• No results found

Depositoversekering en morele gevaar

2.4 Die debat tussen voorstanders en teëstanders van regulering

2.5.3 Depositoversekering en morele gevaar

Alhoewel dit uit die voorafgaande bespreking duidelik is dat depositoversekering meestal lofwaardige doelwitte het, is die grootste nadeel van depositoversekering die probleem van morele gevaar. Depositoversekering kan negatief inwerk op die markdissipline wat op banke uitgeoefen word.

Morele gevaar is die insentief vir die neem van groter risiko wat by enige depositoversekering of vorm van versekering bestaan (FSF, 2001c:1). Freixas, Soussa en Hoggarth (1999:159) definieer morele gevaar as die aanpassing van die insentiewe wat die versekerde party het om voorsorg te tref teen die waarskynlikheid dat die versekerde gebeurlikheid weer kan gebeur. In die geval van ’n bank sal daar meer risikante lenings toegestaan word as in die geval van banke wat nie verseker is nie, omdat deposante in geval van insolvensie teen die verlies van hulle deposito's verseker is.

Wanneer die deposante verseker is, het hulle nie ’n insentief om banke te monitor nie. Die probleem is ook dat die fondse van probleeminstellings teen ’n laer koste beskikbaar is as wat die geval sou gewees het as die instellings nie beskerm was nie. Die rede

hiervoor is dat deposante ’n premie sou vereis vir die riskantheid van die instelling sonder depositoversekering.

’n Verdere nadelige impak van morele gevaar is dat die ekonomie benadeel kan word, omdat daar wanbalanse sal ontstaan as fondse na meer risikante bedrywighede gekanaliseer moet word.

Banke is bereid om meer risiko te aanvaar, omdat hulle deposante teen verliese verseker is in geval van insolvensie (Pierce, 1991:102). Voordat depositoversekering in werking gestel is, het banke ’n groot motivering gehad om omsigtig te werk by die werf van deposito’s. Morele gevaar veroorsaak ook dat deposante geen motivering het om meer na ’n bank te soek wat noodwendig beter bestuur word nie. Die feit dat deposante nie na ’n beter bestuurde bank sal gaan om hulle geld te deponeer nie, verminder die markdissipline op die swak bestuurde banke.

Freixas, Soussa en Hoggarth (1999:159) toon aan dat morele gevaar hoofsaaklik op die toekoms ingestel is. Die bank se optrede word beïnvloed deur die verwagting van hoe daar opgetree sal word as dieselfde gebeurtenis, as toe depositoversekering in die verlede verskaf is, weer voorkom. As daar kapitaalinspuitings aan instellings gegee word, kan die verwagting ontstaan dat die instelling teen alle risiko’s verseker is. Dit sluit markrisiko en kredietrisiko in.

a. Moontlike oplossings vir die probleem van morele gevaar

In hierdie gedeelte van die hoofstuk sal moontlike oplossings vir die probleem van morele gevaar bespreek word. Soos wat aangetoon sal word, is dit nie op die stadium moontlik om depositoversekering heeltemal af te skaf nie. Dit is noodsaaklik om eerder die negatiewe eksternaliteite van depositoversekering te verminder deur alternatiewe voorstelle vir die aanpassing van depositoversekering te maak. In die proses sal die depositoversekering ook meer markgerig word.

Volgens die FSF (2001c:3) kan die meeste oplossings om morele gevaar te verminder in drie kategorieë ingedeel word. Die oplossings is op verbeterde korporatiewe bestuur en algemene bestuur en op verbeterde markdissipline deur deposante en ander krediteure gebaseer. Die probleem van morele gevaar kan ook deur regulerende dissipline deur banktoesighouers of die depositoversekeringsagentskap in sekere lande waar banke aktief gereguleer word soos in Amerika, aangespreek word. Sommige maatreëls wat vervolgens bespreek gaan word om die probleem van morele gevaar aan te spreek, het ook ’n karakter wat ’n kombinasie is van die drie faktore.

Die manier waarop die probleem van morele gevaar aangespreek kan word, is om die banke aan meer markdissipline onderworpe te maak. Hierdie verhoogde markdissipline sal die onversekerde deposante, ander krediteure en aandeelhouers blootstel aan die risiko van ’n verlies as die instellings dalk ineenstort.

i) Korporatiewe bestuur en algemene bestuur as oplossing vir morele gevaar

Een van die maniere waarop morele gevaar beperk kan word, is deur van banke te verwag om goeie korporatiewe bestuur toe te pas. Korporatiewe bestuur omvat onder andere die interne standaarde en prosesse en stelsels om die gepaste rigting en oorsig aan die bestuur en direkteure van banke te waarborg (FSF, 2001c:3). Dit omvat verder die belyning van die vergoeding van die werknemers met gesonde besigheidsbeginsels8 en die bestuur van banke se kapitaalgenoegsaamheid en likiditeitsposisies. Goodhart (2001:45) ondersteun die siening van die FSF deur daarop te wys dat die interne bestuurspraktyke van banke belangrike beskerming teen morele gevaar bied.

