• No results found

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se hantering van die Bankorp probleem

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

3.5 Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se hantering van die Bankorp probleem

Die grootste bankkrisis in Suid-Afrika was die Bankorpkrisis van die tagtigerjare. In die hantering van die bankkrisisse moes die Suid-Afrikaanse Reserwebank ook ’n keuse uitoefen tussen stabiliteit en doeltreffendheid. Soos wat daar in die bespreking aangetoon sal word, het die Suid-Afrikaanse Reserwebank ’n keuse ten opsigte van stabiliteit uitgeoefen. Die hantering van die Bankorpkrisis toon ook duidelik die nadele van ’n beleid van regulerende laksheid aan.

In hierdie gedeelte van die hoofstuk gaan daar ’n oorsig gegee word oor die hantering van die Bankorp-krisis. In die evaluering van die hantering van die krisis sal daar aangetoon word dat Bankorp ’n voorbeeld van regulerende laksheid was. Die bank was voortdurend ondersteuning en geleenthede gegee om homself uit die probleem te probeer bestuur. Soos wat daar later aangetoon sal word, het die regulerende laksheid ’n koste van R1125 miljoen ingehou.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het reeds in die tagtigerjare vir banke gevra om hulle kredietverlening in te perk. Bankorp het in ’n mate probeer om hom uit die probleem uit te bestuur. In die Jaarverslag van 1991 word dit gestel dat die bank se bates met 8.5 persent gedaal het wat naby aan die verhouding van 10 persent is wat die bank aan homself as doelwit gestel het. Op 1 Augustus 1990 is ’n vergadering tussen die Suid- Afrikaanse Reserwebank en die bestuur van Bankorp gehou waar dit duidelik gemaak is dat die bank nie meer aan die Bankwet voldoen nie. Daar moes ook voorsiening gemaak

word vir die afskryf van ’n lening van R1 miljard (Suid-Afrikaanse Reserwebank, 2002b:35).

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank kon dit ook oorweeg het om selfs net tydelik spesifieke beperkings op die groei van lenings te plaas. Honohan (1997:21) wys daarop dat die beperking van leningsgroei deur middel van regulering nie suksesvol is nie, omdat banke die regulasies omseil. In ’n literatuurstudie het Honohan wel gevind dat daar ’n terugbeweeg is na die herregulering van die spoed waarteen ’n bank se bates groei. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank kon dus sukses behaal het as die leningsgroei van Bankorp beperk was. Soos reeds in die hoofstuk aangetoon is, is dit belangrik dat daar aandag gegee word aan die spoed van leningsgroei, omdat dit kan lei tot bankkrisisse en sistemiese krisisse.

Alhoewel dit na die tyd maklik is om die hantering van die Bankorpgeval te kritiseer, was die optrede van die Suid-Afrikaanse Reserwebank in lyn met die optrede van die reguleerders in Amerika in die 1980’s met die hantering van die spaar- en leningskrisis. Die spaar- en leningskrisis is ook hanteer deur middel van regulerende laksheid met dieselfde nadelige koste-implikasies.

3.5.1 Bankorp en spoedige korrektiewe aksie

Wetgewing met betrekking tot spoedige korrektiewe aksie is in 1991 in Amerika aanvaar. Die doel van die wetgewing was om reguleringslaksheid te verminder deur meer tydige

en minder diskresionêre inmeniging deur die bankreguleerders moontlik te maak (FDVK, 1998:30). Die doel van die wetgewing was om die koste van bankineenstortings vir die ekonomie en die regering te verminder.

Die FDICIA het vyf kapitaalkategorieë aanvaar vanaf goed gekapitaliseerd tot krities ondergekapitaliseerd. Hierdie kapitaalkategorieë moes as basis dien vir spoedige korrektiewe aksie deur die bankreguleerders. Volgens die FDICIA neem die aksies wat reguleerders neem in erns toe soos wat die bank se kapitaalgenoegsaamheid daal. Die aksies wissel van die beperking van bategroei vir banke wat as ongekapitaliseerd beskou word, tot die sluit van instellings wat vir ’n kritiese tydperk ondergekapitaliseerd is. Instellings wat as krities ondergekapitaliseerd beskou word, het twee persent of minder kapitaal gehou.

