• No results found

2.2 Definisies, klassifikasie en voorkoms van misdaad en

2.2.2 Definisies en omskrywings van misdaad

Misdaad word in die algemeen (ook in die Suid-Afrikaanse hofkonteks) beskou as ’n oortreding, ’n delik wat gepleeg is (Snyman, 2002). Labuschagne en Eksteen (1992, p. 11) beskryf dit as sinoniem met onder meer ’n “slegte daad ... ’n misdryf” en om ’n “strafbare ding te doen”. Dit impliseer die skending van ’n gemeenskapsnorm of gedragsreël (Cronjè, Van der Walt, Retief, & Naudè, 1976; Garland, 1991; Kleyn & Viljoen, 2010). Dit is dus strafwaardig, ’n wetlike oortreding wat bepaalde regsgevolge inhou (Garland, 1991; Snyman, 2002). Sonder wette is daar geen straf nie: nulla poena sine lege. Die graad van intensie, boosaardigheid en gedrewenheid moet ook beoordeel word.

Burchell en Milton (2000), Schonborn (1975) en Snyman (2002) betrek ook terme soos aanspreeklikheid, handeling, opset (’n kriminele bedoeling) en verbodsbeskrywing om die misdaadbegrip te definieer. Hulle wys daarop dat ’n persoon wat daartoe oorgaan, verwyt word en dat blaamwaardigheid met die strafbare handeling (waarby die dreigement van pyn en leed gevoeg kan word) gepaard moet gaan. Dit impliseer ook toerekeningsvatbaarheid (Nel, 2007).

Nettler (1978, p. 33) haal Tappan se bekende internasionale omvattende definisie van misdaad aan as “... a crime is an intentional violation of the criminal law,

committed without defence or excuse and penalized by the state”. Hierdie

oortredings val in twee groepe, naamlik ernstige oortredings wat in die meeste samelewings veroordeel word (mala in se – verkeerd in wese) en optrede wat slegs in bepaalde samelewings gesanksioneer word (mala prohibita) (Burchell & Milton, 2000).

Die vraag ontstaan of so ’n geïntegreerde beskouing van die klassifikasie van misdaad ook moontlik is.

2.2.3 Die klassifikasie van misdaad en misdadigers

Die klassifisering van misdaad vergemaklik nie net die statistiese meting van misdaad nie, maar bepaal ook watter howe jurisdiksie daaroor het. Die Irish Crime Classification System (ICCS) kan met reg as een van die volledigste internasionale juridiese indelings van misdaad beskou word (Central Statistics Office, 2008) en omskryf 16 misdaadkategorieë. Voorgemelde indeling is nie net omvattend nie, maar ook pragmaties en die elemente van die misdaad word volledig in die prosedures beskryf. Net so word die eenvormige aanmelding van misdaad in die Verenigde State van Amerika oor jare verseker deur die Uniform Crime Reporting System (Federal Bureau of Investigation, 1997; 2000) as klassifikasieriglyn.

Hoewel hierdie sisteem tot die klassifikasie van misdaad bydra, bly dit by uitstek inligting wat vir verslagdoening benut word en word die blote aanmelding van ’n misdaad nie dieselfde gedokumenteer as in die geval van die arrestasie vir ’n misdaad nie. Die verdere vraag wat ontstaan behels die klassifikasie van minder ernstige misdade.

In die juridiese indeling van misdaad in Suid-Afrika word die fokus op die skending van die regsbelang geplaas en De Wet en Swanepoel (1985) se tienledige indeling word algemeen as sprekend van hierdie beskouing erken. Hierdie outeurs verwys onder meer na misdade teen die lewe, liggaam, eiendom en godsdiens, asook vermoënsregtelike misdaad soos diefstal. Ongeag die volledigheid van hierdie indeling ontstaan die vraag by die ondersoeker of daar nie meer pertinent voorsiening gemaak behoort te word vir misdade wat gepleeg word deur diegene wat minder toerekeningsvatbaar is nie (soos jeugdiges en psigies versteurdes).

