• No results found

2.3 Impulsmoorde: kenmerke, determinante en regsbegronding

2.3.5 Impulsmoord en impulsiewe geweld: determinante

2.3.5.1 Psigopatologie as determinant vir impulsiwiteit en geweld

2.3.5.4.3 Fisiologiese determinante

Hollander en Evers (2001) verwys na breinletsels by diere en die gevolge daarvan op impulsiwiteit, die bepaalde keuses wat gemaak word en veranderinge in aktiwiteitsvlakke. Daar word veral gefokus op die prefrontale korteks en die rol daarvan by impulsiwiteit. Hulle bevind ook dat die amigdala ’n sleutelrol speel in

die aard van besluitneming en wys daarop dat daar ’n korrelasie bestaan tussen swak besluitnemingsprosesse en letsels in hierdie betrokke breinstruktuur.

Selfregulering word ook in verband gebring met bepaalde breinareas en -netwerke – meer spesifiek die aktiwiteit in die prefrontale korteks wat gewoonlik met die impulslewe geassosieer word (Davidson et al., 2000; Posner, Rothbart, Sheese, & Tang, 2007). Die navorsers is dit egter eens dat genetiese faktore, omgewingsinvloede, nabootsing en kondisionering ook ingesluit moet word in die verklaring van konsepte soos selfregulering.

Impulsiewe aggressie en veral Onderbroke Impulsiewe Versteuring (OIV) word met gelokaliseerde breinletsels in die prefrontale lobbe geassosieer (Best, Williams, & Coccaro, 2002). Persone met sodanige letsels het min beheer oor hul gedrag en/of die gevolge van hul optrede.

Voorstanders van die biochemiese grondslag van reaksies op spanning huldig die siening dat fisiese strukture soos die hipotalamus onder meer vasopressien tydens ’n bepaalde optrede vrystel en dat die pituïtêre klier daarna ook groot hoeveelhede hormone vrystel. ’n Kettingreaksie ontstaan dan tussen hierdie fisio-chemiese vrystellings en die adrenale korteks (Jezova, Skultetyova, Tokarev, Bakos, & Vigas, 1995). Verandering in hierdie fisiologiese strukture lei vervolgens tot gedragsverandering.

Die mees resente navorsing met betrekking tot die fisio-biologiese oorsaaklikheid van emosionele regulering is die perspektiewe van De Brito et al. (2009) wat die verband tussen die morfometries-bepaalde grysmassa-volume van die brein en seuns se gedragprobleme en emosionele verharding ondersoek het. Volgens hierdie outeurs kan psigopatie (wat onder meer gekenmerk word deur impulsiwiteit) geassosieer word met abnormaliteite in die limbiese sisteem en prefrontale korteks. Hierdie studie berus op die beskouing dat emosionele verharding (ongevoeligheid) en gedragsprobleme (soos impulsiwiteit) later tot

antisosiale persoonlikheidsprobleme aanleiding kan gee. Die navorsers toon aan dat seuns wat gedragsprobleme openbaar ’n groter volume grysstof in bepaalde breinareas (soos die temporale lobbe) het en lei af dat ‘n vertraging in kortikale ontwikkeling in bepaalde breinareas teenwoordig is. Dit blyk die primêre rede vir hul emosionele afstomping, gedragsprobleme, gebrekkige moraliteit en swak besluitnemingsvermoë te wees.

Broomhall (2005) en Ito, Okazaki, Takahashi, Muramatsu, Kato en Onuma (2007) bring ook neurosielkundige en neurofisiologiese toestande met impulsiewe aggressie-uitbarstings in verband. Laasgenoemde groep navorsers het epilepsielyers ondersoek en kort periodes van aggressiewe gedrag (fisies en verbaal) in die postiktale periode na toevalle waargeneem. Die outeurs het frontale en temporale lobdisfunksie as oorsake gediagnoseer en beskryf die sindroom as subakute postiktale aggressie (SPA). Die rol van limbiese breinsisteme (Siegel & Shaikh, 1997) en traumatiese breinbeserings, met letsels in veral bepaalde breinlobbe (Ponsford, 1995), word ook aan veranderings in woedebeheer gekoppel.