ii) Risiko-gebaseerde depositoversekering

Een van die maniere om die negatiewe eksternaliteite van depositoversekering te verminder, is om die koste van depositoversekering aan die blootstelling van banke aan risiko te koppel. Volgens Santos (2000:9) moet depositoversekering korrek geprys word om te verhoed dat banke ’n insentief het om hulle risiko op die depositoversekeringsfonds af te skuif. In die verlede was die federale depositover- sekeringsagentkappe in Amerika nie bereid om premies te plaas op die depositoversekering aan banke wat bepaalde risiko’s geneem het nie (Benston en Kaufman, 1996:689). Deur nie bereid te wees om ’n premie te plaas op die depositoversekering aan banke nie, het die depositoversekeringsagentskappe indirek

morele gevaar aangemoedig. Dit sou meer effektief gewees het as banke met meer riskante bedrywighde hoër risikogeweegde premies op hulle depositoversekering moes betaal.

Bagehot (soos aangehaal in Giannini, 1999:5) het voorgestel dat die lenings wat deur die sentrale bank toegestaan word, in die geval van ’n krisis, teen ’n hoër koers aangebied moet word as wat voor die krisis in die mark gegeld het9. Die premie wat die bank moet betaal, word ook as regverdig beskou omdat die sentrale banke die beskerming teen insolvensie bied (Giannini, 1999:12).

Risiko-geweegde depositoversekeringspremies kan ook dien as oplossing vir die probleem van ongunstige keuse (Garcia, 1999:17). Ongunstige keuse is die probleem dat dit baie keer net die banke met die grootste probleme is wat aansoek doen vir depositoversekering. Dit veroorsaak dikwels dat die stelsel van depositoversekering onwerkbaar raak. Volgens Garcia gebruik al hoe meer lande dié metode om ongunstige keuse teen te werk.

Garcia (1999:20) het ook in sy ondersoek na die beste praktyke vir depositoversekering na die verskillende vlakke gekyk waarteen die risikopremie vir depositoversekering gestel word.

8 Dit is byvoorbeeld nie goeie besigheidspraktyk om die salarisse van leningspersoneel te koppel aan die aantal lenings wat hulle toestaan nie.

9 Bagehot (1973) se klassieke stelling oor die rol van die lener-in-laaste-instansie word in Giannini (1999:5) aangehaal. Bagehot se stelling was dat sentrale banke veronderstel was “to lend freely to temporarily illiquid but nonetheless solvent banks at a penality rate and a good collateral”.

In die keuse van die vlak en omvang van depositoversekering is daar ’n digotomie tussen die risiko’s en die beleidsoogmerke (FSF, 2001c :5). Indien die vlakke van beskerming wat gebied word te hoog gestel word, kan dit tot die onnodige neem van risiko lei. Indien dit te laag gestel word, bestaan daar die gevaar dat daar stormlope op gesonde en insolvente instellings uitgevoer kan word.

Dit wil voorkom asof lande wat die vlak van depositoversekering baie laag gestel het, klem lê op die beleidsoogmerk om net die klein deposante te beskerm en meer markdissipline op die banke uit te oefen. Lande wat weer hoë vlakke van depositoversekering het, lê meer klem op sistemiese finansiële stabiliteit. Die doel van die hoë vlakke van depositoversekering kan ook wees om die mededinging en toetrede in die banksektor te verhoog.

Die gevolgtrekking waartoe Garcia kom, is dat daar balans moet bestaan tussen die beskerming wat depositoversekering aan deposante van banke bied en die markdissipline wat op die banke uitgeoefen word.

iii) Morele gevaar en konstruktiewe onsekerheid (“constructive ambiguity”)

Freixas, Soussa en Hoggarth (1999:159) stel ook voor dat morele gevaar verminder kan word deur konstruktiewe onsekerheid. As banke nie seker is dat hulle deur die sentrale bank gered sal word nie, sal dit hulle dwing om omsigtig op te tree in die bestuur van die bank.

Ex ante konstruktiewe onsekerheid impliseer dat daar onsekerheid bestaan of daar

inmenging deur die sentrale bank vir die banke sal wees. Die bestuur van banke is verder ook onseker oor die presiese tydskaal van inmenging. Die sentrale bank moet ook nie voor die tyd die voorwaardes van die hulp beskikbaar stel nie.

