• No results found

Maatreëls is daargestel om hierdie navorsing binne ’n eties verantwoordbare raamwerk te volvoer:

Die navorser is geregistreer by die Raad op Gesondheidberoepe as Kliniese Sielkundige, as senior (“chartered”) lid van die Instituut vir Personeelpraktisyns en ook as toetsgebruiker by nasionale- en internasionale instansies. ’n Onderneming is gegee dat ten alle tye by die voorgeskrewe standaarde en navorsingsetiek (soos verwoord deur die onderskeie professionele liggame) gehou is, terwyl die onderhoude slegs deur die ondersoeker gevoer is.

Die oortreder gee ook toestemming aan die verwysende regsbron deur ’n sielkundige aan te stel. Dit impliseer per se ’n bepaalde etiese werkswyse wat tussen die onderskeie professies gevolg is. Magtiging en opdrag is deur die beskuldigde (aan die sielkundige en/of regspan) gegee om ’n verslag saam te stel. Van hierdie inligting is dikwels later weer in paroolaansoeke gebruik en met ander soortgelyke gevalle vergelyk.

Geen skade of wanvoorstelling is met die beoogde studie voorsien nie. Die reeds veroordeelde individue se identiteit is vertroulik hanteer, ongeag die regsiening dat sodra getuienis in ’n hof aangehoor word, die sielkundige verslag (die inhoudelike daarvan sowel as die gelewerde getuienis) van openbare belang is en dat eersgenoemde derhalwe dan ook kwalifiseer vir etikettering as ’n openbare dokument - vandaar die juridiese regverdiging vir die publisering daarvan in die pers na afloop van deskundige getuienislewering.

Voorts is dit praktyk vir die hof om na veral prominente moordsake, die volledige sielkundige verslag aan joernaliste beskikbaar te stel; met die gevolg dat inligting daarin vervat dikwels verbatim in tydskrif- en koerantartikels gepubliseer word. Die

klerk van die hof het ook nie die reg om verslae van die publiek en joernaliste te weerhou na afhandeling van die saak nie.

In die onderhawige en beplande evaluerings was nooit aansoeke geloods vir ’n verbod op die bekendmaking van inligting, die beskuldigde se identiteit en/of versoeke dat geslote verhore (in camera) gehou moet word nie. Alle inligting in die verhore vervat is derhalwe van publieke belang (ongeag die moontlike aantasting van die persoon se menswaardigheid en selfs privaatheid) en kan nie onder die kleed van geheimhouding verberg word nie. Dit strook met internasionale rigtingwysers soos die Amerikaanse GR 31 – Public Access to Court Records, asook nasionale riglyne: Artikel 14 van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, No 2 van 2000.

Die navorsing is deur die etiese komitee van die Noordwes Universiteit: (Etiese sertifikaat: NWU – 00052-11-51) goedgekeur.

Hoofstuk 2

Impulsmoord as geweldsmisdaad

2.1 Oriëntering: Definisies en verheldering van die konstrukte “geweld” en “gewelddadig”

Ten spyte van die onlosmaaklike deel wat die begrippe “geweld” en “gewelddadig” van die forensiese sielkunde vorm, bly die betekenis van hierdie begrippe ontwykend. Geweld (“violence, force”) is afgelei van violentus, vi force – letterlik vertaal uit Frans in Latyn as voortspruitend uit krag (Collins English Dictionary, 2003). Dit word voorts in die American Heritage Dictionary of the English Language (2004, p. 499) beskryf as “… marked by, acting with, or resulting from

great force, caused by unexpected force or emotional intensity”.

Sinonieme vir geweld (“violence”) word in die Engelse literatuur as “impetuous,

furious, fierce” en “outrage” aangegee, terwyl gewelddadig (“violent”) in wese die kwaliteit van geweld behels (Cambridge English Dictionary, 1990, p. 456). Dit

word gereduseer tot die betrokkenheid van fisiese krag en die bedoeling om leed of skade aan te doen (Alswang & Van Rensburg, 1995; New Choice English Dictionary, 1999). Die ondersoeker lei af dat eiebelang, motivering en uitkoms dus aan die begrip “geweld” gekoppel word.

