• No results found

Regulering en die koste van regulering vir ’n ekonomie

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

2.8 Regulering en die koste van regulering vir ’n ekonomie

Daar is reeds in die hoofstuk aangevoer dat bank gereguleer moet word, omdat die deposito’s wat gehou word deur die publiek besit word. Dow het ook aangetoon dat die dienste van banke ’n openbare produk is. Dit is duidelik dat ’n veilige en gesonde bankstelsel ekonomiese voordele inhou.

Dit is ook belangrik om te kyk na die koste wat regulering van banke vir ’n ekonomie inhou. Die voordele van regulering moet die koste van regulering kan dek. Volgens Elliehausen (1998:1) kla banke gereeld dat regulering ’n groot kostefaktor is. As die koste van die regulering van banke te hoog is, kan dit daartoe lei dat disintermediasie plaasvind. Die regulering van banke het dan ’n teenoorgestelde uitwerking as wat beplan is, omdat dit tot groter sistemiese risiko aanleiding kan gee. Die reguleerders is soms

geneig om nie nuwe regulasies in te stel nie, omdat daar beweer word dat die regulasies ’n groot kostefaktor inhou.

Strausburg (1992:1) het in ’n verslag van die American Bankers Association bevind dat Amerikaanse banke reeds in 1991 $10 miljard moes bestee om aan die regering se regulasies te voldoen. Die bedrag van $10 miljard was gelykstaande aan 59 persent van die winste van Amerikaanse banke. Die koste wat die reguleringslas op banke plaas, is beduidend en kan daarom aanleiding gee tot finansiële disintermediasie

Daar moet ook in gedagte gehou word dat die reguleringslas wat op banke geplaas word, hulle mededingendheid in die finansiële sektor kan verminder. As die reguleringslas te groot word, kan dit gebeur dat van die banke besluit om hulle banklisensies terug te gee. Dit sal negatief inwerk op die hoofoogmerke van regulering, naamlik dié van ’n veilige en gesonde bankstelsel.

Goodhart et al., (2001:61) wys daarop dat die feit dat daar nie ’n mark bestaan om die prys vir regulering te bepaal, die gevaar bestaan dat die voordele van regulering die koste van regulering kan oortref, omdat die reguleerders eerder te veel regulering sal afdwing as te min.

Ten spyte van die feit dat die koste van regulering sulke prominensie het, is daar relatief min studies oor die onderwerp gedoen. Een van die redes hiervoor is die feit dat direkte data oor die koste en voordele van regulering nie moeilik bepaal kan word (Goodhart et

al., 2001:63). Navorsers moet dus verskillende tegnieke gebruik om die data te ontsluit. Drie van die mees algemene metodes wat volgens Elliehausen (1998:6) gebruik is om die koste van regulering te isoleer, is deur gevallestudies, ekonometriese modelle en analogie te gebruik.

Die vraagstuk van die koste van regulering kom weer aan die orde in die studie as een van die potensiële probleme met die implementering van die Basel II-voorstelle.

2.9 Gevolgtrekking

In hierdie hoofstuk is daar ’n oorsig gegee oor die debat rondom die vraagstuk van die regulering van banke.

As daar oor die regulering van banke besin word, is dit belangrik om kennis te neem van die spesiale rol wat banke in die ekonomie van elke land speel. As gevolg van die inligtingasimmetrie tussen lener en spaarders, is dit nodig dat banke die rol van finansiële tussenganger vervul. Die rol van finansiële tussenganger lei daartoe dat ’n bank aan looptydwanbalanse blootgestel word.

Die wanbalans is nie onder normale omstandighede ’n probleem nie, maar lei tot probleme indien daar ’n vertrouenskrisis by banke ontstaan. ’n Verlies aan vertroue in banke kan tot ’n grootskaalse onttrekking van deposito’s lei. Dit kan weer tot likiditeits- probleme aanleiding gee. In die proses kan die solvabiliteit van banke in gedrang kom.

Omdat die ineenstorting van een bank tot ’n sistemiese bankkrisis kan aanleiding gee, is dit belangrik dat banke gereguleer moet word.

Banke speel ook ’n belangrike rol in die betalingstelsel van ’n land. Die ineenstorting van een bank kan die betalingstelsel van die ekonomie ontwrig. Banke dien as kanaal vir monetêre beleid en as skakel tussen die sentrale bank en die reële ekonomie. Indien daar probleme met banke is, kan dit die implementering van monetêre beleid benadeel.

Die regulering van banke is ook ’n openbare beleidsvraagstuk, omdat die regulering van banke se eksternaliteite het, wat die inmening van die regering noodsaak. Die belangrike rolle van banke in die ekonomie veroorsaak daarom dat banke wel gereguleer moet word.