Die sukses van die maatreël word ook beïnvloed deur die maatreëls wat beskikbaar is om die bestuurder en aandeelhouers van swak bestuurde finansiële tussengangers te straf (Freixas, Soussa en Hoggarth,1999:161). As dit duidelik is dat die bestuurders van die bank hulle werk en die aandeelhouers hulle kapitaal gaan verloor, word die morele gevaar in die geval van die lener-in-laaste-instansie baie verminder.

iv) Beraadslaagde10 lenings van die private sektor

Volgens Freixas, Soussa en Hoggarth (1999:153) veroorsaak die onttrekking van banke se deposito’s dat daar ’n rol vir die sentrale bank ontstaan as lener-in-laaste-instansie. As die deposito’s weer in ’n ander bank gedeponeer word, veroorsaak die onttrekkings nie ’n rol vir die sentrale bank as lener-in-laaste-instansie nie, omdat die fondse van die banke met surplus likiditeit na die insolvente banke oorgedra kan word. Die voorwaarde vir hierdie oorplasing van fondse na die insolvente bank is dat die interbankmark effektief moet werk. Bhattacharya, Boot en Thakor (1998:761) sluit by Freixas, Soussa en Hoggarth aan deur aan te toon dat as die bankspesifieke likiditeitskokke nie perfek gekorreleerd is, die banke mekaar onderling kan verseker in die private mark.

10 “Concerted loans.”

Van die probleme wat in die interbankleningmark kan ontstaan, is die feit dat die banke wat geld beskikbaar wil stel nie oor dieselfde inligting as die sentrale banke beskik nie (Berger, Davies en Flannery, 1998:26). Die sentrale bank kan die probleme met markkoördinasie en die inligtingsprobleem oorkom deur likiditeitsondersteuning van die private sektor te reël, eerder as om dit self te verskaf. Die voordeel is dat die aksie ook die probleem van morele gevaar verminder.

Giannini (1999:6) toon aan dat daar wel baie gevalle bekend is waar sentrale banke die rol van koördinasie van hulp aan banke met likiditeitsprobleme vervul het. Alhoewel die oplossing ’n private oplossing is deur banke, het die sentrale banke dus ook ’n rol om te speel.

v) Verandering in kontantreserwevereistes

Bhattacharya, Boot en Thakor (1998:756) stel voor dat die kontantreserwevereistes van banke aangepas word om die probleem van morele gevaar te verminder. As die sentrale bank op die optimum vlak van likiede batevereistes kan besluit, kan dit die morele gevaar van die verskaffing van likiditeit aan probleembanke verminder.

Die voorstel is gekritiseer omdat banke in ’n dinamiese wêreld voortdurende skommelinge in depositovlakke ervaar. Die voorstel kan eerder negatief inwerk op ’n bank se likiditeitsposisie, omdat ’n uitvloei van deposito’s die reserwes van banke verminder. Die bank sal nuwe deposito’s moet werf om die ou deposito’s wat nog nie

onttrek is nie, te ondersteun. Die bank sal ook van die nuwe deposito’s as reserwes moet gebruik om die nuwe deposito’s wat gewerf is, te ondersteun.

Ball en Stoll (1998:9) is van mening dat volle openbaarmaking kan help om die regte kapitaalvereistes vir banke te stel. As daar egter depositoversekering is, sal die bestuurder by die bank nie noodwendig die sosiale optimum vlak van kapitaal hou nie. Ball en Stoll stel ’n 100%-reserwevereiste as ’n alternatief vir prudensiële kapitaalvereistes. Die deposante sal dan die eerste voorkeur op die bate in geval van insolvensie hê.

Die voordeel van die 100%-reserwebenadering is dat dit nie meer vir die reguleerders nodig is om elke afdeling en tipe transaksie van die bank so in detail te ondersoek nie. Die enigste taak van die reguleerder sal wees om te bepaal of die reserwes wat gehou word genoegsaam is om die onversekerde deposito’s te dek. Deposante sal kan kies om versekerde deposito’s teen een koers en onversekerde deposito’s teen ’n ander koers te hou. Die reserwebenadering het veral groot waarde met die toenemende kompleksiteit in die bepaling van die kapitaalgenoegsaamheid van banke.

vi) Gedeeltelike depositoversekering en die vermoë van deposante om banke te monitor

Indien voorstelle wat gemaak word vir gedeeltelike depositoversekering aanvaar word, word die aanname gemaak dat onversekerde deposante genoegsame kennis en inligting tot hulle beskikking het om die banke behoorlik te monitor.