In hierdie gedeelte van die hoofstuk gaan ondersoek ingestel word na wat die effek van spoedige korrektiewe aksie op Bankorp sou gewees het. Die evaluering kan nooit absoluut wees nie, omdat die bestuur van Bankorp anders sou optree indien spoedige korrektiewe aksie die beleid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank was.

In die bespreking van die hantering van Bankorp moet dit in gedagte gehou word dat die ineenstorting van Bankorp kon lei tot ’n sistemiese bankkrisis in Suid-Afrika. Dit was belangrik vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank gewees om die probleem aan te spreek sonder om die vertroue in die bankstelsel in gevaar te stel. Dr. Chris Stals het dit in sy getuienis voor die Tollgate-kommissie gestel dat dit die SuidAfrikaanse Reserwebank se

beleid is om finansiële ondersteuning aan probleembanke te beperk, behalwe in gevalle waar dit blyk dat daar ’n gevaar is dat die probleem deur middel van aansteeklikheid in ’n sistemiese krisis kan ontaard (Suid-Afrikaanse Reserwebank, 2002b:52). Dr. Stals het dit ook gestel dat die lenings wat aan probleembanke gegee word onderhewig gestel word aan sekere regstellende stappe, soos dat daar ’n verandering in eienaarskap, of senior bestuur of selfs die struktuur van die bank moet wees. Dit was nie ’n geval dat die lenings aan Bankorp gegee is sonder om enige teenprestasie van Bankorp te verwag nie.

i) Die kapitaalgenoegsaamheid van Bankorp

In die lig van die feit dat die spoedige korrektiewe aksie-maatreëls gebaseer is op die kapitaalvlakke van banke, is dit belangrik om eers ondersoek in te stel na die kapitaalvlakke van wat Bankorp gehou het.

Verskeie pogings is aangewend om die vlakke van kapitaal te verkry wat Bankorp in werklikheid gehou het. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se banktoesighoudings- departement was nie bereid om die inligting te verskaf nie as gevolg van die vertrouensverhouding wat daar tussen die banke en die reguleerders bestaan. ’n Senior bestuurder van ABSA is ook genader om die inligting te verskaf. Tot op hede is die inligting nog nie ontvang nie.

Daar moet ook in ag geneem word dat die 1988 Basel Ooreenkoms nog nie geïmplementeer was tydens die Bankorpkrisis nie. Die banke in Suid-Afrika was toe ook

nog gereguleer deur die Bankwet van 1965 (No 23 van 1965). Die wet het sekere omsigtige en monetêre beleidsvereistes voorgeskryf waaraan Suid-Afrikaanse banke moes voldoen. Die kapitaalgenoegsaamheidsvereistes en likiede batevereistes was die sogenaamde omsigtige vereistes. Die minimum kontantreserwevereistes was hoofsaaklik ’n monetêre beleidsbeheerinstrument (Falkena, Fourie en Kok, 1984:65).

Volgens Falkena, Fourie en Kok (1984:65) moes banke die hoogste van of R200 000 of 6 persent van die banke se laste aan die publiek as kapitaal hou, plus 4 persent van die laste as gevolg van aksepte.

ii) Die moontlike impak van spoedige korrektiewe aksie in die hantering van Bankorp

Soos reeds aangetoon is, was een van die hoofoorsake van Bankorp se probleme die groot groei wat nagestreef is. Die groei is hoofsaaklik bereik deur oornames. Die Reserwebank het wel twee keer amptelik sy bekommernis oor die groei uitgespreek (Suid-Afrikaanse Reserwebank, 2002 (b): 32).

Ter verdediging van die besorgdheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank kan dit genoem word dat die ineenstorting van Bankorp tot ’n sistemiese bankkrisis kon aanleiding gee. Suid-Afrika was in die tagtigerjare nog onderworpe aan ’n abnormale ekonomiese situasie met die grootskaalse uitvloei van kapitaal. Die ineenstorting van Bankorp sou die vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie verder skaad en dit kon tot