• No results found

Bankkrisisse as gevolg van swak bestuur

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

3.2 Die oorsake van bankkrisisse

3.2.5 Bankkrisisse as gevolg van swak bestuur

In ’n ondersoek na bankkrisisse het De Juan (1995), soos aangehaal in Honohan (1997:5), bevind dat die eenvoudigste verklaring vir die krisisse swak bestuur was. Ander voorbeelde kan ook gevind word in die probleme wat Indonesiese banke in 1996 ondervind het.

Hawkins en Turner (1999: 16) beskou swak bankbestuurspraktyke as die mikro- ekonomiese oorsake van bankkrisisse. Dit sluit probleme in soos die hou van onvoldoende kapitaal, ’n swak leningsbeleid, die onvoldoende evaluering van kredietrisiko, ’n ongediversifiseerde leningsboek en verwante uitlening. Dit sluit ook valuta- en looptydwanbalanse in. Hawkins en Turner (1999:17) identifiseer ook prinsipaal-agent insentiefprobleme, soos byvoorbeeld dat leningsbeamptes vergoed word vir die hoeveelheid lenings wat toegestaan word, sonder om noodwendig aandag te gee aan die risiko wat dit vir die bank inhou. Die banke in staatsbesit het ook dikwels die probleem dat hulle te veel personeel aanstel. Dit gebeur ook in banke dat die gebruik van tegnologie teengestaan word deur die vakbonde.

In die geval van individuele banke wys die ineenstorting dikwels terug na swak leningsbesluite gebaseer op ooroptimistiese evaluerings van die kliënte se kredietwaardigheid en bereidwilligheid om te betaal. Dit kan ook op gekonsentreerde lenings aan bepaalde sektore in die ekonomie of kliënte dui. Die bank kan ook vinniger

krediet toestaan as wat die bank kan hanteer. Die bank kan ook probleme ondervind, omdat hy nie in staat is om sy wanpresterende lenings in te vorder nie.

Latter (1997:24) ondersteun hierdie siening van Honohan, deur daarop te wys dat die onakkurate bepaling van kredietrisiko as dié belangrikste oorsaak van bankkrisisse beskou kan word. Die swak kredietevaluering kan ook lei tot die probleem van ongunstige kredietseleksie. Die banke kan in die versoeking beland om krediet te weier aan die meer versigtige leners wat nie bereid is om ’n hoë rentekoers te betaal nie en om eerder geld te leen aan meer spekulatiewe leners wat hoër rentekoerse sal betaal. Die probleem is egter dat die risiko van wanbetaling buitengewoon hoog is by laasgenoemde groep leners (Latter, 1997:25).

Soos wat daar in Hoofstuk 2 aangetoon is, kan baie van die probleme met riskante lenings toegeskryf word aan die feit dat die deposante van die banke deur depositoversekering beskerm word. As die deposante nie depositoversekering gehad het nie sou hulle ekstra inkomste of rente vereis het om voorsiening te maak vir die riskantheid van die portefeulje wat die bank hou (Honohan,1997:5).

Daar moet ook ’n onderskeid getref word tussen die neem van ekstra risiko en berowing (“looting”) (Akerlof en Romer, 1993). Berowing vind plaas wanneer die bestuur van banke die tydperk tussen die ontvang van die deposito’s en die ineenstorting van die banke gebruik om die geld vir ander eie gebruike te kanaliseer. ’n Voorbeeld hiervan is as die bestuur geld aan eiendomsontwikkelaars leen om grond van die eienaars van die

bank teen verhoogde pryse te koop. Selfs al is die eiendomsontwikkeling nie ’n sukses nie en kan die lening nie aan die bank terugbetaal word nie, het die eienaars van die bank steeds voordeel getrek uit die toestaan van die lening.

’n Gemeenskaplike kenmerk van die probleem is dié van verwante uitlening wat plaasvind. Alhoewel daar regulasies in die meeste lande is wat verwante uitlening verbied, word die regulasies omseil en geïgnoreer (Honohan,1997:5). Dit gebeur dat selfs suksesvolle banke gestig word om goedkoop finansiering aan die stigters van banke te verskaf. Die probleem hiermee is dat die projekte wat deur die bank gefinansier word nie aan die dissipline onderworpe is om finansiering van ’n onafhanklike bank te bekom nie. ’n Onafhanklike bank sal die projekte se lewensvatbaarheid baie meer krities ondersoek as wat die geval is met die finansiering deur ’n bank wat aan die eienaars van die projek behoort.

Ander nie-leningsprobleme kan ook aan swak bestuur toegeskryf word (Honohan,1997:5). Banke kan byvoorbeeld oop riskante buitelandse valutaposisies aangaan om voordeel te trek uit rentekoersverskille tussen lande. Die bank is dan onnodig aan valutarisiko blootgestel. Volgens Garber (1995) aangehaal in Honohan (1997:5) het Meksikaanse banke om dié rede in 1994 buitelandse valutaposisies aanvaar.

Die banke het ook van komplekse afgeleide instrumente gebruik gemaak om die ware aard van die buitelandse valutaposisies vir die reguleerder te verberg. Banke kan ook poog om van die valutarisiko te verskans deur lenings in buitelandse valuta aan leners te

maak. Die probleem is dat baie van die leners nie ’n grootskaalse devaluasie kan oorleef nie. Die wisselkoersrisiko is dus nie verskans nie, maar bloot in kredietrisiko omgeskakel.

Sielkundige verklarings vir die probleem word “disaster myopia” genoem waar die bestuurder nie behoorlik aandag gee aan omstandighede wat ’n klein waarskynlikheid het om voor te kom nie (Honohan, 1997:4). Die omstandighede kan selfs beduidend wees, maar word nie in die daaglikse bestuur van die bank in berekening gebring nie.

Latter (1997:24) wys verder daarop dat verkeerde strategie deur die bestuur van banke ook aanleiding tot bankkrisisse kan gee. Die bestuur kan byvoorbeeld foutiewelik te vinnig probeer uitbrei in nuwe geografiese en produkareas. Die bestuur kan ook te lank wag om die personeel in die bank te verminder, ’n nuwe bestuurskultuur te skep of om inligtingstegnologie effektief te gebruik (Latter, 1997:24). Hierdie interne probleme kan dan tot bankkrisisse aanleiding gee.

Bankregulering en banktoesighouding het reeds goed aangepas om die nadele van die tipe bestuursprobleme te ondervang. ’n Bankkrisis wat toegeskryf word aan swak bestuur kan net sowel toegeskryf word aan swak banktoesighouding. Die probleem is dikwels nie dat die banktoesighouers nie bewus was van die probleme nie, maar dat die politieke mag van die eienaars dit vir hulle onmoontlik maak om sonder baie duidelike bewyse op te tree (Honohan, 1997:6). Latter (1997:22) wys daarop dat ’n bankkrisis nooit deur banktoesighouding veroorsaak kan word nie. Daar moet reeds ’n ander probleem met die

bank wees, wat dalk deur die banktoesighouers oorgesien is, wat die ondergang van die bank kan veroorsaak.