• No results found

Die moontlike oorsake van afknouery in die meso-sisteem

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.8 ʼn TEORETIESE PERSPEKTIEF OP AFKNOUERY

2.8.3 Moontlike oorsake van afknouery soos vanuit Bronfenbrenner se bio-

2.8.5.1 Die moontlike oorsake van afknouery in die meso-sisteem

Die meso-sisteem verwys na die wisselwerking tussen die mikro-sisteme en die invloed wat elkeen op die ander uitoefen (Ward, 2006:50). Die buurt, omgewing en gemeenskap waarin die kind woon en skoolgaan, toon sekere karaktereienskappe wat ʼn direkte en indirekte invloed op afknouery en viktimisering uitoefen (Swearer, Peugh, Espelage, Siebecker, Kingsbury & Bevins, 2006:262).

2.8.5.1.1 Oorsake die woonbuurt

Afknouery in die woonbuurt is volgens Percy-Smith en Matthews (2001:61) ʼn ernstige probleem wat ʼn vernietigende uitwerking op die lewensgehalte van baie jongmense kan hê. Kinders voel onveilig in hulle woonbuurte as gevolg van die afknouery wat daar plaasvind. Percy-Smith en Matthews (2001:55-58) onderskei tussen vier algemene tipes afknouery wat hoofsaaklik deur ouer kinders in die woonbuurt toegepas word. Dit sluit die volgende in:

 Inbars deur ouer kinders by jonger kinders se spelery met die doel om die spelery te ontwrig of oor te neem.

 Afdreiging, waar jonger kinders deur ouer kinders gedreig òf gedwing word om deel te neem aan een of ander vorm van anti-sosiale gedrag.

 Intimidasie, wat dikwels net vir die vermaak van die ouer afknouers ten koste van jonger teikens toegepas word en bespotting, beledigings, dreigemente en rondstampery insluit.  Die gebruik van kwetsende name. Dit is die algemeenste vorm van afknouery wat deur

dogters gebruik word.

Alhoewel afknouery grootliks in bepaalde sosiale situasies plaasvind en nie soseer van bepaalde fisiese ruimtes afhanklik is nie, is daar tog sekere plekke in die woonbuurte waar afknouery meer algemeen voorkom. Dié plekke sluit ruimtes soos parke, plaaslike winkelsentra en strate in, waar kinders sonder volwasse toesig bymekaar kom. Afknouery vind in hierdie ruimtes plaas wanneer die dominante partye die ontmoetingsplek beheer en deur die vaslegging van hulle eie stel reëls en waardes uitbuit. Die afknouery is die resultaat van botsings tussen groepe in die woonbuurt, elkeen met sy eie mikrokultuur waar individue probeer om magsverskille te skep en uit te buit, met die doel om hulle eie status en identiteit te verskerp (Percy-Smith & Matthews, 2001:53,57,61). Die gebrek aan pro-sosiale geleenthede vir leerders ná skool speel ʼn belangrike rol by die vorming van jeugbendes (Ward, 2006:50). Parke in die omgewing waarin die betrokke skool geleë is, word deur die jeugbendes, wat territoriaal funksioneer, oorgeneem en is die broeiplekke van dwelmverwante aktiwiteite.

