• No results found

Die deposante verteenwoordiger-argument

2.3 Redes vir die regulering van banke

2.3.6 Die deposante verteenwoordiger-argument

Die feit dat banke ’n looptydwanbalans tussen korttermynbates en langtermynlaste het, word beskou as een van die sistemiese redes waarom banke gereguleer moet word.

Dewatripont en Tirole (1993a en 1993b) soos aangehaal deur Santos (2000:10) verskaf die verteenwoordiger hipotese as rede vir die regulering van banke. Die hipotese bou op die korporatiewe bestuursprobleme wat ontstaan as die eienaarskap van ’n bank van die bestuur van ’n bank geskei word. Die hipotese bou ook op die onvermoë van deposante om ’n bank te monitor.

Soos wat dit in die hoofstuk aangetoon is, is banke aan morele gevaar4 onderworpe. Dit is dus vir beleggers belangrik om die bank te monitor (Santos, 2000:10). Dit is egter ’n duur proses vir deposante om banke te monitor. Die rede hiervoor is omdat daar baie inligting nodig is om die bank te monitor. Dit is verder ’n vermorsing om die monitering deur verskeie partye te laat doen.

4 Morele gevaar word volledig later in die hoofstuk bespreek. Morele gevaar is die gevaar dat banke groter risiko’s sal neem met depositoversekering as sonder depositoversekering. Die rede hiervoor is dat die

In die geval van ’n bank word die probleem van monitering vererger deur die feit dat die laste van ’n bank meestal deur asimmetriese oningeligte deposante gehou word. Die deposante beskik nie oor die nodige inligting om banke effektief te monitor nie. Baie van die deposante hou klein bedrae by banke aan wat dit nie die moeite werd sal maak om die bank persoonlik te monitor nie. Hierdie negatiewe eksternaliteit5 verskaf die behoefte aan ’n private of openbare verteenwoordiger van deposante. Die rede hiervoor is dat die kleiner deposante ook verwyderd is van die eienaarskap van die banke en daarom nie ’n groot impak op die bestuur van banke kan uitoefen nie. Die kleiner deposante is dus nie in ’n posisie om die banke effektief te monitor nie. Die behoefte kan deur regulering aangespreek word, aangesien dit dieselfde kontrole en monitering kan verskaf wat deposante met genoegsame inligting, gesofistikeerd en ten volle gekoördineerd, sou verskaf.

Pierce (1991:90) ondersteun die argument dat dit dikwels vir deposante moeilik is om banke effektief te monitor en te beïnvloed. Die reguleerders tree op as agent vir die bankdeposante en -krediteure wat nie self die funksie kan vervul nie. Garcia (2000a:5) ondersteun vir Pierce deur daarop te wys dat ’n private depositoversekeringstelsel nie werkbaar is nie. Volgens Pierce (1991:91) is daar bepaalde voordele om die funksie van die regulering van banke by die regering of sentrale bank te sentraliseer:

 Daar is eerstens skaalvoordele verbonde aan die sentralisering van regulering. Die banktoesighouers kan beter ondervinding en kennis versamel wat nodig is om banke

5 “Free riding”.

te reguleer. Dit is onprakties vir deposante om self deur hierdie proses te gaan. Dit geld veral vir deposante wat klein bedrae hou.

 Die sentralisering van regulering maak dit ook moontlik om eenvormige standaarde vir die regulering en banktoesighouding van banke daar te stel. Die regering kan eenvormige inligting van al die banke bekom, sonder om die vertroulike inligting van banke se kliënte bekend te maak.

 Die regering is ook in ’n regsposisie om banke te dwing om hulle optrede te verander.  Die individuele deposant het beperkte middele tot sy beskikking om ’n bank te

beïnvloed. Die enigste gesag wat deposante oor ’n bank het, is deur sy geld te onttrek of om te dreig om die geld te onttrek. Pierce (1991:91) kritiseer ook regerings in die algemeen vir die feit dat hulle nie belangrike inligting oor banke bekend wil maak sodat die publiek die banke self beter kan beoordeel nie. Volgens hom het die openbaarmaking van inligting so verbeter dat regerings nie meer noodwendig ’n voordeel het in die uitvoer van die bepaalde funksie nie. Pierce gee egter toe dat die amptenare wat verantwoordelik is vir banktoesighouding op die stadium nog ’n voordeel het in terme van die inligting wat verkry word van banke.

 Volgens Garcia (2000a:5) kan ’n stelsel van depositoversekering net suksesvol wees as dit finansieel gesond is. Die publiek moet weet wie vir die verantwoordelikhede van die depositoversekeringsfonds gaan instaan as dit insolvent of illikied raak. Private depositoversekeringsfondse het die probleem dat hulle in geval van probleme nie noodwendig die waarborg van die regering het nie. In gevalle waar die fonds wel die waarborg het dat die regering hulle sal ondersteun, kan dit gebeur dat die private depositoversekeringsfonds die depositoversekeringspremies te laag stel, omdat hulle

weet dat die regering hulle sal red. Dit is daarom belangrik dat ’n staatsliggaam die depositoversekeringsfonds bestuur om die openbare belang en koste vir die belastingbetaler te minimiseer (Garcia, 2000a: 5).

Die bekendmaking van inligting word in sommige gevalle verhinder deur die feit dat banke se mededingers moontlik strategiese inligting kan bekom as hulle gedwing word om alle inligting bekend te maak

Sheng (1997:2) baseer die argument ten gunste van die regering as verteenwoordiger van deposante en beleggers in die monitering van banke op die “widows and orphans” argument. Sheng toon aan dat swak asimmetries-ingeligte kliënte regulering nodig het, omdat hulle nie in staat is om die riskantheid van die finansiële instellings waarmee hulle sake doen te evalueer nie. Die mark voorsien nie die inligting wat nodig is vir markdeelnemers om self die banke waarmee hulle sake doen te monitor nie. Die feit dat die regering as verteenwoordiger moet optree, is die direkte gevolg van die feit dat die mark nie optimaal opereer nie.

Die gevolge van die argument vir ’n onversekerde bank6 is dat die bank die koste sal dra

van die deposante en beleggers se vrese dat die bank ineen kan stort. Dit sal die bank baat om meer inligting soos in geouditeerde finansiële state en graderingsagentskappe bekend te maak. Dit was inderdaad die geval in Amerika voor die totstandkoming van die Federale Depositoversekeringskorporasie (FDVK) in Amerika in die dertigerjare.

Die feit dat beleggers en deposante dit moeilik vind om banke te beoordeel is een van die teenargumente wat later in die hoofstuk aangevoer sal word as een van die nadele van ’n vrye bankstelsel.

Uit die bespreking is dit duidelik dat die asimmetriese oningeligte deposante van banke in ’n nadelige posisie is om effektiewe monitering op banke uit te oefen. As die deposante wel self die banke monitor en op grond van die monitering ’n stormloop op ’n bank maak, neem die deposante ook nie die sistemiese impak van die ineenstorting op die bankstelsel in ag nie. Die argumente lei daartoe dat dit meer effektief is om die banke te laat reguleer.