• No results found

Hoofkenmerke en uitgangspunte van sistemiese denke

4.2 Die Ontwerp en Ontwikkelingsnavorsingsparadigma

4.2.7 Die Algemene Sisteemteorie as konseptualiseringsraamwerk en

4.2.7.2 Hoofkenmerke en uitgangspunte van sistemiese denke

Skrywers soos De Villiers (2000); Gerber et al. (1998); Katz en Kahn (1996); Miller (1978); Oosthuizen (2008); Schoeman et al. (1983) en Van Rensburg (1975) onderskei die volgende dimensies en eienskappe van sisteme:

 Die ingewikkeldheid van die saamgestelde geheel word as vertrekpunt aanvaar. Inligting word verkry deur die interafhanklikheid van verskillende vlakke of skakels in die menslike leefwêreld. In die onderhawige studie sal inligting vanuit verskeie geesteswetenskaplike velde (die regte ingesluit) en verbandhoudende domeine soos parool-, maatskaplike- en polisieverslae gesintetiseer word.

 Die struktuur van elke sisteem is eiesoortig. Ongeag die kompleksiteit of eenvoud daarvan, kan binne elke sisteem ‘n eiesoortige struktuur met reëlmatigheid onderskei word (Van Rensburg, 1975). Die “struktuur“ en tendense soos persoonlikheid, genogram, historiese inligting en verhoudingslewe van die impulsiewe oortreder sal as eiesoortige, interne en eksterne dinamika bestudeer word.

 In sover dit verandering in ‘n enkele sisteem betref, lei dit noodwendig tot verandering in ‘n ander sisteem of sisteme en gevolglik tot verdere kringloopbeïnvloeding van die oorspronklike sisteem. Hierdie proses van voortdurende omvorming berus op die proses van terugvoering wat eweneens in die verhoudingslewe van die impulsmoordenaar bestaan. Lewende sisteme is afhanklik van insette en uitsette van ander sisteme en terugvoering is derhalwe bepalend vir die dinamiese voortbestaan van ‘n sisteem. Gerber et al. (1998, p. 35) beskryf dit vanuit ‘n menslike hulpbronbenadering soos volg: “ ... during this process it takes in resources

which it tranform into products and services made available to the environment in the form of outputs”.

In die geesteswetenskappe word inligting wat sinvol is in ‘n deurset verwerk en deur “… die integrering van hierdie inhoude in die verwysingsraamwerk

word ‘n uitset gelewer. Die terugvoering van die doeltreffendheid van die integrering verifieer of die behandeling verantwoordbaar en wetenskaplik was“. (Grobbelaar & Schoeman, 1980, p. 205). Die interaktiewe proses

van inset-deurset-uitset/transmissie (by die oortreder, die slagoffer en omringende faktore wat die misdaad vooraf gegaan en gesneller het) en terugvoering deur die hof, sal dit moontlik maak om riglyne en behoeftes in die onderhawige navorsing te identifiseer.

 Die aard van die subsisteme is nie noodwendig ‘n weerspieëling van die karakter van die groter saamgestelde sisteem nie omrede ‘n sisteem meer as die somtotaal van die onderskeie subsisteme is. In die lig hiervan moet aanvaar word dat impulsmoord as primêre sisteem van ondersoek ‘n komplekse verskynsel met ‘n eiesoortige samestelling is. Dit het ander kenmerke en manifestasies wat nie noodwendig by die saamgestelde subsisteme aangetref word nie (juis omrede dit as onverwags en atipies in die groter sisteem beoordeel word).

 Die kategorisering van ‘n bepaalde sisteem hang grootliks af van die deurdringbaarheid van die grense. In relatief geslote sisteme soos die juridiese sisteem is die sisteem op sigself meer onafhanklik van eksterne invloede en is byvoorbeeld meer self-onderhoudend as wat dit by die gesinsisteem is waarbinne die misdaad gepleeg word.

 ‘n Oop sisteem daarteenoor, benodig insette vanuit ‘n eksterne omgewingsbron (die wederkerige insette en uitsette het ‘n invloed op beide die sisteem en die omgewing). Hierdie uitruilings kan vertikaal sowel as horisontaal plaasvind en impliseer ‘n veelheid van moontlike veranderinge. Lewende sisteme is volgens Von Bertalanffy (1971) oop sisteme met deurdringbaarheid en energie-uitruiling.

