• No results found

Aanskouerrolle volgens M Paull, M Omari en P Standen (2012)

HOOFSTUK 3 AANSKOUERS VAN AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE

3.5 AANSKOUERROLLE EN GEDRAG

3.5.1 Aanskouerrolle

3.5.1.4 Aanskouerrolle volgens M Paull, M Omari en P Standen (2012)

Paull et al. (2012:356-359) beskryf die gedrag van aanskouers op ʼn kontinuum wat vanaf aktiewe betrokkenheid (byvoorbeeld om die afknouer se optrede aan te moedig of te beïnvloed) tot passiewe betrokkenheid strek (byvoorbeeld waar die aanskouer onttrek of as ʼn mede-teiken optree). Die aanskouer word enersyds met die afknouer en andersyds met die teiken geïdentifiseer. Tussen dié twee rolle kom wisselende grade van vereenselwiging met beide rolle voor. Eweneens kan hierdie rolle passief of aktief vertolk word, omdat die aanskouers nie altyd losstaande partye is nie. Genoemde navorsers het in die identifisering en samestelling van hulle aanskouersrolle van vroeëre tipologieë in die literatuur oor skoolafknouery (Salmivalli, 1999; Twemlow, Fonagy & Sacco, 2004) gebruik gemaak en die volgende aanskouersrolle geïdentifiseer:

 Die instigerende (aanhitsende) aanskouers (aanhitser) help om die afknouery aan die gang te kry en hits die bedrywighede van die afknouer aan. Hierdie aanskouers versprei byvoorbeeld gerugte oor die teiken of die afknouer, of mislei albei met die uitsluitlike doel om die afknouer aggressief te laat optree.

 Die manipulerende aanskouers kies meer openlik die afknouer se kant. Hierdie aanskouers skep situasies waarin die afknouer en die teiken met mekaar in konflik kan kom, in plaas van om bepaalde optredes of woorde te gebruik om die afknouery te ontlont. Die manipulerende aanskouer kan byvoorbeeld inligting oor die teiken verskaf, weerhou of verdraai met die doel om die afknouer daardeur op te sweep. Die instigerende (aanhitsende) aanskouers verskil van die manipulerende aanskouers in die opsig dat eersgenoemde die situasie skep en laasgenoemde munt uit ʼn situasie wat reeds bestaan slaan.

 Die afknouer se medewerkers tree openlik op. Hierdie aanskouers sal hulle aggressie of bespotting vir die teiken openlik of deur middel van e-posse toon om die afknouer te ondersteun. Daar kan verskeie redes vir hierdie aanskouers se optredes wees: om ʼn goeie indruk op die afknouer te maak; om te voorkom dat hulleself ʼn teiken word; of omdat hulle die afknouer se renons in die teiken se posisie, waardes of vriende deel.

 Die fasiliterende aanskouers is ook by die afknouery betrokke, maar in ʼn mindere mate as die medewerkers van die afknouer. Hierdie aanskouers kan onbewus van hulle rolle wees en aan die verspreiding van gerugte deelneem sonder om die omvang van die gevolge wat dit vir die teiken inhou, te besef. Hulle kan ook die afknouery versterk deur niks te doen nie; die afknouer se vyandigheid teenoor die teiken passief te aanvaar; of deur die gebrek aan ondersteuning aan die teiken (Coyne, Craig & Smith-Lee Chong, 2004:312-313).

 Die abdikerende aanskouers bevorder die afknouery deur dit te ignoreer. Hierdie tipe aanskouer kan onbevoeg voel om die afknouer te beheer of om die teiken te ondersteun, moontlik as gevolg van vrees vir die verlies van persoonlike status.

 Die vermydende aanskouers is bewus van die gevolge wat die afknouery vir die teiken inhou, maar vermy ingryping. Vermyding in hierdie geval is ʼn poging van die aanskouers om hulleself ten koste van die teiken te beskerm.

 Die aanskouers wat tussenbeide tree gryp in om die afknouery te verhoed of om konflik te voorkom.

 Die aanskouers wat die situasie ontlont besit nie die nodige gesag om die afknouery te hanteer nie of verkies om dit nie te gebruik nie, maar sal die konflik liewer deur onderhandeling en kommunikasie probeer oplos. Dikwels word die afknouery net ontlont in plaas daarvan dat dit proaktief opgelos word.

 Die beskermers tree vir die teiken in die bresse deur protes teen die afknouer se gedrag aan te teken. Hierdie aanskouers kies die teiken se kant in teenstelling met die manipulerende aanskouer.

 Die empatiese aanskouers het empatie met die teiken, maar vermy ingryping. Hulle sal met deernis na die teiken se klagtes of bekommernisse luister, sonder om hulp aan te bied en sal ook nie teenoor die afknouer optree nie. Soms weerhou hierdie aanskouers hulle daarvan om met die teiken te simpatiseer. Deur nie hulle emosies te toon nie, kan hierdie aanskouers vir ’n lang tydperk deur die afknouery geaffekteer word.

 Die simpatieke aanskouers bied hulle simpatie en praktiese ondersteuning aan die teiken ten einde die trauma te versag en sodoende te verhoed dat die afknouery weer herhaal word. Die empatiese asook die simpatieke aanskouers probeer om nie by die konflik betrokke te raak nie, waarskynlik omdat hulle bang is dat hulle die volgende teiken sal wees. Hulle kan selfs dankbaar wees dat hulle nie die teiken is nie en hulle skuldgevoelens verbloem deur nie in te gryp nie.

 Die toegeeflike/inskiklike aanskouers bied min of geen weerstand nie en word dikwels self ook ’n teiken moontlik as gevolg van ’n vorige onsuksesvolle openlike verdediging van die teiken, of omdat hulle met die teiken gesimpatiseer het.

