• No results found

Die plek van psigometriese toetse in psigoforensiese evaluerings

3.3 Die forensiese sielkundige

3.3.4 Die regsposisie van forensiese sielkundiges

3.3.4.5 Die plek van psigometriese toetse in psigoforensiese evaluerings

Inligting wat in die forensiese sielkundige verslag opgeneem word, word bekom tydens die kliniese onderhoud en vanuit die kollaterale inligtingsbronne en dan in samehang met gestandaardiseerde psigometriese toetsresultate benut. Die gebruik van psigometriese meetinstrumente in tradisionele sielkundige omgewings word danksy bydraes deur verskillende navorsers, geredelik as hulpmiddel

aanvaar (Piotrowski, 1999; Piotrowski, Sherry, & Keller, 1985; Watkins, Campbell, Nieberding, & Hallmark, 1995). Grisso (1996) en Meintjes-van der Walt (2001) propageer die inagneming van etiese kodes vir professionele gedrag en vergewis Grisso (1987, p. 835) die volgende: “... operationalization, standardization, and

quantification have always distinguished psychology from other mental health professions in their contributions to assessment”. Dié metings verleen struktuur

aan die evalueringsproses en verhoog die kwaliteit sowel as die bydrae van die sielkundige.

Nicholson en Norwood (2000) formuleer bepaalde vrae in hulle indirekte verwysing na faktore wat die kwaliteit van forensiese verslae sal verhoog en lê veral klem op psigometriese toetse:

i) het die ondersoek aan die etiese eise vereistes van so ’n evaluering beantwoord?

ii) watter bronne het die ondersoeker geraadpleeg? iii) watter psigometriese toetse is afgeneem?

iv) is die sielkundige toetse korrek en toepaslik aangewend?

v) is kollaterale inligting van eksterne bronne (derde partye) bekom? vi) is ’n mening geformuleer ten opsigte van die regsvrae wat bestaan? en vii) is hierdie mening gefundeer op die verkreë inligting en kliniese inligting?

Vir soverre dit die benutting van sielkundige toetse in die forensiese veld betref, is vraagstukke in hierdie verband algemeen. Die heersende de facto kontroversie oor die algemene bydrae van forensiese sielkundige tot hofverrigtinge, bestaan insgelyks ten opsigte van die benutting van sielkundige meetinstrumente. In dié akademiese debat is sterk voorstanders vir die gebruik van psigometrie as ’n hulpmiddel te vinde, maar ook diegene wat argumente daarteen aanvoer. Ziskin en Faust (1995) analiseer die voor- en nadele en steun die doelmatigheid benutting van toetse in die regspleging, mits dit aan ses kriteria beantwoord:

Tabel 3.6 Ses kriteria waaraan psigometriese toetse moet beantwoord:

1. Is die instrument betroubaar?

2. Bestaan ’n verband tussen die betrokke toets en die vereiste wat in die evaluering van belang is?

3. Kan positiewe identifikasie die toets van basisanalise weerstaan? 4. Beantwoord dit aan die geldigheidskriteria?

5. Is die bevolking waarop dit gestandaardiseer in ag geneem? 6. Is die voorspellingswaarde van die toets bo verdenking?

Bron: Ziskin en Faust (1995).

Desondanks die kritiek wat sielkundige toetse moet verduur, bestaan daar ook groeiende belangstelling en meer positiewe sienings daaroor. Psigometriese toetse verskil in wese van ander tegnieke wat benut word om inligting ten opsigte van ’n persoon in te samel. In hierdie verband verwoord Lezak (1995 , p. 145) die volgende siening van Green: “... it elicits behavior samples in a standardized,

replicable, and more or less artificial and restricted situation” – ‘n voordeel wat

sekerlik nie gering geag kan word nie. Die teenvraag ontstaan, naamlik die leemte wat in evaluerings van hierdie aard gelaat word indien psigometrie totaal uitgelaat word? Om uitsluitlik net op die meningsvorming van die sielkundige staat te maak, sal wat die ondersoeker betref, lei tot groter subjektiwiteit.

Gelyklopend daarmee is die vertrekpunt dat psigometriese toetsresultate in ieder geval gebruik behoort te word vir die formulering van hipoteses (Greenberg et al., 2003). Feite moet bevestig word deur verskeie ander ondersoeke en inligtingsbronne: die toetsdimensie in veral strafregtelike sake vervaag voor ’n meer uitgebreide beoordelingsperspektief. Die sielkundige moet op grond van omvangryke inligting (psigometrika ingesluit) ekstrapoleer en vergelykings tref.

Greenberg et al. (2003) bied ’n raamwerk aan waar ooreenkomstig bepaalde faktore in ag geneem behoort te word wanneer psigometriese toetse gekies word. Met nominale wysigings kan dit in die volgende forensiese model saamgevat word:

i) die premorbiede funksioneringsvlak van die individu moet bepaal word; ii) die aard van die individu se heersende geestestoestand moet bepaal word; iii) die aard en omvang van voorafbestaande patologiese of andersins

noemenswaardige belemmerde areas van funksionering moet geïdentifiseer word; en

iv) die moontlike psigiese oorsake van verswakte funksionering moet bespreek word.