2.8.5.1.2 Oorsake in die omgewing en die gemeenskap

Interaksies op die mesovlak kan ’n kragdadige uitwerking op die kind se ontwikkeling meebring. Kinders wat uit ongelukkige gesinne kom, kan ondersteuning by die portuurgroep en aanklank by die groep se norme en waardes vind. Dit kan tot gevolg hê dat hulle by bendes aansluit en uiteindelik by gewelddadige gedrag in die samelewing betrokke raak (Ward, 2007:12). Estévez, Emler en Wood (2009:5) beklemtoon dat kinders deur middel van waarneming ander persone se waardes aanleer. Wanneer kinders misdadige gedrag voortdurend waarneem, kan hulle dit as “normaal” beskou en meer geneë wees om anti-sosiale gedrag te openbaar. Die desensitasie-effek kan op sodanige wyse intree dat die kinders so gewoond raak aan geweldsblootstelling dat hulle dit nie meer as onaanvaarbare gedrag beskou nie. Mettertyd glo hulle dat geweld die enigste manier is om probleme op te los (Gasa, 2005:73; Ward, 2006:50). Die omgewing en gemeenskap waarin kinders woon oefen ʼn belangrike invloed op hulle gesinne, die aard van hulle portuurgroepinteraksies en die wyse waarop hulle aan verskillende sosiale situasies blootgestel word, uit (Mercy, Butchart, Farrington & Cerdá, 2002:34). ʼn Skool wat in ’n buurt geleë is wat deur hoë misdaadsyfers, ʼn verwaarloosde fisiese omgewing en inwoners wat dikwels van wonings verwissel gekenmerk word, is geneig om deur soortgelyke faktore gekenmerk te word en is voortdurend in stryd met die indringing van hierdie faktore (Burton, 2008:54). Leerders wat by skoolafknouery betrokke is, is dikwels teikens van gemeenskapsgeweld. Afknouers is ook meer geneig om wapens by hulle te hê en in die strate rond te drentel (Swearer et al., 2006:262).

Die onbestendigheid van die omgewing en die gemeenskap kan volgens Gasa (2005:72) aan verskillende vorms van geweld soos politieke en sosiale geweld en misdaad soos onder meer kapings, huisbrake, ontvoerings en bendebedrywighede beoordeel word. Kinders wat in dergelike omgewings en gemeenskappe woon en daagliks geweld aanskou, verkeer in spanningsvolle situasies, wat hulle ook noodsaak om soms aggressief op te tree.

Die volgende risikofaktore in die gemeenskap kan tot afknouery aanleiding gee:  Gemeenskapswanorde (Hawkins, et al., 2000:2).

 Armoede en hoë werkloosheidsyfers (Bemak & Keys, 2000:20,21; De Wet, 2003:97; Leoschut & Bonora, 2007:24).

 Sosio-ekonomiese status van die gemeenskap soos uiterste armoede, of ekstreme welvaart (Ward, 2007:24).

 Toegang tot vuurwapens, alkohol en dwelmmiddels (Bemak & Keys, 2000:19, 20; De Wet, 2003:97; Hawkins et al., 2000:2; Leoschut & Bonora, 2007:99).

 Blootstelling aan hoë vlakke van geweld en misdaad (Bemak & Keys, 2000:21; Hawkins et al., 2000:2).

 Blootstelling aan gewelddadige en kriminele rolmodelle (Hawkins et al., 2000:2; Leoschut & Bonora, 2007:93).

 Min of geen gemeenskapsgebaseerde dienste soos werksopleiding, dagsorg, ontspanningsfasiliteite en openbare vervoer nie (Bemak & Keys, 2000:21).

 Betrokkenheid by misdadige portuurgroepe en lede van bendes (Leoschut & Bonora, 2007: 93; Nickerson & Slater, 2009:227).

 Verbrokkeling van die gesin (De Wet, 2003:97).

 Beklemtoning van manlikheid (machosisme) (Leoschut & Bonora, 2007: 98; Kassin, Fein, & Markus, 2011:452).

 Invloed en die uitbeelding van mediageweld (Bemak & Keys, 2000:21; Ward, 2007: 25).  Rassistiese vooroordele (Hawkins et al., 2000:2).

 Die onvermoë of die onwilligheid van die regering om teen gewelddadige misdadigers in die gemeenskap op te tree (De Wet, 2003: 97).

Indien ʼn gemeenskap deur geweld gekenmerk word, kan kinders gevolglik genoodsaak word om oorlewensvaardighede aan te leer om hulleself te verdedig. Op hierdie wyse word aggressiewe gedrag deel van hulle daaglikse bestaan (Schaffner, 2009:25).