Die kenmerke van ‘n oop sisteem vergestalt ook in die onderhawige studie die afhanklikheid van en interaksie tussen die onderskeie spesialissisteme (velde) op vertikale vlak en die horisontale hiërargiese beoordeling van die impulsmoordevaluerings deur die regsgesag.

 Volgens Miller (1978) bestaan daar ‘n hiërargiese ordening van sisteme wat strek vanaf betreklik enkelvoudige tot multi-dimensionele sisteme. Jordaan en Jordaan (1998) sluit by hierdie gedagte aan as hulle die volgende hiërargiese sisteemindeling soos voorgestel deur Sundberg, Tyler en Taplin, voorhou: i) supra-nasionale sisteme; ii) samelewingsisteme; iii) organisasiesisteme; iv) groepsisteme; v) organismiese sisteme; vi) orgaansisteme; en

vii) selsisteme (die mees primêre vlak).

Bronfenbrenner het in die sewentigerjare ‘n ekosistemiese model ontwikkel (Swart & Pettipher, 2005). Ekologie dui volgens hierdie navorser op die verbintenis tussen ‘n lewende organisme en die omgewing. Hoewel die grense tussen die sisteme wat hy onderskei nie altyd duidelik is nie, bestaan daar wel begrensde kontekssisteme in sy werk (Swart & Phasha, 2005). Dit kan met vrug in die teoretiese konteks van die sisteembenadering gebruik word, naamlik Ekosisteme ► Mikrosisteme ► Mesosisteme ► Makrosisteme ► Kronosisteme. (Hierdie hiërargiese indeling word meer breedvoerig in die volgende hoofstuk toegepas en geïllustreer).

 Grensafbakening: Grense as ‘n sisteemeienskap is ‘n belangrike begrip in die sisteemteorie. Grense is nie noodwendig geografies van aard nie, maar kan in sosiale patrone of bepaalde wyses van geordenheid vergestalting vind (Van Rensburg, 1975). Sisteme kan meervoudige doelwitte en ‘n veelheid van oorhoofse funksies hê en bemoeilik soms die begrensing. So bly elke vakgebied wat in die regsmilieu funksioneer steeds ‘n sisteem in eie reg, met ‘n eiesoortige afgebakende identiteit, ongeag die voortdurende

kruisbestuiwing met ander sisteme. Grensafbakening (in die geval van psigoforensiese werk), benewens die noodsaaklikheid daarvan vir die onderskeie tussensisteme (ander vakdomeine), maak die identifisering van leemtes en ‘n spesialiswerkswyse soveel meer betekenisvol.

Ekwilibrium / ewewig en die voortdurende strewe daarna is ‘n verdere sleutelbegrip in die bespreking van sisteme. Elke sisteem verskaf voortdurend inligting en energie aan die omgewing (ander sisteme) en ontvang weer inligting in die vorm van insette vanuit die omgewing. Individue as sisteme staan byvoorbeeld in verhouding tot ander (byvoorbeeld ‘n gesin, gemeenskap of kultus) en dien sodanig as energie- invoerders aan die ander sisteme wat op hul beurt ‘n soortgelyke funksie vervul.

Hierdie energie omsluit beide fisiese en psigiese energie en manifesteer hoofsaaklik in menslike gedrag en optrede. Binne hierdie voortdurende sirkelgang streef elke sisteem (individu) na ‘n toestand van ekwilibrium wat dus nie outonoom bewerkstellig kan word nie, maar deur die insette van ander sisteme beïnvloed word (De Villiers, 2000). Die vraag in die onderhawige studie sal wees watter energie-invoer gelei het tot impulsiewe emosionele opwekking (die oortreding), tot watter versteuring dit in die samelewingsekwilibrium gelei het en aanleiding gee tot onder andere strafversagtende en -verswarende omstandighede.

