• No results found

Laissez-faire-regulering

4. Persoonlike aanspreeklikheidsinsentiewe

2.6 Markgerigte benadering tot regulering

2.6.1 Laissez-faire-regulering

Die meeste ekonome in die twingtigste eeu was van mening dat as gevolg van sekere teoretiese beperkinge, die beginsels van die vrye mark nie op geld-en bankwese van toepassing gemaak kan word nie (Arnon, 1999:31). In die onlangse verlede het daar voorstanders van laissez-faire bankwese na vore gekom en beweer dat daar klassieke ekonome was wat aangetoon het dat ’n beleid van laissez-faire bankwese wel suksesvol kan wees. Die ekonome beweer dat laissez-faire nie tot hoofstroom-ekonomiese denke verhef is nie, omdat die staat se inmenging in die ekonomie die pogings verydel het.

Dowd (1996:679) se argumente vir laissez-faire-regulering van banke berus op dieselfde argumente as dié van die voorstanders van vrye handel. As vrye handel algemeen as gunstig aanvaar word, geld dieselfde argument ook vir die regulering van die finansiële markte. As dit waar is dat laissez-faire-regulering meer effektief is, impliseer dit dat depositoversekering en die lener-in-laaste-instansie-ondersteuning van die sentrale bank afgeskaf behoort te word.

a. Teoretiese onderbou van die laissez-faire-benadering tot die regulering van banke

Die laissez-faire-denkskool oor die regulering van banke is gebaseer op verskillende sienings rondom die vraagstuk van die geldskeppingsproses in ’n ekonomie. Aangesien die fokus van die hoofstuk op die vraagstuk of banke gereguleer moet word al dan nie, berus, sal daar net kortliks ’n oorsig gegee word oor die monetêre beleidsvraagstukke in

die laissez-faire-denkskool. Daar sal aangetoon word dat die laissez-faire-siening teoretiese probleme opgelewer het, wat veroorsaak het dat dit nie meer geldend is nie. Die feit dat die siening se hantering van monetêre beleid nie geldig is nie, lewer ook bepaalde probleme rondom die laissez-faire-hantering van die regulering van banke. Dit sal vervolgens bespreek word.

Dowd (1996:680) baseer sy hipotetiese laissez-faire-bankstelsel op ’n laissez-faire- ekonomie met ’n onderliggende onvolmaakte ekonomiese omgewing wat dit nodig maak om banke te stig. Die rol van banke is om as finansiële tussengangers op te tree en om deur die vermindering van transaksie- en moniteringskoste waarde tot die ekonomie toe te voeg.

Die teoretiese debat het veral belang by die verskillende gebeure in die Skotse ekonomie in die tydperk tot omtrent 1850. Arnon (1999:82) gee ’n gedetailleerde oorsig oor die verskillende sienings van belangrike voorstanders van die laissez-faire-benadering tot bankwese. Die sienings van onder andere White, Vera Smith, Parnell en Adam Smith word in detail deur Arnon bespreek. Alhoewel daar verskille in die interpretasies tussen Smith en White is, stem hulle volgens Arnon saam dat hulle teen sentrale banke gekant is. Daar word ook saamgestem dat die beste manier om munte en note uit te reik, ’n stelsel is waar daar mededinging tussen die uitreikers bestaan. Dit is in teenstelling met die siening dat dit die rol van die sentrale banke is om die geldvoorraad te beheer.

’n Regime waar alle banke geld kan uitreik, is op die volgende twee beginsels gebaseer (Arnon, 1999,82):

 Die geldvoorraad in so ’n stelsel sal altyd op die optimum vlak wees. Die optimale vlak sal verkry word sonder die inmenging van enige owerheid. As daar te veel geld uitgereik word, sal die houers die geld terugbesorg aan die instellings wat dit deur ’n klaringstelsel uitgereik het. Die banke sal poog om hulle solvabiliteit, veral in terme van goudvoorraad, te beskerm deur nie te veel geld uit te reik nie. Die moontlike uitvloei van goud uit die stelsel sal as reguleerder van die hele finansiële stelsel dien.

