• No results found

2.5 Die regsbeskouing van geweldsmisdade en impulsmoorde

2.5.3 Impulsmoorde: regsgesag

Verwere van tydelike of verminderde ontoerekeningsvatbaarheid word met uiterste versigtigheid deur howe beoordeel en selfs met ’n mate van agterdog bejeën, aangesien dit verwere is wat toenemend gebruik word en deeglik getoets moet word. Dit is noodsaaklik vir die forensiese sielkundige om die begrip geestesgesondheid (wat kan inspeel op patologiese ontoerekeningsvatbaarheid) en faktore wat op ’n tydelike toestand van volkome of verminderde toerekeningsvatbaarheid kan dui, prakties te verstaan en te evalueer.

Die bedoeling moet ten alle tye wees om te moor en ’n moordklag word geformuleer ingevolge die regsbeginsel van dolus eventualis – die aangeklaagde moes voorsien dat die slagoffer kon sterf (die intensie moes dus wees om leed aan

te doen). Die volgende dien as rigtinggewende uitsprake waarin hierdie juridiese fenomeen met gelyklopende psigologiese veranderlikes geïllustreer word:

 Van die eerste hofuitsprake waarin tydelik-oorheersende emosionele faktore in ag geneem is, was in 1875: The Plea of Insanity in Case of Murder: The

case of Tierney (Yellowleer & Edin, 1876). Die regbank het in die Glasgow

rondgaande hof ’n steenkoolwerker skuldig bevind aan moord nadat hy en ’n medewerker in langdurige argumente gewikkel was en hy die medewerker doodgeslaan het. Uit die beperkte hofspraak wil dit voorkom of die woede ten tye van die moord impulsief en kortstondig van aard was. Die voorsittende beampte som hierdie rigtinggewende uitspraak op met verwysing na die dader wat steeds tussen reg en verkeerd kan onderskei, maar ’n verminderde sin vir verantwoordelikheid en selfbeheer oor optrede beleef (Yellowleer & Edin, 1876, p. 551).

Voorts verwys die regter in dieselfde saak na morele beoordelingskriteria en verklaar hy dat, met inagname van bogenoemde verminderde aanspreeklikheid, ’n mylpaal bereik is in die vonnisoplegging van diegene met geestesprobleme.

R v Hercules (1954) (3) SA 826 9 (A): Een van die eerste strafsake in Suid- Afrika wat in ooreenstemming met die sielkundige beginsels onderliggend aan impulsmoorde beoordeel is, word gevind in die uitspraak van regter Van den Heever in R v Hercules (1954) (3) SA 826 9 (A). Hy verwys daarin na ’n hibriede of middeweg – dat die intensie bestaan om moord te pleeg, maar dat daar sprake is van onvolledige intensie-vorming en dat ’n mate van verskoonbaarheid (excuse) teenwoordig mag wees. In hierdie geval word die verminderde vonnisopsies as uitvloeisel van hierdie tydelike fenomeen (impulsmoord) deur die regter uitgelig.

Nel (2007, p. 25) haal ’n leerstuk aan waarin die begrip verminderde toerekeningsvatbaarheid omarm word: die beskuldigde bly aanspreeklik, maar word ligter gestraf as wat “normale persone” (wat volkome toerekeningsvatbaar is) gestraf sou word. Hier is verminderde insig en weerstandkrag teenwoordig, begrippe wat gewoonlik by die kwantifisering van skuld en straf ter sprake kom. Dit dui op die verminderde aanspreeklikheid van die oortreder en sal ook bepalend wees ten opsigte van verminderde straf.

 Roe, Ronen, Lereya, Fennig en Fennig (2005, p. 222) verwys na die ingewikkelde aard van ’n onderneming om toerekeningsvatbaarheid tydens impulsmoorde te bepaal. Die psigologiese toestand van die oortreder word beoordeel deur dit met “significantly restricted capacity” te vergelyk. Hierdie begrip kan geïllustreer word in die hofsaak van S v Laubscher 1988 (1) SA 163(A). In dié uitspraak word die oortreder se psigologiese vermoë gestel teenoor die normale psigologiese ingesteldheid waar tussen reg en verkeerd onderskei kan word en vermoë tot weerstand na vore tree in die vorm van weerhouding van onregmatige handelings.

