• No results found

2.3 Impulsmoorde: kenmerke, determinante en regsbegronding

2.3.5 Impulsmoord en impulsiewe geweld: determinante

2.3.5.1 Psigopatologie as determinant vir impulsiwiteit en geweld

2.3.5.1.1 Persoonlikheidsversteurings

Die mees bekende en prominente persoonlikheidsversteuring wat gereeld in die strafregspleging na vore kom, is dié van ’n antisosiale persoonlikheidsversteuring (ASPV) en grensgraadpersoonlikheidsversteuring (GPV) (Edwards, Scott, Yarvis,

Paizis, & Panizzon, 2003; Fountoulakis, Leucht, & Kaprinis, 2008; Paris, 2005; Sunderland, 1997). Beide persoonlikheidsversteurings vorm die hoeksteen van en is verweef met impulsiewe geweld. Volgens Fountoulakis et al. (2008) kan ASPV en GPV geredelik en veral met gepaardgaande middelgebruik, tot geweld aanleiding gee, maar die leser word terselfdertyd gemaan om nie die risiko’s te ignoreer wat biologiese faktore en (lae) intelligensie ten opsigte van geweld inhou nie.

 Antisosiale persoonlikheidsversteuring (ASPV)

’n ASPV is sinoniem met die begrip “psigopatie” en dui op ’n persoonlikheidsversteuring wat onder andere gekenmerk word deur onverantwoordelikheid, impulsiwiteit, gebrek aan berou en onbeheersde aggressie. ’n Psigopaat maak hom dikwels reeds op jeugdige ouderdom skuldig aan antisosiale optredes (Gouws 1979).

Wat ʼn ASPV betref, koppel Carson, Butcher en Mineka (1996, p. 341) dit onlosmaaklik aan “impulsiveness, acting out, and intolerance of discipline”. Volgens Sadock en Sadock (2003) behoort hierdie tipe versteuring binne die konteks van persoonlikheidsontwikkeling bestudeer te word: dit word dikwels voorafgegaan deur ’n gedragversteuring by kinders wat dan as die enkele beste voorspeller vir die ontwikkeling van ‘n ASPV gedurende die latere adolessente jare dien. Kinders met ’n gedragversteuring konformeer nie aan sosiale norms nie en is geneig tot promiskuïteit en aggressie, wat later tot die ontwikkeling van ’n ASPV lei. Ouers straf gewoonlik sodanige gedrag en sodoende ontstaan ’n patroon van wedersydse beïnvloeding en kondisionering wat deur vyandigheid en aggressie- belaaide interaksies gekenmerk word.

’n ASPV word as ’n risikofaktor vir misdaad sowel as residivisme beskou. Hare (1999) en Maden (2007) se navorsing in hierdie verband was gerig op die beskerming van die publiek teen verdere gevaarlike optrede deur vrygelate

misdadigers. Volgens beide is die teenwoordigheid van ’n ASPV die mees betroubare voorspelling dat residivisme (vir sover dit ’n geweldsmisdaad betref) sal presenteer.

In hul ondersoek na manlike geweldenaars het Mauricio et al. (2007) ’n statisties beduidende verband gevind tussen bepaalde persoonlikheidsversteurings (ASPV ingesluit) en fisiese, sowel as psigiese geweld. Hierdie bevindings word ook deur Carson et al. (1996, p. 338) gesteun in hul verduideliking dat hierdie tipe persoonlikheidsversteurde geneig is “to act out tensions and problems rather than

to worry them out”.

Anders as in die DSM-IV-TR is die benaming vir ASPV in Brittanje deur navorsing gewysig na Dangerous and Severe Personality Disorder (hierna verwys as DSPD). Die DSPD-model is gegrond op die aanname dat bepaalde sielkundige en persoonlikheidsabnormaliteite tot gewelddadige misdaad kan lei en bydra tot die voortgesette deelname daaraan. Volgens Maden (2007) kan hierdie psigopatologie betroubaar geïdentifiseer word en sal residivisme voorkom indien veranderinge in die betrokke individue se psigiese en sosiale funksionering nie bewerkstellig kan word nie.