 Daar word ’n aanname gemaak dat ander vorme van banke se bates en laste volgens die laissez-faire-siening nie gereguleer hoef te word nie, omdat dit nie geteiken sal word deur persone wat die effektiewe werking van die ekonomie voorstaan nie. Die mededingende banke sal sodoende nie net genoeg geld skep nie, maar ook die regte hoeveelheid bates en laste voorsien.

b. Teoretiese redes waarom die laissez-faire skool se invloed gedaal het

Die implementering van die laissez-faire-skool se sienings in Engeland het verskeie probleme opgelewer. Die Britse ekonomie is tussen 1783 en 1797 onderwerp aan verskeie finansiële en ander krisisse. Die krisisse is onder andere toegeskryf aan probleme in die bankstelsel (Arnon, 1999:86). Die Smithsoniese benadering tot laissez- faire-bankwese het voorgestel dat die krisisse opgelos kan word deur voort te gaan met

die inwisselbaarheid van valuta en bankwese. Die voorstel is egter deur Thornton gekritiseer.

Thornton [1802] (1939) soos aangehaal in (Arnon, 1999:86) het die teoretiese gronde van die laissez-faire-benadering gekritiseer deur aan te toon dat dit nie moontlik was om die geldvoorraad te beheer op die eenvoudige en outomatiese manier wat die voorstanders van laissez-faire-bankwese voorgestel het nie. Thornton het aangetoon dat dit vir die Bank van Engeland nodig was om sekere ekonomiese faktore te ontleed, voordat daar besluit kon word op die optimale vlak vir die geldvoorraad. Die feit dat die Bank van Engeland ’n monopolie in die beheer van die geldvoorraad sou gehad het, het ook die voordeel gehad dat dit die onstabliteit in die stelsel sou verminder.

Herbener (2002:67) wys ook daarop dat Von Mises ook die sienings van White soos bespreek deur Arnon, gekritiseer het. Von Mises was van mening dat daar na ’n stelsel van 100 persent reserwevereistes beweeg moes word in ’n stelsel van vrye bankwese om die skep van krediet te beperk en so die gevaar van inflasie hok te slaan. Von Mises was ook van mening dat deposante weer toegelaat moet word om hulle geld vir goud in te ruil. Von Mises was dus van mening dat ’n stelsel van vrye banke soos bespreek deur Arnon nie kan werk nie, omdat dit inherent onstabiel is. Goud moes die anker vir die monetêre beleid verskaf.

Macfarlane (2001:4) wys daarop dat alhoewel die koppel van die geldvoorraad aan goud wel tot groter stabiliteit sal lei, die stelsel te rigied is om te oorleef met die periodieke

stormlope op banke en die likiditeitskrisisse wat banke ondervind. Alhoewel die ware voorstanders van vrye bankwese dikwels argumenteer dat die stelsel nêrens behoorlik geïmplementeer is nie, is dit duidelik dat daar steeds in sentrale banke in elke bankstelsel nodig is om die funksie van lener-in-laaste-instansie te vervul om likiditeitsondersteuning aan probleembanke te verskaf (Macfarlane, 2001: 4).

