• No results found

Die hantering van groot banke

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

3.4 Lesse en oplossing vir die bankkrisisse

3.4.5 Die hantering van groot banke

Die bankkrisisse van die tagtigerjare het die reguleerders ook voor die keuse gestel om te besluit hoe om groot banke wat in die moeilikheid beland, te hanteer. Die probleem het sy hoogtepunt bereik met die dreigende ineenstorting van Continental Illinois (Seelig (1998:24). Die gevolg van die krisis was die ontstaan van die te-groot-om-in-een-te-stort debat.

Volgens Black, Collins en Robinson (2000:42) was Continental Illinois die agtste grootste bank voor sy ineenstorting gewees, met bates van meer as $42 miljard. Ongeveer vyf en sewentig persent van die bates is deur rentekoers-sensitiewe bates gefinansier. Die styging in rentekoerse aan die begin van die tagtigerjare het dus die probleem by Continental Illinois vererger. Die owerhede het gevrees dat die ineenstorting van Continental Illinois tot sistemiese probleme in die bankstelsel kon lei. Die reguleerders was veral bekommerd dat die verlies in vertroue in die bankstelsel tot stormlope op solvente banke kon lei. Dit kon weer tot likiditeitsprobleme by die banke aanleiding gee. Soos wat reeds aangetoon is, is likiditeit die een faktor wat enige bank se voortbestaan vinnig kan bedreig.

In ’n poging om die stabiliteit van die bankstelsel te verseker, het die “Comptroller of Currency” in sy getuienis voor die kongres op 19 September 1984 aangetoon dat die elf grootste banke in Amerika te-groot-is-om-in-een-te-stort (Athavale, 2000:123). Hy het ook aangedui dat die depositos ten volle verseker was.

Die geval Continental Illinois en die optrede van die reguleerders word in detail in die literatuur bespreek. Wall (1993:7) was van mening dat die reddingsboei onnodig was. Die korrespondentbanke van Continental Illinois sou slegs klein verliese lei op die deposito’s wat gehou is. Die banke sou ook enige likiditeitsprobleme wat ondervind is, kon hanteer deur ondersteuning van die Federale Reserweraad aan te vra. In teenstelling met Wall, haal Black, Collins en Robinson (2000:42) vir Swary (1986) aan wat aangetoon het dat die ineenstorting van Continental Illinois ’n beduidende negatiewe impak op die mark gehad het. Die impak was veral groot op banke met solvabiliteitsprobleme.

Dit is ook belangrik om kennis te neem van die impak van die aankondiging van “Comptroller of Currency” op die banke wat beskou was as te-klein-om-ineen-te-stort. Die vraag wat gevra kan word, is of die hantering van Continental Illinois nie eerder tot groter oneffektiwiteit in die banksektor gelei het nie. Die banke wat nie deel gevorm het van die aankondiging nie, kon ook verwag om aan ’n dieper ondersoek onderwerp te word en om met wantroue deur die mark beskou te word (Black, Collins en Robinson, (2000:42).

Die impak van die hantering van die Continental Illinois ineenstorting op die effektiwiteit van die bankstelsel is onder andere gemeet deur te kyk na die impak op die institusionele eienaarskap van banke (Black et al., 1997:389). Daar is ook navorsing gedoen oor die mark se siening van die vermindering van banke se dividende tussen 1974 en 1991. Black, Collins en Robinson (2000:50) het die impak van Continental Illinois op die

effektiwiteit van die bankstelsel gemeet deur te kyk na die impak op die koste wat banke vir fondse moes betaal.

Die resultate van die studie was heeltemal teen die verwagting in. Black, Collins en Robinson (2000:50) het bevind dat die oneffektiwiteit van die te-groot-om-ineen-te-stort- banke na die aankondiging met 12,19 persent gestyg het. Die kleiner banke se oneffektiwiteit het slegs met 8.726 persent gestyg.

Een moontlike verklaring vir die resultate is die feit dat die te-groot-om-ineen-te-stort banke aan meer riskante bedrywighede kon deelneem, omdat hulle weet dat hulle deposante verseker is. Die mark hef egter ’n premie vir die groter riskantheid van die optrede van die banke wat nie aan depositoversekering onderworpe is nie. Die nie-te- groot-om-ineen-te-stort banke moet dus meer betaal vir hulle fondse as die kleiner onversekerde banke. Volgens O’Hara en Shaw (1990:1588) is hierdie premie wat die te- groot-om-ineen-te-stort banke nie hoef te betaal nie, deel van die welvaarteffek of subsidie van die te-groot-om-ineen-te-stort-beleid.