 Die plaasvervangende aanskouers ondersteun nie die afknouer nie en bied hulleself in die plek van die teiken aan deur die afknouer se aandag van die teiken af te lei en op hulleself te vestig.

Paull et al. (2012:359) is van mening dat die toegeeflike aanskouers, as gevolg van hulle eie emosionele reaksies, die plaasvervangende aanskouers, as gevolg van die plek wat hulle ter wille van die teiken inneem, (asook tot ʼn meerdere of mindere mate die empatiese en die simpatieke aanskouers) negatiewe gevolge van die afknouery soortgelyk aan dié van die direkte teiken kan beleef (vgl. paragrawe 2.8.4.2.1 en 2.8.4.2.4). Paull et al. (2012:359) beklemtoon in ooreenstemming met Orpinas en Horne (2006;16) en Twemlow et al. (1996: 296) dat individuele aanskouers nie slegs tot een rol beperk is nie, maar dat hulle tegelykertyd meer as een rol kan aanneem. Die aanskouers kan verskillende rolle in verskillende omstandighede vertolk en kan selfs van die een rol na ʼn ander verwissel Paull et al. (2012:354), afhangend van hoe die verloop van ʼn reeks afknougebeure of -probleme ontwikkel. As voorbeeld noem die betrokke navorsers dat ʼn aanskouer wat empatie met ʼn teiken het ʼn stadium kan bereik waar hy tussenbeide tree om die teiken te verdedig en vervolgens na die rol van die plaasvervangende aanskouer aanbeweeg en sodoende die nuwe teiken word. Insgelyks kan aanskouers wat tussenbeide tree terselfdertyd ʼn ingryper, beskermer en simpatiseerder wees wat hulp en ondersteuning op meer as een manier aan die teiken verleen.

Die rolle wat die aanskouers vertolk en hulle daadwerklike ingryping of gebrek daaraan, hetsy aktief of onaktief, sal tot die toename of vermindering van afknouery bydra. Vanuit hierdie oogpunt is aanskouers nie slegs maar aanskouers van afknouery nie, maar aktiewe deelnemers daaraan (Paull et al., 2012:361).

Paull et al. (2012:354-355) identifiseer en beskryf die verskillende aanskouerrolle in die volgende tabel en bring dit in ooreenstemming met dié van Salmivalli (1999), Salmivalli (2001:403) en Twemlow et al. (2010). Die kontinuum in die tabel wissel tussen die rolle wat die swakste en sterkste by ’n afknouvoorval teenwoordig kan wees. Dit neem die verskuilde verskille wat tussen aktiewe en passiewe aanskouers bestaan saam en dit onderskei ook tussen die positiewe of negatiewe invloede wat afknouery op aanskouers uitoefen. Sommige van die aanskouersrolle kan positiewe gevolge vir die teiken inhou wat daartoe kan bydra dat die afknouery, of die impak daarvan, verminder word. Ander rolle kan weer tot negatiewe gevolge aanleiding gee. Die verskillende aanskouerrolle word in Tabel 3-3 geïllustreer.

Tabel 3-3: Verskillende aanskouerrolle soos geïdentifiseer deur M. Paull, M. Omari en P. Standen

Aanskouersrol Beskrywing Salmivalli (1999) Twemlow et al. (2010)

Instigerende/ opswepende (aanhitsende)

aanskouer

Begin afknouery; inisieerder, skep situasie

Afknouer (aggressiewe) aanskouer Marionettespeler

Manipulerende aanskouer

Beoog om die afknouer se optredes te beïnvloed, maak van bestaande situasie misbruik

Afknouer (aggressiewe) aanskouer

Marionettespeler

Samewerkende

aanskouer Neem aktief deel, help die afknouer Assistent Afknouer (aggressiewe) aanskouer

Fasiliterende aanskouer

Voorsien aanskouers (skrale moontlikheid)

kan onopsetlik wees

Aanhitser Afknouer (aggressiewe)

aanskouer.

Abdikerende

aanskouer Laat stilswyend die afknouery

toe om voort te gaan en doen niks nie, al is hy by magte om op te tree.

Abdikerende aanskouer.

Vermydende

aanskouer Stap weg Buitestander Ontwykende aanskouer. Abdikerende aanskouer

Ingryper-aanskouer

Neem stappe om afknouery te beëindig of om vergelding te voorkom

Aanskouer wat situasie ontlont

Raak betrokke om die eskalering van die situasie te voorkom

Beskermer Tree vir die teiken in die bresse Beskermer Hulpvaardige (altruïstiese)

aanskouer

Empatiserende

aanskouer Identifiseer met die teiken – sê/doen niks nie Ontwykende aanskouer

Simpatiserende aanskouer

Identifiseer met die teiken – bly stil uit vrees om die volgende teiken te wees, bied troos en ondersteuning aan teiken in privaatheid

Hulpvaardige (altruïstiese) aanskouer

Toegewende/

inskiklike aanskouer Bied min weerstand Teiken (passiewe) aanskouer.

Plaasvervangende aanskouer

Vervang teiken Teiken (passiewe)

aanskouer.

(Paull et al., 2012:354)

Volgens die verskillende aanskouerrolle blyk dit dat leerders bepaalde tipes optrede gedurende afknouery openbaar wat, alhoewel die meeste leerders daarteen gekant is, (Hawkins et al., 2001:513) tog afknouery kan aanmoedig en laat voortduur in plaas daarvan om dit te verminder. Alhoewel die verskillende rolle relatief stabiel bly (Salmivalli, Lappalainen & Lagerspetz, 1998:

212) indien daar geen daadwerklike ingryping plaasvind nie, bestaan die moontlikheid dat die rolle tog kan verander.