Uit die bespreking is dit duidelik dat die laissez-faire-benadering tot monetêre beleid nie teoreties stand kon hou teen kritici nie. Dit was die oorsaak vir die feit dat die laissez- faire-siening van die regulering van banke nie vandag algemeen aanvaar word nie (Arnon, 1999:103). Die probleme met die monetêre beleid het ’n impak op die gebruik van ’n laissez-faire-benadering om banke te reguleer. Macfarlane (2001:5) stem saam met Arnon deur daarop te wys dat daar geen werkende voorbeeld van vrye bankwese in die moderne wêreld is nie. Die siening dat banke glad nie gereguleer hoef te word nie kan daarom nie as werkbare alternatief gesien word nie.

c. Die impak van die laissez-faire benadering tot regulering op banke

Die stabiliteit van ’n bankstelsel sal onder druk wees onder ’n laissez-faire-stelsel van regulering, omdat daar nie in die stelsel depositoversekering of ’n lener-in-laaste- instansie is wat die bank kan ondersteun as dit ’n likiditeitskrisis ondervind nie. Die deposante sal ander waarborge wil hê dat hulle geld wel veilig in die stelsel is. Banke sal ook bewus wees dat die vertroue van beleggers ten alle koste behou moet word om ’n moontlike stormloop op die bank te verhoed. Die bank sal genoegsame kapitaal moet

hou en ’n konserwatiewe leningsbeleid volg om die vertroue in die bankstelsel te bevorder. Die persentasie kapitaal wat gehou word, sal deur markkragte bepaal word. As banke te min kapitaal hou, sal die mark ’n premie vereis op deposito’s wat by banke gehou word. Banke kan ook nie te veel kapitaal hou bloot net ter wille van vertroue nie, omdat die hou van kapitaal ’n koste inhou en die aandeelhouers van die bank ’n goeie opbrengs op kapitaal wil hê. Dowd (1994b:290) stel dit kan ook dat as deposante veilige banke vereis, die mark veilige banke sal verskaf.

Dowd (1996:681) haal verskeie artikels aan wat aantoon dat laissez-faire-banke baie kapitaal hou. Amerikaanse banke in die antebellum tydperk was onderworpe aan byna geen regulering nie en het kapitaalverhoudings van meer as veertig persent gehad (Kaufman, 1992:386). Die Amerikaanse banke was aan die begin van die twintigste eeu aan meer regulering onderworpe, maar het steeds kapitaalverhoudings van meer as vyftien persent gehad.

Die hoë vlakke van kapitaal veroorsaak ook dat laissez-faire-banke ’n relatiewe lae waarskynlikheid het om ineen te stort (Dowd, 1996:681). Dowd toon aan dat die koers waarteen banke ineengestort het in lande met relatief ongereguleerde stelsels, soos Kanada, Skotland en Switserland, laag was.

Dowd (1994a:289) haal verskeie skrywers soos Mullineaux (1987) aan wat daarop wys dat die inligtingsasimmetrieë in die finansiële markte van so ’n aard is dat dit nie deur

ongereguleerde markte hanteer kan word nie. Die regulering van banke ontwikkel dan spontaan om hierdie probleem aan te spreek.

In reaksie op die kritiek van die standaard siening wys Dowd (1994a:290) daarop dat historiese bankstelsels wat naby aan ’n laissez-faire-stelsel was nie bankregulering spontaan ontwikkel het nie. Dowd betwyfel dus die bewering dat bankregulering spontaan ontwikkel het om die inherente probleme in die bankstelsel aan te spreek. Volgens die voorstanders van vrye banke, kan die regulering van banke nie ekonomies geregverdig word nie.

Dowd (1994a :290) gee toe dat reguleerders wel dikwels om geldige redes in die mark inmeng om probleme aan te spreek. Die probleem is dat die probleme wat met regulering aangespreek moet word, nie die gevolge van die vrye mark is nie. Die probleem is eerder die gevolg van vroeëre inmenging deur die regering.

Een van die argumente teen laissez-faire-banke is dat mededinging daartoe sal lei dat die goeie banke die slegte banke se praktyke sal oorneem (Goodhart, 1988:47). Die bestuurders by die swak banke kan korttermynwinste nastreef wat druk op die goeie banke kan sit om ook uit te brei. Volgens Dowd (1996:682) kan ’n bank net vinnig uitbrei deur die gemiddelde kwaliteit van sy lenings te laat verswak. Dowd toon aan dat ’n winsmaksimerende bank nie swak praktyke sal implementeer bloot omdat mededingers in die strik getrap het nie. Die bank sal eerder ekstra voorsiening maak vir die moeilike tydperke wat voorlê as die swak banke dalk solvensie-probleme begin

ondervind. Mededinging sal dus nie laissez-faire-banke dwing om in “excessive cycling” betrokke te raak nie.