Die verskynsel van vroue wat hulself aan gesinsgeweld skuldig maak is vir lank verontagsaam. In navorsing deur Goldenson et al. (2007) is veranderlikes soos trauma-simptome en die persoonlikheidstrekke van 33 vroulike geweldenaars ondersoek. Daar is tot die slotsom gekom dat traumaverwante simptome wel by hierdie oortreders teenwoordig was, maar dat hul ook hoë tellings verkry het op sogenaamde “cluster B”-persoonlikheidstrekke (soos gemeet op die Millon Kliniese Multi-aksion psigometriese toets). Die persoonlikheidspatologie het ASPV ingesluit. ’n Verwantskap bestaan dus tussen ASPV en beide manlike (Hare, 1999; Mauricio 2007) en vroulike gesinsgeweldenaars.

Navorsing bevestig dat geweldsmisdaad stewig in ASPV veranker is. ’n ASPV word egter ook gekenmerk deur slinksheid en manipulasie wat lei tot die pleeg van misdrywe sonder gepaardgaande geweld. Die blote identifikasie van ’n ASVP differensieer derhalwe nie tussen die onderskeie misdrywe wat daarmee gepaard kan gaan nie en dat ASPV ook nie met impulsmoorde verband hou nie (sien Tabel 2.1 waar psigopatologie eerder met gepremediteerde geassosieer word).

 Grensgraadpersoonlikheidsversteuring (GPV)

GPV word gekenmerk deur ’n verskeidenheid van sielkundige simptome soos selfmoordgeneigdheid, maar veral impulsiwiteit en emosionele onstabiliteit (Louw, 1982; Paris, 2005). Hierdie versteuring begin reeds in adolessensie en beide temperamentstrekke en omgewingsfaktore kan met die verdere ontwikkeling daarvan in verband gebring word (Paris, 2005). GPV word gekenmerk deur endogene gemoedskommelinge, onvoorspelbare gedrag en impulsiwiteit (DSM IV- TR). Verdere kenmerke is ontoepaslike woede-uitbarstings en gewelddadige optrede en daar mag ook sprake van selfverminking en selfmoord-ideevorming wees (Sadock & Sadock, 2003).

Volgens Carson et al. (1996) het sulke persone ernstige identiteitsprobleme en is hulle gedrag hoogs onstabiel. Die GPV word gekenmerk deur intense en onvoorspelbare optrede wat uiteindelik tot ’n ASPV kan lei. Dit hou uiteraard die potensiaal in vir die pleeg van impulsiewe geweld en word waarskynlik gesuperponeer deur ander eksterne en interne snellers. Onstabiele interpersoonlike verhoudings ontstaan as gevolg van hierdie innerlike onstabiliteit.

Aggressie vorm volgens hierdie skrywers ‘n deel van die kliniese geheelbeeld: “...

feeling slighted, they might, for example become verbally abusive toward loved ones or might threaten suicide over minor setbacks ... they may display intense anger outbursts with little provocation and have difficulty controlling their anger. They tend to have a low tolerance for frustration”. (Carson 1996, p. 324). Hierdie

versteurdes kan intense woede beleef in reaksie op geringe provokasie en ondervind moeite om hul aggressie te beheer: hulle is inderwaarheid onsuksesvol om hul gemoedstoestand te beheer en dit verklaar die eksplosiewe aard van hul gedrag (Carson 1996).

