• No results found

Die volgende mites bestaan met betrekking tot die skool:

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.5 DIE AARD EN WESE VAN AFKNOUERY

2.5.2 Mites, wanvoorstellings en misverstand oor afknouery

2.5.2.3 Die volgende mites bestaan met betrekking tot die skool:

 Ontkenning: “By ons skool vind daar geen afknouery plaas nie.”

Ouers, onderwysers en die gemeenskap ontken dikwels dat afknouery by hulle skole plaasvind (Davis & Davis, 2007:31). Afknouery vind volgens hulle net in “ander” skole, gewoonlik dié in “swakker” woongebiede, plaas (Sullivan, 2001:15). Hierdie aanname staan in sterk kontras met die bewerings van die leerders wat die afknouery in die eersgenoemde skole aanmeld (Handwerk, 2005:30). Die ontkennende houding van die volwassenes kan by die kind die indruk skep dat hulle stories aandra en vervolgens bly hulle liewer stil oor die voorvalle. Die moontlikheid bestaan ook volgens Macintyre (2009:28) dat die onderwysers werklik nie van afknouery in hulle skole bewus is nie, omdat sommige leerders niks gedurende skool-ure laat blyk nie, maar tuis ontsteld is.

Afknougedrag kom in alle skole voor en gebeur die waarskynlikste in die skole waar dit ontken word. Goeie skole is proaktief in hulle benadering tot afknougedrag en tree ferm, regverdig en daadwerklik op om dit te beheer. “Swak” skole ontken die gedrag, ignoreer dit, regverdig dit, probeer om die gedrag te verklaar, hanteer dit verkeerd en beskuldig die teikens dat hulle nie effektief optree nie (Sullivan, 2011:14).

 Groot skole en groot klasse bevorder afknouery.

Olweus noem dat navorsing bewys het dat daar geen verband tussen groot skole en klasse en die toename in afknouery is nie (Olweus 1978:77; Olweus 2006:23,24). Volgens ’n studie wat in Suid-Afrika uitgevoer is, beweer die navorsers dat afknouery wel die gevolg van groot skole en klasse is (vgl. par. 2.4.1: koerantberig, “Bullying at school a problem -survey”, 2012).

 Afknouery in skole is die direkte gevolg van wedywering om akademiese prestasies en die druk wat die skool op die leerders uitoefen.

Daar word beweer dat die afknouer se aggressiewe gedrag teenoor die teiken die gevolg van ’n reaksie uit frustrasie en swak akademiese prestasie is. Olweus (2006:28) weerlê hierdie mite deur aan te dui dat geen navorsingsresultate kon bewys lewer dat swak prestasie op skool die gevolg van afknouery is nie.

 Die jong kind sal die gedrag mettertyd ontgroei.

Loeber, Farrington en Petechuk (2003:5, 13) argumenteer dat die teendeel waar is. Die jong kind se afknougedrag kan met verloop van tyd eerder vererger en in plaas daarvan dat hulle die gedrag “ontgroei”, hulle in werklikheid “in” die gedrag groei. Die probleem moet dus so vroeg moontlik geïdentifiseer en aangespreek word.

 Wanneer ouers ingelig word dat hulle kinders afknouers is, sal hulle dit so aanvaar.

Baie ouers sal die bewering dat hulle kinders afknouers is ontken, omdat dit ’n skande is en aan skoolgeweld gekoppel word. Ouers beweer volgens Macintyre (2009:17) dat hulle kinders nie by die huis aggressief optree nie, wat impliseer dat die probleem by die skool lê en dat die onderwyser alles versin. Hierdie houding van die ouers versterk die kinders se afknouery wat weer die behoefte beklemtoon om objektiewe dokumentasie van afknouvoorvalle by skole te bekom (Handwerk, 2005:15).

 Beleide teen afknouery in skole is ondoeltreffend.

Beleide teen afknouery is belangrik, omdat dit die bewusmaking van gesonde sosiale gedrag verhoog, aandui dat die skool van voorneme is om teen afknougedrag op te tree en ’n grondslag vir verandering daarstel (Swearer et al., 2009:5,6).

 Afknouvoorkoming en intervensie is ingewikkeld en duur.

Deur gesonde verhoudings in die skool te ontwikkel en te bevorder, kan die meeste afknouery beëindig word. Die onderwysers se voorbeeld kan die leerders aanspoor om trots op hulle skool te wees, wat gevolglik daartoe sal lei dat afknouery nie geduld sal word nie en dit dus nie nodig sal wees om programme aan te koop nie. Daar is baie strategieë wat skole kan aanwend om afknougedrag hok te slaan (Swearer et al., 2009:6).

 Dit is te ingewikkeld om uit te pluis hoe om die teen-afknou pogings te evalueer.

Skole het kundige wiskunde onderwysers wat weet hoe om statistieke te gebruik om die afknougedrag te assesseer. Leerders kan in die wiskundeklasse daarby betrokke raak (Swearer et al., 2009:6).

Daar bestaan ’n hele aantal mites oor die verskillende rolspelers by afknouery, waarvan slegs ’n paar uitgelig sal word:

 Afknouers is groot, dom kinders wat uit disfunksionele gesinne kom en wat akademiese bleeksiele (“nerds”) wat bril dra, afknou.

Volgens (Sullivan, 2011:16) weerspreek navorsers hierdie mite. Hy noem dat verskeie afknouers sosiale vaardighede besit waarmee hulle die portuurgroep vernuftig hanteer om sodoende hulle doelwit te bereik. Afknouers kan enigiemand wees, van top atlete, gewilde leerders, onderwysers se witbroodjies tot leerders wat gereeld in die moeilikheid is.

 Afknouers het ’n lae selfbeeld, daarom knou hulle ander kinders af.

Afknouers voel in der waarheid goed oor hulleself. Wanneer hulle ander afknou, voel hulle dat hulle beheer oor die aanskouers het (Beane, 2009:188-189; Olweus, 2006:34; Limber, 2008:8).  Afknouers is alleenlopers

Baie mense huldig die standpunt dat niemand van afknouers hou nie. Rodkin, Farmer, Pearl en Van Acker (2000) het in hulle navorsing bevind dat afknouers baie vriende het en hoë aansien in die klas geniet. Sommige afknouers is veral gedurende die sekondêre fase in die skool redelik gewild en word as besonder “cool” beskou (Juvonen, Graham & Schuster (2003:1235).  Teikens is leerders wat bril dra, oorgewig is, van ’n ander etniese oorsprong is of met ’n

ongewone dialek praat.

Olweus (2010:68) dui aan dat daar geen stawing vir hierdie mite deur empiriese studies gevind kon word nie.

 Aanskouers is bang vir die afknouer.

Daar is aanskouers wat vir die afknouer bang is. Gewoonlik weet die aanskouers nie wat hulle te doen staan nie en baie van hulle is bekommerd dat as hulle sou inmeng, dit ’n verkeerde optrede sou wees. Die gevolg is dat die aanskouers slegs die situasie vererger deur na die afknouery te kyk en daaroor te lag. Sodoende word die afknouer aangemoedig en deur die trawante ondersteun (Olweus, 2010:68) (vgl. par. 2.7.2).