Die kwantitatiewe ontleding van EEG-resultate by veroordeelde moordenaars beaam volgens Vendemia, Caine en Evans (2006) die verwantskap tussen gewelddadigheid en bepaalde breinabnormaliteite. Basoglu et al. (2008) steun ook die verwantskap tussen breinmetaboliese afwykings (soos gediagnoseer met magnetiese resonansies) en geweldsmisdade by soldate.

Uit voorgaande is dit duidelik dat fisiologiese en biochemiese determinante inderdaad as verklarings vir impulsiewe aggressie aangebied kan word. In die geval van neurologiese skade of letsels is dit blywend van aard, kan maklik met laboratoriumondersoeke geïdentifiseer word en sal ook bepaalde implikasies hê vir die toerekeningsvatbaarheid en vonnisoplegging van oortreders.

Biochemiese veranderinge kan daarteenoor meer kortstondig en ook moeiliker meetbaar wees (veral ná die oortreding en nadat die oortreder se fisiologiese toestand genormaliseer het). By uitbreiding en met die isolering van hierdie faktore mag dit in die regstelsel daartoe lei dat impulsiewe aggressie as ’n permanente mediese toestand (of toestand wat weer kan opvlam) beskou kan word. Die gepaardgaande voortgesette gevaar wat dit vir die samelewing kan inhou, mag dus versoeke deur die staat vir die sertifisering van die oortreder regverdig.

Verdere kritiek is dat psigologiese en ander veranderlikes buite rekening gelaat word en dat gedrag hoofsaaklik as biofisiese predisposisie beoordeel word. Dit beïnvloed weer die aanspreeklikheidsvlak van die oortreder en verminder persoonlike blaamwaardigheid.

2.3.5.5 ’n Eie sintese ten opsigte van determinante

Die ondersoeker kon voorlopig enkele veranderlikes as deel van ’n bepaalde persoonlikheidstruktuur identifiseer wat waarskynlik tot verminderde beheer in bepaalde situasies aanleiding gee. So ’n persoon blyk ’n rigiede individu te wees wat ’n hoë premie op voorspelbaarheid plaas – derhalwe is ’n weerstandigheid teen verandering teenwoordig.

Vanweë beperkte blootstelling aan sosiale veranderinge en intieme verhoudings (en ook aan die turbulente en onvoorspelbare buitewêreld) word aanpassings moeilik gemaak. Veranderinge, teleurstellings en lewenskrisisse word met inherente spanning geduld en verwerk. Hierdie individue verkies die sekerheid van die bekende in verhoudings, steun gewoonlik op rigiede tradisies en kultureel gevestigde gebruike (soos bepaalde rolverdelings in verhoudings).

Innerlike broosheid word beskerm deur die omgewing rigied te struktureer en sodoende word innerlike sekerheid bewerkstellig. Angstigheid, onsekerheid, wantroue en innerlike wroegings ontstaan as hierdie bestaanswêreld verander na

meer onsekere werklikhede. In hierdie geval kan ’n eksterne sneller of provokasie (gewoonlik as gevolg van die kumulatiewe opbou van spanning oor tyd en geaktiveer deur ‘n prominente persoon/lewensmaat) tot impulsiewe eksplosiwiteit aanleiding gee.

Interne sowel as eksterne veranderlikes word in die literatuur as moontlike verklarings vir impulsiewe aggressie aangebied. Sommige van hierdie veranderlikes is meer geredelik meetbaar as ander en bepaalde veranderlikes is meer breedvoerig nagevors as ander. Voorts is dit ook nie altyd moontlik om bepaalde (innerlike) veroorsakende veranderlikes te identifiseer nadat die daad reeds gepleeg is nie. Hoewel ’n sterk verwantskap tussen bepaalde persoonlikheidsbeelde, toestande en impulsiewe aggressie bestaan, is dit steeds nie moontlik om dit deurlopend as die enigste bepalende faktor uit te sonder nie.

Hoewel die verklaring vir impulsiewe aggressie met verswakte tydelike beheer kompleks bly, is navorsing in hierdie verband sekerlik nie onhaalbaar nie. Dit is nietemin noodsaaklik om die rol wat veranderlikes in impulsmoorde speel in ’n regsraamwerk te begrond, om die juridiese en sielkundige konsepte van toerekeningsvatbaarheid daarmee te versoen en om dit vervolgens te integreer.