• No results found

DIE OORSPRONG VAN DIE APARTHEIDSVERHAAL (ʼn Verhaal ter agtergrond)

5. Die posisie van die NG Kerk sedert

5.1 Ou toekoms, nuwe toekoms

Wie oor die NG Kerk wil skryf, kom gou agter dat die NG Kerk nie ʼn eenvormige entiteit is nie. Daar was waarskynlik ʼn tyd in die NG Kerk se verlede toe alles baie meer eenvorming was. In 2012 is dit beslis nie meer die geval nie. Diversiteit is baie meer aan die orde van die dag. Die NG Kerk het dan selfs ʼn Diversiteitsforum16.

Op die oog af lyk dit of daar twee uiteenlopende ontwikkelings in die NG Kerk is, met waarskynlik ʼn hele spektrum tussen-in. Dit lyk of daar gemeentes is wat ʼn ‘ou toekoms’ het. Aan die een kant lyk hulle lidmate, en waarskynlik hulle toekoms, nes hulle verlede. Wie ʼn erediens daar bywoon sou kon wonder of die jaartal nie dalk 1972 of selfs 1962 is nie. Hier lyk die kleredrag nog dieselfde, behalwe dat die vrouens nie meer hoede dra nie; die mans sweet egter nog in hulle pakke. Die liturgie is nog nes altyd; al gebruik hulle die Liedboek van die kerk wat in 2001 verskyn het, klink dit maar nog soos in die vorige eeu. Sommige dominees klink ook nog soos destyds. Die mense lyk ook dieselfde as vier, vyf dekades gelede, om die waarheid te sê, dit ís dieselfde mense as wat vier, vyf dekades gelede in die Kerk gesit het. Hulle is vandag net soveel ouer. En as jy die moeite sou doen om te kyk na die gemeenteprogram en die Kerkraad se notule sal dit ook nie lyk of veel verander het nie. Sulke gemeentes het ʼn ‘ou toekoms’, en hulle gaan al ouer word totdat die gemeente saam met die laaste lidmaat uitsterf.

Aan die ander kant van die spektrum is daar egter gemeentes wat transformasie omarm het en daarop floreer. Hierdie tipe benadering kan dikwels gesien word in NG gemeentes wat selfs hulle name verander om iets van hulle transformasie te weerspieël. So word daar al meer gehoor van gemeenskapskerk of familiekerk of kerk

16 Die NG Kerk se Diversiteitsforum is vroeg in 2012 gesluit vanweë verskillende probleme. Die nuutste inligting is beskikbaar by http://www.ngkerk.org.za/as/gespreksforum.asp

sonder mure. Dikwels is hierdie kerke te vinde in die groter stedelike gebiede waar die

transformasie van die breë gemeenskap ook al verder gevorder het as elders. Hierdie kerke het ʼn ‘nuwe toekoms’.

In dieselfde asem moet genoem word dat daar ook op kleiner plattelandse dorpe soortgelyke ontwikkeling is wat dikwels eerder uit noodsaak as oortuiging gebore is. Afname in lidmaatgetalle, verminderde finansies, onbekostigbaarheid van leraars en dergelike sake maak dat gemeentes, ook oor rassegrense, hande vat om saam die beste van die saak te maak. Spontaan ontstaan daar dan ʼn nuwe gemeenskap wat gelowiges anders laat kyk na mekaar en na die samelewing.

Vir hierdie gemeentes is daar inderdaad ʼn ‘nuwe toekoms’, niks is meer presies soos dit in die ou Suid-Afrika was nie. Die pad is nie noodwendig duidelik uitgelê nie, maar word in geloof geloop. So rapporteer Jackson (2011:elektroniese bron) oor die sinode van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland: “Een van die jong afgevaardigdes het gesê hy is nie altyd seker waarheen die kerk op pad is nie, maar dis vir hom baie duidelik vir Wie die kerk volg.”

5.2 Uitdagings

Sedert 1994 het honderdduisende wit Afrikaners, van wie die meeste waarskynlik lidmate van die NG Kerk was, Suid-Afrika verlaat. In 2011 is daar berig dat die NG Kerk in een jaar meer as 10 500 lidmate verloor het (De Villiers 2011:elektroniese bron) en onlangs is daar weer berig dat die NG Kerk 20 718 lidmate verloor het (De Villiers 2012:elektroniese bron). Die meeste van hierdie verliese word aan emigrasie toegeskryf. Die kinders wat hierdie mense sou hê en dus as dooplidmate van die NG Kerk getel sou kon word, vererger die afname in getalle. Daar is ook lidmate wat na ander kerke gaan, maar dié getal word as onbeduidend afgemaak (Leonard 2012:elektroniese bron).

