• No results found

Die konseptuele raamwerk van R Thornberg, L Tenenbaum, K Varjas, J.

HOOFSTUK 3 AANSKOUERS VAN AFKNOUERY: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE

3.5 AANSKOUERROLLE EN GEDRAG

3.5.3 Aanskouergedrag

3.5.3.4 Teoretiese verklaringmodelle van aanskouersgedrag

3.5.3.4.4 Die konseptuele raamwerk van R Thornberg, L Tenenbaum, K Varjas, J.

Thornberg et al. (2012:249-250) het navorsing oor aanskouers se gemotiveerdheid om tydens afknousituasies in te gryp, al dan nie, verder gevoer en het na aanleiding van hulle navorsingsbevindinge ’n konseptuele raamwerk (kyk Figuur 3-2) daargestel. Die konseptuele raamwerk bestaan uit vyf komponente wat die aanskouers se gemotiveerdheid om tydens afknousituasie in te gryp beïnvloed, naamlik: 1) die interpretasie van benadeling tydens die afknousituasie, 2) emosionele reaksies, 3) sosiale evaluering, 4) morele evaluering, en 5) intervensie self-effektiwiteit.

Die konseptuele raamwerk vir aanskouers se gemotiveerdheid om tydens afknousituasies in te gryp, of nie, word in Figuur 3-2 geïllustreer.

Volgens hierdie raamwerk is die besluit van aanskouers om ’n teiken te help of nie te help nie, afhanklik van hoe die aanskouers die voorval, die sosiale konteks en hulle eie rol definieer en evalueer.

Figuur 3-2: Konseptuele raamwerk vir aanskouers se gemotiveerdheid om tydens afknousituasies in te gryp, al dan nie (Thornberg et al., 2012:249)

 Die interpretasie van die graad van benadeling tydens die afknousituasie:

Die aanskouers se interpretasie van die graad van benadeling wat deur afknouery veroorsaak kan word, is ’n belangrike komponent van die raamwerk. Die mate waartoe aanskouers die afknouery as skadelik beleef, beïnvloed hulle gemotiveerdheid om op te tree. Indien daar geen of min benadeling waargeneem word nie, sal die gemotiveerdheid om die teiken te help ook min wees. Die voorvalle waarin afknouery beduidende skade veroorsaak, noodsaak navorsing om strategieë te ontwikkel wat kinders help om die skade in afknousituasies te identifiseer en toepaslik te interpreteer, aangesien ʼn hoë sensitiwiteit in die erkenning van die skade met die motivering om in te gryp, geassosieer word.

Sommige leerders het aangedui dat dit soms gebeur dat die aanskouers verkies het om nie in te gryp nie, omdat hulle daarvan oortuig was dat die afknouery nie so ernstig was nie en daarom nie ingryping regverdig het nie. Nog ʼn faktor wat die interpretasie van die skade tydens afknousituasies beïnvloed was die gewoond-raak aan afknouery en wat omskryf kan word as die aanskouers se versuim om in te gryp, omdat afknouery dikwels plaasvind en die leerders dit as ’n alledaagse verskynsel beskou.

 Emosionele reaksies:

Die invloed van emosionele reaksies is ’n verdere belangrike komponent. Volgens sommige leerders kan afknouery verskillende emosionele reaksies by die aanskouers ontlok en hierdie emosionele reaksies (empatie, vrees om afgeknou te word, aanskouers-opwinding) blyk hulle besluitnemingsproses ten opsigte van ingryping, of om nie in te gryp nie, te beïnvloed. Voorbeelde hiervan is dat ʼn aanskouer 'n gevoel van empatie ervaar en besluit om in te gryp, omdat hy of sy jammer vir die teiken voel. Verder is die vrees om in die toekoms ook afgeknou te word as ’n rede geïdentifiseer om nie in te gryp nie. Aanskouer-opwinding verwys na die genot, opwinding, en die begeerte om na die afknouery te kyk. Die aanskouers gryp nie in nie en moedig die afknouery aan, omdat hulle dit geniet om die afknouvoorval te aanskou.

