• No results found

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.2 BEGRIPSVERKLARING

2.2.1 Definisies van afknouery

Daar bestaan geen universele of eenvormige definisies of omskrywings van afknouery nie (Cowie & Jennifer, 2008:1). Navorsers ondervind probleme om ’n duidelike definisie vir afknougedrag, wat al die elemente daarvan in een beskrywende definisie saamvat, te formuleer (Parsons, 2005:10). Shariff (2009:40) voer aan dat wanneer ’n sekere tipe gedrag omskryf word, dit belangrik is om in gedagte te hou dat die spesifieke gedrag in ’n bepaalde situasie en op ʼn bepaalde tydstip plaasvind, met ’n verskeidenheid invloede wat ’n rol op die individu se optrede speel. Furniss (2000:10) stel dat dit moeilik is om die term “bullying” (afknouery) te definieer en dat daar geen regsdefinisie in enige wetgewing of regsaak daarvoor te vinde is nie. Wentzel (2008:35) daarenteen, haal die volgende regsdefinisie van afknouery van die staat Connecticut in die VSA aan (Ferrell-Smith, 2004:10): “Bullying: overt acts by a student or group of students directed against another student with the intent to ridicule, humiliate or intimidate the other student while on school grounds or at a school sponsored activity, repeated against the same student over time.”

Daar word wel nuttige omskrywings van afknouery vanuit die opvoedkundige veld, waarin die meerderheid van navorsing uitgevoer word, aangetref. Dan Olweus, wat as die vader van die teen-afknou inisiatief beskou word, het die eerste formele definisie van afknougedrag in die 1970’s geformuleer en dit lui soos volg: “A person is being bullied or victimized when he or she is exposed, repeatedly and over time, to negative actions on the part of one or more other students.” (Olweus, 2006:9).

In sy definisie verwys Olweus (1994:9) na verbale of fisieke afknougedrag, die gebruik van onwelvoeglike gebare, gesigtrekkery en die doelbewuste sosiale uitsluiting van ʼn persoon. Hy beklemtoon die aggressiewe komponent van afknougedrag en dui aan dat dit gewoonlik herhaaldelik oor ’n tydperk plaasvind. Verder sluit hy ook die element van ʼn volgehoue mag- of kragwanbalans tussen die teiken en afknouer in.

Bogenoemde definisie het die grondslag vir navorsers gelê om afknougedrag vanuit hulle eie beskouings en denkraamwerke te definieer en enkele definisies word vervolgens aangehaal: Sullivan et al. (2005:3,5) omskryf afknougedrag soos volg: “Bullying is a negative and often aggressive or manipulative act or series of acts by one or more people against another person or people usually over a period of time. It is abusive and based on an imbalance of power.” Volgens Sullivan et al. (2005:5) sluit afknougedrag die volgende elemente in:

 Die afknouer het meer mag as die persoon wat afgeknou word.

 Die afknouery word dikwels vooruit beplan, en word sistematies en soms in die geheim uitgevoer.

 Soms vind afknouery plaas met die doel om die een of ander vorm van voordeel daaruit te trek, maar as dit eers begin het, is die afknouer geneig om daarmee aan te hou.

 Die afknouery vind gewoonlik oor ’n tydperk plaas, alhoewel dit kan gebeur dat die afknouer ’n handeling slegs een keer kan uitvoer.

 Die persoon wat afgeknou word kan fisiek, emosioneel of psigies benadeel word.  Alle afknouhandelinge bevat ’n emosionele of psigologiese dimensie.

Sullivan (2011:10) het die definisie van afknougedrag later soos volg verfyn: “Bullying is a conscious, wilful and repetitive act of aggression and/or manipulation and/or exclusion by one or more people against another person or people.”

Rigby het sy aanvanklike definisie van afknouery soos volg geformuleer: “Bullying involves a desire to hurt + hurtful action + a power imbalance + (typically) repetition + an unjust use of power + evident enjoyment by the aggressor and a sense of being oppressed on the part of the victim.” (Rigby, 2003:51). Rigby redeneer dat hierdie definisie van afknouery meer duidelikheid oor die verskynsel bied en brei die elemente wat in sy definisie vervat is soos volg uit:

 “… bullying involves a desire to hurt” – die mens is nie volmaak nie en pogings wat oor duisende jare aangewend is om die mens se begeerte om ʼn ander persoon seer te maak of uit die weg te ruim, het misluk. Die definisie waarsku teen die oorvereenvoudiging van die beskouing van wat afknouery werklik is.

 “… a power imbalance” – die definisie help om op ’n sub-kategorie van aggressiewe gedrag wat deur byna almal verafsku word te fokus, naamlik die onregverdige gebruik van mag deur sterker persone of groepe. Dit moet verder ook in gedagte gehou word, dat wat as “geregverdig” beskou word, voortdurend verander. Daar moet met omsigtigheid te werk gegaan word in die beoordeling van waar daar verskille in mag van persone voorkom. Die wanbalans in mag kan soms nouliks merkbaar tussen die afknouer en die teiken wees.  “… evident enjoyment by the aggressor and a sense of being oppressed on the part of the

victim.” Daar word voorgestel dat daar aan die emosionele reaksies van die afknouer aandag gegee behoort te word en in gedagte gehou moet word dat hierdie emosionele reaksies veranderlik is. Walker, Ramsey en Gresham (2004:238) noem dat Walker, Colvin en Ramsey (1995) ’n ander siening van afknouery het en die gedrag as “… a form of peer related aggressive behavior that involves coercion, intimidation, and threats to another’s personal safety or well-being.” definieer. Die definisie dui op ’n portuurgroepverwante aggressiewe gedrag waartydens daar van dreigemente om vriendskapsbande te verbreek of geheime uit te lap, as vorms van manipulasie om mag of beheer oor verhoudings te behou, gebruik gemaak word.

