• No results found

HOOFSTUK 3 AANSKOUERS VAN AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE

3.7 DIE BETROKKENHEID VAN AANSKOUERS BY

Die ekologiese beskouing van afknougedrag (vgl. par. 2.8.1.1) hou belangrike implikasies vir voorkomings- en intervensieprogramme in. Craig et al. (2000:32) se navorsing bevestig hierdie stelling. Leerders se gedrag word tot ʼn groot mate deur hulle sosiale omgewings beïnvloed en daarom is dit nodig dat veral die skoolomgewings waarin hulle funksioneer, in ag geneem moet word wanneer die ontwikkeling van afknou-intervensieprogramme beplan word.

Die meeste van die afknouvoorvalle gebeur op die speelgrond en in die klaskamer, omdat dit die plekke is waar die meeste interaksie tussen leerders plaasvind (Fekkes, Pijpers & Verloove- Vanhorick, 2005:87,88; Craig et al., 2000:30). Soos voorheen vermeld, word hierdie voorvalle gewoonlik deur ’n redelike aantal leerders aanskou (Atlas & Pepler, 1998:92; Craig et al., 2000:31).

Die roete van afknouery kan deur intervensie by enige of by al drie rolspelers in die triadiese verhouding gebreek word. Deur die gedrag van die afknouer, die teiken en die aanskouer te

verander, kan die afknou-roete betekenisvol gewysig word (Anderson, 2008:24). Anderson (2008:24, 25) beklemtoon dat alhoewel al drie rolspelers in die triadiese interaksie ’n invloed op afknouery kan uitoefen, die aanskouer dikwels oor die meeste mag beskik om positiewe veranderinge in afknougedrag te weeg te bring (Coloroso, 2004:75).

Aanskouers kan volgens Orpinas en Horne (2006:23) in twee groepe ingedeel word, naamlik dié wat deel van die afknouprobleem is en diegene wat deel van die oplossing kan word. Aanskouers wat deel van die probleem is, is die leerders wat die afknouery aanhits, bevorder, oorsien, bang is om iets te doen en skaam of skuldig voel omdat hulle nie die teiken help nie, of net stilswyend die afknouery aanskou (Orpinas & Horne, 2006:17; Yeager, 2012). Yeager (2012) beskou hierdie aanskouers as ideale deelnemers aan afknou-voorkomings- en intervensieprogramme. Hulle gedrag word dikwels deur dieselfde motiewe as dié van afknouers gerig en daarom sal hulle ook voordeel uit intervensieprogramme trek wat op die afknouer gerig is.

Aanskouers wat probeer om die afknouprobleem op te los of om dit te ontlont kan positiewe bydraes in afknou-voorkomings- en intervensieprogramme lewer. Hulle is dikwels die persone wat volwassenes oor die afknouery inlig of hulle hulp vra om die probleem stop te sit. Gewoonlik probeer hulle ook om self iets tydens afknousituasies te doen, soos om die spanning te verlig, of leerders wat gereeld afgeknou word, uit te nooi om by hulle groep aan te sluit (Orpinas & Horne, 2006:23). Soos voorheen vermeld wil baie aanskouers betrokke raak, maar voel dat hulle nie kan of nie mag nie. Aanskouers wat bang is om betrokke te raak, worstel dikwels met soortgelyke probleme as die teiken te wete, angs, nood aan selfbeskerming en behoefte aan aanvaarding. Hierdie tipe aanskouers sal by die afknou-voorkomingsprogramme wat daarop gerig is om die teiken te help, baat vind (Yeager, 2012).

Yeager (2012) beklemtoon dat dit belangrik is om aanskouers te help om te begryp dat hulle dikwels dieselfde gevoelens as die afknouer en die teiken deel. Aanskouers beleef ook soos sommige afknouers, dikwels skuldgevoelens en berou oor die afknouery. Soos voorheen vermeld, voel party aanskouers skuldig omdat hulle niks gedoen het om die teiken te help nie. Orpinas en Horn (2006:23) beklemtoon dat hierdie aanskouers later die risiko loop om self sekondêre teikens van afknouery word. Sommige aanskouers beleef volgens Yeager (2012) dieselfde vrees, woede, onreg en magteloosheid wat die teiken ervaar. Alhoewel aanskouers hierdie gevoelens in ʼn mindere mate as die individue wat direk daarby betrokke is beleef, kan aanskouers oor die langtermyn baie meer afknouvoorvalle as die afknouer, of teiken beleef. Sodoende stapel die “aanskouing-effek ” op. Indien aanskouers hierdie werklikheid verstaan, sal hulle ook meer gemotiveerd wees om tussenbeide te tree.