Hierdie welvaarteffek kan die wins van die bank verhoog as die aandeelhouers die verlaagde premie gebruik. Die verhoogde risiko wat die groot banke kan neem, behoort as ’n sekondêre effek ook die wins van die groot banke te verhoog. Die voordele geld nie vir die banke wat deur die reguleerders as te-klein-om-ineen-te-stort beskou word nie. Die mark behoort volgens ’n eenvoudige winsgebaseerde reaksiehipotese die aandeelprys

van die banke wat deel is van die die te-groot-om-ineen-te-stort-doktrine te beoordeel (O’Hara en Shaw, 1990:1589).

Die reaksie wat die mark behoort te toon is nie so eenvoudig nie. O’Hara en Shaw (1990:1589) wys daarop dat die optrede van die mark ook afhang van die mark se verwagtinge oor die optrede van die reguleerders. In lande waar daar volle depositoversekering geld, is die verwagtinge nie ’n probleem nie, omdat die optrede van die reguleerder voorspelbaar is. In ander lande waar daar net gedeeltelike depositoversekering geld, het die reguleerders ook in sommige gevalle alle deposante beskerm. Die vraag wat gevra behoort te word, is hoe ver die beskerming sal strek. In Continental Illinois se geval het die Comptroller aangedui dat die elf grootste banke gedek was. In 1991 is die 32 grootste banke in Amerika egter gered.

Indien die mark verwag dat die bank gered sal word, sal dit reeds in die bank se koste vir fondse ingereken wees en sal daar geen reaksie van die mark af wees nie. As die mark egter verwag het dat die bank gered sou word en dit gebeur nie, sal die mark negatief reageer deur ’n groter premie op deposito’s te hef (O’Hara en Shaw,1990:1589).

’n Ander welvaartseffek van die te-groot-om-ineen-te-stort-beleid is die oorsprong van die subsidie wat die te-groot-om-ineen-te-stort-banke ontvang. O’Hara en Shaw (1990:1590) haal vir Kane (1985) aan wat daarop wys dat die stelsel van deposito- versekering ’n herverdeling van goed gekapitaliseerde konserwatiewe banke na groot en riskante banke impliseer. Die rede hiervoor is dat al die banke hoër deposito-

Indien die hipotese korrek is, moet die positiewe koste van die te-groot-om-ineen-te-stort- beleid met die negatiewe koste wat dit vir die ander banke in die stelsel inhou, verminder word.

Hierdie resulate van die verskillende studies om die effektiwiteit van die te-groot-om- ineen-te-stort-beleid te bepaal, het ook ’n impak op die gebruik van bategrootte deur die “Comptroller of Currency” om te bepaal of ‘ n bank te-groot-om-ineen-te-stort is of nie (Black, Collins en Robinson, 2000:49). Die rede waarom die keuse van die banke wat deel vorm van die beleid so belangrik is, is die aanduiding dat die banke wat net nie deel vorm van die te-groot-om-ineen-te-stort beleid nie, die nadeligste deur die beleid geraak word (O’Hara en Shaw,1990:1596). Volgens O’Hara en Shaw se studie is die abnormale opbrengs baie beduidend en positief vir banke wat te-groot-is-om-ineen-te-stort, terwyl dit negatief is vir banke wat as te klein deur die reguleerders beskou word. As die reguleerders in ’n land dus arbitrêr en per geval besluit watter banke gered gaan word en watter nie, het dit beduidende welvaartseffekte vir die banksektor.

Black, Collins en Robinson (2000:50) het ook verder die impak van die Continental Illinois-debakel op die effektiwiteit van die bankstelsel in 1985 gemeet. Beide die te- groot-om-ineen-te-stort-banke en die kleiner banke se effektiwiteit het na een jaar teruggekeer na die vlakke wat dit voor die krisis was. Die resultate is ’n aanduiding dat die hoofdoelwit van die te-groot-om-ineen-te-stort beleid, naamlik om stabiliteit in die bankstelsel te verseker, wel behaal is.

Black et al. (1997:405) kom in hulle studie oor die impak van laer dividende of as dividende oorgeslaan word, tot die gevolgtrekking dat die mark se reaksie op die gebeure na die te-groot-om-ineen-te-stort-doktrine baie minder is vir groot banke, as voor die gebeure. Die beleggers was meer gesteld op die risiko-opbrengsverhouding van die te- groot-om-ineen-te-stort banke. Soos wat reeds aangetoon is, kan die banke meer riskante lenings maak en hoër opbrengste verdien. Op grond van die hoër verdienste het die beleggings in die banke na 1984 met 30 persent per jaar gegroei (Black et al., 1997:390). Hierdie neiging was in sterk teenstelling met die S&P 500 maatskappye wat op dieselfde stadium heelwat minder groei ervaar het.