Wat egter nie as onbeduidend afgemaak kan word nie, is dat die NG Kerk sukkel om jongmense te behou. Kerkleiers gee toe dat dit “bowenal die gevolg van ’n snelle sekularisering onder verstedelike Afrikaanssprekendes” is (De Villiers 2012:elek- troniese bron). Saam met hierdie sekularisasie is daar ook die probleem met die bagasie wat die NG Kerk saamdra. Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode

beweer: “The Afrikaans churches' support for apartheid is now costing them a lot. Many people feel cheated and want to know, if the church lied to them about apartheid, what else it is lying about?” (Leonard 2012:elektroniese bron). Die situasie is volgens sommige so ernstig dat Leonard (2012:elektroniese bron) byvoorbeeld praat van “The slow and steady death of the Dutch Reformed Church.”

Die NG Kerk sukkel ook met diversiteit, of dit nou ras of geslag of seksuele oriëntasie of teologie is. Die jarelange debat oor die rol van die vrou in die amp, wat genadiglik in die NG Kerk verby is, woed nog fel in van die ander gereformeerde kerke. Die NG Kerk het sy eie debat oor homoseksualiteit en die raskwessie. Daarmee saam is daar ook in die afgelope paar jaar die debat oor teologie en geloof in ʼn post-moderne wêreld terwyl dit lyk of sommige nog vanuit ʼn pre-moderne posisie opereer.

Oor hierdie debatte is sommige baie uitgesproke. Die godsdiensverslaggewer Johannes de Villiers sê: die NG Kerk "failed the test of diversity miserably. People live and work these days in diverse environments and then feel weird to be in a church that is hetero-normatively exclusivist" (Leonard 2012:elektroniese bron). Oosthuizen stem hiermee saam: "Just as the church had to apologise years later because it excluded black people and women, they will one day have to apologise to gay people as well for excluding them for so long" (Leonard 2012:elektroniese bron).

Die temas met die grootste belang vir hierdie navorsing is die vraagstukke rondom kerkhereniging, rassisme en versoening. Al drie het al op verskeie platforms aandag gekry, maar al drie is steeds problematiese en onafgehandelde sake.

Daar bestaan geen twyfel daaroor dat die NG Kerk amptelik strewe na hereniging met die VGKSA en die NGKA en die RCA nie. Die NG Kerk het in 1986 en weer in 1990 by monde van die beleidstuk Kerk en Samelewing afskeid geneem van apartheid (Ned Geref Kerk 1986 en 1990). Kort hierna het professor Willie Jonker in die openbaar bely wat die Algemene Sinode in privaatheid besluit het (Beeld 1990:6). Nou was die NG Kerk gereed om voluit te werk aan hereniging van die sogenaamde moeder- en dogterkerke van die NG Kerk-familie.

Oor die saak van kerkhereniging is reeds by die Algemene Sinode van 1994 duidelikheid gegee (Ned Geref Kerk 1994:443). Ongelukkig moes die NG Kerk in 2002 erken dat daar nog min vordering gemaak is (Kruger & Hofmeyr 2009a:140). Tydens

die sitting van die Algemene Sinode in 2004 word vir ʼn “ruim huis” benadering gepleit “waarin plek gemaak word vir almal in die familie ten spyte van die verskille wat bestaan” (Kruger & Hofmeyr 2009a:140). Tydens die skryf van hierdie verslag staan die huis egter steeds leeg al is daar al baie gedoen om die huis leefbaar en aantreklik te maak.

Die groot probleem rondom eenwording, of dan die hereniging van die kerke van die NG Kerk familie, is primêr die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar. Hierdie belydenisskrif is in 1982 in konsepformaat, en in 1986 in finale vorm as amptelike belydenis saam met die ander die Formuliere van Eenheid aanvaar deur die Sinode van die destydse NG Sendingkerk. Dit vorm ook deel van die belydenis- grondslag van die VGKSA. Die Belydenis van Belhar (Ned Geref Sendingkerk 1986) bestaan uit vyf onderafdeling, maar die aandag word gewoonlik gevestig op die middelste drie temas, naamlik “die eenheid van die kerk in Jesus Christus” as “gawe en opdrag”, die “boodskap van versoening in en deur Jesus Christus” en “geregtigheid en vrede onder mense”. Die eerste deel oor geloof in die drie-enige God “wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg” en die laaste deel oor “gehoorsaamheid aan Jesus Christus as enigste Hoof” moet saam met die ander dele gelees word (Cloete & Smit 1984).