Nieteenstaande ʼn groot aantal afknou-voorkomingsprogramme wat onder andere ook op aanskouers se gedrag en hulle belewing van afknouery fokus, (Porter, Plog, Jens, Garrity & Sager, 2010; Salmivalli et al., 2010:445) kon daar volgens Salmivalli, Voeten en Poskiparta (2011:66) nog nie empiriese bevestiging verkry word dat die gedrag van aanskouers werklik ʼn eskalerende of verminderende invloed op die afknouery het nie.

Aan die ander kant beklemtoon Jeffrey (2004: 7) dat die mobilisering van aanskouers se gedrag ’n belangrike faktor in die voorkoming en bekamping van afknouery is. In die ontwikkeling van afknou-intervensieprogramme is dit nodig om die volgende persoonskenmerke van aanskouers in gedagte te hou ten einde hulle pro-teiken gedrag te verhoog.

3.7.1 Empatie

Empatie is ʼn karaktereienskap wat dikwels met pro-sosiale, hulpvaardige gedrag vereenselwig word (Salmivalli et al., 2010:443) en dui op die aanskouer se vermoë om dieselfde emosionele reaksies te beleef as wat deur die teiken vertoon word. Navorsing deur Caravita, DiBlasio en Salmivalli (2009:156,157) dui daarop dat empatie met die ondersteuning en beskerming van teikens verband hou. Daar moet egter in gedagte gehou word dat empatie alleen, nie noodwendig daartoe sal lei dat aanskouers hulle aan die kant van die teiken sal skaar nie. Meisies tree gewoonlik meer in-voelend, of empaties, teenoor teikens as seuns op (Salmivalli et al., 2010:443).

3.7.2 Self-effektiwiteit

Self-effektiwiteit dui op die oortuiging dat die persoon in staat is om opdragte uit te voer en om die verlangde resultate te bereik. Self-effektiwiteit word positief met hulpverlening aan en die beskerming van teikens geassosieer, terwyl nie-self-effektiwiteit met die passief nie-ingrypende rol verband hou wanneer die aanskouer nie by die afknouery betrokke wil raak nie en nie kant wil kies nie (Rigby & Johnson 2006:437).

3.7.3 Sosiale status

ʼn Ander faktor wat met die hupverlenende beskermingsrol van die aanskouer verband hou, is sosiale status (Salmivalli et al., 1996:12). Die beskerming van en hulpverlening aan die teiken hou veral gedurende die middel-kinderjare met die sosiale status en gewildheid van die aanskouer verband (Caravita et al., 2009:156). Dit impliseer dat ʼn hoë sosiale status in die portuurgroep die aanskouer in staat stel om die kant van die swakker leerder (in dié geval, die teiken) te kies. Volgens (Salmivalli et al., 2010:443) sal kinders wat hoë sosiale status geniet, meer geredelik beskermingsgedrag as dié met laer sosiale status openbaar, omdat die leerders met hoë sosiale status ʼn veilige posisie in die portuurgroep beklee en ʼn laer risiko loop om self

teikens van afknouery te word. Salmivalli, Huttunen en Lagerspetz (1997:308) noem voorts dat aanskouers wat hulp aan die teikens van afknouery verleen, normaalweg ʼn groot vriendekring het wat ook die teiken ondersteun.

3.7.4 Morele oortuigings

Rigby en Johnson (2006:433) dui aan dat aanskouers wat teikens help glo dat dit die regte ding is om te doen en dat ander persone soos hulle ouers, onderwysers en vriende van hulle verwag om hulpverlenend op te tree. Die norme wat in die portuurgroep gehandhaaf word, beïnvloed ook die wyse waarop kinders op afknougedrag reageer. Indien die portuurgroep afknouery in die algemeen afkeur, sal afknouery minder voorkom en sal lede van die portuurgroep ook meer geneig wees om ingrypend op te tree wanneer daar wel insidente van afknouery voorkom. Die skoolbeleid en gedragskode oor afknouery en die konsekwente toepassing daarvan, sal ook leerders se morele ingesteldheid jeens afknouery bepaal. Indien leerders hulself in ʼn skoolomgewing bevind waar afknouery teen die etos van die skool indruis, waar hulle verstaan waarom afknouery onaanvaarbaar is, hulself moreel daartoe verbind om nie ander leerders af te knou nie en om enige vorm van afknouery aan te meld, of aktief in te gryp wanneer afknouvoorvalle plaasvind, sal die insidensie van afknouery dramaties afneem.

Met inagneming van bogenoemde persoonskenmerke kan aanskouers ʼn betekenisvolle rol by afknou-voorkomings- en intervensieprogramme speel.