• No results found

Die rol van depositoversekering

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

3.4 Lesse en oplossing vir die bankkrisisse

3.4.3 Die rol van depositoversekering

In Hoofstuk 2 is depositoversekering bespreek as een van die redes waarom banke gereguleer moet word. Daar is daarop gewys dat een van die grootste probleme van depositoversekering die morele gevaar is wat dit veroorsaak. Die morele gevaar veroorsaak dat die bank sy bates en laste minder effektief bestuur, omdat hy weet dat hy gered sal word as daar ’n gevaar van insolvensie bestaan (Lindgren, Garcia en Saal, 1996:120). Depositoversekering veroorsaak ook dat die kliënte van ’n bank en die algemene publiek se insentief om die bank se optrede te monitor, verminder word.

Die depositoversekeringsfonds of lener-in-laaste-instansie is ook in die situasie aan ’n ongunstige seleksie onderworpe. Die rede hiervoor is omdat die lener in laaste instansie

in die bankkrisisse wat voorgekom het, aan die banke wat op geen ander plek fondse kon bekom nie, geld moes leen. Soos wat in Hoofstuk 2 aangetoon is, deel die lener-in- laaste-instansie ook in die probleem dat dit moeilik is om die probleembanke wat insolvent is, te onderskei van die banke wat solvent is. As die depositoversekering teen laer as die heersende rentekoerse in die mark aangebied word, bestaan daar ook ’n gevaar dat die probleembanke waagstukke kan aangaan met die hoop dat die inkomste uit die riskante bedrywighede die bank kan red. Die depositoversekering wat teen laer as heersende markrentekoerse aan banke gebied word, bied aan hulle ’n subsidie om meer risiko te neem as sonder die depositoversekering.

As die lener-in-laaste-instansie se ondersteuning nie beperk is tot solvente banke nie, kan dit die vinnige korrektiewe aksie vertraag. Die lener-in-laaste-instansie kan dit wel oorweeg om aan alle banke likiditeitsondersteuning te verskaf, om te keer dat die onversekerde deposante stormlope op gesonde banke uitvoer. Die optrede van die lener- in-laaste-instansie sal die markdissipline op die probleembanke verminder.

Oormatige depositoversekering verminder ook die insentief wat die mark het om stappe te neem teen probleembanke of banke wat te veel risiko neem. As die deposante net gedeeltelik verseker is, bestaan daar steeds ’n insentief om te versoek dat swak, maar nog nie insolvente banke nie, gesluit moet word.

Die vraagstuk van depositoversekering is deel van die groter reguleringsdebat tussen die voorstanders van stabiliteit en morele gevaar teenoor die voorstanders van effektiwiteit

en markdissipline aan die ander kant. In die bankkrisisse van die tagtigerjare was dit nie vir banktoesighouders moontlik om beide die voordele van groter markdissipline en die versekering teen bankstormlope te hê nie.

In sy bespreking van die krisis van die tagtigerjare in Amerika, wys Seelig (1998:22) daarop dat die balans in hierdie digotomie in die guns van stabiliteit was. In hierdie opsig was die reguleringsbeleid baie suksesvol. Ten spyte van verskeie banke en ander spaarinstellings wat ineengestort het, was daar geen ernstige bankstormlope of ’n probleem met die voorsiening van krediet aan die mark deur die instellings wat deur die federale depositoversekering gedek was nie.

Die stabiliteit is teen groot koste verkry. Die totale koste vir die red van FDVK- bankinstellings tussen 1980 en 1994 word op $36.3 miljard geraam (Seelig, 1998:22). Die hantering van die spaar- en leningskrisis het $160.1 miljard gekos. Die belastingbetaler moes $132.1 miljard van die koste dra.

Lindgren, Garcia en Saal (1996:121) verdedig die besluit van die FDVK om ’n keuse ten gunste van stabiliteit in die bankkrisisse van die tagtigerjare uit te oefen. Die probleem is dat die ondersteuning van alle banke dit vir die depositoversekeringsagentskap moeilik maak om na die krisis weer ’n insentiefstruktuur daar te stel met die oog op die langtermynwelsyn van die bankstelsel in die betrokke land. Die rede hiervoor is dat die deposante sal aanvaar dat hulle implisiet teen die ineenstorting van banke verseker is.

In teenstelling met die sukses in terme van stabiliteit was die reguleerders se vermoë om die neem van risiko’s te beperk, gemeng. By die beoordeling van die neem van risiko is dit belangrik om te onderskei tussen die optrede van solvente banke en banke wat op die rand van insolvensie staan. Die reguleerders in Amerika was redelik suksesvol om daarin te slaag om die optrede van probleembanke so te beïnvloed dat dit die risiko van hulle ineenstorting verminder. Maatreëls om die gesonde banke se optrede te evalueer, het nie bestaan nie.

Van die beskikbare metodes om die morele gevaar van depositoversekering te verminder, is daar drie maatreëls met minder sukses in die tagtigerjare in Amerika toegepas (Seelig, 1998:23). Die drie metodes wat in werking gestel is, was beter banktoesighouding, kapitaalvereistes en risiko-gebaseerde depositoversekeringspremies en onversekerde deposant en krediteurdissipline. Die doel van die drie moontlike optredes was om die regulering meer markgerig te maak.

Die krisis van die tagtigerjare het ook die verband aangetoon tussen depositoversekering en die oplossing van groot banke wat ineenstort (Rivlin,1996:1). Volgens Lindgren, Garcia en Saal (1996:120) kan dit gebeur dat die banke wat te-groot-is-om-ineen-te-stort gered kan word om sistemiese probleme te voorkom, is dit dikwels net ’n verskoning vir regulerende laksheid. Dit was ook die geval met die bankkrisisse in Amerika in die tagtigerjare. Omdat die FSLIC (“Federal Saving and Loans Insurance Corporation”) ’n tekort aan fondse gehad het, het hulle eerder regulerende laksheid voorgestaan. Soos wat reeds vroëer in die hoofstuk aangetoon is, het dit die uiteindelike oplossing van die

probleem soveel duurder gemaak. Die koste vir die oplossing van die spaar- en leningskrisis is ook uiteindelik deur die Amerikaanse belastingbetalers gedra.

Uit die bespreking is dit duidelik dat die markvoorkeur vir likiditeit en winsgewendheid nie die publieke beleidsvraagstuk van finansiële stabiliteit in ag neem nie. Dit is duidelik dat daar in die meeste lande nie net op markkragte staat gemaak kan word om banke te reguleer nie. Dit is ook nodig dat die markkragte ingeperk word deur die reguleerders om die publieke beleidsoogmerk van finansiële stabiliteit in ag te neem. Die publieke beleidsoogmerk kan ondersteun word deur depositoversekering aan banke te verskaf wat wel nog solvent is, maar tydelike likiditeitsprobleme ondervind.