Goldenson et al. (2007) het 33 vroulike huishoudelike geweldenaars ondersoek en inderdaad drie faktore geïsoleer: hul afhanklikheid, antisosiale gedrag en die voorkoms van grensgraadpersoonlikheidstrekke. Die bevindings deur Mauricio et al. (2007) sluit hierby aan en dui daarop dat mans met ’n GPV inderdaad geassosieer kan word met fisiese en psigiese gewelddadige optrede teenoor vroue. Sansone, Reddington, Sky en Wiederman (2007) het die geskiedenis van huishoudelike geweld bestudeer en ’n verband met GPV probeer vasstel, juis omdat geweld as een van die kenmerke van hierdie persoonlikheidsversteuring beskou word. ’n Beduidende korrelasie is gevind tussen tellings op die Self-Harm

Inventory (wat GPV meet) en die geskiedenis van gesinsgeweld soos gemeet op

die Severity of Violence Against Women Scale (SVAWS).

Navorsing deur Logan en Blackburn (2009) wys daarop dat gewelddadige oortreders ’n veel groter kans (tot vier keer hoër) het om met GPV gediagnoseer te word as diegene wat vir minder ernstige oortredings gevonnis is. Jordan, Schlenger, Fairbank en Caddell (1999) het onderhoude met 805 vroulike oortreders gevoer en eweneens tot die slotsom gekom dat 28% van hierdie deelnemers aan die kriteria van ’n GPV beantwoord het. Edwards et al. (2003) het in dieselfde konteks tot die slotsom gekom dat impulsiwiteit met fisiese geweld in intieme verhoudings en ook met BPV en ASPV in verband gebring kan word (Edwards, 2003).

 Ander persoonlikheidsversteurings

Wat ander persoonlikheidsversteurings betref, is min (indien enige) navorsing beskikbaar waar dit in verhouding met (impulsiewe) geweld ondersoek is. ’n Studie

deur Kamphuis en Emmelkamp (2005) het wel ’n verband tussen impulsiewe geweld en vermydende persoonlikheidsversteurings gevind. Vanweë die aggressieverwante kriteria word ’n ASPV meer geredelik met impulsiewe geweld geassosieer, terwyl ’n vermydende persoonlikheidsversteuring gewoonlik nie met impulsiewe geweld vereenselwig word nie. Hierdie versteuring word eerder deur sosiale inhibisie en afsydigheid as aggressie gekenmerk.

Kamphuis en Emmelkamp (2005, p. 170) kritiseer egter die onvolledigheid van hierdie denkrigting. Hulle verklaar dat dit inderdaad makliker is om op grond van hierdie persoonlikheidsversteuring (by ’n groep veroordeeldes) te voorspel wie sy lewensmaat gewelddadig vermoor het, as wat dit die geval met ’n ASPV is: “It

seems that conflict-avoidant, non-assertive dynamics can produce violent explosions in some avoidant personalities”.

Outeurs soos Sadock en Sadock (2003) beskryf die paranoïese persoonlikheidsversteuring (PPV) as kenmerkend van suspisie en wantroue en brei verder uit op die gepaardgaande teenwoordigheid van vyandigheid, woede en irritasie. Dit wil voorkom of die diepgaande ondersoek na die verband tussen PPV en geweld beperk is, moontlik vanweë die seldsame voorkoms daarvan (dit betrek volgens Sadock en Sadock (2003) ongeveer 0,5% tot 2,5% van die bevolking). PPV-lyers beleef ook vyandigheid en misbruik deur andere, gebruik projeksie as verdedigingsmeganisme en is eerder emosioneel afgestomp as impulsief en gewelddadig.

In terme van die persoonlikheidsversteurings in die breë kom dit voor of impulsiewe geweld/-gedrag wel in bepaalde versteuring voorkom en daardeur gekenmerk word, maar dat dit nie altyd met sogenaamde impulsmoorde verband hou nie. Impulsmoord kan nie tot ’n enkele persoonlikheidstrek of -gebeurtenis beperk word nie, maar vorm deel van ’n meer omvattende vorm van psigopatologie en ’n veelheid van veranderlikes.

2.3.5.1.2 Impulskontroleversteuring: Onderbroke eksplosiewe versteuring (OEV)