Dow (1996:702) kritiseer die siening dat “excessive cycling” nie ’n probleem by laissez- faire-banke is nie, omdat daar onsekerheid in die bankstelsel sal wees. Die onsekerheid maak dit nodig dat daar ’n sentrale bank sal wees wat buite die mark staan om korrektiewe stappe te neem as die mark nie meer effektief opereer nie. Dowd verskil ook van Dow se argument dat die bank nie noodwendig die “trop”sal volg in die hantering van die probleem nie. Dowd (1996:685) gee toe dat dit kan gebeur dat die probleem van “excessive cycling” wel kan voorkom. Dit kan egter nie van so ’n aard wees dat intervensie deur die sentrale bank ’n oplossing vir die probleem sal wees nie. Dowd argumenteer ook dat as dit vir markdeelnemers, soos Dow beweer, moeilik sal wees om die bates te waardeer, dieselfde argument ook vir die sentrale bank geld. Dowd lewer ook die gewone vryemarkkritiek dat inmenging kosteimplikasies het en minder effektief as die markmeganisme is.

’n Ander punt van kritiek teen laissez-faire-bankstelsels is dat dit nie voorsiening maak om aansteeklikheid teen te werk nie. Die standaard teenargument wat ook in hierdie hoofstuk aangevoer is, is dat dit die rol van die sentrale bank is om lener-in-laaste- instansie-ondersteuning aan die banke te gee. Die sentrale bank moet ook depositoversekering aan banke met likiditeitsprobleme verskaf. Die ondersteuning van die sentrale bank aan banke met probleme sal help om aansteeklikheid tee te werk.

Volgens Dowd (1996:682) hou die argument nie rekening met die werklikheid nie. In werklikheid lei aansteeklikheid tot deposante wat hulle geld onttrek en weer in sterk banke deponeer. Die sterk banke sal dus in krisistye ’n groot invloei van kapitaal kry. Dowd weerlê die vroeëre argumente in die hoofstuk dat kliënte nie ’n behoorlike onderskeid kan maak oor die solvabiliteit van banke nie. Dowd (1996:682) haal vir Benston et al. (1986) aan wat aantoon dat bankstormlope nie aansteeklik is nie.

d. Die rol van die sentrale bank in die bankstelsel

Dow (1996:704) voer aan dat al het die laissez-faire-bankstelsel nie ’n sentrale bank nie, die mark ’n soortgelyke struktuur sal skep. In ’n kredietgebaseerde ekonomie is daar altyd ’n neiging tot die sentralisering van mag, soos byvoorbeeld ’n sentrale bank. As daar ’n krisis in die bankstelsel ontstaan, is daar ’n vlug na die laissez-faire-bankstelsel se reserwebate. In die Skotse ervaring met vrye bankwese, het twee van die banke die funksies wat ’n sentrale bank gewoonlik vervul, oorgeneem. Die twee banke het byvoorbeeld die note van ander banke aanvaar. Banke wat te veel krediet verskaf het, is ook deur die twee betrokke banke gedissiplineer (Dow, 1996:704). Die bank wat hierdie reserwebate verskaf, het dieselfde mate van invloed in die stelsel en kan as ’n de facto sentrale bank beskou word. Dowd (1996:686) wys in teendeel daarop dat dit min gebeur dat daar net een bank in die stelsel is wat die likiditeitsondersteuning sal verskaf. Dit is in die meeste gevalle twee of drie banke wat die ondersteuning sal verskaf. Indien dit wel gebeur dat daar ’n tipe private sentrale bankstelsel tot stand kom, is die stelsel nog steeds vrywillig. Die stelsel sal ook baie minder impak op die laissez-faire-banke kan

maak as wat ’n gewone sentrale bank maak. Dowd wys daarop dat indien die kritiek van Dow waar is, dit die hele doel van die laissez-faire-benadering sal teëwerk.

