• No results found

Die frekwensie van afknougedrag met betrekking tot ouderdom, Graad, ras

HOOFSTUK 2 AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN DIE VERSKYNSEL

2.6 DIE VOORKOMS VAN AFKNOUGEDRAG IN SKOLE

2.6.1 Die frekwensie van afknougedrag met betrekking tot ouderdom, Graad, ras

Ouderdom en Graad

Afknougedrag en die verskillende vorms daarvan kom by seuns sowel as meisies voor (Lawson, 1994:13,14). Die geslag en ouderdom van die kind is belangrike veranderlikes wat ʼn invloed op die frekwensie en tipe afknouery waaraan die kind blootgestel word, uitoefen (De Wet & Jacobs, 2008:223,226; Del Rey, Elipe & Ortega-Ruiz, 2012:609).

Tradisionele afknouery begin reeds in die voorskoolse klasse (Mishna, 2012:18). Crick en Casas (1999:376-385) het ʼn navorsingstudie uitgevoer om verhoudingsgerigte en fisieke vorms van afknouery by drie- tot sesjarige voorskoolse kinders te bepaal en sodoende ʼn begrip van kinders se sosiaal-psigologiese aanpassingsprobleme te verkry. Die resultate het aangetoon dat seuns meer fisiek en dogters meer verhoudingsgerig afgeknou word (Crick & Casas 1999:376).

SunWolf (2008:56) bevestig dat jong kinders tussen die ouderdomme drie tot ses jaar hulle maats emosioneel afknou deur hulle van aktiwiteite uit te sluit. Dunn (2004:97) beklemtoon dat afknougedrag kommerwekkend algemeen tussen hierdie jong kinders voorkom. Die jong kind kan beide ’n afknouer en ’n teiken wees. Die navorsingsresultate van die National Institute of Child Health and Human Development toon ook dat afknouery baie algemeen by kinders in pre- primêre skole voorkom (Levin-Epsten, 2003:4).

Die meeste leerders wat teikens van afknouery is, is volgens Olweus (2006:15) in Grade 2 tot 5 en is ongeveer agt tot 13 jaar oud (vroeë adolessente). De Wet en Jacobs (2008:222) beklemtoon dat leerders in die grondslag- en intermediêre fase fisiek, verbaal en emosioneel afgeknou word. Volgens Shariff (2009:24) kan die afknouery fisiek, psigies, openlik of verskuil plaasvind en willekeurig of met oorleg toegepas word. Die keuse van hoe die afknouery gaan plaasvind, hang volgens Björkqvits (1994:184) van die situasie af. Wanneer die kind aan direkte fisieke afknouery blootgestel word, word hy gedwing om homself fisiek te verdedig.

Volgens Olweus (2006:15) neem afknouery geleidelik tot die begin van die sekondêre skoolfase toe en die jonger en swakker leerders is gewoonlik die teikens van fisieke afknouery. Die frekwensie van afknouery neem vervolgens geleidelik af en is minder fisiek van aard by adolessente in die sekondêre skoolfase in Grade 7 tot 9 in ooreenstemming met die ouderdomme 13 tot 16 jaar (Collins, et al., 2004: 57; Canovon, 2002:3; Salmivalli, 2002:275; Rigby & Slee, 1991:619). Olweus (2006:16) dui aan dat die aantal leerders wat teikens van

afknouery is, nagenoeg die helfte minder as in die vorige ouderdomsfase is. Volgens die resultate van die Bergenprojek is die meeste van die afknouery deur ouer leerders gedoen. Meer as 50% van die teikens in Grade 2 en 3 het gemeld dat hulle deur leerders wat ouer as hulle is, afgeknou word (Greeff, 2004:21; Olweus, 2006:14,15). Hierdie bevindinge is op seuns en meisies van toepassing (Olweus, 2006:16)