Soos reeds aangetoon, is die voordeel van volledige depositoversekering dat bankstormlope voorkom word. Die nadeel is dat die reguleerder die bank se bates, asook die waardes van die bates in verhouding tot die deposito’s moet bepaal om te verseker dat die bank genoegsame kapitaal het (Bhattacharya, Boot en Thakor: 1998:757). Die doel van die monitering is om te verseker dat die bank se beleggings nie te riskant is nie.

Peters (1994) soos aangehaal in Bhattacharya, Boot en Thakor (1998:758) argumenteer dat die optimum ooreenkoms dié van gedeeltelike depositoversekering is. Die voorstel word ook ondersteun deur die Departement van Banktoesighouding van die die Suid- Afrikaanse Reserwebank (Suid-Afrikaanse Reserwebank, 2000a:35) in hulle ondersoek na ’n stelsel vir depositoversekering. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het besluit om die riglyne van die werkgroep insake depositoversekering van die Finansiële Stabiliteitsforum te volg (FSF, 2000a:1). Soos reeds in die hoofstuk aangetoon is, sal die afwesigheid van depositoversekering tot druk op deposante lei om self die bank te monitor. Die monitering van banke deur deposante het bepaalde nadele wat daartoe kan lei dat daar oneffektiewe bankstormlope van tyd tot tyd sal plaasvind. Volle

depositoversekering veroorsaak dat deposante geen bydrae maak tot inligting om die bank te monitor nie. Gedeeltelike depositoversekering maak die aanname dat ingeligte deposante banke beter sal kan monitor as owerheidsreguleerders. Gegewe die beperkinge van die aanname van deposante met genoeg inligting, verskaf Bhattacharya, Boot en Thakor (1998:758) empiriese bewyse dat deposante wel ’n beter reguleringsfunksie sal uitoefen as regeringsreguleerders deur byvoorbeeld deposito’s uit die bank te onttrek.

vii) Onderlinge versekering

Met ’n stelsel van onderlinge versekering word die versekerde deposante nie ten volle verseker nie (FSF, 2001c:6). Net ’n gedeelte, byvoorbeeld negentig persent, van die deposito’s, word verseker. Hierdie gedeeltelike versekering sal veroorsaak dat die moontlikheid van ’n verlies, deposante sal aanmoedig om banke waar deposito’s gehou word meer intensief te monitor. Onderlinge versekering lei ook tot die deel van koste by die ineenstorting van banke.

Die probleem met die voorstel en ook die reeds genoemde voorstel vir die verskaffing van lae vlakke van depositoversekering, is die feit dat die grootte van deposito’s nie noodwendig in verband staan met die rykdom van deposante nie. Afgetrede persone kan byvoorbeeld deposito’s hou wat buite verhouding is tot hulle vlak van rykdom. Dieselfde geld vir eiendomsagente en prokureurs wat trustgelde in bankrekeninge kan hou wat nie aan hulle behoort nie. Die persone sal dus nie in staat wees om die verlies te dra wat die voorstel van onderlinge versekering voorveronderstel nie.

viii) Deposantevoorkeur

Volgens die voorstel van deposantevoorkeur ontvang versekerde en onversekerde deposante volledige vergoeding vir hulle verliese, voordat enige ander krediteur enige betaling uit die likwidasie van die insolvente bank se bates ontvang (FSF, 2001c:7). Deposantevoorkeur verskuif die koste van ’n bankineenstorting na die ander krediteure toe. Dit gee die krediteure ’n groter insentief om die banke te monitor. Indien ’n bank aan die stelsel onderworpe is, kan van die krediteure ’n premie verwag vir die groter risiko wat hulle moet dra. Die verskaffer van depositoversekering kan ook besluit om vinnige korrektiewe aksie toe te pas om sy belang in die versekerde banke te beskerm. Die nadeel van die stelsel is dat die insentief van onversekerde deposante verminder om die banke te monitor.

Die netto effek van ’n stelsel van deposantevoorkeur hang af van die relatiewe gewilligheid en vermoëns van die groep krediteure om risiko te monitor en te beheer namens die groep krediteure wat bo hulle voorkeur sal kry by likwidasie.

ix) Reguleringsdissipline en morele gevaar

Alhoewel die rol van markdissipline om morele gevaar te beperk baie belangrik is, kan dit ook gebeur dat markkragte tot onaanvaarbare resultate aanleiding gee. Dit word dan nodig om die morele gevaar met reguleringsdisspline te beheer (FSF, 2001c :9).

Reguleringsdissipline het baie fasette wat gewoonlik deur lande se bankregulerings- wetgewing gereël word11. Dit omsluit fasette soos die uitreiking van lisensies vir banke, die goedkeuring van die “fit and proper” status van direkteure van banke, eksterne oudits en die genoegsaamheid van die interne kontrolestelsels van banke.

Die reguleerder kan morele gevaar op die volgende maniere beperk (FSF, 2001c :10):