• No results found

Die moontlike gevolge wat afknouery vir die mikro-sisteem inhou

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.8 ʼn TEORETIESE PERSPEKTIEF OP AFKNOUERY

2.8.3 Moontlike oorsake van afknouery soos vanuit Bronfenbrenner se bio-

2.8.4.2 Die moontlike gevolge wat afknouery vir die mikro-sisteem inhou

Afknouery maak inbreuk op die kind se reg tot menswaardigheid, privaatheid, vryheid en veiligheid (De Wet, 2005b:82) en kan verreikende gevolge vir al die betrokkenes in die mikro- sisteem inhou.

2.8.4.2.1 Gevolge vir die kind

Dit is voorheen vermeld dat afknouery ernstige gevolge vir die kind se emosionele, sosiale en morele ontwikkeling inhou. Afknouery kan tot die volgende emosionele probleme vir die individu lei: depressie, angs, vrees, gespannendheid, verlies van selfvertroue, selfmoordneigings en selfmoord en gevoelens wat met Post-traumatiese Stresversteuring in verband gebring kan word soos verwardheid, woede, angstigheid, gevoelens van kwesbaarheid en hartseer (De Wet, 2005a:1; Kim & Leventhal, 2008:150; Nickerson & Slater, 2009:227; Rigby, 2006:326).

Sosiale gevolge van afknouery is onder meer sosiale isolering en onttrekking, eensaamheid, geen of min vriende nie, onvermoë om met ander persone te meng, skaamheid en swak selfgelding (Colorosa, 2004:49; De Wet, 2005a:1; Olweus, 2006:32,55,56).

Afknouery kan die kind se morele ontwikkeling ernstig benadeel. Wanneer afknouery in die huis as norm, eerder as afkeurenswaardige gedrag beskou word, kan dit tot gevolg hê dat die kind leer om sodanige gedrag as positief te beskou (Ward, 2007:19). Die kind kan dan die volgende gedragswyses openbaar: oneerbiedigheid, onbeskaafdheid, min of geen verantwoordelikheid of selfdissipline nie, ʼn gebrek aan karakter en ʼn swak waardestelsel ontwikkel (Lessing & De Witt, 2011:411). Afknouery kan ook tot swak selfbeheersing of inhibisies teenoor aggressiewe neigings lei (Olweus, 2006:44).

Die afknouers kan ook die volgende langtermyngevolge van hulle dade ondervind: hulle kan anti-sosiale volwassenes word; hulle eie kinders, huweliks- of lewensmaats mishandel, en by kriminele aktiwiteite betrokke raak (Olweus, 2006: 35-36; Smokowski & Kopasz, 2005:105); Voors, 2008:16,17).

2.8.4.2.2 Gevolge vir die gesin

Die gesinslede van ʼn leerder wat afgeknou word, hetsy deur tradisionele afknouery of kubertreitering, word ook nadelig geraak. Afknouery tussen sibbe (vgl. par. 2.8.4.1.4) en by die skool veroorsaak spanning in die gesin (Ybarra & Mitchel, 2010:1314). Die kind begin vreemde gedrag openbaar (Macintyre, 2009: 55-56) en die bekommerde ouers besef dat alles nie pluis is nie, maar kan nie optree nie omdat die kind die afknouery vir hulle ouers wegsteek. Die kind weerhou die inligting van hulle ouers omdat hulle bang is dat hulle ouers die saak by die skool sal aanmeld en hulle vervolgens gebrandmerk sal word vir erger afknouery en deur die portuurgroep gemarginaliseer sal word. In die geval van kubertreitering is die kind veral bang dat hulle toegang tot die Internet en hulle selfone beperk sal word (Willard, 2005:5). Soms lei kubertreitering tot die kind se selfmoord (Hinduja & Patchin, (2010c) wat ’n baie traumatiese ervaring vir die gesin is.