Met die regulering van banke moet daar ’n balans gevind word tussen stabiliteit en effektiwiteit. Die keuse wat die reguleerders sal uitoefen, hang grootliks af van die huidige stand van die gesondheid van die bankstelsel in ’n betrokke land. Indien daar ’n vertrouenskrisis is, sal die reguleerders ’n keuse ten gunste van stabiliteit uitoefen. Daar sal dan ’n meer gereguleerde benadering tot die banke gevolg word. Die benadering kan die verskaffing van depositoversekering insluit. Voorstanders van groter effektiwiteit in die regulering van banke is ten gunste daarvan dat markkragte gebruik moet word om banke te reguleer. Hierdie balans wat gevind moet word tussen stabiliteit en effektiwiteit, kom ook na vore in die debat rondom die verskaffing van depositoversekering aan banke.

Dit moet ook gemeld word dat die voorstanders van ’n meer gereguleerde benadering en die voorstanders van ’n meer markgerigte benadering dieselfde doelwitte nastreef. Daar bestaan die gevaar dat die regulering van banke tot negatiewe optrede deur banke kan lei, wat die voordele van die regulering kan kanselleer.

Een van die hoofredes wat aangevoer word waarom banke gereguleer moet word, is die feit dat banke depositoversekering kan ontvang as daar ’n vertrouenskrisis ontstaan. Die rede waarom banke gereguleer moet word, is om die koste vir die belastingbetalers van ’n land vir die verskaffing van depositoversekering in bankkrisisse te beperk.

Die probleem is dat daar sekere insentiefprobleme met die verskaffing van depositoversekering aan banke bestaan, as gevolg van die inligtingasimmetrie tussen die reguleerders en banke. Dit gee aanleiding tot die probleme van ongunstige keuse en morele gevaar en die agentskapsprobleem.

Indien die reguleerder ’n keuse ten gunste van stabiliteit uitoefen, is dit nie nodig om aandag te gee aan die probleme van ongunstige keuse en morele gevaar nie. Onder normale omstandighede, as daar nie bankkrisisse voorkom nie, sal die reguleerders probeer om die negatiewe eksternaliteite van depositoversekering te minimiseer. Die eksternaliteite sal geminimiseer word deur die stelsel van depositoversekering aan te pas.

Daar kan ook gepoog word om die risikopremies wat vir depositoversekering betaal word meer markgerig te maak. Indien die depositoversekering teen ’n goedkoper koers as wat

dit in die mark bekom kan word verskaf word, dien dit as ’n subsidie aan die bank. Dit kan die banke aanmoedig om meer risiko te neem om die waarde van die subsidie aan die bank te maksimeer.

Indien die markgerigte benadering tot die hantering van morele gevaar nie die gewenste uitwerking het nie, kan die probleem ook aangespreek word deur banktoesighouding en die regulering van banke. Banke kan byvoorbeeld verplig word om ’n sekere minimum kapitaalvereiste te hou. Die sentrale bank kan ook poog om te reël dat die bank met likiditeitsprobleme ondersteun word deur ander banke in die stelsel wat surplus likiditeit beskikbaar het.

Van die ander maniere wat aangewend kan word om die probleem van morele gevaar te oorkom, is om onversekerde gesekureerde skuldbriewe uit te reik.

In die balans wat daar tussen effektiwiteit en stabiliteit gevind moet word, is daar onder die voorstanders van effektiwiteit in die regulering van banke, ook voorstanders vir ’n laissez-faire-benadering tot die regulering van banke. Die voorstanders van die laissez- faire-stelsel vir die regulering van banke voorsien geen rol vir die sentrale bank in die regulering van banke nie. Volgens die benadering is die inmenging van die sentrale bank ’n negatiewe eksternaliteit wat ’n koste vir die ekonomie inhou. Dit is ’n koste wat volgens die voorstanders van die benadering vermy kan word. Dit is in die hoofstuk aangetoon dat die laissez faire-bankstelsel ook aan gebreke onderworpe is wat dui op ’n behoefte aan regulering. Dit is te betwyfel of ’n laissez-faire-bankstelsel ’n sistemiese

bankkrisis sal kan hanteer. Die gevolgtrekking is dat daar na ’n kombinasie tussen die suiwer reguleringskool en die laissez-faire-benadering in regulering van banke gesoek moet word.

Dit is duidelik dat daar in die regulering van banke ’n fyn balans gevind moet word tussen die openbare oogmerk van finansiële stabiliteit, markdissipline, die beskerming van die onversekerde deposante en die ordelike sluit van insolvente banke onder sekere omstandighede. In die proses word daar gepoog om die negatiewe eksternaliteite van bankineenstortings en negatiewe insentiefeffekte van depositoversekering uit te skakel. Daar word ook gepoog om in die regulering van banke so ver moontlik van markdissipline gebruik te maak om die banke te dwing om korrek op te tree.

Dit ook belangrik dat die koste van regulering in ag geneem word wanneer daar besin word of banke gereguleer moet word of nie. Indien die koste van regulering te hoog is, is daar die moontlikheid dat dit finansiële disintermediasie kan verhoog. Dit sal negatief inwerk op die hoofoogmerk van die regulering van banke, naamlik om ’n veilige en gesonde bankstelsel daar te stel.