Indien enige (of albei) van laasgenoemde twee faktore of psigologiese gesteldhede ontbreek, is die dader ontoerekeningsvatbaar. In hierdie geval het die dader irrasioneel opgetree, oor die algemeen min weerstand teen spanning getoon en atipies aan sy persoonlikheid opgetree, maar daar is bevind dat hy wel willekeurig en met ’n mate van weerstandkrag opgetree het. Hy was dus nie volkome ontoerekeningsvatbaar nie, maar wel verminderd toerekeningsvatbaar.

 Dit is van wesenlike belang dat die onwettige handeling(e) plaasvind ten tye van die beweerde staat van “geestelike onvermoë” en nie daarvoor of daarna nie. Die uitdrukking en gevolge van die impulsiewe uitbarsting en swak regulering geskied gewoonlik binne ’n kort tydperiode, hoewel daar in

’n enkele saak na langdurige “dissosiasie” en “emosionele katarsis” verwys word. In S v Nursingh 1995 (2) SASV 331 9 (N) bevind regter Squire dat hierdie tipe oortreding oor tyd versprei kan wees en ook met verskeie komplekse tussenhandelinge gepaard kan gaan. In die meeste ander sake word aanvaar dat komplekse (tussen-) aksies voor en na die moord eerder aanduidend is van willekeurige beplanning en goeie werklikheidsbesef.  In die geval van impulsmoorde moet ’n identifiseerbare sneller(s)

teenwoordig wees. Hierdie sneller(s) kan ’n eenmalige stresvolle, degraderende, onverwagte en/of provokerende gebeurtenis wees. Emosionele skok, persoonlikheidsdisintegrasie, psigiese trauma en stresvolle sosiale of maatskaplike omstandighede is van die enkele faktore wat kan bydra tot ’n toestand van verswakte kontrole en ’n impulsiewe emosionele “ontploffing” (S v Campher 1987 (1) SA 940 (A), S v Ingram 1999 (2) SAVS 127 (WLD) en S v Kalogoropoulos 1993 (1) SASV 12 (A). In gerapporteerde hofsake soos S v Henry 1999 (1) SASV 13 HHA, S v

Potgieter 1994 (1) SASV 61 (A) en S v Wiid 1990 (1) SASV 561 (A) word

verwys na impulsiewe ontlading en verklaar dat dit kan voorkom in gevalle waar die individu se geestelike integriteit soos trots, menswaardigheid, selfagting en algehele innerlike harmonie bedreig word (dit word beoordeel as ’n aantasting van psigiese integriteit). Die sneller of stimulus (byvoorbeeld die onverwagte verbreking van ’n langdurige verhouding of ontrouheid) moet as buitengewone stressor beleef word – dit kom voor in situasies wat deur ekstreme provokasie gekenmerk word.

Die uitsonderlike aard van hierdie provokasie word in die regspraak S v

Eadie 2002 (1) SASV 663 (HHA) en S v Eadie (1) 2001 (1) SASV 172 (K)

toegelig en kan nie vergelyk word met optrede wat op elementêre daaglikse stressors gegrond is nie. Die resepterende faktor kan nie alledaags wees nie, maar moet ’n merkwaardige impak op die individu hê en as ’n uitsonderlike stressor met seldsame gevolge kwalifiseer (dus die grense van

redelikheid oorskry). Dit moet verwag kan word dat dit emosionele disharmonie en opwelling by enige redelike mens sou veroorsaak.

Hoewel geen spesifieke regsdefinisie van impulsmoord bestaan nie, word dit in die reël verskillend as “tradisionele” moorde beoordeel en behoort gelet te word op watter van bogenoemde regselemente daarmee geassosieer word. Op grond hiervan sal die hof dan “toets” of ’n redelike persoon ook in soortgelyke omstandighede tot ’n impulsiewe handeling sou oorgaan (Ludsin & Vetten, 2005).