Enige verandering in die gesinstruktuur gaan met ontwrigting en spanning gepaard. Voorbeelde hiervan is die verlies van ʼn ouer, voortdurende konflik in die gesin, skielike ekonomiese verandering, egskeiding en aanhoudende gevoelens van verraad en teistering wat ʼn ontwrigting in die gesinsroetine laat ontstaan en wat angs kan veroorsaak. Gevolglik is kinders vanuit hierdie gesinne geneig om hulself vir die gebeure te blameer en kan jare lank depressie en woede ervaar. Kinders is geneig om die ervarings wat hulle tuis beleef te reflekteer. In huise waar daar geen dissipline en grense is nie, word die balans byvoorbeeld versteur en die kind leer aggressie aan en beleef ’n gevoel van magteloosheid (Field.2007:34). Hierdie leerders kan vyandig en aggressief by die skool optree en deur die portuurgroep by aktiwiteite uitgesluit word. Dit kan weer ʼn negatiewe invloed op hulle skoolprestasies en vriendskappe tot gevolg hê (Macintyre, 2009:77).

2.8.4.2.3 Gevolge vir die portuurgroep

Al die leerders in die portuurgroep word deur afknouery geraak en loop volgens Kim en Leventhal (2008:133) toenemend die gevaar om ernstige geestelike en/of fisieke gevolge van afknouery te beleef. Die kort- en langtermyngevolge ten opsigte van die betrokkenes by tradisionele afknouery (vgl. par. 2.5.4.2.12) asook kubertreitering is reeds beskryf (vgl. par. 2.5.4.12). Die gevolge van afknouery wat deur die portuurgroep ondervind word kan lewenslank duur en baie sosiale bevoegdhede, wat noodsaaklik vir gesonde sosiale betrokkenheid is, belemmer (Craig en Pepler, 2007:86).

2.8.4.2.4 Die skool

Afknouery in skole skep ’n klimaat van vrees sodat leerders skole as onveilig begin beskou (Colorosa, 2004:70; Prinsloo en Neser, 2007a:327; Ward, 2006:50). In skole waar leerders gereeld afgeknou word, word ʼn negatiewe leeromgewing geskep. Gevolglik begin die teiken(s) skoolangs ervaar (Mayer, 2008:122,115), stokkies te draai en om uiteindelik hulle skoolloopbane op te skort (Sullivan, 2011:90,91; Ward, 2006:21).

Afknouery is ʼn groepsgedrag. Dit vind gewoonlik in die teenwoordigheid van ander plaas waar elkeen ʼn belangrike rol in die afknouvoorvalle speel. Gevolglik kan afknouery meer in sekere klasse as ander voorkom. Alles hang van die betrokke klas se norme af (Salmivalli et al., 2010:443). Leerders wat klasonderrig onderbreek knou die onderwysers af met die doel om hulle selfvertroue af te takel (De Wet, 2006a:63). Pervin en Turner (1998:7) het bevind dat onderwysers wat deur leerders afgeknou word hulle verwagtinge (betreffende gedrag, samewerking en akademiese prestasies) van die afknouers verlaag, wat ook ʼn invloed op die ander leerders in die klas kan hê. Dit kan ook daartoe bydra dat hulle lesaanbiedinge oninteressant word. Leerders in multi-kulturele skole in Suid-Afrika se negatiewe ervarings sluit volgens Pillay (2004:6-8) die volgende in: woede, hartseer, eensaamheid, verleentheid, misverstande omdat hulle nie ander leerders se kulture verstaan nie, jaloesie omdat hulle nie dieselfde voorregte as ander het nie en uitsluiting as gevolg van rassisme.

In skole waar ʼn afknoukultuur die norm is, word die moreel van die leerders afgetakel en hulle waagmoed ontmoedig. Indien dit vererger, taan die skool se werksverrigting (Parsons, 20005:60). Opvoedkundige gevolge sluit volgens De Wet (2005a:1) die volgende in: teikens is dikwels afwesig, onttrek hulle van die skool se sosiale aktiwiteite, is bang om vrae in die klas te vra, toon ʼn gebrek aan konsentrasie en is akademiese onderpresteerders. Leerders verdra afknouery dikwels omdat hulle magteloos voel om op te tree (MacDonald, 2005:83,88) en daarom kom die afknouers daarmee weg.

2.8.5 Die meso-sisteem