Greenberg verwys voorts na die veelvlakkige en uiteenlopende wyses waarop hierdie aspekte geëvalueer moet word en stel die volgende aanvullende vereistes:

 noukeurige waarneming van die toetsling se reaksiestyl op die toetse;

 konsensus bestaan dat geen meetinstrument werklik volkome daartoe instaat is om die toetsling se premorbiede funksioneringsvlak te meet nie;  ander nie-oortredingsverwante trauma behoort geïsoleer te word;

 hipoteses moet aan die hand van die meetinstrumente getoets word;

 van wesenlike belang is die volgende: “... they (hipotese-formulering en -toetsing) must be considered in conjunction with other clinical forensic

examination techniques” (Greenberg et al., 2003, p. 416); en

In pogings om kritiek te vermy moet die sielkundige in hierdie verband met oordeel staatmaak op verskeie beskikbare meetinstrumente en die gepaardgaande etiese verantwoordelikheid om ’n gegewe doel met die evaluering te bereik.

3.3.5 Samevatting

Behoudende standpunte kan wel in bestaande psigoforensiese evalueringsmetodes geïdentifiseer word. Hierdie metodes mag prosedureel korrek en vakkundig gepas wees om in bepaalde evaluerings benut te word, maar word menigmaal gekritiseer. In die toepassing van die psigoforensiese evaluerings is ruimte vir meer tegniese beheer oor eiesoortige saakinligting, ’n groter mate van volgehoue objektiewe “sinisme” wat vergestalt in die afstand tussen evalueerder en kliënt, die inwin van kollaterale inligting en die in-pas-bring van menslike dinamika met die modus operandi. Die psigoforensiese vakgebied staan nie in afsondering nie en vereis die evalueringsmetodiek ook inter-kontekstuele inagneming en ’n voortdurende omvorming.

Die vraag wat ontstaan is hoe hierdie evalueringsprobleem (meer spesifiek impulsmoorde) prakties aangespreek kan word? Die psigoforensiese evaluering van laasgenoemde misdrywe word egter nie afsonderlik in die literatuur belig nie - selfs nie in die gedetailleerde resente opleidingshandleiding vir forensiese evalueerders van Whitlock (2010) nie. In die lig daarvan word die bespreking vervolgens gefokus op die bewese evalueringsriglyne met ontwikkelingsnavorsing as navorsingsontwerp.

Hoofstuk 4

Ontwikkelingsnavorsing

4.1 Inleiding

’n Navorsingsontwerp fokus tradisioneel (en as fundamentele paradigma) op kennisontginning, terwyl toegepaste navorsing weer op die oplossing van ’n spesifieke vraagstuk fokus (Bailey,1987; de Vos 2011; Guy, Edgley, Arafat, & Allen, 1987; Neuman, 1991). In veral basiese navorsing kan dit egter bestaande teoretiese kennis van die praktyk verwyder (Van Rensburg, 2001).

In die onderhawige studie het die behoefte ontstaan aan ’n kruisbestuiwing tussen praktyk en navorsing, sowel as aan ’n nuwe, prakties-relevante werkswyse met die doel om verandering in ’n komplekse verskynsel soos die evaluering van impulsmoorde te bewerkstellig. Derhalwe is besluit om ontwikkelingsnavorsing (meer spesifiek intervensie-ontwerp) te benut om ’n praktiese produk (’n psigoforensiese evalueringsmodel vir impulsmoordenaars) en ’n kennisproduk (die bepaling van die uitwerking en aanvaarding van sό ’n model in die juridiese en sielkundige vakgebiede) te verseker.

Hierdie intervensie is plooibaar en kon by veranderinge (soos wetwysigings) aanpas. Dit maak ook voorsiening vir die evaluering van kultuur-diverse groepe en kan as ’n deus ex machina – dit wil sê as werktuiglike tussenkoms benut word tussen die regsproses en die deskundige se hofbydrae. Dit strek van die daarstel van evaluasieriglyne tot die wyse en konteks waarin inligting voor die hof aangebied word. Dit vereis ook dat eksterne invloede (van byvoorbeeld hulpprofessies en kollegas) voortdurend in ag geneem word en dat moontlike vrae (van byvoorbeeld regslui) wat mag ontstaan, insgelyks aandag sal geniet.

Ontwerp in hierdie konteks verwys volgens Rothman en Thomas (1994) na:

i) ontdekkende ingesteldheid (vergelyk die eksploratiewe aard van die hipoteses insake impulsmoorde wat in hoofstuk 2 geformuleer is); en

ii) die missiegedrewe nut daarvan vir die primêre gebruiker (in hierdie geval die psigoforensiese sielkundige).