Die Algemene Sinode besluit in 1998 (Ned Geref Kerk 1998:422) dat “die Belydenis van Belhar op sigself genome nie met die Drie Formuliere van Enigheid in stryd is nie”. Tog blyk dit dat (die lidmate van) die NG Kerk nog nie gereed is om Belhar as belydenisskrif te aanvaar nie. Sedert die besluit van 1998 was daar uit verskeie oorde besware geopper. Vanuit ʼn meer populêre perspektief is dit gewoonlik die ontstaansgeskiedenis wat onder die loep kom. So skryf Raubenheimer (2008:17) dat sommige “buitelandse kerke, jonger lidmate en selfs jong predikante van die NG Kerk” dalk die belydenis mag ondersteun, maar “[d]it moet egter óók begryp word dat die Belydenis van Belhar nie aanvaarbaar is vir die meerderheid NG lidmate wat bekend is met die ontstaansgeskiedenis van en die ‘slae’ wat dié belydenis hulle toegedien het nie”. Van Wyk (2009:elektroniese bron) sluit hierby aan as hy sê dat die Belydenis van Belhar “nie net polities geïnspireerd is nie, maar ook deur die Verenigende Geref Kerk (VGK) gebruik word as ’n stok om die NG Kerk mee by te kom.” Hierteenoor skryf ander, soos Botha (2008:elektroniese bron), dat die belydenis nie “met die etiket van Bevrydingsteologie afgemaak word” sonder om die hand van die Here daarin te verreken nie.

Vanuit ʼn akademiese perspektief argumenteer Strauss (2005:560) dat die Belhar belydenis nie gaan oor “kernwaarhede van die Bybel” nie, maar slegs oor “periferiese morele waardes”. Dames (2012:31) reageer hierop deur te sê dat hierdie argument van Strauss die outentieke belewenis van apartheid van die lidmate van die NGSK en die VGK afmaak as onbelangrike randsake: “Strauss’ (2005:572-573) remark, that the Confession occupies itself with peripheral issues and not with central faith issues, totalised the DRMS/URCSA’s pre- and post-1994 authentic experience into moral and peripheral issues” (Dames 2012:31).

Hartney (2011:elektroniese bron) reageer ook op Strauss (2005) met sy “Eksegeties- teologiese ondersteuning van die Belydenis van Belhar.” Hierin voer hy aan dat die drie temas waaraan Belhar aandag gee, naamlik eenheid, versoening en geregtigheid wel kernsake van die Skrif is en nie net randsake nie. Hy kyk na beide die Ou- en Nuwe Testament en gee veral aandag aan Paulus se briewe. Die slotsom waartoe hy kom is dít:

ʼn Belydenis, alhoewel dit “quia” is, kan nooit soos die Skrif die laaste woord spreek nie en is daarom nooit afgesluit nie maar het altyd ʼn oop einde.

ʼn Belydenis is egter meer as etiese uitsprake van die kerk. Uit voormelde ontledings, is ons gevolgtrekking, dat die Belydenis van Belhar is na sy inhoud werklik ʼn belydenis (sic) (“marturein” en “homologein”).

Die Belydenis van Belhar handel soos blyk uit hierdie studie, nie oor

periferiese morele waardes nie, maar wel met kernwaarhede van die Skrif (Hartney 2011:103).

Intussen het die NG Kerk in 2007 besluit om lidmate op ʼn informele basis te toets oor kerkhereniging en die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar. Die resultaat van hierdie kwalitatiewe ondersoek het volgens Strauss (2010:138) aangedui “...dat daar groot weerstand teen Belhar in NG Gemeentes bestaan. ʼn Weerstand wat die aanvaarding van Belhar in die NG Kerk vir die huidige onmoontlik maak.”