Wat die RSA betref, verkies Burchell, Milton en Burchell (1983) die volgende nasionale klassifikasie:

i) misdaad teen die staat en die gemeenskap in die algemeen, bv. hoogverraad en lykskending;

ii) misdaad teen die persoon, bv. moord;

iii) seksuele en nie-seksuele misdaad wat liggaamlike veiligheid bedreig, bv. verkragting en menseroof; en

iv) misdaad teen eiendom en gelyksoortige (“kindred”) misdaad, bv. bedrog en saakbeskadiging.

’n Bruikbare indeling word deur hierdie outeurs voorgestel wat byvoorbeeld die indeling van huisbraak (met die doel om te steel) onder “misdaad teen eiendom” klassifiseer, terwyl toegegee word dat ’n inbraak ook kan geskied met die doel om te moor. Laasgenoemde impliseer dan dat dit eerder onder “misdaad teen die persoon” geklassifiseer moet word.

Snyman (2002) bied in dieselfde vakgebied die volgende vierledige juridiese indeling van misdaad aan:

i) misdaad teen die staat en die administrasie (bv. hoogverraad); ii) misdaad teen die gemeenskap (seksmisdrywe ressorteer hieronder);

iii) misdaad teen die persoon (moord is ’n voor-die-handliggende voorbeeld); en iv) vermoënsmisdade soos bedrog.

Die finale vraag is egter of alle misdade nie in wese teen die gemeenskap (en die lede van die gemeenskap in die algemeen) gepleeg word nie.

Die volgende tersaaklike argument van Burchell et al. (1983) word deur die ondersoeker gesteun: die feit dat die meeste skrywers misdaad teen die staat as vertrekpunt neem, mag impliseer dat die staat se belange voorrang bo die individu geniet, terwyl dit in stryd is met die SA Handves van Menseregte. Die individu bestaan nie ter wille van die staat nie, maar andersom.

Probleme met bogenoemde indelings van misdaad is dat dit nie altyd voorsiening maak vir oortredings deur jeugdiges of misdaad wat met tegnologiese hulpmiddels (soos rekenaar- en Internet-(seks)oortreders) verband hou nie en in enkele gevalle word gewoontemisdade ook oor die hoof gesien. Die klassifikasie van misdaad volgens motief is onvoldoende omdat misdaad deur meer as een dryfveer gemotiveer kan wees.

Die vraag ontstaan voorts of misdade wat impulsief en sonder voorbedagte rade gepleeg word, asook dié wat aan tradisionele gebruike gekoppel kan word (soos moetie-moorde) met vrymoedigheid onder moorde getipeer kan word. Soortgelyke twyfel bestaan oor die beskouing van verkragting as aggressie-daad, terwyl dit ook as ’n sedelikheidsoortreding gegroepeer kan word. Dit is verder opvallend dat min aandag aan die straf as klassifikasiemaatstaf gegee word, terwyl dit ’n aanduiding van die ernstigheidsgraad gee. Die vraag ontstaan vervolgens wat die beskouing van ’n ernstige misdaad soos geweldsmisdaad is.

2.2.4 Definisies en omskrywings van geweldsmisdaad

Geweldsmisdaad betrek alle strata van die samelewing en manifesteer nie slegs in ’n enkele stratum nie. Geweldsmisdaad kan selfs binne die geslote gesinsmilieu voorkom en aanleiding gee tot plofbare woede (Craissati, 2005, Ludsin & Vetten, 2005; S v Larsen 1994 (2) SACR 149 (A); S v Nursingh 1995 (2) SACR 331 (D)). Die dieperliggende beskrywings en beweegredes vir geweldsmisdaad is uiters divers van aard (Edens & Douglas, 2006; Stanford 2003). Dit strek so wyd soos wraak (as die gevolg van konflik en vendettas), persoonlike gewin en verryking (tydens rooftogte) en sluit buitesintuiglike, sowel as esoteriese en realiteitsverbrokkelde motiewe in soos die pleeg van moord tydens ’n psigotiese episode of gedrewe deur satanistiese oorwegings (Dobash 2009; Dussich, 2008; Englander, 2007; Greene, Coles, & Johnson, 1994; Hampton & Gelles, 1994; Kaliski, 1993; Kocsis, 2006b; McClintock, 1963; Morland, 1971; Stanford 2003). Gevalle is ook bekend waar geredeneer is dat die geweldsmisdryf in die belang

van ’n land en nasie gepleeg is, soos wat gedurende die apartheidsjare in Suid- Afrika die geval was (Gordin, 1998).

In die Amerikaanse reg (Federal Bureau of Investigation, 2006) word geweldsmisdaad in vier kategorieë ingedeel, naamlik moord en manslag; verkragting; roof; en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die samelopende definisie sluit dié misdade in wat dwang of dreigemente van dwang bevat. Geweldsmisdaad word in die vonnisriglyne van die Florida Department of Corrections (1997) as fisiese benadeling of dreigement van fisiese benadeling gedefinieer. Een van die volgende vier elemente moet teenwoordig wees:

i) fisiese leed;

ii) ’n dreigement van fisiese leed;

iii) ’n waarskynlikheid dat die kriminele daad fisiese leed kon veroorsaak; en iv) ’n waarskynlikheid dat dit ’n dreigement van fisiese leed kan inhou.

In die klassifisering en definiëring van misdaad deur die Colorado Bureau of Investigation (2005) word na geweldsmisdade in ooreenstemming met bovermelde outeurs se beskouings verwys, maar ’n unieke geweldsmisdaad bekend as haatmisdaad word ook bespreek. In hierdie geval word die delik ook teenoor ’n persoon of eiendom gepleeg, maar dit word gemotiveer deur die oortreder se rasse-ingesteldheid, godsdienstige oortuigings, etnisiteit of seksuele oriëntasie.

In die National Immigration Project of the National Lawyers Gild, Practice Pointer (2004) word die volgende toevoegings gemaak ten einde ’n misdryf as ’n gewelddadige misdryf te tipeer: die gebruik van geweld, poging daartoe en selfs die dreigement van fisiese geweld moet teenwoordig wees. Die risiko moet bestaan dat fisiese krag teen ’n persoon of eiendom gebruik gaan word. Hierdie elemente van dreigement en risiko word verder gevoer deur Ludsin en Vetten (2005) wanneer hulle geweld ook as “wyse van beheer” beskou. Hulle gee toe dat geweldsmisdaad soos gesinsgeweld veelvoudige oorsake het en dat omskrywings

inderdaad fisiese, verbale, emosionele en sielkundige aspekte asook dreigemente moet insluit.

In die Suid-Afrikaanse konteks word Snyman (2002) se omskrywing van geweldsmisdade en sy klassifikasie daarvan geredelik in die strafregtelike stelsel aanvaar. Hy beskou geweldsmisdaad as Misdade teen die persoon en klassifiseer dit dan as misdade teen lewe, teen liggaamlike integriteit en teen bewegingsvryheid. Die aanwending van fisieke krag wat uitloop op besering of die dood onderskei dus geweldsmisdaad van ander misdade.

Hoewel die meeste geweldsmisdade voorafgegaan word deur fisiese en selfs psigiese dreigemente, bestaan daar tog gewelddadige optredes wat op die ingewing van die oomblik plaasvind sonder langdurige provokasie. Sulke geweld is nie-gepremediteerd, word onverwags ontlok en is selde moontlik om te voorspel. Hierdie tipe misdryf is die fokus van hierdie studie en word in meer detail bespreek ná die ondersoek rakende die voorkoms van algemene geweldsmisdrywe.