Crockett (2003:5) argumenteer ten gunste van ’n markgerigte benadering tot die regulering van banke. Ten spyte hiervan is Crockett van mening dat die feit dat sentrale banke die verantwoordelikheid het om sistemiese stabiliteit te waarborg en afhanklik is van goed funksionerende markte in die uitvoering van monetêre beleid, dit die rol van sentrale banke in die regulering van banke krities maak. Die kompleksiteit en geglobaliseerde aard van die omgewing waarin banke optree, noodsaak gesprekke en koördinering tussen die verskillende rolspelers in die regulering van banke. Die samewerking tussen die verskillende reguleerders is nodig om die oorsake van onstabiliteit te bepaal en gesamentlike optrede te bepaal.

Alhoewel die voorstel van vrye banke op die oog af na ’n goeie alternatief lyk vir die gereguleerde stelsel wat tans bestaan, is die stelsel nie in staat om die veiligheid van die bankstelsel te waarborg nie.

Die gevolgtrekking in die debat tussen ’n gereguleerde en ongereguleerde bankstelsel is dat die beste stelsel ’n gereguleerde stelsel is met sekere maatreëls om dit meer markgerig te maak. Die banktoesighouers moet poog om die voordele van private regulering te behou deur die koste van publieke regulering tot die minimum te beperk.

Enoch, Stella en Khamis (1997:18) bespreek die Nieu-Seelandse bankstelsel wat dikwels voorgehou word as ’n voorbeeld van ’n suksesvolle vryebankstelsel. Die sentrale bank van Nieu-Seeland het in 1996 besluit om weens die koste van regulering en morele gevaar banke nie meer te reguleer nie. Die inligting wat normaalweg aan die banktoesighouers bekend gemaak moes word, moes nou aan die publiek bekend gemaak word. Alle prudensiële verhoudinge, behalwe vir die kapitaal- en verwante lenings, is afgeskaf. Die vertroue in die bankstelsel word hoofsaaklik gewaarborg deur die persoonlike aanspreeklikheid van bankamptenare in geval van ’n bankineenstorting en die openbaarmaking van inligting aan die publiek.

Die stelsel van markdissipline kan net suksesvol wees as die bank weet dat hy nie gered sal word in geval van ’n likiditeitskrisis nie. In Nieu-Seeland het daar nog nie ’n bank ineengestort om die stelsel te toets nie. Soos wat dit in die hoofstuk aangetoon is, moet banke gereguleer word om die koste van ’n bankineenstorting vir die finansiële stelsel te beperk. In Nieu-Seeland se geval sal die sentrale bank ook sy diskresie moet gebruik as daar ’n krisis uitbreek. Die kritiek wat Dowd hierteen uitgespreek het, is dat die sentrale bank nie noodwendig beter oordeel as die mark aan die dag sal lê nie.

Een van die kritieke faktore wat teen die Nieu-Seelandse bankstelsel as voorbeeld van ’n vryebankstelsel tel, is die feit dat die meeste Nieu-Seelandse banke deur buitelanders besit word (Enoch, Stella en Khamis, 1997 :19). Die deposante kan ’n verwagting hê dat die moederbank tog ondersteuning sal gee in die geval van ’n stormloop. Daar kan selfs

’n verwagting bestaan dat banktoesighouers in die moederland ondersteuning aan die Nieu-Seelandse banke kan verskaf in die geval van ’n krisis.

Dit is duidelik dat daar nie tans ’n suksesvolle vryebankstelsel in die wêreld opereer wat geen banktoesighouding van enige aard het nie.