Geweld word ook beskryf as ‘n verskyningsvorm van destruktiewe aggressie (Lindgren, 1973) en as “gevaarlik” (Bartol & Bartol, 2006). In hierdie konteks kom dit vir die ondersoeker voor of dit ’n vorm van fisiese krag omsluit wat skade en/of beserings aan mense en/of eiendom ten doel het. Van der Westhuizen (1982) haal Debuyst aan en lê klem op die verband tussen geweld, aggressie en aggressiwiteit; met slegs graadverskille tussen die onderskeie begrippe. Aggressie is volgens Debuyst gedrag wat gerig is op die vernietiging van ’n voorwerp of persoon, terwyl aggressiwiteit ’n ingesteldheid is met ’n potensiaal vir aggressie en

geweld. Dit omsluit ’n doel en word ook met aggressie, aggressiwiteit en gewelddadigheid geassosieer.

Uit bogenoemde volg die volgende interpretasie: geweld kan slegs geweld wees as ‘n “krag” uitgeoefen word, wanneer ’n element van dwang daaraan gekoppel word en wanneer die ontvangs daarvan of onderwerping daaraan as onaangenaam ervaar word. Volgens Bartol en Bartol (2005), Cloete (1982) en Tshiwula (1998) hou dit veral verband met die begrippe opset, ’n skadelike gevolg, ’n potensiële slagoffer en strafbaarheid.

Gewelddadigheid daarteenoor verwys na die eienskap van ’n handeling wat ook ander eienskappe kan openbaar en word in die Pharos Tweetalige Woordeboek (2005, p. 187) beskryf as ’n “act of violence”. Die ondersoeker is dit eens met Ludsin en Vetten (2005) dat gewelddadigheid in die menslike domein ’n fisiese, seksuele, sielkundige en verbale oorsprong kan hê. Dit word insgelyks so in die Wet op Huishoudelike Geweld (WHG, Wet 116 van 1998) vervat waarin spesifiek melding gemaak word van beherende of mishandelende gedrag wat die veiligheid, gesondheid en psigiese welstand van ’n persoon kan benadeel.

Hierdie krag kan oorgaan tot ’n gewelddaad (konasie) met die bedoeling om ’n ander party of die slagoffer leed aan te doen (Armour, 2006) en is dus ’n nadelige aantasting op fisiese, ekonomiese, emosionele en psigologiese vlakke (Burchell & Milton, 2000, Ludsin & Vetten, 2005; Tshiwula, 1998). Die psigiese letsels wat deur die geweldenaar op slagoffers in intieme verhoudings gelaat word, word soos volg in Osland v The Queen (1998) High Court of Australia 75 beskryf: vrees, skaamte, herbelewings, verswakte fokus, emosionele opwekking, waaksaamheid en geheimhouding. Die onwettige (en dikwels) subtiele psigiese teistering van die geweldenaar dra inderdaad by tot die beeld van patologiese passiwiteit en magteloosheid by die slagoffer en behoort tot die sindroom van gewelddadigheid gevoeg te word (R v Babsek (1998) QCA 116 [Supreme Court of Queensland –

’n “serious invasion of the complainant’s privacy, liberty, integrity or security ...

ensuring ... compliance”.

Die eienskap van gewelddadigheid kan varieer ten opsigte van die hewigheid en die vlak van “onstuimigheid” daarvan (Ludsin & Vetten, 2005; Van der Westhuizen, 1982). Dit kan kragdadig of self subtiel oor tyd teenwoordig wees en kan manifesteer in ’n geïsoleerde gewelddadige episode of in ’n deurlopende geneigdheid. Die vraag wat ontstaan is: hoe skakel dit by misdaad in?