Volgens Schoeman et al. (1983) behoort sistemiese tyd ook teoreties in ag geneem te word. Hierdie outeurs beskou die begrip as synde betrekking te hê op die periode wat ‘n aanvang neem sodra ‘n proses geaktiveer is of alternatiewelik as die periode waartydens ‘n bepaalde struktuur bestaan. Tyd verloop egter progressief, beweeg vorentoe en lei daartoe dat entropie toeneem (De Villiers, 2000). Die energie in die sisteem is dus toenemend minder beskikbaar vir bruikbare omsetting van insette na uitsette.

Entropie is egter wel omkeerbaar wanneer insette aan ‘n sisteem gelewer word. Tyd is ingebed en vorm die sentrale aanname in die onderhawige studie in soverre dit kan dui op voorafbeplanning of dit andersyds as impulsoptrede geklassifiseer kan word.

 Die selfsisteem en ander hoërordesisteme soos die supra-nasionale sisteme beskik elkeen oor ‘n bepaalde kultuur wat De Villiers (2000) as geskiedenis beskryf. Die kultuur verskil van sisteem tot sisteem en hierdie verskille behoort deurlopend in ag geneem te word tydens navorsing. Bergh en Theron (1999) noem in hierdie verband dat die kultuur van ‘n sisteem ook ‘n uitwerking het op die selfsisteem se gesondheid, nie slegs in die sin van ‘n binne-inset nie, maar ook as ‘n uitset van ander sisteme waardeur die selfsisteem omring word.

Die waarde van die begrip “kultuur“ is in die ondersoek van impulsmoorde geleë in die voorkoms van gewoonlik eenmalige atipiese optrede teenoor ‘n kultuur van gewoontemisdadigheid, asook geïdentifiseerde kultuurverwante faktore en buite-insette wat sistematies opbou tot finale destruktiwiteit. ‘n Model gegrond op die sisteemteorie (as agtergrondvertrekpunt binne die ontwikkelingsnavorsingsparadigma) gee erkenning aan die wisselwerking tussen die onderskeie subsisteme waardeur laasgenoemde omgeef word. Oosthuizen (2008, pp. 226, 227) wys daarop dat lewe nie in isolasie bestaan of beoordeel kan word nie, maar voorkom “… within the intersection contexts of their lives” en dat die “… interrelations between different systems, as well as the parts of a system

cannot be denied”. So ʼn benadering vereis ‘n tipering van die sirkelgang, interaksie

en patroon binne en tussen die onderskeie sisteme (Grobbelaar & Schoeman, 1980).

Met bogenoemde fokus as vertrekpunt hou die sisteembenadering ook bepaalde dieperliggende implikasies vir die forensiese sielkunde as navorsingsveld in. Die forensiese sielkundige word gereeld blootgestel aan die wisselvallige aard van

interne (individuele) invloede wat in hierdie sistemiese benadering inpas en soos volg prakties geïllustreer kan word:

Die veronderstelling in die sisteemteorie is dat die individu ’n ondergeskikte rol in die groter (wisselwerkende) holistiese geheel speel (Gerber 1998; Hepworth & Larson, 1982), maar terselfdertyd ook as (kleiner) subsisteem funksioneer en kwalifiseer. Die groter geheel bestaan uit interafhanklike onderlinge komponente. Die individuele sisteem (in hierdie studie die ondersoeker, regslui, ander professies, ens.) vorm hiermee ’n kennelike parallel: dit is ’n (biologiese) sisteem

per se en ook ’n sisteem in eie reg, met eie paradigmatiese, onafhanklike

denkelemente en bepaalde intrapsigiese vertrekpunte of metateorieë.

In die wisselwerking wat tussen die individu en ander sisteme plaasvind, word daar voortdurend andere denkwyses en “ongeskrewe” oriëntasies (vanaf al die betrokke sisteme) tot die groter verhouding gevoeg. Die ordelikheid en algehele funksionering van sisteme (insluitend die kleiner individuele sisteem) word egter nie net deur hierdie eksterne veranderlikes beïnvloed nie, maar ook deur interne (intrapsigiese) (denk)invloede.