Dergelike navorsing in Ierland (O’Moore, Kirkham & Smith, 1997:41-169), navorsingsresultate van die National Institute of Child Health and Human Development (Levin-Epstein, 2003:1-6) en die bevindinge van die Sheffield Anti-Bullying Project (Eslea & Smith, 1994:1-6) stem ooreen en bevestig Olweus (2006:14, 15, 16) se bevindinge. Volgens die National Center Against Bullying (NCAB), (2010), vererger afknouery ten tye van verwisseling van skole. Dit gebeur wanneer leerders van kleuterskole, of die voorskoolse fase na die grondslagfase wissel, van die grondslagfase na die intermediêre skoolfase en dan weer van die intermediêre skoolfase na die sekondêre skoolfase. Die NCAB beveel aan dat die betrokke instellings tydens daardie oorgangsfases meer aandag aan die voorkoms en hantering van afknouery moet gee.

Soos afknouery verminder wanneer kinders ouer word, verminder direkte fisieke aggressie ook en vermeerder direkte en indirekte verbale en nie-verbale vorms van afknouery (Sullivan et al., 2005:8). Die redes waarom afknouery na die ouderdom van 16 jaar afneem en die jonger leerders hoofsaaklik teikens van afknouery is, word volgens Smith, Madison en Woody (1999:257-285) aan die volgende faktore toegeskryf:

 Daar is meer ouer leerders as jonger leerders in die skool – dus is daar meer ouer leerders wat die jongeres kan afknou.

 Die jonger leerders het nog nie die nodige sosiale- en selfgeldingsvaardighede ontwikkel om voorvalle van afknouery op ʼn doeltreffende wyse te hanteer of te voorkom dat hulle afgeknou word nie.

Die leerders se ouderdomme beïnvloed die frekwensie en die tipe afknouery waaraan die hulle blootgestel word. Ouer leerders is veral die teikens van verbale en psigologiese afknouery, terwyl fisieke afknouery oorheersend by jonger leerders voorkom (Piskin, 2002:558).

In vergelyking met die duidelike afname in die voorkoms van die teikens van afknouers in die verskillende grade, is daar nie so ’n betekenisvolle afname in die voorkoms van afknouers vanaf die grondslagfase en die intermediêre skoolfase na die sekondêre skoolfase nie (Olweus, 2006:6; O’Moore et al., 1997:161). Die rede hiervoor is volgens Eslea en Smith (1994) dat afknouers geneig is om met hulle afknougedrag voort te gaan soos hulle ouer word, maar hulle minder op teikens toespits.

Indien afknougedrag in die laat-adolessentejare sou voortgaan, kan die tipe afknoumetodes ernstig word, veral omdat adolessente minder empatie teenoor hulle teikens toon (Sullivan et al., 2005:8).

Geslag

Seuns en meisies is betrokke by afknougedrag, maar pas die afknouery oorwegend op verskillende maniere toe (De Wet & Jacobs, 2008:224; Walker et al., 2004:239; Wentzel, 2008:86,87). Seuns knou ander leerders meer dikwels as meisies af en is gevolglik meer teikens van afknouery, veral in die laer grade (O’Moore et al., 1997:145-150; Olweus, 2010:67). In die navorsing wat in Gautengse skole deur Neser, Prinsloo en Ladikos (2005:35-37) onderneem is, is ooreenstemmende resultate met dié van O’Moore et al. (1997) en Olweus (2010) gevind. Volgens Neser et al. (2005:36-37) knou seuns wat in groepe optree, die meeste af. Seuns knou seuns en meisies af (Field, 2007:7). Olweus (2010:67) dui aan dat ʼn betreklike groot aantal meisies (ongeveer 50%), aangedui het dat hulle oorwegend deur seuns afgeknou is.

Uit De Wet en Jacobs (2008: 223) se navorsing oor afknouery in kosskole is dit duidelik dat seuns meisies verbaal en fisiek afknou. Genoemde navorsers se bevindinge bevestig die gewelddadige uitdrukking van manlikheid (Bhana, 2005:100), die sosiale oorheersing volgens Pellegrini (2004:180) en die manifestering van geslagsongelykhede (De Wet & Jacobs 2008:223).

Meisies knou gewoonlik ander meisies af, maar kan volgens Field (2007:7) ook seuns afknou. Waar seuns gewoonlik van afknouery gebruik maak om hulle reputasie te verhoog, maak meisies van afknouery gebruik om hulle reputasie te beskerm (Field, 2007:7).

Ten opsigte van die gebruik van die verskillende vorms van afknouery, is seuns meer geneig om van aggressiewe metodes soos fisieke afknouery gebruik te maak, terwyl meisies van meer indirekte of verskanste metodes gebruik maak (Beane, 2009:175). Seuns is op individuele prestasie en aksie ingestel wat deur hulle fisieke vaardighede ondersteun word (Field, 2007:7). Meisies en veral adolessente meisies, verkies om van indirekte, verbale, nie-verbale en manipulerende metodes van afknouery gebruik te maak. Metodes soos kwaadwillige geskinder, verandering van vriende, verbale verkleinering, pogings om iemand anders na jou kant oor te haal, die skryf van gemene briewe of notas en die uitsluiting van iemand by groepsaktiwiteite is magtige wapens om hulle klein groepies te beheer, te manipuleer en te beskerm (Björkqvits, 1994:192; Field, 2007:7). Feschbach, het reeds in 1969 volgens Björkqvist (1994:182) gemeld dat meisies nuwelinge binne die eerste vier minute van interaksie uitsluit.

Olweus (2010:68) stel dit duidelik dat indirekte vorms van afknouery net so erg en ontstellend vir die teiken kan wees as direkte en openlike aanvalle. Hy verwys verder ook na sy vorige

navorsing (Olweus, 1993) en beklemtoon dat hy duidelik van sienswyses in die boeke van Wiseman (2002) Queen Bees and Wannabees, en Simmons (2002) Odd Girl Out verskil dat meisies die ergste afknouers is en die meeste afknou.

Björkqvits (1004:185) beweer dat meisies fisiek swakker as seuns is en daarom moontlik reeds vroeg in hulle lewens aanleer om fisieke aggressie te vermy en in plaas daarvan van ander vorms van afknouery gebruik maak. Alhoewel meisies meer geneig is om van indirekte en verskuilde metodes van afknouery gebruik te maak, is daar aanduidings dat fisieke afknouery by hulle aan die toeneem is (Beane, 2009:175; Elliotte, 2002:13; Lawson, 1994:13,14).

Daar bestaan gevolglik betekenisvolle bewyse van aggressiewe gedrag by beide seuns en meisies op verskillende ouderdomme en hulle deelname aan verskillende vorms van afknouery (verhoudinggerigte aggressie by meisies en openlike fisieke vorms van aggressie by seuns). Greeff (2004:13,14) se navorsingsbevindinge toon aan dat seuns meer as meisies verbale vorms van afknouery, soos kwetsende name, om vir die gek gehou te word en om op ʼn skadelike manier geterg te word, ervaar. Meer seuns as meisies het ook fisieke vorms van afknouery ervaar. Ten opsigte van rassistiese aanmerkings het ook meer seuns as meisies aangedui dat hulle aan hierdie tipe afknouery blootgestel was. Meer swart as wit leerders was ook aan rassistiese afknouery blootgestel.

Ras en kultuur

Die streng rasgebaseerde samestelling van skole in Suid-Afrika het sedert 1994 drasties verander. Bykans alle skole het tans ʼn diverse ras- en kultuur-samestelling van leerders en onderwysers. As gevolg van die uiteenlopendheid van leerders en onderwysers se kulture bestaan die moontlikheid volgens Irvine (1990:26) dat daar kulturele misverstande kan ontstaan wat tot agterdog, wantroue, vyandelikheid en konflik aanleiding kan gee. Volgens Schaffner (2009:21) word sommige leerders deur omstandighede in sekere skole gedwing om hulle kulturele agtergrond te versaak, wat vervolgens tot afknouery aanleiding kan gee. Etnosentrisme word volgens Gasa (2005:74) deur kulturele groepe beoefen wat daartoe lei dat veral in Suid-Afrika met ʼn Apartheidsverlede, rassisme ʼn rol in afknouery kan speel (Schaffner, 2009:22). Gasa (2005:76) wys verder daarop dat kulturele diversiteit tot marginalisering en verwerping deur die dominante groepe kan lei en tot afknouery aanleiding kan gee.