Die volgende dramatiese skuif hieroor het gekom van die leierskap van die Sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Die moderatuur het by die sinode aanbeveel dat die Belydenis van Belhar aanvaar moet word. Tydens die sinodesitting in Mei 2011 het hulle toe met 544 stemme teen 124 die volgende besluit geneem:

Die sinode is oortuig dat die Bybelse eis vir geregtigheid vir alle mense, versoening tussen alle mense en die eenheid van die kerk tot die kern van die evangelie behoort. Die Belydenis van Belhar verwoord hierdie evangeliese eis om geregtigheid, versoening en eenheid op 'n ander wyse as die ander belydenisskrifte van die kerk. Die sinode aanvaar as kerkvergadering die Belydenis van Belhar en daarom versoek hierdie vergadering die Algemene Sinode om die Belydenis van Belhar op 'n kerkordelike wyse deel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se belydenisgrondslag te maak (Ned Geref Kerk Wes- en Suid-Kaap 2011:elektroniese bron).

Hierdie besluit word na die Algemene Sinode deurgegee en na jare se debatte en onsekerheid neem die NG Kerk se Algemene Sinode later in 2011 die volgende besluit rakende die Belydenis van Belhar: “Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak en dra dit aan die Moderamen op om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te stel” (Ned Geref Kerk 2011a:elektroniese bron). Uiteindelik het die NG Kerk verder gegaan as om net sê dat die inhoud van Belhar nie in stryd is met die Bybel nie, maar dat dit selfs as ʼn belydenisskrif aanvaar sou kon word. Die kerkordelike proses is egter steeds nie afgehandel nie en ʼn stryd lê waarskynlik nog voor om die nodige twee-derde meerderheid by al die gemeentes en streeksinodes te kry.

Die eerste sinode om te vergader na die Algemene Sinode, was dié van die Oos-Kaap. Hulle besluit oor Belhar lui so: “Die sinode ontvang die Belydenis van Belhar as ʼn geskenk uit God se hand vir ons stukkende land” (Ned Geref Kerk Oos-Kaapland 2012). Dit lyk tog of die gesindheid teenoor Belhar in die kerklike strukture aan die verander is. Of dit egter aanvaar sal word in plaaslike gemeentes, bly steeds ʼn vraag. Dikwels is die houding eerder een van “moenie hier verander nie”. Alles verander buite die NG Kerk, hier wil ons dit hou soos dit altyd was. Ek weet dit is nog moeilik, want baie mense sien die kerk nog as my kerk. Daarbuite is die swarte baas, maar hier in my kerk, dit is my kerk hierdie jy weet. Ek wil jou nie in my kerk hê nie... [Isak 14-344].

Die NG Kerk se wiele draai stadig. Besluite word gewoonlik eers in streeksverband bespreek en aanvaar en daarna aan die sitting van die Algemene Sinode voorgelê vir goedkeuring. Ten spyte van hierdie langdradige proses is daar duidelik vordering in die

posisie wat die NG Kerk inneem ten opsigte van relevante sake. So het die NG Kerk oor ʼn tydperk beweeg van steun aan apartheid tot ʼn teoretiese afwysing daarvan tot ʼn skuldbelydenis oor haar aandeel daarin. So was dit ook met die Belydenis van Belhar oor die laaste aantal jare. Dit is nie korrek om die NG Kerk uit te beeld as sou die Kerk steeds die posisie van dekades gelede beklee soos wat deur Jennifer Nelson (2003:69) gesuggereer word nie.

Wat op amptelike gebied gebeur, stem egter nie noodwendig ooreen met wat in plaaslike gemeentes gebeur nie. Met die afskeiding van die APK in 1987 is daar beweer dat die NG Kerk nou van sy rassistiese lidmate ontslae geraak het (Du Toit et al 2002:161). Of dit so eenvoudig is, is nie seker nie. Selfs die resultate van Kerkspieël wil suggereer dat die NG Kerk nie die kwessie van rassisme as baie belangrik beskou nie. So meld Schoeman (2010) dat van die sewe groot kwessies in Suid-Afrika wat deur The South African Christian Leadership Assembly geïdentifiseer is (Bisschoff 2008:10), rassisme die tweede minste aandag in gemeentes kry. Dit is net seksisme wat nog minder aandag kry. Dit is te betwyfel of hierdie toedrag van sake die gevolg is daarvan dat rassisme en seksisme nie voorkom in gemeentes nie, en of dit nie dalk eerder moeilike kwessies is wat gerieflikheidshalwe oorgesien word nie.

In die volgende twee afdelings word gekyk na twee modelle wat gebruik kan word as lense waardeur na mense se posisie ten opsigte van die verlede en verandering gekyk kan word. Eerstens word gekyk na Weingarten se uitdaging aan vertellers van narratiewe. Tweedens word daar gekyk na die proses van verandering en hoe mense daarop reageer.