Dit lei tot verskeie spekulatiewe moontlikhede by hierdie sisteem (soos ’n persoonlike vooropstelling, gelowe, ’n bepaalde ingesteldheid en selfs mites en politieke oriëntasies). Dit is identifiseerbaar in herhalende gedrag of gedragspatrone en is ’n proses van geleidelike ontknoping en afwenteling (in byvoorbeeld hofverrigtinge). Hierdie gedrag is volgens Vivier (2009) ’n refleksie op “reëls” wat die bepaalde (sub)sisteem se optredes en reaksies reguleer.

Soos dit noodsaaklik is om die kenmerke en “reëls” van die groter sisteem te begryp, is dit eweneens noodsaaklik om ag te slaan op die kenmerke en aannames van elke kleiner sisteem waarmee die forensiese ondersoeker te doen kry (dit, terwyl ‘n holistiese beskouing steeds gehandhaaf word). Dit sluit argumentsonthalwe verskillende denkwyses in wat in verskillende intra-kontekste kan eggo.

Die volgende dien as voorbeelde:

 Vanuit ’n politieke perspektief kan ’n aangeklaagde enersyds as ’n visioenêre struggle ikoon inspireer en andersyds (in skrille kontras en vanuit ’n ander denkraamwerk) as ’n veroordeelde terroris beskou word. In die geval van ’n impulsmoord mag die familie van die oortreder die daad rasionaliseer as frustrasiegedrewe en dat dit deur die slagoffer ontlok is, terwyl die familie van die slagoffer die oortreder as aggressor verwerp.  So mag vroulike aanklaers byvoorbeeld ook ’n groter weersin hê in die

aanvaarding van impulsgedrewe gedrag as verweer by manlike moordenaars in die geval van ’n vroulike (mishandelde) beskuldigde.

 Die vyandigheid teenoor geweldplegers wat polisiebeamptes vermoor, kan onmiskenbaar meer prominent na vore tree in die polisiesubkultuur as die geval teenoor alledaagse publieke moordenaars. Dieselfde houding mag teenoor die impulsmoordenaar aangewakker word deur instansies (as ’n bepaalde subkultuur in die gemeenskap) wat geweld teenoor vroue propageer.

 Daar kan ook sprake wees van “mikro-subsisteem”-gedrag en -denke wat byvoorbeeld manifesteer in die polisie se “oorhantering” van geweldenaars. Soortgelyke kritiek teenoor en selfs subjektiewe veroordeling van die impulsmoordenaar kan voorkom in versetoptredes deur sekere belangegroepe tydens hofverskynings - selfs alvorens ‘n hofbevinding gemaak is.

 ’n Bepaalde morele ingesteldheid in ’n bepaalde subsisteem kan ook verdraagsaamheid vir immorele gedrag in die hand werk: so kan die wetgewer (die regering van die dag as subsisteem en die individue daarby betrokke) meer verdraagsaam wees teenoor witboordjiemisdrywe wat deur amptenary gepleeg word as wat dit andersyds deur die opposisiepartye getolereer word. Manlike impulsmoordenaars wat oor tyd aan ekstreme en

onnatuurlike spanningsdruk in verhoudings blootgestel was, kan (as subsisteme) ‘n drukgroep vorm om groter verdraagsaamheid jeens hul (gedwonge) immorele optrede in byvoorbeeld paroolaansoeke te vestig.  Xenofobiese reaksies kan in dieselfde idioom minder konflik en ondersoek

ontlok in yl bevolkte gebiede (en insgelyks polisiedenke temper) as wat dit die geval in stedelike gebied is. Soortgelyke verminderde fokus kan by impulsmoorde voorkom wat in afgeleë plattelandse gebiede gepleeg is en dit gerieflik as bloot nog ’n moord aangeteken word. Tendense en veranderlikes verbandhoudend met die impulsiewe aard daarvan word nie ondersoek en beskryf nie. Die metateoretiese oriëntasie betreffende impulsmoorde in bepaalde tradisioneel Afrika-lande verklaar in dieselfde idioom waarom die kleiner sisteem (die individuele wetstoepassingsbeampte) die manlike outoriteitsposisie so hoog aanslaan dat aggressie jeens die onderdanige huweliksmaat in ’n mate getolereer word.