 Sosiale evaluering:

Thornberg et al. (2012:251) noem dat ʼn baie belangrike motiverende faktor aanskouers se pogings is om afknouery sosiaal te evalueer. Na aanleiding van hierdie sosiale evaluering het aanskouers sosiale verhoudings en sosiale posisies oorweeg en geëvalueer (vriendskap, sosiale rang, en geslagsverskille) wanneer hulle afknouery aanskou, voordat hulle besluit om in te gryp of om nie te help nie. Hierdie motiveringsfaktor stem met die navorsing van Oh en Hazler (2009:306) ooreen wat aantoon dat die vriendskapsverhouding tussen die aanskouer en die teiken of die afknouer ʼn impak het op die besluit om in te gryp, of nie. Vriendskap met die teiken is geassosieer as ʼn motief vir ingryping. Chaux (2005:47) het gevind dat aanskouers meer geneig is om diegene met wie hulle ’n hegte vriendskapsband het, of om teikens wat

gewild is (Levine, Cassidy, & Brazier, 2002: 1452), tydens ʼn afknouvoorval te ondersteun. Daarenteen dien vriendskap met die afknouer as motivering om die teiken nie te help nie. Nog ʼn rede om nie in te gryp nie is wanneer die aanskouers nie van die teiken hou nie (Thornberg et al., 2012:250).

Die oorweging en evaluering van sosiale rang speel ʼn belangrike rol by die portuurgroep wanneer aanskouers se motivering om te help deur die afknouer se posisie in die sosiale hiërargie beïnvloed word. Indien die aanskouer ʼn hoër sosiale rang as die afknouer beklee, blyk dit ʼn motivering vir ingryping te wees, terwyl ʼn laer rang op de-motivering vir ingryping dui. Geslagsverskille speel ook ʼn betekenisvolle rol by ingrypingsmotiewe. Meisies help ander meisies meer gereeld wanneer hulle afgeknou word as seuns, terwyl seuns meer gereeld aan die afknouery meedoen. Seuns is ook meer geneig om die draak met meisies wat teikens van afknouery is, te steek.

 Morele evaluering:

Morele evaluering het betrekking op die beoordeling of evaluering van die waargenome afknouhandeling op grond van wat reg of verkeerd is, asook die evaluering en toe-eiening van persoonlike verantwoordelikheid. Aanskouers besluit op grond van hulle eie morele oortuigings of afknouery reg of verkeerd is. Die morele oorwegings wat aanskouers se motivering vir ingryping ondersteun, is hulle eie oortuiging dat afknouery verkeerd is en dat ander persone soos hulle vriende, onderwysers, of ouers van hulle sou verwag om in te gryp.

Verder kan aanskouer-onverantwoordelikheid in afknousituasies intree waartydens aanskouers nie ingegryp het nie, omdat hulle oortuig was dat dit nie hulle morele verantwoordelikheid was om in te gryp nie, of dat dit nie nodig was nie (nie-morele verbintenisse (Bandura, 1999:196). Aanskouer-onverantwoordelikheid kan ook met blaam, wat aan die teiken gekoppel word, verband hou. Aanskouers is daarvan oortuig dat die afknouery eintlik die teiken se skuld is. Sodoende word die rede vir afknouery geregverdig. Sommige leerders voer ook aan dat die

verspreiding van valse gerugte deur die afknouer tot ʼn gebrek aan ingryping, die morele

regverdiging van die afknouery en die moontlikheid dat aanskouers aan die afknouery meedoen, bydra.

 Ingryping self-effektiwiteit:

Ingryping self-effektiwiteit dui op aanskouers se oortuigings rondom hulle effektiwiteit om by afknousituasie in te gryp. Indien aanskouers hoë oortuigings van hulle self-effektiwiteit het, sal hulle meer gemotiveerd wees om in te gryp, terwyl oortuigings van lae self-effektiwiteit weer tot nie-ingryping aanleiding gee.