Ofskoon definisies van navorsers oor afknougedrag semanties verskil, is daar tog ooreenstemming ten opsigte van die volgende drie kritieke elemente wat algemeen in die definisies voorkom:

 Daar is ’n duidelike magswanbalans tussen die persoon wat afknou en die persoon wat afgeknou word; faktore soos fisieke grootte, ouderdom, volwassenheid, sosiale posisie, sosiale veerkragtigheid en ondersteuning deur die groep is hier van belang.

 Om van voorneme te wees om doelbewus beserings te veroorsaak of om die persoon skade te berokken.

 Die herhaaldelike en langdurige intimidasie en aggressie wat op ’n bepaalde individu gemik is (Snell, Mackenzie & Frey, 2002). Volgens Beane (2009:179) stem al die navorsers egter nie met hierdie stelling saam nie en dit word aangevoer dat een enkele afknou-insident net soveel skade as herhaaldelike afknouery kan aanrig.

 ’n Latere byvoeging deur Olweus (2010:11) volg. Die individu wat afgeknou word, vind dit moeilik om homself te verdedig en kan hulpeloos as gevolg van die optrede wees.

Die kombinasie van die drie vernaamste kenmerke van afknouery, te wete: die benadeling van die persoon; die herhaling van die gedrag en die ongelykheid van mag onderskei afknouery van ander gedragsvorme soos spelery, tergery of ’n bakleiery. Dié besondere kombinasie van die bogenoemde drie kenmerke is kommerwekkend omdat so kombinasie ʼn meer problematiese en ʼn wyer reeks van scenario’s as net ’n enkele gebeure skep (Hazler, Miller, Carney & Green,

2001:134). Volgens Parsons (2005:10) blyk die belangrikste komponent van al die definisies die stelselmatige misbruik van mag te wees.

Smith (2004:98-103) redeneer dat die bestaande definisies van afknouery verwarring kan skep en bevraagteken die volgende begrippe:

 Kan die magswanbalans van die subjektiewe persepsie van die teiken en eweneens van meer objektiewe kriteria soos krag, of die aantal afknouers afgelei word?

 Beteken om van voorneme te wees eenvoudig net om ’n aggressiewe handeling uit te voer (sonder om noodwendig die gevolge van die daad te besef), of is dit ’n doelbewuste voorneme om die aanskouer leed aan te doen? Word die aggressie of benadeling van die teiken deur ’n aanskouer beoordeel, of word daar op die waarneming van die teiken staatgemaak?

 Beteken herhaling dat die afknouery meer as een keer plaasvind of oor ’n onbepaalde tydperk herhalend voorkom?

Dixon (2011:2) sluit by Smith (2004:98-103) aan en stel dit dat elkeen van die elemente van die definisies debatteerbaar is en vra vervolgens die volgende vrae:

 Watter soort negatiewe gedrag is ter sprake?

 Hoe dikwels moet die afknougedrag herhaal word voordat dit as een van die kenmerke van afknougedrag beskou kan word?

 Hoe word ’n doelbewuste voorneme omskryf en beoordeel?

Dixon (2011:2) voer aan dat die wyse waarop elkeen van bogenoemde elemente funksioneer, ’n groot invloed uitoefen op die aanduiding of die leerder ’n afknouer of ’n teiken, of geeneen van genoemde tipes is nie. Dixon (2011:16) wys daarop dat daar altyd ’n behoefte vir bykomende definisies van afknouery sal wees ten einde vas te stel wat al die vorms van afknouery gemeen het.

Volgens Smith (2004:98-103) is dit belangrik dat bogenoemde vrae deeglike oorweging moet geniet en nie verdere navorsing in die wiele sal ry nie. Om waardevolle navorsing oor afknouery by skole te kan doen, is dit van belang dat navorsers op die hoogte moet wees van die huidige definisies van afknougedrag asook die omvang daarvan.

2.2.2 Eie omskrywing van die begrip afknouery

Na aanleiding van die analise van bogenoemde definisies kom die navorser met die volgende definisie van afknouery na vore: Afknouery is ’n doelbewuste, voorbedagte magshandeling wat daarop gerig is om ’n bepaalde persoon herhaaldelik, verbaal, fisiek en emosioneel af te takel. Hierdie afknouery kan openlik en direk teen die teiken gemik wees, maar kan dikwels ook

indirek en subtiel plaasvind. Hetsy die afknouery direk of indirek, fisiek of emosioneel van aard plaasvind, verteenwoordig dit ’n voortdurende en herhalende patroon van teistering en/of mishandeling.