2.6 Samevatting

’n Misdaad word beskou as ’n afwyking van ’n bepaalde gemeenskapnorm en die daad word deur middel van juridiese reëls gesanksioneer. Wat geweldsmisdaad betref, word ook melding gemaak van beherende of mishandelende gedrag wat die veiligheid, gesondheid en psigiese welstand van ’n persoon kan benadeel. Die bedoeling om ’n ander party leed aan te doen, impliseer dus ’n nadelige aantasting op verskeie vlakke.

Die klassifikasie van misdaad het volgens die ondersoeker gelei tot gekompartementaliseerde teoretiese aannames. ’n Leemte ontstaan vanweë die feit dat psigokriminogene determinante nie werklik by die klassifikasie van misdaad in ag geneem word nie.

Impulsmoord en -geweld word gewoonlik beskou as kompleks, impulsgedrewe, ongekontroleerd, sonder beplanning en die gevolg van verminderde selfregulering – nie soos konvensionele moorde wat met duidelike voorafbeplanning en voorbedagte rade uitgevoer word nie. Impulsmoorde neem ’n ander karakter as konvensionele moorde aan en word geassosieer met realiteitsverlies, kognitiewe inperkings, passie en drangverwante snellers. Die determinante van gewelds- en impulsmoorde kan ook teruggevoer word na bepaalde psigopatologiese toestande

(veral middelmisbruik, ASPV en GPV), sosiale leer, verswakte selfregulering, interne en eksterne veranderlikes, en biologiese en fisiologiese determinante.

Verskeie elemente moet teenwoordig wees voordat ’n impulsverweer enigsins sal slaag of as versagting aangebied kan word. Die teenwoordigheid van hierdie elemente kan bydra tot volkome ontoerekeningsvatbaarheid of verminderde toerekeningsvatbaarheid – ‘n beoordeling gebaseer op deduktiewe afleidings wat gemaak word en gefundeer is op die teenwoordigheid en intensiteit van bogenoemde elemente.

Dit is vervolgens belangrik om te bepaal welke bydraes forensiese sielkundiges op grond van die voorafgaande bespreking kan maak in die evaluering van hofgevalle. Die haalbaarheid daarvan sal berus op die aanvanklike regsbegronding en die in- verband-bring daarvan met die groter geheel (met inagneming van die determinante en die onderskeie eiesoortige elemente wat daarmee gepaardgaan).

Hoofstuk 3

Psigoforensiese evaluerings en getuienis

3.1 Inleiding

Die doel van hierdie hoofstuk is om psigoforensiese evaluerings en die aanbied daarvan aan die hand van deskundige psigoforensiese getuienis in die algemeen te ondersoek en dit as vertrekpunt te neem vir die latere samestelling van ’n model vir die evaluering van impulsmoorde.

Die howe is instellings wat gemoeid is met die beoordeling van die faktore wat in bogenoemde prosesse vervat word, terwyl toegesien word dat die fundamentele regte van elke individu (ook die reg op ’n billike en regverdige verhoor) eerbiedig word. Sover dit die strafreg betref, is dit veral gemoeid met die subjektiewe en komplekse individualistiese menslike element wat deur die psigoforensiese sielkundige geëvalueer word. Hierdie menslike feilbaarheid kan lei tot gebreke in die regsproses (Knoetze, 2007). In gevalle waar beoordeling synde suiwer “reg” of “verkeerd”, gegrond op meganiese logika, moeilik bereikbaar is, word gevolglik op die prosedurele bydraes van psigoforensiese deskundiges gesteun. In die literatuur word egter weinig na die psigoforensiese evaluering van impulsmoorde verwys en vrae oor dié kundiges se doeltreffendheid word as wankelbaar beskou.

Tydens ’n kongres wat deur die American Academy of Psychiatry and Law (AAPL) aangebied is, sluit Felthous (2000) aan by die dilemma en verwys hy na die onakkuraatheid van hierdie evaluasies en voorts word verwys na vraagstukke en uiteenlopende, wisselende en selfs afwesige beoordelingskriteria gevind. Die verweer vir impulsmoorde in bepaalde Amerikaanse state is afgeskaf. Dit is daarom belangrik om die huidige stand van forensiese sielkunde en evaluerings te ondersoek.