• No results found

2.5 Die regsbeskouing van geweldsmisdade en impulsmoorde

2.5.2 Kriminele aanspreeklikheid

Om krimineel aanspreeklik te wees impliseer dat die oortreder sy dade toegevoeg (toegereken) kan word en daarom toerekeningsvatbaar is. Die strafreg is gemoeid met die toepassing van hierdie aanspreeklikheid. Skrywers soos Burchell en Milton (2000), De Wet en Swanepoel (1985) en Snyman (2002) brei uit op die beginsels van kriminele aanspreeklikheid:

 Gewone kriminele gedagtes is nie strafbaar nie. Burchell et al. (1983, p. 105) verwys na ’n voorvereiste vir strafbaarheid wat moet bestaan: “…

the law is not concerned with punishing persons with guilty minds unless such persons do some act of criminal nature”. Strafbaarheid impliseer dus

van meet af die uitvoer/pleeg van ’n willekeurige daad: ’n fisiese handeling wat teenstrydig is met die wet, dit wil sê wat onwettig (actus reus) is.

 So ’n handeling gaan gepaard met kriminele aanspreeklikheid (“criminal

capacity”) en is afhanklik van en berus op die teenwoordigheid van actus reus by die beskuldigde. ’n Handeling stel die oortreder se misdadige

gedagtegang en intensie in werking (De Wet & Swanepoel, 1985; Snyman, 2002). In die reg word ’n beginsel gehandhaaf dat ’n bepaalde daad nie onwettig en strafwaardig is as daar nie sprake van skuld (“guilty mind”) is nie.

 Kriminele aanspreeklikheid vereis ’n sogenaamde “unlawful mental

condition (mens rea)”. ’n Misdaad kan dus nie gepleeg word as die

geestestoestand van die oortreder van so ’n aard is dat skuld nie met die optrede vereenselwig kan word nie (Burchell 1983). Die begrip mens rea verwys na blaamwaardigheid wat intensie en agtelosigheid insluit.

Wat toerekeningsvatbaarheid betref, verklaar Burchell en Milton (2000, p. 95) verder: “For criminal liability to result, the prosecution (the State) must prove,

beyond reasonable doubt, that the accused has committed a) voluntary conduct which is unlawful … and that this conduct was accompanied by b) criminal capacity and c) fault (sometimes referred to as mens rea)”. Kriminele aanspreeklikheid is

dus afhanklik van die teenwoordigheid van intensionele onwettige willekeurigheid, kriminele vermoë en ’n “boosaardige ingesteldheid” (soos dit in regsake begrond word). ’n Misdaad kan argumentshalwe nie gepleeg word tydens ’n epileptiese toeval nie. Dit is ook in regskringe bekend dat bepaalde toestande as onbestrafbaar deur howe geag word (sien latere bespreking). Psigopatologies- gefundeerde optrede spruit voort uit ’n heersende psigologiese versteuring soos byvoorbeeld ’n psigose, met gevolglike verlies aan werklikheidsbesef en verlies aan beheer. Die oortreder is in hierdie geval ook nie blaamwaardig nie en howe sal institusionalisering aanbeveel.

2.5.2.1 Psigopatologie en aanspreeklikheid

’n Psigologiese versteuring is volgens Hall en Pritchard (1996) ’n toestand wat op ’n feitebasis gebaseer is. As gevolg van die toestand ontbreek rasionele oordeel en die vermoë om aksies te rig en dus is so ’n persoon nie blaamwaardig nie. Die versteurde het geen begrip van die regsprosedure nie: “Generally speaking, fault in

the form of intention or negligence is a requirement for criminal or civil liability, and as a mentally ill person is doli and culpae incapax, he is not responsible for his crimes or delicts” (Cronje & Heaton, 2002, p. 117).

In voorgenoemde geval kan die daad wat gepleeg is die oortreder (op grond van ’n siektetoestand) nie toegereken word nie en die persoon is nie in staat om die verhoor te volg nie. Die geestes(psigologiese)-ingesteldheid wat ten tye van die pleeg van die misdryf geheers het, is dan nie ter sake nie en irrelevant.

Die Geestesgesondheidswet (Wet 18 van 1973) is ’n wysiging van die Geestesgesondheidswet (Wet 38 van 1916) en sluit psigopatologie en gebrekkige verstandsontwikkeling in. Die versteurde individu wat die misdaad gepleeg het se toestand is van so ’n ernstige graad dat toesig, beheer en behandeling noodsaaklik geag word. Opname kan vrywillig wees, deur ’n hofbevel geskied of andersins in werking gestel word na verslagdoening deur ’n polisie- of mediese beampte. Sertifisering geskied en hierdie individue word in afsondering by ’n toepaslike psigiatriese instelling aangehou. Sodoende word die pasiënt teen sigself en die samelewing teen potensieel skadelike handelinge beskerm. Die finale ontslag van so ’n persoon berus by die minister van justisie.