Dit is ook in die hoofstuk aangetoon dat die ontwikkelinge in die internasionale finansiële markte daartoe gelei het dat die regulering van banke meer markgerig moes word. Die rede hiervoor is dat dit nie meer vir reguleerders moontlik is om die transaksies van banke te reguleer nie. Die klem moet nou eerder val op die regulering van die effektiewe risikobestuurspraktyke van banke.

Die gevolgtrekking dat banke wel gereguleer moet word en dat die regulering so effektief as moontlik moet wees, sonder om die sistemiese stabiliteit van die bankstelsel in gevaar te stel, dien as basis vir die res van die studie.

In die volgende hoofstuk sal daar ondersoek ingestel word na die redes waarom daar steeds bankkrisisse voorgekom het, ten spyte van die feit dat banke formeel in die verskillende lande gereguleer word.

Hoofstuk 3

Die oorsake en invloed van internasionale bankkrisisse op die regulering van banke

3.1 Inleiding

Dit is belangrik dat die regulering van banke markgerig moet wees om die koste van regulering vir die ekonomie te beperk. Die bankstelsel se stabiliteit moet gewaarborg word sonder om die effektiwiteit van die bankstelsel in gedrang te bring. Een van die lesse wat uit die hantering van bankkrisisse geleer is, is die feit dat bankreguleerders dikwels voor dieselfde keuse gestel word: ’n keuse tussen stabiliteit en effektiwiteit. Daar is dan ook voorstanders van elk: dié ten gunste van ’n meer gereguleerde benadering teenoor die voorstanders van vrye banke. Die reguleerder kan of die krisis oorlaat aan die markte om opgelos te word of die reguleerder kan self inmeng om die stabiliteit van die bankstelsel te waarborg.

Banke word reeds die afgelope paar dekades in verskillende lande op verskillende maniere gereguleer. In Amerika is die Glass-Steagall-wetgewing reeds in die dertigerjare aanvaar in ’n poging om die vlaag van bankineenstortings te verminder. Daar is ook depositoversekering ingestel om deposante in Amerika teen die ineenstorting van banke te beskerm.

In die meeste lande is banke ook onderworpe aan regulasies wat die hoeveelheid kapitaal wat gehou moet word, bepaal. Die Bank vir Internasionale Verrekeninge het in 1974 die

Baselse Konkordaat ingestel om banke te reguleer. Die maatreëls om die kapitaal van banke te reguleer, is in 1988 verder verfyn met die inwerkingstelling van die 1988 Basel Ooreenkoms. Volgens die ooreenkoms moet alle internasionale aktiewe banke ten minste 8 persent risiko-geweegde kapitaal hou.

Ten spyte van al die maatreëls is die wêreldekonomie nog steeds onderworpe aan verskeie bankkrisisse. Goldstein en Turner (1996:5) toon aan dat bankkrisisse baie algemeen geword het. Lindgren, Garcia en Saal (1996:1) het bevind dat in die periode van 1980-1996 substansiële bankkrisisse in driekwart van die IMF se lidlande voorgekom het. Bankkrisisse het in altesaam 130 IMF-lidlande voorgekom. Die voorkoms van bankkrisisse in die tagtigerjare was ook baie hoër as in die sewentigerjare. Soos wat daar deur die FDVK aangetoon is, was daar omtrent geen bankkrisisse in die vyftiger- en sestigerjare nie.

Dit is belangrik om bewus te wees van die oorsake van die onlangse bankkrisisse, omdat dit kan help om te voorkom dat die krisisse weer voorkom (Claessens, 2001:277). As die oorsake van bankkrisisse bekend is, kan dit ook banktoesighouers help om proaktief op te tree om toekomstige bankkrisisse te voorkom. As die oorsake van bankkrisisse bekend is, help dit ook in die hantering van bankkrisisse wat wel voorkom.

Wanneer die oorsake van bankkrisisse bestudeer word, is dit belangrik om te onderskei tussen bankepidemies wat onderskeidelik deur makroekonomiese en deur mikroekonomiese oorsake veroorsaak is (Goldstein en Turner, 1996:8). Baie van die

mikroekonomiese probleme wat banke ondervind, word ook deur die ontydige inmenging van regerings veroorsaak (Honohan, 1997:1). Bankkrisisse kan ook deur buitengewone veranderinge in makroekonomiese veranderlikes soos wisselkoerse en rentekoerse veroorsaak word.

Die doel van die hoofstuk is om die oorsake en oplossings vir die probleem van bankkrisisse te identifiseer. Die gevolgtrekkings wat gemaak kan word uit die lesse wat geleer word in Hoofstuk 3 sal dan gebruik word om in Hoofstuk 4 aanbevelings te maak oor die maniere waarop die kapitaal van banke gereguleer moet word.

In die eerste gedeelte van die hoofstuk sal daar aandag gegee word aan die meer algemene oorsake van bankkrissise soos die rol van reguleringslaksheid, verwante uitlening, die rol van eiendom en die inmenging van regerings in die aktiwiteite van banke. Daar sal ook tweedens aandag gegee word aan die impak wat globalisering op die regulering van banke en bankkrisisse gehad het.