Navorsing oor die voorkoms van afknouery by verskillende ras- of etniese groepe op nasionale vlak het die volgende resultate opgelewer:

 In Groot Brittanje was daar volgens Dake, Price en Telljohann (2003:174) geen noemenswaardige ras- en kulturele verskille nie.

 ʼn Deursneestudie wat onder Duitse en Engelse leerders onderneem is, het wel ʼn betekenisvolle verband tussen etnisiteit en afknouery aangetoon. Leerders van die etniese minderheidsgroepe was meer geneig om teikens van afknouery te wees as leerders van die etniese meerderheidsgroepe (Wolke, Woods, Stanford & Schultz, 2001:689).

 In die Verenigde State van Amerika is drie studies oor die verskynsel van afknouery uitgevoer. By die grootste van die drie, ʼn nasionale studie, is ook geen noemenswaardige verskille in die voorkoms van afknouery of viktimisering onder Afro-Amerikaanse, Spaans- Amerikaanse (Hispanic) en wit leerders gevind nie. ʼn Derde studie wat in Kalifornië gedoen is om afknouery in ʼn skool waar die wit leerders in die minderheid en die Afro-Amerikaanse en Spaans-Amerikaanse leerders in die meerderheid was, het die teenoorgestelde resultate opgelewer. Die resultate het aangedui dat die wit leerders betekenisvol meer geneig was om teikens van afknouery te wees as in die geval van die ander leerders. Die Afro- Amerikaanse leerders was meer geneig om die afknouers te wees Dake et al. (2003: 174- 175). Juvonen, Graham en Schuster (2008:1231-1233) het die volgende resultate in hulle navorsing van afknouery by verskillende rasse- en kultuurgroepe in die Verenigde State van Amerika gevind:

 Die meeste van die afknouers was swart, terwyl die minste van die afknouers onder Asiërs voorgekom het. Wit leerders was in die meeste van die gevalle die teikens van afknouery en Latyns-Amerikaanse leerders (Latinos) was in ʼn minder mate teikens van afknouery.  Swart leerders is in die meeste van die gevalle as afknouer/teiken (“bully/victim”)

geklassifiseer.

In Suid-Afrika is daar ook verskille tussen leerders van uiteenlopende kulture met betrekking tot afknouery deur navorsers opgemerk. Pillay (2004:6-9) het ʼn studie van die leerders se ervarings, onder andere van afknouery by informele nedersettings met oorwegend Indiër- leerders in Lenasia uitgevoer. Hy het onder andere gevind dat wanneer leerders van verskillende rasse- en etniese agtergronde saamgevoeg word, verskeie probleme kan ontstaan. Volgens Pillay (2004:7) se navorsing is die mindergegoede swart leerders van die nedersetting aansienlik deur die Indiër leerders en ander swart leerders wat van die meer gegoede stadsgebiede kom, afgeknou. Die eerste groep het ook as gevolg van negatiewe ervarings met die onderwysers ʼn negatiewe houding teenoor die skool ontwikkel (Pillay, 2004:8).

Greeff (2004:21) se navorsing betreffende die voorkoms van afknouery in die intermediêre skoolfase het die volgende resultate opgelewer:

 Swart en wit leerders het aangedui dat hulle dikwels deur leerders in hulle eie klas, óf deur leerders in ʼn hoër Graad afgeknou word.

 Swart leerders het aangedui dat hulle deur leerders in hul eie klasse en ook deur leerders in hoër grade afgeknou word.

 Meer swart leerders as wit leerders het gemeld dat hulle deur leerders in hoër grade afgeknou word.

 Swart leerders het ook baie meer as die wit leerders rassistiese afknouery ervaar.