• No results found

Die openbare beleidsoogmerke met depositoversekering

2.4 Die debat tussen voorstanders en teëstanders van regulering

2.5.1 Die openbare beleidsoogmerke met depositoversekering

Voordat daar aandag gegee kan word aan die probleem van morele gevaar by depositoversekering is dit belangrik om eers kennis te neem van die openbare beleidsoogmerke wat depositoversekering noodsaak. Volgens die Finansiële Stabiliteitsforum (FSF) (2001b:2) is daar drie openbare hoofoogmerke met deposito- versekering, naamlik die stabiliteit van die finansiële stelsel, die beskerming van die

a. Die bydrae van depositoversekering tot die stabiliteit van die finansiële stelsel

Daar is reeds in hierdie hoofstuk aangetoon dat daar ’n asimmetrie tussen leners en uitleners bestaan. Hierdie inligtingasimmetrie veroorsaak dat banke blootgestel is aan finansiële krisisse. Die stabiliteit van die finansiële stelsel is baie belangrik, omdat ’n verlies aan vertroue in die stelsel tot bankstormlope deur deposante kan lei.

i) Die minimisering van die risiko van bankstormlope

Een van die algemeenste doelwitte wat vir depositoversekering gestel word, is die voorkoming of die hantering van sistemiese bankkrisisse (Garcia, 2000a:2). Sonder depositoversekering bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat deposante hulle deposito’s uit banke kan onttrek as daar werklike of verwagte probleme by banke ontstaan. Omdat deposante nie noodwendig voldoende inligting beskikbaar het om tussen gesonde en insolvente banke te onderskei nie, kan dit gebeur dat daar ook stormlope by ander banke kan plaasvind. Dit word die aansteeklikheidseffek genoem (FSF, 2001b:2).

Greenspan (2000:3) wys daarop dat die kombinasie van die lener-in-laaste-instansie funksie van die Federale Reserweraad, en die depositoversekering wat banke in Amerika ontvang het, grootliks bygedra het tot die finansiële stabiliteit in die bankstelsel. Die stabiliteit het egter nie sonder koste gepaardgegaan nie. Die federale veiligheidsnet verminder die insentief vir die private regulering van banke. Dit lei ook daartoe dat banke meer risiko neem.

Die vermoë van die stelsel van depositoversekering om stormlope te voorkom, hang af van deposante se sienings van die ondersteuning wat hulle moontlik kan verwag in tye van bankkrisisse. Die vlak van ondersteuning, die spoed waarteen versekerde deposito’s uitbetaal sal word en die geloofwaardigheid van die waarborg sal die bydrae van depositoversekering tot finansiële stabiliteit bepaal.

Soos weldra aangetoon sal word, veroorsaak ’n oorhoofse algemene stelsel van depositoversekering (“blanket guarantee”) probleme om markdissipline te handhaaf. Hierdie volle depositoversekering sal volgens Garcia (2000a:1) soveel probleme met morele gevaar veroorsaak, dat dit nie realisties is om te verwag dat depositoversekering bankkrisisse noodwendig altyd sal kan voorkom nie. Op die lang termyn kan finansiële stabiliteit gedien word deur die vlak van depositoversekering te verminder en die banke meer onderhewig aan markdissipline te maak.

Daar sal in die res van hierdie hoofstuk aangetoon word dat daar in die beplanning van ’n stelsel van depositoversekering ’n fyn balans moet wees tussen die oogmerk van finansiële stabiliteit en die markdissipline wat op banke uitgeoefen word. Die twee oogmerke van finansiële stabiliteit en markdissipline het beide ten doel om ’n veilige en gesonde bankstelsel te verseker, maar staan teenoor mekaar in die bereiking van die doelwit.

Dit moet ook gemeld word dat depositoversekering alleen nie genoegsaam is om bankkrisisse te voorkom nie. Depositoversekering moet gesien word as onderdeel van ’n

oorhoofse strategie om banke te reguleer. Die strategie sluit die regulering en banktoesighouding van banke, die lener-in-laaste-instansie en depositoversekering in (Garcia, 2000a:1). In Hoofstuk 3 sal aangetoon word dat die regering se makroekonomiese beleid ook ’n rol speel in die skep van ’n veilige en gesonde bankstelsel.

ii) Die bydrae van depositoversekering tot die funksionering van die betalingstelsel

Die bydrae van depositoversekering tot finansiële stabiliteit kan gesien word in die effektiewe funksionering van die betalingstelsel. Finansiële intermediasie deur banke gee vir deposante die geleentheid om hulle geld te spaar en te onttrek soos wat dit benodig word. Vir die betalingstelsel om effektief te funksioneer, is dit belangrik dat deposante die vertroue moet hê dat hulle deposito’s net so veilig soos kontant is.

Depositoversekering kan ook die betalings van probleeminstellings waarborg om die betalingstelsel te beskerm. Daar is reeds aangetoon dat die verrekening van tjeks probleme kan veroorsaak as een van die twee banke in ’n transaksie probleme ondervind. As die depositoversekeringsagentskap egter die probleembank van likiditeit voorsien, sal dit nie die betalingstelsel benadeel nie.

iii) Die beskerming van die minder gesofistikeerde deposante

Een van die oogmerke van ’n stelsel van depositoversekering is die beskerming van die minder gesofistikeerde deposante (FSF, 2001b:4). Hierdie minder gesofistikeerde

deposante word deur hulle klein deposito’s onderskei van die gesofistikeerde deposante. Volgens Garcia (1999:18) geld die algemene reël dat die depositoversekering een tot twee keer die per capita BBP per persoon sal dek.

Die kleiner deposante moet om die volgende redes beskerm word:

 Depositoversekering beskerm die kleiner deposante eerstens teen die gevolge van die ineenstorting van banke.

 Tweedens, skeld depositoversekering die klein deposante vry van die taak om banke te monitor en die banke se finansiële toestand te bepaal. Weens die beperkte beskikbaarheid van inligting, is dit byna onmoontlik vir die kleiner deposante om banke te monitor. Die inligting is aan gesofistikeerde beleggers beskikbaar. Dit veroorsaak dat die kleiner deposante ’n nadeel het in terme van inligting wat beskikbaar is. Depositoversekering spreek hierdie nadeel aan. In die proses word die banke ook aan groter markdissipline onderwerp.

 Volgens Garcia (2000a:4) sal die feit dat depositoversekering die moontlikheid van stormlope deur klein deposante verminder, bydra tot finansiële stabiliteit.  Garcia wys verder daarop dat ’n poel van klein, stabiele kerndeposito’s dit ook

makliker sal maak om bankkrisisse te hanteer as dit wel voorkom (Garcia, 2000a:4). Dit sal daartoe lei dat die bankstelsel as geheel meer effektief opereer, omdat banke eerder geherstruktureer as gelikwideer kan word as probleme wel voorkom.

As die hoofoogmerk van die beleid van depositoversekering is om die kleiner deposante te beskerm, moet die stelsel so ontwerp word dat die gesofistikeerde deposante steeds stormlope op insolvente banke sal kan uitoefen. Daar moet dus gepoog word om ’n balans te verkry tussen die beskerming van die kleiner deposante en die markdissipline wat op banke uitgeoefen word. Om die balans tussen die twee doelwitte te verkry, kan die bedrag van depositoversekering beperk word7.