2.5.2.2 Tydelike nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid

’n Verweer wat toenemend in die howe voorkom (en waarin differensiasie tussen die onderskeie verbandhoudende verwere moeilik deur sommige howe gedoen word), is dié van tydelike nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid (Nel, 2007). Metafories word dit soms as “gesonde outomatisme” in howe beskryf en in leketaal as “temporary madness”. In hierdie gevalle word vryspraak of verminderde morele blaamwaardigheid deur die hof beslis. Dit dui op ‘n tydelike nie-patologiese onvermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en ooreenkomstig so ‘n onderskeidingsvermoë te handel. Sodanige kognitiewe belemmering is nie aan psigopatologie te wyte nie. Snyman (2002) verwys na die begrip nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid as algemeen geldend waar verwere op dronkenskap, provokasie en emosionele redes gegrond word.

Volgens Burchell en Milton (2000, p. 278) “... provocation and severe emotional

stress may deprive a person of the capacity to appreciate the wrongfulness of his or her conduct or to act in accordance with this appreciation”. Hierdie is ’n tydelike

reaksie, die dader is nie geestesongesteld nie en dit gaan gepaard met intense gemoedsveranderinge en luimskommelings. Die heftige reaksie op byvoorbeeld provokasie (wat substantief van aard moet wees) geskied op die ingewing van die oomblik en dit ontaard in ’n impulsmoord. Die skrywers verklaar verder dat “… to

act in the heat of the moment (`impetu`) and thus without direct intention or premeditation … [causes the person to be] ... entitled to a lesser punishment”

(Burchell & Milton, 2000, p. 279).

2.5.2.3 Impulsmoord en verminderde toerekeningsvatbaarheid

Hoewel begrippe soos verminderde toerekeningsvatbaarheid regstegniese begrippe en definisies is wat in die juridiese arena val, word daar van die forensiese sielkundige verwag om misdadige gedrag soos impulsmoorde binne hierdie konteks te verklaar. Toeligting deur die forensiese sielkundige word dikwels deur die hof versoek ten opsigte van die wisselwerking tussen die impulsmoord en aspekte soos wilsbesluit, wilsbeheer, emosies en intensie (wat weer dui op die mate van toerekeningsvatbaarheid). Howe verwag dikwels dat misdrywe (veral ten opsigte van willoosheid en/of verswakte wilsbeheer) deur die forensiese sielkundige op ’n arbitrêre kontinuum beoordeel moet word.

Dit wil sê die misdaad word nie eksak as geleë op een van twee pole beoordeel nie, maar aspekte soos verminderde blaamwaardigheid word op ’n kontinuum aangestip. Die status van die beskuldigde word dus nie tot ’n absolute skeiding tussen toerekeningsvatbaarheid en ontoerekeningsvatbaarheid beperk nie, maar op ’n glyskaal geplaas (Snyman, 2002). Die integriteit van die individu se psige word beoordeel op grond van die wisselwerking tussen die kognitiewe (denke), affektiewe (gevoel) en konatiewe (wilsaktiwiteit wat in optrede presenteer) en word dan in verband gebring met impulsiewe nie-gepredisponeerde diskontrole.

Die wet op minimum vonnisse maak dan ook voorsiening dat dwingende en wesenlike omstandighede (soos byvoorbeeld provokasie en die moordenaar se psigologiese samestelling, asook konstrukte wat aanleiding kon gee tot verswakte kontrole en gevolglike impulsiwiteit) voor die hof as strafversagtende faktore gebring kan word met vonnisoplegging. Dit staan tans onbetwis dat unieke omstandighede een van verskeie faktore is wat in die Suid-Afrikaanse regstelsel beskou word as ’n moontlike determinant wat blaamwaardigheid en kriminele toerekeningsvatbaarheid kan verminder (Snyman, 2002).

Die wet neem steeds in ag dat eiesoortige omstandighede soos ’n kwesbare persoonlikheid, psigiese spanning en uitlokking nie in dieselfde lig as die psigies normaal-funksionerende oortreder of normale omringende omstandighede beoordeel en gestraf behoort te word nie.

Die impulsmoordenaar kan ’n verweer van tydelike, patologiese of verminderde toerekeningsvatbaarheid opper. Die vraag ontstaan hoe hierdie verwere in die praktyk (howe) beoordeel word en of dit in hofgesag onderskryf word.