoering van die bepaalde gedrag beskryf (Ajzen, 2002:5). ʼn Ander faktor wat van belang by die voorspelling en ʼn voorloper tot die beplande gedrag is, is die belewing van portuurgroepsdruk (Fishbein & Ajzen, 1975). Almeida, Correia en Marinho (2010:26) noem dat hierdie subjektiewe norm die resultate van al die normatiewe oortuiginge is, te wete die verwagtinge wat deur die portuurgroep, hulle ouers en onderwysers ten opsigte van wat die aanskouer behoort te doen of nie behoort te doen nie gekoester word en die meet aan die motivering om aan hierdie verwagtinge te voldoen (vgl. par. 3.5.3.4.4). Aangesien die portuurgroep tydens adolessensie die belangrikste invloed op die kind uitoefen (Harris, 1995), kan dit verwag word dat die normatiewe oortuigings van die groep ten opsigte van die afknourolle in afknouery die houdings van en die belewing deur die aanskouers oor afknouery sal beïnvloed (vgl. paragrawe 3.5.3.2; 3.5.3.4.3; 3.7.4).

Normatiewe oortuiging is die aanskouer se self-regulerende oortuigings ten opsigte van die aanvaarbaarheid of die onaanvaarbaarheid (Heusmann, Guerra, 1997:417) van afknougedrag. Leerders wat die normatiewe oortuigings oor aggressie goedkeur, beleef afknouery as aanvaarbaar. Die normatiewe omgewing waarin die aanskouers optree is net so belangrik soos die verhoudings tussen die verskillende aanskouers (Stueve et al., 2006:121).

Coloroso (2004:70) beweer dat die redes en verskonings wat die aanskouers aanvoer waarom hulle versuim om tydens afknouvoorvalle tussenbeide te tree, tot die verbrokkeling van norme, soos beleefdheid by portuurgroepinteraksies, bydra. Wanneer dit gebeur, word beleefdheid deur ʼn valse gevoel vir geregtigheid vervang, ʼn onverdraagsaamheid jeens die “andersheid ” van ʼn individu en die reg om sommige leerders by die portuurgroep uit te sluit, ontstaan. Hierdie houding word tot in volwassenheid voortgesit en veroorsaak dat die aanskouer nie die vermoë ontwikkel om probleme selfstandig op te los, om te kan kommunikeer, te kan onderhandel en om tot ʼn vergelyk te kom nie.

3.6.2 Die belewing van afknouery aan die hand van Sullivan, K. (2011) se afwaartse