Athavale (2000:125) het ook die impak van die te-groot-om-ineen-te-stort-beleid voor en na Continental Illinois gemeet. Die studie is ook herhaal vir die tydperk voor en na die Bank van England se reddingspoging in 1991. Athavale het die verskil tussen die koerse op handelspapier en onversekerde nie-verhandelbare depositosertifikate gemeet. In die 1984-oefening het die gemiddelde verskil tussen die twee koerse met vyf basispunte toegeneem. In die 1991-studie het die gemiddelde verskil met vier basispunte tussen die twee opbrengskoerse toegeneem. Die gevolgtrekking wat in beide van die studies gemaak is, was dat die mark die risikopremie vir wanbetaling vir onversekerde nie- verhandelbare depositosertifikate verminder het. In 1991 is die meting gedoen nadat die FDICIA-wetgewing reeds bekend gemaak is. Die 1991-resultate wys daarop dat die mark eerder die optrede van die reguleerders as die voorgestelde doelwit in ag geneem het by die bepaling van die premie wat op onversekerde nie-verhandelbare deposito- sertifikate betaal moet word (Athavale, 2000:126). Die studie van Athavale is ook ’n

aanduiding dat die hantering van groot banke in die verlede die mark oortuig het dat die reguleerders in die toekoms ook op dieselfde manier sal optree. Soos wat reeds in Hoofstuk 2 aangetoon is, het hierdie siening van die mark ’n negatiewe impak op markdissipline gehad.

Die hantering van bankkrisisse by groot banke is ook gekritiseer omdat die reguleerders vinniger moes optree teen die riskante bedrywighede van die banke wat tot die ineenstorting gelei het. Continental Illinois het voor 1984 baie gegroei met ’n gedesentraliseerde leningsbestuurstelsel sonder behoorlike interne risikobestuurs- maatreëls. Die groei was ook afhanklik van baie volatiele fondse. Die reguleerders wat betrokke was by Continental Illinois se toesighouding wou nie optree teen die bank terwyl dit nog winsgewend was nie. Een van die oorsake van die Continental Illinois- krisis was regulerende laksheid.

In die debat tussen stabiliteit en effektiwiteit het die reguleerders weer verkies om eerder stabiliteit bo die effektiwiteit van die bankstelsel te stel. Die reguleerders het gevoel dat dit ’n goeie besluit sou wees om die banke teen die mark te beskerm deur die onversekerde deposante ook uit te koop. Die beleid het ’n stabiliserende effek op die bankstelsel in die tagtigerjare in Amerika gehad. Soos reeds vroeër aangetoon, het die beleid nie deposante aangemoedig om die banke se optrede te monitor nie.

Die onderlinge banke het veral tot ’n groot uitdaging gelei. Met die dreigende ineenstorting van die Greenwich Spaarbank, met $2.5 miljard se bates en die derde

grootste bankineenstorting tot in 1981, is van die reguleerders voor ’n groot toets gestel (Seelig, 1998:25). Die aanvanklike geskatte koste om die krisis op te los, was dat die koste van hierdie bank meer sou wees as die totale koste van alle ander bankineenstorings saam tot met die ineenstorting van Greenwich Spaarbank. Die FDVK het dadelik bekend gemaak dat geen deposante enige geld sou verloor nie. Die onderlinge bank wat in gevaar was om ineen te stort, se totale laste sou meer gewees het as die totale versekeringsfonds van die FDVK. Dit het grootliks die FDVK se houding ten opsigte van die hantering van groot banke in die bankkrisisse beïnvloed. Die Greenwich- probleem is opgelos deur ’n samesmelting met ander banke te organiseer. Sewentien ander banke met bates van $24 miljard is tussen 1981 en 1985 op die manier gehelp (Seelig, 1998:25).

Die negatiewe uitwerking van die hantering van groot banke was dat dit tot groter morele gevaar gelei het in die optrede van banke (Athavale, 2000:126). Die probleem van morele gevaar het verder toegeneem met die toenemende aantal nie-tradisionele bankdienste wat banke nou aanbied.

Die hantering van Continental Illinois het ook direk aanleiding gegee tot die FDICIA wetgewing wat in 1991 in Amerika aanvaar is. Soos reeds aangetoon, is spoedige korrektiewe aksie deel van die FDICIA-wetgewing. Die wetgewing maak ook daarvoor voorsiening dat die oplossing van bankkrisisse teen die laagste moontlike koste gedoen moet word (Athavale, 2000: 126).

Benston en Kaufman (1997:155) het die sukses van die implementering van die FDICIA gemeet. Alhoewel die kapitaalvereistes vir optrede in terme van die FDICIA te laag is om spoedige korrektiewe aksie te regverdig, wil dit voorkom asof die FDVK nie meer onversekerde deposante in Amerika beskerm nie. Die te-groot-om-ineen-te-stort regulasies in die FDICIA is ook nog nooit gebruik nie. Dit wil dus voorkom asof die spoedige korrektiewe aksiewetgewing die stabiliteit van die Amerikaanse bankstelsel waarborg sonder om die markdissipline op banke te verminder.

Benston en Kaufman wys ook daarop die Bank van Engeland ook van die te-groot-om- ineen-te-stort-beleid afgesien het (Benston en Kaufman, 1997:155).