In die groter geheel ontwikkel hierdie diverse ingesteldheid (binne intra-kontekste) vanweë die verskillende metateoretiese premisses wat by die individu bestaan. Dit laat die ondersoeker met die siening dat absolute en oorvereenvoudige aannames nie in die onderskeie kleiner sisteme bestaan nie, maar dat ’n eie en diverse denkraamwerk binne elke sisteem teenwoordig is en uitkristalliseer in verskillende reëls en optredes wat voortdurend deur die forensiese sielkundige in ag geneem moet word.

4.2.8 Gevolgtrekking

Dit is inderdaad ’n noodsaaklikheid om in die geval van ontwikkelings-ontwerp- intervensie weg te beweeg van die begrip van lineêre veroorsaking ten gunste van die ondersoek van ’n verskynsel soos misdaad. In die geval van die primêre selfsisteem sal dit die impulsoortreder self wees, tesame met byvoorbeeld die verhouding waarin dit gepleeg is, die regsbeskouing van so ‘n oortreding, die

gesinslede en die gemeenskap se rol en beïnvloeding en ander makrosisteme soos staatinstellings. Die sielkunde word dus nie net as ’n holisties kennis-sisteem geken nie, maar innerlike psigiese dinamika asook ander omgewings- en verhoudingsubsisteme word eweneens as bydraes tot die impulsoortreding geag.

Die sisteembenadering verskuif dus die klem vanaf die gans verskillende paradigmatiese eng mediese en lineêre oorsaaklikheidsmodel na die wisselwerkende energie tussen sisteme (insluitend ander vakgebiede en kollaterale sisteme verbandhoudend met die misdryf). Indien forensiese sielkundige navorsing vanuit ʼn oop sistemiese benadering (met transmissie tussen verskeie ander spesialisvelde) onderneem word, sal dit die wetenskaplike voetspoor van ander sisteme tot die ontwikkeling van ’n intervensie- evalueringsmodel behoorlik belig.

In die onderhawige ondersoek is reeds aangetoon dat die bydraes van psigoforensiese deskundiges ondoeltreffend blyk te wees en dat dit moeilik ‘n fenomeen soos impulsmoorde kan verklaar. Verskeie bruikbare (en ook minder doelmatige) ontwikkelingsevalueringsmodelle is bespreek. Bepaalde riglyne in die onderskeie ontwikkelingsmodelle gestel sal nietemin gevolg word om ‘n forensiese evalueringsmodel daar te stel wat as nuwe paradigma sal dien en wat erkenning sal geniet in howe sowel as by ander forensiese sielkundiges.

‘n Eiesoortige psigoforensiese evalueringsmodel vir impulsmoorde sal dus ontwikkel word en breedvoerig in Hoofstuk 5 bespreek word. Die ontwikkelingsproses betreffende die evaluering van impulsmoordenaars, asook innovasietegnieke, stappe en metodes sal ook bespreek word.

Hoofstuk 5

Die ontwikkeling van ‘n psigoforensiese evalueringsmodel vir impulsmoordenaars vanuit ’n ontwikkelingsnavorsingsperspektief

5.1 Inleiding

Mullen (1994) argumenteer dat intervensie-ontwerp nie rigied is nie en voorsiening maak vir die benutting van reeds bestaande kennis insake modelle. Dit kan op vindingryke wyse benut en aangepas word vir die skepping van nuwe modelle wat Mullen as ‘n eiesoortige intervensiemodel beskou. Die ontwerp van so ‘n evalueringsmodel vir impulsmoordenaars (met die sisteemteorie as vertrekpunt) is as sirkulêre proses onderneem. Die fokus val in die besonder op die praktiese aanwending van die innovasie binne die konteks van ontwerp, toepassing en evolusie.

Hoewel die onderskeie modelle sekerlik ʼn veelvoud van navorsingsopsies tot gevolg het, val die behoefte aan ‘n eiesoortige proses van intervensie-ontwikkeling en -ontwerp steeds op. Sό ‘n model behoort bestaande leemtes in psigoforensiese evaluerings te identifiseer en behoort te kan dien as ‘n evalueringsintervensie vir straftoemeting en toerekenbaarheid by impulsmoordenaars. Die onderskeie fases en stappe wat gevolg is, word vervolgens bespreek: